
REGS: Vel en been
in die
konsentrasiekamp—maar hy het
wel die beproewing oorlewe.
DIT
was die oorlog van die hardebaarde, van waagmoed en onverskrokkenheid.
En van dood en lyding. Dié sou die oorlewende stryders op die slagveld soos manne
aanvaar, soos dit sedert onheuglike tye in elke oorlog gedoen word.
Maar
hierdie oorlog was ook die oorlog van die kinders, selfs van babatjies en
haasbekkies—met duisende kindergraffies, ry op ry, tussen die
soetdorings op die Hoëveld.
In
die Anglo-Boereoorlog, wat iets meer as honderd jaar gelede ten einde
geloop het, het die lot van onskuldige kinders vir een van die
somberste hoofstukke in die Suid-Afrikaanse geskiedenis gesorg.
Dit
was veral in die konsentrasiekampe, waar duisende kinders die hoogste
tol moes betaal. En nie net Boerekinders nie, maar ook swartes, soos
dit veral in die afgelope jare duideliker geword het.
Volgens
baie geskiedkundiges was die berugte konsentrasiekampe destyds die
Britte se manier om ’n einde aan die voortslepende oorlog teen die
Boere-guerrillas te probeer maak, al sou hulle ook ander redes aanvoer
waarom dit nodig sou wees om die kampe op te rig.
Die
plan sou wees om die Boere se moreel te breek deur hul vroue en
kinders, bejaardes en ander afhanklikes soos plaaswerkers na kampe in
die veld weg te voer—waar hulle in die haglikste omstandighede
gewoon het.
Die
getal swart kinders wat in die oorlog omgekom het, moet nog amptelik
bereken word. Volgens die statistieke was daar 43.000
swartes in die konsentrasiekampe, van wie minstens 14.154
dood is. As die verhouding dieselfde as in die kampe vir blankes was,
moet sowat 11 000 swart kinders daar gesterf het.
Van
die 118 000 Boeremense wat in die konsentrasiekampe was, is byna 28.000
oorlede. Trouens, ’n hele geslag potensiële Afrikaners is uitgewis,
altesaam 22.074 Boerekinders en 4182
Boerevroue, terwyl nog sowat anderhalf duisend mans (meestal
bejaardes) in die kampe omgekom het.
REGS:
Die konsentrasiekamp van
Norvalspont.
Daar
is al bereken dat daar vandag nagenoeg 600.000
meer Afrikaners kon gewees het as dit nie vir die sterftes in die
konsentrasiekampe was nie.
Die
kampbewoners, veral die kindertjies, het binne maande tot lewende
geraamtes weggeteer. Die swak sanitêre geriewe in die nagenoeg vyftig
kampe het tot die uitbreek van epidemies gelei, waarvan ’n
masels-epidemie die dodelikste was.
Die
swartmense, wat deur die Britte in aparte kampe aangehou is, het dit
selfs nog slegter gehad. Daar is van hulle verwag om hul eie
akkomodasie op te rig en met selfs kleiner rantsoene as die geïnterneerde
wit vroue en kinders tevrede te wees.
MAAR
dit was nie net in die konsentrasiekampe waar destyds van kinders
verwag is om aktief by die oorlog betrokke te wees nie.
Daar
was ook die sogenaamde penkoppe. Kragtens die kommandowette van die
Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal) en die Oranje-Vrijstaat was
manlike burgers dienspligtig vandat hulle sestien jaar oud geword het.
Dog
reeds in die eerste maande van die oorlog was daar penkoppe jonger as
sestien jaar in die kommando’s. Tog was dit veral in die laaste fase
van die oorlog, die guerrilla-fase, toe die Boere meestal in hul eie
distrikte geveg het, dat bloedjong seuns hulle te velde by hul
vegtende pa’s en ouer broers aangesluit het.
Die
woord penkop vir hierdie melktand-tieners op kommando is heel
waarskynlik ontleen aan dieselfde naam vir ’n bulkalf wat pas
horings gekry het.
REGS:
Genl. Louis Botha en
sy jong seun in die veld
tydens die oorlog.
Min
is nog werklik daaroor geskryf, maar in die boek Penkoppe van die
Tweede Vryheidsoorlog deur Pets Marais (uitgegee deur J.P. van der
Walt) word insiggewend vertel van die nogal merkwaardige bydrae van
sekere van hierdie onverskrokke seuns in die oorlog.
Nie
dat hulle in hul kinderlike voortvarendheid altyd die gevare besef
waaraan hulle hulle blootgestel het nie. Só word vertel van ’n
dertienjarige seun wat op ’n donkie aangetref is met ’n
Martini-Henry-geweer by hom. Toe aan hom gevra is wie hy is en
waarheen hy op pad is, het hy lakoniek geantwoord: "Ek is Jooste.
Ek gaan Engelse skiet.''
Van
oral oor het sulke jong seuns hul pad na die onderskeie kommando’s
gevind. ’n Russiese verpleegster wat haar waarnemings opgeteken het,
het onder meer geskryf: "Ek het persoonlik by Veertien Strome met
twaalfjarige seuns kennis gemaak wat agter hul pa’s aan van die huis
af weggeloop het en dadelik in die gevaarlikste plekke ingedons het.''
Weliswaar
het hulle baiemaal net as agterryers die perde opgepas, maar ander
kere sou hulle weer die grootste durf openbaar. Daar word byvoorbeeld
vertel van ’n agterryertjie met die bynaam Gesiggie wat eenkeer met
vier Engelse soldate by sy Boerelaer aangekom het. Hy het hulle gevang
waar hulle weggekruip het. Toe aan hom gevra is hoe hy dit reggekry
het, het hy geantwoord: "Ek het hulle omsingel!''
Tog
het baie penkoppe in gevegte gesneuwel. By genl. Christiaan de Wet was
byvoorbeeld ook penkoppe toe hy die keer vir pres. M.T. Steyn van die
Vrystaat moes begelei om te keer dat die president in Engelse hande
beland.
Een van die
kinders wat in hierdie gevegte dood is, was slegs dertien jaar oud.
Nog een wat gewond is, was selfs jonger. Maar die president se
veiligheid is gewaarborg en die Engelse het hom toe nooit gevang nie.
En
dan was daar byvoorbeeld ook die jong Kosie Briedenhahn wat kommandant
J.H. Visser se lewe gered het, maar in die proses self deur ’n
Britse koeël gedood is.
REGS:
“Die Laaste Patroon.” ’n Skuifplaatjie vir ’n sogenaamde towerlatern
toon ’n Boerseun wat vir sy oupa die laaste patroon aangee terwyl
hulle die vyand op vaderslandsgrond beveg. Die towerlatern was die
voorloper van die moderne skyfieprojektor.
Die
jong seuns het gou geleer dat die lewe op kommando dikwels bitter
moeilik kon wees. Kos en water was skaars terwyl ’n geveg aan die
gang was. Op ’n keer is veertien dae aanmekaar aan die Natalse front
geveg, waartydens die kommando's slegs tien maaltye kon geniet. En dié
het meestal net uit droë brood of beskuit bestaan, met water pleks
van koffie daarby.
’n
Hele klomp van die seuns het eindelik saam met volwasse Boere-krygers
in krygsgevangenekampe beland. Hulle is selfs na kampe soos dié op
Bermuda, St. Helena en in Indië gestuur. Dikwels het hulle nog met
waentjies gespeel het terwyl die ou manne die tyd op meer volwasse
maniere verwyl het.
Maar
in hul jong fase van storm en drang het hulle geweet van hul plig
teenoor hul land—iets wat straks vir die kinders van vandag ’n
groot les inhou oor patriotisme.

BO: Oudste en jongste
Boere-krygsgevangenes op die eiland St. Helena.
Seuns wat nog
met waentjies speel, sit en staan by twee grysaards
van in die
sewentig.
Agtergrondmusiek:
Ou Vrystaatse Volkslied |