Die wonder-essense en die
wilde medisyne Boererate wat werk (of nie) |
![]() VIR OORPYN -- druk n opgerolde koerant in jou oor, sê hulle, en steek dit aan die brand! Maar sal dit hoegenaamd help? |
||
ET jou wortels, my kind. Dis goeie, ordintlike medisyne vir jou oë. En moenie jou beet vergeet nie. Hoekom dink jy het Ouma self sulke fênsierige rooi wange?” Só het Ouma mos altyd met oorwoë wysheid geredeneer wanneer ons kinders oor die etenstafel so suur gesluk het aan ons groente. Soms moes sy selfs ietwat hardhandig ingryp—wanneer ons lepelsvol gewraakte spinasie en pampoen vir die kwylende Dobermann onder die tafel wou voer. “A nee a,” sou sy ons dan betig, “spinasie is vol yster wat jou so sterk maak soos Pop-aai. En pampoen gee jou krulhare. Hoe dink julle sal ou Wagter nou lyk met golwende poedel-hare en boonop bultende spiere soos ’n superheld in die comics?” Ouma se idees van die voedingswaarde van groente was sekerlik deurspek met verskeie ongelooflike wolhaar-gelofies. Maar minstens vyftig persent van haar uitsprake het tog n wetenskaplike basis gehad, besef n mens vandag... al het sy self nooit êrens enigiets van die medisinale werkinge van vitamiene geleer nie. Feit is, al raak die wêreld van medisyne steeds meer hipertegnologies en gesofistikeerd, bly boererate vandag baie mense se heel eerste verdedigingslinie teen siektes. En met goeie rede. Sulke rate is immers van geslag tot geslag oorgedra en moes hulself tog seker bewys het onder die spesifieke families wat so lank aanhou om daarby te sweer. Soos n kenner van volkskulture en volksgeneeskunde dit stel: “Boererate is die resultate van eeue se probeer en fouteer en weer probeer totdat middels gevind is wat werklik werk.” Een van die beste voorbeelde is die Chinese tradisionele geneeskunde met sy natuurlike medisyne wat oor duisende jare heen beproef is en vandag omtrent enigiets kan vermag—van die verlaging van bloeddruk tot die opkikkering van die menslike gestel. “Eet varklewer,” word ons byvoorbeeld deur n Chinese dokter aangeraai. “Dit kan jou oë help om beter te sien en kan boonop jou bloed meer woema gee.” As dit vir jou vreemd klink, lees wat vertel n bekende Vrystater wat om verstaanbare redes verkies om anoniem te bly: “Toe ek n kind was, was ek so gepla met maagpyn en n los maag dat af en toe eenvoudig nie gou genoeg by die buitelatrine op ons kleinhoewe kon uitkom nie. Gelukkig het ek goeie raad gehad. Ek het elke keer n dikkerige pap van meel en water in n koppie aangemaak en dit net so afgewurg. Die maagpyn was dan gou verby. “Maar ek het ook al gehoor van n ma wat sardiensolie aan haar kinders se nekke gevryf het wanneer hulle pampoentjies gehad het,” vertel hy verder. “Arme kinders. Hulle het seker die hele tyd lê en yl terwyl hulle hulle verbeel het hulle is op ’n vissersboot.”
Foto: U.S. National Institutes of Health VIR BAIE boererate hoef n mens niks verder te soek as die kombuis nie:
Hoewel n mens moet onthou dat geen boereraat die plek van jou dokter kan inneem by ernstige siektes nie, lyk die rate hierbo almal betreklik onskuldig. Dit geld veral vir minder ernstige ongesteldhede. Wanneer jy diep in die volksgeneeskunde delf, kom jy egter ook op die eienaardigste voorskrifte af. So was daar die ma wie se “medisynekis” grootliks bestaan het uit n koerant, n ou sokkie, koffiemoer, aartappels, knoffel en olyfolie. Daarmee het sy n hele rits kwale behandel, vertel haar dogter, ene Rosemary. “As jy hoofpyn gehad het, is n lap met rou aartappelskyfies en koffiemoer daarbinne oor jou voorkop gebind. “Wanneer jou oor gepyn het, het Ma n paar druppels olyfolie in jou oor gegooi. Dan het sy n koerant soos n kegel opgedraai, die smal punt in jou oor gedruk en die ander end aan die brand gesteek. “Vir n seer keel moes ons n sokkie—n warm sokkie—om die nek bind. “Maagpyn het Ma behandel deur olyfolie op jou maag te vryf en n huisie knoffel in jou naeltjie te druk. “Die wonderlikste van alles,” sluit Rosemary af, “is dat party van daardie rate jou werklik gewerk het!” “Maar hoe dan ook anders?” is die kommentaar van ons kenner van volkskulture. “Mense het vroeër dae gelag vir ons boere wat n koperwieltjie aan hul ploeg geheg en beweer het dat die nederige wieltjie hul oeste help vergroot. “Noudat ons weet dat saaigrond ook spoorelemente soos koper nodig kan hê, besef ons ook dat ons nie alles as belaglik moet beskou wat ons nie verstaan nie . . .” Boererate op die web OP die wêreldwye web is daar baie bladsye oor boererate—ook in Afrikaans. Dit toon duidelik hoe ons ou mense maar alles beproef het wat hulle byderhand gehad het, by gebrek aan die moderne geneesmiddels soos antibiotika. Omdat boererate—soos volksverhale en volksliedjies—reeds so lank bestaan dat hulle openbare besit geword het, kan vrywel aangeneem word dat niemand werklik die kopiereg daarop kan hou nie. Daarom dat ons die vrymoedigheid het om ’n versameling web-rate hier te plaas—darem oral met erkenning van en ’n skakel na die bron waar ons dit gevind het. Op daardie webwerwe self is daar dan nog baie meer rate as die klompie wat hieronder volg. • Só kom die volgende twee van die webwerf Boerevryheid: Aambeie: As jy kwaai ly aan aambeie wat baie pyn en brand, dan moet jy 1 lepel rou melk of rou bies neem en 80 druppels harlemensis daarop drup en dit drink en so bietjie gaan lê... (Bies is die eerste melk van ’n koei nadat sy gekalf het; harlemensis is ’n Hollandse medisyne.)
Nogmaals
aambeie (dog hoeveel
hiervan bygeloof en hoeveel wysheid is, moet die leser maar self
besluit): • Vier rate van die webblad Boererate Medisinaal by Funkymunky: Bednatmaak: Vang ’n streepmuis, slag af en braai hom, gee vir die kind om te eet, moenie vir hom sê dis ’n streepmuis nie, hy sal nie meer bednatmaak nie. In die Afrikaans van lank gelede: Dowighyd: ’n Mens sny ’n hasi oop en druk die water uit di blaas in ’n flessi en dan 2 maal per dag 2 druppels in die oor te doen, en ’n pluisi fan di hasiwater in di oor steek en gedurig nat maak. As jy fan ’n giftige ding gebyt is: Geef di lyder in: soet melk, olie, wilde dagga gekook, wyn en rou yers deur makaar geklits, goud gefyl en ingegé, menswater (urine) met asyn, boegoe brandewyn, ’n ou deurgerookte pypkop fyn gemaak ingegé. (Zuri) Snork: ’n Paar druppels olyfolie in elke neusgat.
• Van Peterjasie se Bakgat-blog kom dié een: Hik: Rook hoendervere. • ’n Klompie boererate van die webwerf Duskant Sutherland: Slangbyt: Neem ’n skeermeslemmetjie en sny ’n kruis op die bytplek. Suig die gif uit die wond en was mond met petrol. Vryf dan die gedroogde bloed van ’n skilpad in die wond. Oorpyn: Braai ’n vars krap en gooi ’n paar druppels twee keer per dag in die seer oor. Slaaploosheid: Slag ’n groot hoender en vang die bloed op. Wag totdat die bloed byna droog is, en meng dan met petrol (dit sal witterig en klewerig word). Meng met beenmeel en braai in hoendervet. Die smaak wonderlik en sal elkeen help om goed te slaap. Sproete: Melk ’n perd en was die gesig twee keer per dag met die melk. Malaria: Vul ’n bad met nat perdemis en kookwater. Plaas die persoon in die bad en bedek hom./.haar minstens 20 minute lank heeltemal met die mengsel. Verwyder die persoon uit die bad en maak hom / haar met baie komberse toe. (As die sieke uit die bad klim, voel hy of sy seker pure perd.)
|
|||
|
|||