Die geskiedenis en kuns van
die limeriek

Oom Faan was 'n boer met 'n haan 
wat ’n outydse ses voet hoog staan.
Maar toe boer hom wou voer,
tjorts die haan op die boer
en hy kraai: "O, ek MIS jou, oom Faan!
 

’n Visser wat woon in Bombaai
het beland in die pens van ’n haai.
Dog die haai, glo my vry,
het erg sooibrand gekry --
en raai, nou's die haai na sy maai!


DIE limeriek as verspotte versvorm het sy ontstaan in Ierland gehad waar dit ’n tradisionele vorm van vermaak by partytjies was. Die gaste is uitgedaag om versies te maak en voor te dra, en ná elke voordrag is daar glo in ’n koor "Come up to Limerick" gesing.

Limerick is natuurlik die naam van ’n stad en hawe in die Republiek van Ierland.

Die eerste gedrukte limerieke het in 1820 in die sogenaamde Chap Books verskyn. Die Engelse kinderrympie Hickory, Dickory, Dock (van die muis wat teen die horlosie ophardloop) is moontlik die oudste limeriek.

Die versvorm is gewild gemaak deur Edward Lear in sy Book of Nonsense, wat in 1846 verskyn het. In sy limerieke het die eerste en laaste reël met dieselfde woord geëindig, soos in die volgende voorbeeld:

There was an old man with a beard
Who said, "It is just as I feared!
Two Owls and a Hen,
Four Larks and a Wren,
Have all built their nests in my beard."

Die rymskema van die limeriek is aabba, met ander woorde die laaste woorde van die eerste, tweede en vyfde reëls rym met mekaar, en dan weer die laaste woorde van die derde en vierde reëls. Die versmaat, ofskoon dikwels onvas, is in die reël jambe+anapes+anapes in die eerste, tweede en vyfde reëls, en jambe+anapes in die derde en vierde reëls:

Tie-dum tie-tie-dum tie-tie-dum
Tie-dum tie-tie-dum tie-tie-dum
Tie-dum tie-tie-dum
Tie-dum tie-tie-dum
Tie-dum tie-tie-dum tie-tie-dum

Baiemaal word die naam van ’n persoon en/of plek in die eerste reël genoem. Die laaste reël het gewoonlik ’n onverwags grappige, selfs gewaagde of stuitige wending.

Die limeriek se eenvoudige vorm en gemaklike ritme maak hom by uitstek geskik vir die humoristiese vers. Hier is ’n limeriek oor die relatiwiteitsteorie:

Daar was ’n jong dame De Beer
wat gouer as lig heen kon skeer.
En relatief gek
het sy eendag vertrek
en die vorige nag t'ruggekeer.

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad