ELKE eksamentyd gebeur dit -- baie leerders se mae trek sommerso op 'n knop van die eksamenkoors en senuwees. Hulle
weet nie reg hoe hulle moet leer nie en die tyd begin hulle inhaal. Wie weet, dalk klink
sekere van die tien aanhalings hieronder ook vir jou uiters bekend.
Maar
die goeie nuus is dat alles waarskynlik nie vir jou verlore is nie. Lees
gerus ons samevatting van wat die kenners oor die valstrikke vir studeer
te sê het . . .
en hul onontbeerlike raad oor presies hoe ’n mens die nodige
kennis in jou kop kan kry . . .
1. ``Ek weet nie waar om
te begin nie''
KRY
beheer oor die situasie. Kry jou prioriteite reg! Maak ’n lys van al
die dinge wat jy moet doen en breek jou werklas in hanteerbare brokke
op.
2. ``Ek het so baie om te
leer . . . en die tyd is so min''
KYK
na die betrokke vak se leerplan, handboeke en notas. Bepaal wat die
belangrikste onderwerpe is en watter dele van die werk jy steeds nie
begryp nie. Só ’n vooruitskouing bespaar tyd, deurdat dit jou help om
te organiseer en op die hoofonderwerpe te fokus. Pas hierdie metode by
jou eie styl en leerwerk aan -- en spring weg!
3. ``Hierdie goed is so
droog, ek kan nie eens wakker bly terwyl ek dit lees nie''
VAL
AAN! Raak aktief betrokke by die teks terwyl jy dit lees. Vra jouself af:
``Wat is belangrik om te onthou van hierdie gedeelte?'' Maak notas of
onderstreep sleutelkonsepte. Bespreek die stof met ander leerders in jou
klas. Bly aanvallend ingestel, veral met stof wat jy nie interessant
vind nie. As jy dit bloot passief sit en lees, kan jy sekere belangrike
punte miskyk.
Baie kenners reken die beste manier om te onthou wat
jy lees, is die VV-LHOH-metode. Dit behels eers 'n Voorskou
en be-Vraagtekening van jou leerwerk gevolg deur Lees, Herkou, Opsê en Hersien. (In Engels word dit kortweg die
PQ4R-metode
genoem -- vir Preview, Question en vier woorde wat almal
met ’n ``r'' begin: Read, Reflect, Recite, Review.)
As jy byvoorbeeld ’n hoofstuk in jou bibliogieboek
lees, begin jy deur vlugtig die hele hoofstuk te lees sodat jy ’n
oorsigtelike beeld daarvan kan kry. Stel dan vir jouself sekere vrae
waarop jy gaan konsentreer terwyl jy studeer, byvoorbeeld: ``Hoe werk
fotosintese?''
Lees nou weer die hoofstuk aandagtig. Wanneer jy klaar
is, dink wat jy gelees het en ``herkou'' dit. Dink hoe die hoofstuk jou
vrae beantwoord het. Sê die antwoorde vir jouself op en verduidelik die
inligting in jou eie woorde.
Uiteindelik gaan jy terug na die boek toe en blaailees jy
weer deur die hoofstuk om die hoofpunte te bepaal.
Klink dit alles na harde werk? Dit gaan beslis langer duur as
’n vinnige deurlees, maar dis ook ’n baie goeie manier om te sorg
dat jou jy leerwerk onthou. Jy gaan nie veel baat daarby vind om net
voor die boek te sit en die bladsye om te blaai nie.
4. ``Ek lees dit oor en
oor, maar kan dit om die dood nie in my kop kry nie''
BEPROEF
gerus wat die kenners geheuebrûe of geheuekrukke noem.
Een
manier om lang lyste inligting te onthou is om die eerste letters van
die belangrike woorde op die lys te neem en ’n sin daarvan te maak --
hoe snaakser of absurder die sin hoe beter! As jy byvoorbeeld die
volgorde moet onthou waarin die agt planete van ons sonnestelsel (plus
die mini-planeet Pluto) van
die son af lê, kan jy die volgende sin saamflans: My Vreeslike Agtelosige
Ma Jol Soos
’n Uiters Naïewe Pop-ster!
Die
M in My staan dan vir Mercurius, die
V in Vreeslik vir Venus, die A in Agtelosige vir Aarde, gevolg deur die
ander woorde wat onderskeidelik begin met die beginletters van Mars,
Jupiter, Saturnus, Uranus, Neptunus en Pluto. (Vir Engelssprekendes sal
hierdie sin ewe goed deug: My Very Earthly Mother Just Served Us Nine Pizzas.)
En
om die kleure van die spektrum te onthou: Rotte Op Geel Groente Baklei In
Vrede
-- vir Rooi, Oranje,
Geel, Groen, Blou, Indigo, Violet. (In Engels: Richard Of York Gave Battle
In Vain.)
Jy
kan ook leer om geheuekaarte saam te stel. Skryf die naam van ’n
onderwerp in ’n vierkant in die middel van ’n bladsy en teken takke
wat daaruit spruit waarin jy dan die besonderhede van jou leerwerk skryf.
Hierdie metode stem ooreen met die manier waarop die brein inligting
verwerk, en die stof word makliker onthou omdat dit baie visueel is.
Trouens,
jy kan vind dat diagramme of tekeninge van jou leerwerk makliker in jou
geheue bly steek as bladsy en bladsye vol notas.
Nog
’n visuele metode is om jou te verbeel dat jy byvoorbeeld in jou tuin
rondstap waar jy die verskillende voorwerpe op jou roete verbind met die
feite in jou leerwerk. Gestel jy moet leer van die lewe van koning
Tsjaka van die Zoeloes -- en die voorwerpe op jou tuinroete is
agteenvolgens ’n appelkoosboom, ’n tuinhuisie,’n tuinstoeltjie,
’n blom-akker, ’n hekkie en dan jou huis se stoep.
Onder
die appelkoosboom visualiseer jy vir jou alles omtrent Tsjaka se
geboorte. Selfs ’n tor wat onder die boom rondskarrel, kan in verband
gebring word met, sê, die ``torre'' (gevoellose mense) wat Tsjaka weens
sy buite-egtelikheid uit die gemeenskap verdryf het. In die tuinhuisie
stel die paar doringrige rankrose die toordokters voor aan wie se sorg
Tsjaka se ma hom toevertrou het.
So
gaan jy voort en rekonstrueer jy die hele Tsjaka-verhaal deur dit aan
bekende dinge in jou tuin te koppel -- en eindig jy op die stoep waar
’n potplant (Dingaan) bo-op Tsjaka omval. (Tsjaka is deur sy halfbroer
Dingaan vermoor).
Vir
’n volgende afdeling in die leerwerk
gebruik jy ’n heeltemal ander geografiese roete, byvoorbeeld
die pad van jou huis af na die naaste kafee, met al die bakens tussenin,
wat dan weer ``kapstokke'' word waaraan jy nuwe feite hang.
In
die eksamensaal loop jy eenvoudig in jou gedagte terug op jou roete en
onthou jy alles wat onder elke boom, langs elke struik en, sê, onderaan
die lelie met die verlepte blare ``gebeur'' het.
Jy
kan selfs verskillende leermetodes vir verskillende afdelings van jou
leerwerk aanwend. Dié soort afwisseling kan help om die eenselwigheid
-- wat jy dalk as eentonigheid kan ervaar -- te verbreek.
5. ``Ek skat ek ken dit"
MOENIE
bloot ``skat'' nie -- toets jouself.
Sê elke afdeling van die werk wat jy geleer het, hardop vir
jouself op -- en wanneer jy oor enigiets twyfel, raadpleeg net weer
vlugtig jou diagram of handboek. Doen dit oor en oor en oor totdat jy
dit vlot ken en glad nie meer nodig het na die papiere te kyk nie. En
kom later, byvoorbeeld die volgende dag, terug na die betrokke afdeling
en ``resiteer'' dit nog ’n keer vir jouself.
Probeer
onthou wat die onderwyser te sê gehad het oor sleutelafdelings in jou
leerwerk en wat hy of sy daarin benadruk het.
6. ``Daar's hopeloos te
veel wat ek moet onthou''
ORGANISEER.
Onthou weer: inligting word des te beter in jou geheue bewaar as dit in
georganiseerde raamwerk aangebied word waaruit jy dit stelselmatig met
jou brein kan onttrek.
Maak
opsommings van die hoofstukke en lê klem op die verband tussen die
verskillende afdelings in jou leerwerk. Groepeer inligting waar moontlik
in kategorieë of hiëragieë.
Om
terug kom tot die beproefde geheuekaart-metode: gestel jy probeer die
oorsake van die Eerste Wëreldoorlog leer. Horisontaal oor die boonste
deel van jou kaart kan jy die name skryf van die vernaamste lande wat by
die oorlog betrokke was.
Aan
die linkerkant skryf jy nou belangrike kwessies en gebeurtenisse onder
mekaar neer. Daarnaas, in
vierkantjies onder die verskillende lande, kan jy vervolgens die impak
beskryf wat elke kwessie op elke land gehad het. Op dié manier kan jy
die ingewikkelde geskiedkundige ontwikkelings soveel makliker in jou
geheue vaslê.
7. ``Ek het dit ’n
minuut gelede nog geken''
’N
MENS kan dit nie genoeg beklemtoon nie: hersien, hersien en hou aan om
te hersien. Selfs as jy by die punt kom waar jy alles kan onthou, sal
verdere studie verseker dat jy nie môre, oormôre sekere dele van jou
leerwerk vergeet nie. Met ander woorde, ’n mens kan óórstudeer nie.
8. ``Maar ek hou daarvan
om te leer terwyl ek op my bed lê''
O,
JA? Een kenner sê dit sit hom sowaar in die kooi -- om die woordspeling
te gebruik -- dat leerders vandag nog só kan redeneer!
Dis
nie net ’n lui manier van studeer nie, dis boonop gevaarlik. Sê nou
jy raak die aand voor die eksamen op jou bed aan die slaap, met
belangrike werk wat nog geleer moet word, en niemand maak jou wakker
voor die volgende môre nie?
Maar
dis nie al nie. Navorsers het ook vasgestel dat die plek voor jou
tuislessenaar (of ’n tafel dan) strate beter is as enige ander
studieplek.
Inligting
word naamlik makliker onthou wanneer die omstandighede waarin ’n mens
dit ingeneem het (dit geld die fisiese plek asook jou verstandelike,
emosionele en fisieke gesteldheid) soortgelyk is aan dié in die
eksamenlokaal. Hoe meer die omstandighede ooreenstem des te groter is
die moontlikheid dat jy die leerwerk tydens die eksamen uit jou geheue
sal kan oproep.
9. ``Ek leer die heel
beste in die uur of twee voordat ek eksamen moet gaan skryf''
NOOIT
gesien nie! Om dan nog te wil leer, kan beteken jy dat bang is oor werk
wat jy steeds nie ken nie -- en die kans is eintlik goed dat jy jouself
nou verder deurmekaar kan maak. Boonop beteken dit dat jy jou brein twee
uur lank sal inspan plus nog miskien drie uur in die eksamenlokaal --
vyf uur lank ononderbroke. Pleks dat jy uitgerus met die vraestel begin,
is jy klaar suwwerig wanneer jy die eksamensaal binneloop.
’n
Mens leer die heel beste wanneer jy, om dit so te stel, met verdrag
studeer. Daarom is dit so belangrik om eintlik die hele jaar deur
daagliks hersiening te doen van dit wat jy in die klas geleer het.
Kortom,
’n mens onthou die beste wanneer jou leertyd oor ’n tydperk versprei
is.
Maar
natuurlik is studeer vir die eksamen meer intensief as in die res van
die jaar. Begin dus met ’n uur of twee per dag sowat ’n week voor
die eksamen en vermeerder jou studietyd namate die eksamen nader kom.
10. ``Ek gaan die hele nag
wakker bly totdat ek hierdie stuk werk ken''
WEER
EENS: vermy verstandelike uitputting. Rus kort-kort vir kort rukkies
terwyl jy studeer. Jou verstand moet uitgerus wees voordat jy eksamen
skryf.
Wanneer
jy ’n ruskansie benut, moet jy glad nie eens aan jou leerwerk dink nie.
Dit geld ook vir die tydjie voordat jy die aand gaan slaap, Ontspan en
skakel af, verstandelik en liggaamlik. Anders lê jy dalk ure lank
wakker.
Dit
is baie belangrik dat jy jouself voor ’n eksamen goed moet versorg!
Eet goed, slaap goed en kry genoeg oefening.
*
|