Etna
 Die Berg van die Eenoog-monster


Telkens gebeur dit maar weer... Europa se hoogste aktiewe vulkaan en een van die aktiefstes op aarde bars skouspelagtig uit... om mens en dier opnuut tot ontsag en onderdanigheid te dwing...


Skouspelagtige uitbarsting van Etna

BO: ’n Vuurwerkvertoning op sy aanskoulikste. Maar hoegenaamd nie so veilig nie . . .
REGS:  Etna se roeringe van die afgelope paar jaar tel onder die nagenoeg 190 uitbarstings sedert die nukke van die vulkaan die eerste keer in 1 500 vC aangeteken is.

Besondere kleurfoto van vuur- en rookspuwende Etna

KaartREGS: Die ligging van die vulkaan Etna op die Italiaanse eiland Sicilië.







Uit die ruimte gesien: Sicilië se kolossale "skoorsteen"

REGS: ’n Dramatiese ruimtefoto van die Amerikaanse ruimte-agentskap NASA toon hoe Etna in der waarheid die atmosfeer besoedel.

   
     


D

IE berg Etna is een van die aktiefste vulkane op die hele aardbol—een wat selde heeltemal tot rus kom. En in die afgelope dekade of wat, van 1995 af, is sommige van die skouspelagtigste vulkaniese uitbarstings in menseheugenis daar gesien.

Telkens weer raak hierdie vuurspuwende berg behoorlik op sy stukke met ’n reeks vurige vertonings, soos die keer kort ná die eeuwisseling toe onder meer die stad Catania op die Italiaanse eiland Sicilië met ’n dun aslaag bedek is. Gelukkig nie naastenby so erg as ’n paar eeue gelede, in 1669, toe ’n geweldige uitbarsting Catania byna totaal verwoes het nie.

In die ou mitologieë was Etna die wêreld van Vulcanus, die god van die vernietigende vuur (teenoor Vesta, wat as die godin van die weldadige vuur beskou is), asook die tuiste van die Sikloop, ’n monster met een oog.

Die eerste uitbarsting van Etna wat deur die mens aangeteken is, was in 1500 v.C. Ander hewige uitbarstings was in 122 v.C. en 1787. Met sy nagenoeg 3.350 meter is hierdie berg die hoogste aktiewe vulkaan in Europa, hoewel die hoogte van sy spits met elke nuwe uitbarsting verander.

’n Groot deel van die vulkaan is met gestolde lawa bedek. In die wintermaande, wanneer die hange toe onder die sneeu is, word daar geski en in die somer kan ’n mens skouspelagtige staptogte onderneem -- mits die wispelturige berg natuurlik saamspeel. Daar is ook sekere interessante spelonke.

Verskeie eikespesies en sambreeldenne, asook berke- en beukebome groei teen die hellings waar nuwe lawastrome nie die plantegroei verteer het nie.  Wanneer die berg se bladwisselende bome in die herfs verkleur, sorg hulle vir ’n pragtige kleurespel.

Paddas en waterskilpaaie hou in die strome en poele van Etna se bosse. Daar is ook verskillende soorte slange en Sicilië se alomteenwoordige akkedisse. Vosse, eekhorinkies, wesels, hase, krimpvarkies, ystervarke en ’n klompie wilde katte beskou ook Etna as hul domein. In die lug gewaar ’n mens uile, valke, patryse en af en toe ’n goue arend.

Maar nie as die berg die slag sommer hier digby hulle praat nie. Dan skarrel die wilde diere en voëls in veiligheid. En die Siciliane kyk met ontsag na die rookpluime en die vuurslierte en—’n buitengewone vulkaniese verskynsel—Etna se rookkringe, soos dié van ’n reus wat pyp rook en kringe met die rook blaas.

Kyk, met só ’n onvoorspelbare natuurkrag word nie gespeel nie.

Mens en dier voel hul kleinheid en onmag aan . . .


Illustrasie van 'n strato-vulkaan LINKS: Etna staan bekend as ’n strato-vulkaan—waar die kegel opgebou is deur laag op laag van vulkaan-as en lawa weens periodieke uitbarstings. (Daar is ook ’n paar ander soorte vulkane. Waar ’n vulkaniese berg byvoorbeeld deur ’n buitengewone groot uitbarsting vernietig word, bly daar net ’n panvormige kom in die aardkors oor wat ’n kaldera genoem word.) Aanduidings bestaan dat Etna as ’n ondersese vulkaan begin en toe boontoe "uitgegroei" het. As ’n mens hierdie illustrasie bestudeer, kan jy dalk wonder wat dan nou eintlik die verskil tussen magma en lawa is. Magma is naam wat gegee word aan gesmelte gesteentes diep in die aarde. Lawa is die vloeibare uitwerpsel van ’n vulkaan wat ’n harde gesteente vorm wanneer dit afkoel.  

REGS: Etna is besonders deurdat hy soms rookkringe blaas, kompleet soos ’n reus met ’n tabakpyp—’n buitengewone vulkaniese verskynsel. Hierdie twee kringe is teen die eeuwisseling bo Etna se Bocca Nuova-krater afgeneem toe die vulkaan ook omgesukkel geraak het. Die rookkringe is in ’n tempo van honderd per dag uitgeblaas, van April tot Julie 2000. Hulle was tot 200 m in deursnee en het tot sewentien minute lank bestaan terwyl hulle tot ’n hoogte van 5500 m opgestyg het. Rookkringe het in 1968 vir die eerste keer hul verskyning op Etna gemaak. Vir nog sulke besonderse foto's besoek die webtuiste
 
www.volcanolive.com/etna.html

Etna blaas rookkringe


Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad


Mieliestronk.com    dugeot@mieliestronk.com     Laaste hersiening: 08/05/2005