Die Enigste Pad
na die Ewigheid

Vlinder besoek 'n blom

Kyk dieper in die sin van alle dinge... ’n teugie nektar vir jou voordat jy verder sweef op die Net

’n Dugeot-aanbieding.......... Dugeot / Cape Town / South Africa

DIE enigste pad na die ewigheid -- al wil baie moderne teologiese denkers dit anders hê -- is die pad van Jesus Christus. Niemand bereik die Vader behalwe deur Hom nie. Dit lees ons baie duidelik in die Bybel (Joh.14:6). Dit is die eksklusiwiteit van die Christendom.

Laat ons toegee dat daar oënskynlik talle "goeie" mense uit ander gelowe kan wees (’n Christen kan selfs hul gesindhede en dade bewonder) maar ons mag nie dink dat hulle ook maar net op hul besondere en eiesoortige manier na die waarheid onderweg is nie.

Kortom, ons durf nie sê dat daar verskillende paaie na God is nie.

As dit so was, dan was ons dierbare Christus se hoogste offer aan die Kruis mos nie werklik nodig nie.

Dan sou ’n mens immers die ewigheid deur ander weë ook kon bereik.

Dan sou Golgota verwater tot slegs een van die poorte na die eindelose heerlikheid, pleks van DIE poort te wees, die enkele, die uitsluitlike, die sentrale, die wesenlike en noodsaaklike, die eksklusiewe heenwysing na die mens se een geluksalige eindbestemming: die onbeskryflike en wonderlike hiernamaals in absolute volkomendheid by ons God.

Dalk het jy kollegas, kennisse, bure of wie ook al wat ’n heidense godsdiens aanhang. Jy sien hoe verbete hulle wroeg en stry om deur hul goeie dade die plek van die geseëndes te bereik. Ja, hulle is dan sulke "voorbeeldige " mense. Is hulle nietemin verlore vir tyd en ewigheid?

Presies hoe God hulle sal oordeel, kan ons vandag in ons eie onvolkomendheid nie weet nie. Tog het iemand al êrens in dié verband geskryf dat ons nie ’n perk moet plaas op God se genade nie. Wat wel waar is, is dat elke mens by die Kruis sal moet uitkom om deur Christus sy God te vind, anders is geen redding hoegenaamd moontlik nie.

Want Hy is die enigste Waarheid.
En die enigste Lewe.
En die enigste Weg.

Moenie dat iemand jou ooit mislei en van hierdie allerbelangrikste wete beroof nie.


As jy op hierdie webbladsy wil reageer -- op watter wyse ook al -- stuur asb. e-pos aan:
dugeot@mieliestronk.com

Klik hier om terug te keer na Die Mieliestronk
Dugeot bedryf webblaaie vir vermaak en opvoeding
Webbladsy geskep op 03/01/2000 / Hersien Junie 2004 



Klik op hierdie ikoon van Woord-in-Aksie, ’n organisasie wat manne, vroue, tieners, twintigers en andere help om juis hierdie Pad te betree. Dit sal jou neem na hul webwerf.