|
||
Sukkel jou pa hom dood met die grasperk wat eenvoudig nie mooi wil lyk nie? Hier’s die ontontbeerlike raad van kenners... nie slegs hoogs nuttige inligting vir grasperk-eienaars nie, maar ook vir leerders in die landboukunde wat meer te wete wil kom van korrekte graskweking en van besproeiing en kunsmistoediening in hul eie tuine... ![]()
BO: Druppels op die gras...
|
||
SNY!
SNY! SNY! Daarop het oom Gert se wysneusige buurman gehamer. Hoe meer jy die
kikoejoe kasty, het hy gesê, des te meer kittel jy die spriete en hoe
weliger gaan hulle groei. Oom Gert was nog jonk. Hy en tannie Grieta het pas begin
nes skrop—en oor die grasperk van hul eerste huisie het hy net die
groenste drome gedroom. Totdat
die eerste hondsdae van die skroeiende somer sy perk in ’n vaalgeel
Kalahari-veld verander het. Vandag
weet oom Gert Haasbroek uit dure ondervinding dat jy elke keer jou gras, nou
ja, in die gras gaan laat byt as jy dit nie met die spreekwoordelike
handskoene hanteer nie.
Selfs
kikoejoe—hard en gedug—het die regte versorging nodig om te
floreer of kan andersins maklik tot droë en verpotte stingels verwelk. Uit
oom Gert se ervaring kan baie van ons die nuttige les leer dat leke nie hul
ore vir kwasi-kenners moet uitleen nie. As jy iets belangriks wil aanpak
waarvan jy min weet, raadpleeg eers die erkende deskundiges. Of dan dié
se geskrifte as jy hulle nie persoonlik kan spreek nie. Kundige
raad is dit dan ook wat jy in hierdie artikel gaan kry --- saamgestel
uit die gemene kennis van verskillende grasperk-fundi’s. Almal is dit
eens dat daar vier dinge is wat ’n grasperk nodig het: Gee
dit reg water, gee dit genoeg kunsmis, gee die wortels lug—en sny die
gras op die regte manier. En hou vol daarmee.
•••
•• •
• • •
• • •
• DIE
lengte van die gras is van kardinale belang. Moenie dit te kort sny soos
oom Gert destyds nie. Sny dit eerder meer dikwels. Gras
is drieledig: dit bestaan uit wortels wat water en voedingstowwe uit die
grond opneem, stingels wat die blare stut, en blare wat die groenigheid
verskaf deur sonlig te absorbeer. Deur middel van die son maak die plant
sy eie kos. As
’n mens die gras tot op die wortels afsny, kan hy nie kos maak nie en
word die wortels boonop aan die son blootgestel. Te erg sny kan
inderdaad die gras doodmaak. Maar
gereelde sny tot op ’n ``lewensvatbare'' diepte waarborg ’n digte,
kort, sagte grasoppervlak. Daardeur word die loof kleiner en fyner
gemaak. Só word ’n absorberende laag ook geskep waardeur water
makliker kan dring en wat moeiliker deur onkruid verdring kan word. Gereelde
sny verminder ook die skokke wanneer dele van die groeiende plant
verwyder word. Wanneer dit bietjies-bietjies gebeur, is dit nie
naastenby so erg vir die plant as wanneer lang lopers skielik in die
slag bly nie. Maar
hoe presies hoe diep moet jy jou grassnyer dan nou eintlik in die gras
laat inbyt? Vir nuwe grasperke moet ’n mens wag totdat die gras sowat
drie tot vier sentimeter hoog staan voor dat jy dit die eerste keer sny.
Verminder dan die hoogte geleidelik tot so een, twee sentimeter. Fyn
grassoorte kan korter gehou word as die growwer soorte. Moenie
meer as ’n derde van ’n grasspriet afsny nie. Sodoende handhaaf jy
’n balans met die wortelstelsel wat die plant voed. Sou die plant te
kort afgesny word, kan dit brandskade aan die plantkroon en ’n vlak
wortelstelsel tot gevolg hê. Dis
ook belangrik om te onthou dat gras wat in die warm seisoene floreer,
soos kikoejoe, die sterkste groeipatroon in die middel van die somer
toon. Grassoorte van die koeler seisoene, soos dié in ons winterreënstreke,
groei weer die vinnigste in die lente. Hoe gereeld jou gras moet sny,
hang dus ook in ’n groot mate van die bepaalde soort gras af. ’n
Goeie riglyn is weliswaar om jou gras een maal per week te sny—maar
dit kan wissel. Sny grassoorte van die warm seisoene meer gereeld in die
somer. Koelseisoen-grasperke beleef beslis ’n groei-hoogtepunt in die
lente en hoef nie soveel in die middel van die somer gesny te word nie. Hou
ook jou gras langer tydens hittegolwe, maar sny dit nadat jy kunsmis
toegedien het. En verander ná ’n tyd die rigting waarin die gras gesny word. Só ’n verandering verseker ’n gladde oppervlak.
•••
•• •
• • •
• • •
• NIE
ALLE grasperkversorgers besef dalk die erns daarvan nie: graswortels het
lug nodig. Van tyd tot tyd moet ’n mens dus eenvoudig ontslae raak van
die versmorende bedekkings dooie blare en stingels wat onder die groen
gras versamel het. Hierdie
dekgras of ``matte''
keer nie net dat water by die wortels uitkom nie; dis boonop een
van die hoofoorsake van grasperk-siektes. Die
beste tyd om jou grasperk te ``ontmat'',
is kort voor die begin van die reënseisoen. Sny dan die gras
dieper en gebruik ’n hark om die dooie blare en lopers van die wortels
af weg te krap. Dis harde werk, maar daar is natuurlik baie
vryskut-tuinhulpe wat maar te gretig sal wees om jou hiermee by te staan
vir die ekstra geldjies. Hierna
kan jy die grond belug. Dit word gedoen deur oor die hele grasperk
gaatjies van sowat tien sentimeter diep te maak. As jy so superfiks is
dat jy kans sien om die takie met ’n tuinvurk te verrig, laat waai!
Maar die meeste mense sal dit seker maar verkies om ’n spyker-roller
iewers te huur of die plaaslike tuindienste te vra om dit vir hulle te
doen. Dis seker nie eens nodig om by te voeg dat dit makliker sal gaan nadat die gras goed natgemaak is nie—veral as jy kleigrond het wat maar lekker hard kan wees wanneer dit droog is.
•••
•• •
• • •
• • •
•
DIE
meeste grasperkversorgers is geen wetenskaplikes nie. Baie van ons
strooi dus maar so dan en dan ’n kunsmissie van onsekere oorsprong oor
die vaal kolle met die heimlike gedagte van ``mog het troffe''. Talle
kan daarom baat vind by hierdie eenvoudige lessie uit die biologie en
skeikunde. Plante het veral drie chemiese elemente nodig om te groei:
stikstof (N) vir hul blare, fosfor (P) vir hul wortelstelsels en kalium
(K) vir hul takke. Hierdie stowwe word in baie kunsmisprodukte aangetref
in die verhouding N:P:K. ’n Kunsmis soos 2:3:2 het dus twee dele
stikstof, drie dele fosfor en twee dele kalium in sy samestelling. Dit
spreek nou vanself dat gras (waarvan die blaarkomponent so belangrik is)
sommer vet porsies stikstof nodig het om goed te vertoon. Daarteenoor is
dit kortsigtig om slegs stikstofryke bemesting (soos ureum of KAN) op
gras toe te dien en niks anders nie. Die
wortelstelsel het immers net soveel stimulering (fosfor) nodig om die
gras bogronds te laat gedy. Tog is kalium (vir houtgroei) vir gras nie
naastenby so belangrik nie soos byvoorbeeld vir bome nie. Begin
dus met ’n gebalanseerde bemestingstof soos 3:2:1 vir nuwe grasperke
en vir die eerste lentevoeding. Gebruik sestig gram per vierkante meter. Volg
dit met tussenpose van vier tot ses weke op met gereelde voedings van
stikstofryke bemestings. As
jou grond nie suur is nie, kan dié stikstofryke bemesting
ammoniumsulfaat wees. Hou deur die somer vol met twintig gram
ammoniumsulfaat per vierkante meter. So
nie kan jy ureum (sewe tot tien gram per vierkante meter) gebruik, maar
wees versigtig, want dit brand maklik. Om te keer dat die grond suur
word, wissel dit om die beurt af met dieselfde hoeveelheid KAN (kalksteen-ammoniumnitraat). Gras
wat onder bome groei, moet dubbel soveel van die regte kos kry as die
res, want die groot kokkedore van die plantewêreld behandel die
nederiges op voetsoolvlak nogal stief. Om dit so te stel: boomwortels
vat maklik die kos en water uit die arme graswortels se ``monde''! Gebruik
altyd ’n sprinkelaar nadat jy die kunsmis toegedien het sodat dit gou
in die water kan oplos, of in suspensie kan oorgaan, en in die grond kan
inspoel. Moet nooit kunsmis op nat gras gooi nie. ’n Stywe besem deug
nogal goed om die kunsmis in te werk. Met
kunsmis waarvan die bestanddele stadig vrygestel word, word die probleme
met verbranding bekamp. Swaar reën laat dit ook nie wegspoel nie en dit
hou tot vyf keer langer. In die hele groeiseisoen hoef jy dit dus net so
drie keer aan te wend. Les
bes verminder gereelde voeding die waarskynlikheid van onkruidbesmetting.
Meer bemestingstof kan selfs gebruik word as jy dit nodig vind om
onkruid behoorlik uit jou grasperk te ban. Jy hoef dus nie altyd
voorgestelde voedingsprogramme tot op die letter na te volg nie. Pas dit
by jou behoeftes aan. Ook
’n goeie dosis kraal- of hoendermis,
goed benat, sal wondere vir jou grasperk verrig, mits jy—of
jou bure—natuurlik die reuk kan verduur. Dié soort natuurlike
bemesting verhoog boonop die gehalte van die grond, iets wat kunsmis nie
doen nie. Maar—en dit moet ’n mens wel sê—onthou dat onnodige voeding kan
veroorsaak dat jou gras onnodig baie gesny moet word. Jy skep bloot werk
vir jouself. Solank die gras ’n opvallende mooi groen kleur het, is
dit mos in ’n gesonde toestand. En
die resultate van jou bemesting sal reeds binne ’n week sigbaar wees,
wat jou genoeg tyd gee om die grasperk vir ’n bepaalde skoudatum op te
kikker. Daarteenoor moet jy nooit jou grasperk voed net voordat jy met
vakansie vertrek nie.
•••
•• •
• • •
• • •
• HOE
kan jy nóg jou grasperk se groei beheer? Natuurlik deur die natmaak van
die gras te kontroleer. En dit sal op sy beurt bepaal hoe dikwels jy die
grassnyer uit sy bêreplek sal moet sleep. Gras
se wortels lê net tussen vyftien en twintig sentimeter diep. In hierdie
beperkte laag bogrond moet aan die gras se behoeftes voldoen word, so
nie gaan dit elders daarna soek en byvoorbeeld onwelkome uitlope in jou
blombeddings instuur. Gras
moet dus lank genoeg natgespuit word om te verseker dat daar genoeg
water in die bogrondse groeilaag is. Die beste manier om ’n
deurdringende neerslag tot op die gewenste diepte te verseker, is met
’n roterende sprinkelaar. Hoe
dikwels jy dit moet doen, hang van die plaaslike toestande af. In die
somerreënvalstreke is dit dalk slegs nodig as dit sewe dae lank nie
gereën het nie. In gebiede met droë somers moet ’n mens hierdie reënsiklus
kunsmatig namaak. Die
gemiddelde behoefte van grasperke is 25 millimeter water elke sewe dae.
Dit kom neer op een uur se besprinkeling per week. By
aanrol-grasperke is die gras van baie van sy wortels losgesny en
oorgeplant. Voordat die gras gelê word, moet die grond daaronder
deurweek wees. In die eerste paar weke daarna moet ’n mens die gras
elke paar dae genoeg water gee om dit tot op ’n diepte van minstens
twintig sentimeter nat te hou. En daarmee word alle onderhouers van grasperke regdeur Suid-Afrika net groen en voorspoedige tye vorentoe toegewens. Hou jou by die veelseggende motto: ``Moenie gras onder jou voete laat groei nie!'' |
||