Kafeïen: die storm in ’n koppie koffie

Dit kos Salomo se wysheid om sin te maak uit al die uitsprake wat reeds oor koffie gemaak is. Is die kafeïen daarin byvoorbeeld verslawend of nie? Is dit sleg vir jou hart? Is dit gevaarlik vir swanger vroue? Demp dit die hartstogte? Dikwels moet jy die uiteenlopende resultate van verskillende studies met mekaar vergelyk—en op die ou end doodeenvoudig vir jouself besluit . . .

LINKS: Model van ’n kafeïen- molekule

"JY KAN nie oor koffie praat sonder om êrens in die warm water te beland nie." Só gesels ’n lewenslange aanhanger van die koffie-kapitaal nou die dag. Almal moes glimlag oor die man se nogal pittige metafoor. Maar dis nie van gister af dat die ekstrak van die koffiepit mense aan die stry het nie.

"As een navorser sê koffie is goed vir jou," het ons vriend dit verder uitgespel, "dan sit hy behoorlik in die spervuur. Daar is dosyne ander geleerdes wat kwaaier met sy gal werk as wat ’n hele beker vol koffiedroesem dit kan doen.

"En as ’n ander navorser weer sê koffie is sleg vir jou, is daar duisend opstandige koffieslawe wat hom soos ’n koffieboon wil braai.

"A nee a, sê my: wie moet ’n man dan nou glo?"

Hierdie waarnemer het ’n punt beet. Elke af en toe is daar maar weer ’n nuwe bevinding oor koffie en kafeïen, baiemaal uit ’n gerespekteerde oord soos die een of ander oorsese universiteit of mediese inrigting. Maar sodra die een dit ophemel, skiet ’n ander een dit af. Naderhand weet jy ook glad nie meer hoe jy dit met die wêreld se gewildste drankie het nie.

Gewildste is eintlik nie die woord nie. Koffie is immers die naasgrootste verhandelde kommoditeit op die hele aarde (slegs petrol is groter). Geen wonder dat elke uitspraak daaroor soveel gemoedere gaande maak nie.

Maar ’n mens wil darem op die ou end by die waarheid uitkom oor jou geliefde brousel. Is die kafeïen in jou koppie koffie byvoorbeeld verslawend of nie? Is dit goed of sleg vir jou hart? Gee dit jou werklik hartkloppings?

Kan dit jou bene bros maak? Is dit gevaarlik vir swanger vroue? Vir ongebore babas? Demp dit die hartstogte of word die liefde daardeur aangewakker? Daar is nog heelparty sulke vrae wat vir baie mense in die lug hang.

Hier is ’n opname oor sekere van die jongste internasionale bevindings—waaroor daar steeds nie oral eenstemmigheid is nie. Waar navorsers verskil, moet ’n mens maar die feite teen mekaar opweeg. Dan kan jy uiteindelik jou ou eie gevolgtrekkings maak . . .

  • WAT IS KAFEïEN?

KAFEïEN is ’n stimulant en dis galbitter, as jy baie daarvan sou proe. Maar die 100 tot 150 mg in jou koppie moerkoffie (en heelwat minder in kitskoffie) is min genoeg om deur die lekker koffiegeur verdoesel te word.

Ook tee en ook sjokolade bevat kafeïen, dog in aanmerklik minder hoeveelhede. Maar dan is daar ook kafeïenryke woema-drankies, soos daardie bekende een wat jou glo vlerke gee.

Presies wat die uitwerking van kafeïen op die menslike gestel is, is steeds nie glashelder nie. Niemand stry dat dit ’n opkikker is en jou wawyd wakker kan hou as jy moet slaap nie.

Waaroor die groot debat egter gaan, is of selfs matige hoeveelhede vir ’n mens skadelik kan wees. En, indien wel, wie die eintlike risikogroepe is wat dit liefs moet vermy.

  • GOEIE OU TROOSTER—OF WOLF IN SKAAPKLERE?

DIE MODERNE mens, lyk dit, het sy koffie nodig, al sê wie ook wat. In ’n omvattende studie van byna 130 000 inwoners van Noord-Kalifornië (en die besonderhede van 4 500 afgestorwenes) is gevind dat daar minder selfmoorde onder koffiedrinkers voorkom as onder nie-koffiedrinkers.

Ander navorsers het weer bevind dat selfs die reuk van koffie ’n heilsame uitwerking op ’n mens kan hê. Lekker gesellige ou trosie. Hoe kan iemand nou daarmee fout vind?

Maar in sy Caffeine Blues wys die skrywer Stephen Cherniske op dit wat wat hy en sy geloofsgenote as die donker sy van kafeïen beskou. Hy sê byvoorbeeld dis onsin dat dit jou geheue verbeter of makliker laat leer, soos so baie skoliere en studente vas glo. Dis eintlik presies andersom.

"Ek het die resultate van wetenskaplike studies wat toon dat kafeïen, soos dit normaalweg verbruik word, die serebrale vloei met tot dertig persent kan verminder. Dit beteken minder suurstof na die brein en verminderde geheue en waarneming," sê hy.

"Kafeïen gee jou ook nie fut nie, dit plaas jou nie in ’n beter bui nie. By gewoontegebruikers kom dit voor asof dit hulle vroliker maak, maar navorsing toon duidelik dat dit hulle bloot in staat stel om die swartgalligheid en vermoeidheid te vermy wat met onttrekking gepaard gaan."

  • IS KAFEïEN DAN VERSLAWEND?

VERSLAWEND? Ag nee wat, reken Astrid Mehlig van die Franse nasionale mediese navorsingsinstuut. Vir die meeste mense is dit nie verslawend nie, volgens haar studie wat wyd geadverteer is. Trouens, tot drie koppies koffie per dag het geen negatiewe uitwerking op dié deel van die brein wat vir verslawing verantwoordelik is nie, voer sy aan.

Nadat sy twee jaar lank dertig rotte bestudeer het, het me. Mehlig ’n tyd gelede bevind dat koffie, anders as wat Stephen Cherniske glo, inderdaad energievlakke kan verhoog. En met matige gebruik is verslawing "baie onwaarskynlik," sê sy.

Wie sê! kom dit uit Brittanje. Koffieliefhebbers is net so verslaaf aan hul susdrankie as mense wat te veel van alkohol of sigarette hou, vertel dr. David Kerr van die Royal Bournemouth Hospital, oor sy eie navorsing in dié verband.

Hy het vir die duur studie van R4 miljoen (met twaalf menslike proefkonyne) self opgehou om koffie te drink en vertel: "Die onttrekingsimptome is rêrig onplesierig. Dit begin binne twaalf uur en hou ’n week lank aan. Ek het ’n kloppende hoofpyn gehad wat nie wou weggaan nie en ek kon nie konsentreer nie. Selfs jou gemoedstemming verander en jy voel moeg en suf."

Al hierdie nare gevoelens verdwyn sodra jy ’n koppie koffie gedrink het, maar, sê hy, eintlik is die koffie glad nie goed vir jou nie. "Buiten dat dit jou wakker hou en as ’n stimulant dien, het dit geen positiewe uitwerking op jou gesondheid nie."

Kerr het so vir sy eie navorsing geskrik dat hy nou glad nie meer koffie drink nie en oorgeslaan het na tee.

Aan die positiewe kant vertel die Amerikaanse kafeïen-kenner Roland Griffiths van die Johns Hopkins Medical Institutions in Baltimore, Maryland, dat kafeïen jou darem nie maklik sal doodmaak nie. Net as jy dit sou regkry om vyftig tot honderd koppies koffie met een slag weg te sluk, sou jy sterf!

Jou lewer behandel kafeïen soos enige ander gif. Plante vervaardig hul eie kafeïen om peste weg te hou. Maar wat die presiese bydrae van kafeïen tot gewone siektes is, is dikwels glad duidelik nie.

"Jy sal vind dat die meeste mense geneig is om na die een of ander kant toe te oordryf," sê Griffiths.

  • KOFFIE EN SWANGERSKAP

DIE KAFEïEN in koffie kan moontlik veroorsaak dat vroue sukkel om swanger te raak, het ’n Amerikaanse studie getoon. Navorsers van ’n instuut in Noord-Carolina het in ’n artikel in die tydskrif Lancet gesê dit neem vroue wat meer as ’n koppie koffie per dag drink, langer om swanger te raak.

Maar wat gebeur as hulle wel swanger is en steeds bly koffie drink? Bewerings dat kafeïen misvormings in fetusse veroorsaak, bly steeds omstrede. Navorsers aan die Carleton-universiteit in Ottawa, Kanada, het reeds in die vroeë jare tagtig aangevoer dat swanger vroue wat meer as 300 mg kafeïen per dag inkry, babas in die wêreld bring wat ligter weeg en kleiner koppe het (omtrent 1 cm kleiner).

Dit is in die jare negentig opgevolg deur ’n Amerikaanse studie waarin geleerdes bevind het swanger kafeïengebruikers hoef nie ’n miskraam of belemmerde groei van die fetus te vrees nie. Trouens, só is aangevoer, hulle kan met gemak drie koppies koffie of sewe koppies tee of agt blikkies koeldrank met kafeïen per dag drink!

In die lig van al die omstredenheid, bly dit stellig maar beter om aan die veilige kant te bly en inname tydens swangerskap tot die minimum te beperk.

Nuwer navorsing het nietemin bewys dat kafeïen wel rotte misvorm, maar dan ook net as hulle reuse-dosisse daarvan ontvang—dosisse wat gelykstaan aan ’n ongehoorde sewentig koppies per dag by mense.

  • KAFEïEN EN HART

DIE SAAK van koffie en die hart bly eweneens so donker as ’n koppie sterk koffie—as jy al die verskillende menings daaroor sou kop toe vat wat jy in verskillende publikasies te lees kry.

As ’n mens egter al die navorsing bymekaargooi en die goue middeweg soek, sê ’n dokter, lyk dit of ons met betreklike veiligheid die volgende kan sê:

Kafeïen kan ’n negatiewe uitwerking hê op die harte van mense wat hopeloos te veel daarvan inneem of oorsensitief daarvoor is. Maar lyk of ’n tipiese drie koppies koffie per dag nie die hart skade doen nie.

Die dokter sê ook dat party mense dink daar is ’n verband tussen kafeïen en hul hartritme. Dit wissel van mense wat kla dat hul hart soms ’n slag mis of ’n ekstra slag inkry tot dié wat sê dit voel of die hart fladder.

Maar navorsers kon nog nie ’n betroubare bewys vind dat matige hoeveelhede kafeïen enige invloed op die hartritme het nie. Groot hoeveelhede of oorsensitiwiteit kan dit egter wel beïnvloed.

As jy voel dat jou hart ’n slag gemis het, raai die dokter aan dat jy eerder jou alkoholgebruik moet dophou, omdat dit lyk of alkohol ’n groter verband met hartslagprobleme het as kafeïen.

  • BEEN-AF OOR KOFFIE?

ELKE koppie koffie wat jy drink, steel ’n bietjie kalsium uit jou beendere, vertel ’n voedingkundige. Dit staan omtrent gelyk aan die hoeveelheid kalsium wat jy in ’n teelepel melk inkry.

Vir die meeste koffiedrinkers is dit dus geen probleem nie, buiten dalk vir vroue wat wat ná hul menopouse hul koffie swart drink, dalk weens ’n geldgebrek wat die ongelukkige lot van talle bejaardes is.

Een studie het vinniger beenverlies getoon by senior burgeresse wat so min as twee tot drie koppies koffie per dag gedrink het, in vergelyking met dié wat minder of niks gedrink het nie. Daarteenoor het kafeïengebruik geen uitwerking gehad op vroue wat meer as 800 mg kalsium per dag ingekry het nie.

  • KOFFIE EN DIE LIEFDE

KOFFIE is ’n liefdesdoepa nes sjokolade. Of is dit?

Inderdaad, het Amerikaanse navorsers aan die Johns Hopkins-Universiteit in Baltimore, Maryland, bevind. Ongelukkig sal mense wat besluit om meer koffie te drink om ’n bietjie woema in die intimiteit van hul huwelikslewe te sit, egter vir lief moet neem met die hoofpyne en moegheid wat deur die koffiedrinkery veroorsaak word.

Want, sê hulle, jy kan net een koppie koffie per dag drink en al klaar aan kafeïen-onttrekking ly.

Maar volgens ’n ander ondersoek in Michigan maak koffie ’n mens dalk oud, dog lank nie koud nie. Ouer, getroude koffiedrinkers, is bevind, is vuriger in die liefde as dié wat nie koffie drink nie.

Een ding is dus darem seker in al die onsekerhede rondom die drankie: koffie koffie nie die drifte op nie. Lank lewe die prikkel!

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad