Kom terug, kwagga...

Die enigste bestaande foto, sover bekend, van ’n lewende kwagga

BO: Die enigste bestaande foto, sover bekend, van ’n lewende kwagga. Dit is in 1870 deur ene F. York in ’n Londense dieretuin geneem. Nadat die kwagga uitgesterf het, het ’n begeesterde Duitse Kapenaar tot sy eie dood toe alles in die stryd gewerp om die dier te laat “herlewe”. Hier is die verhaal van die Kwagga-projek—en wyle Reinold Rau se rol in hierdie lofwaardige skema...

Toeligtend vooraf:

Die kwagga, ’n sebra-agtige dier, het reeds in die negentiende eeu in Suid-Afrika uitgesterf. Dit is deur die ou pioniers gejag totdat daar nie meer ’n enkele lewende een oor was nie.
Tog is later vasgestel dat die kwagga blykbaar nie tot ’n eie dierespesie behoort het nie. Dit was bloot ’n subspesie van die vlaktesebra, waarvan daar nog baie diere in ons land bestaan. Dit het dus moontlik gelyk om die kwagga deur die kundige seleksie van vlaktesebras uit die dood uit terug te teel.
Reinhold Rau (1932-2006)En dis presies waarmee die verbeeldingryke taksidermis Reinold Rau van die Wes-Kaap dekades lank besig was—tot met sy dood in Februarie 2006. Rau het voorspel dat ’n volwaardige kwagga in die vierde geslag van die telingsprogram sou herrys. Voor sy dood het hy die derde geslag aanskou... ’n vulletjie wat volgens hom in ’n groot mate reeds pure kwagga was.
Maar was die besteding van dertig jaar van sy lewe—om ’n klompie strepies uit te wis ten einde ’n obskure uitgestorwe dier uit die dood te laat opstaan—was dit alles die moeite werd? Want dit lyk of dit betreklik maklik is om die kleurpatrone in die pels te herwin, maar kan ’n mens dit ’n ware fisieke herrysenis van dié subspesie noem?
Reinold Rau het duidelik nie getwyfel aan die Kwagga-projek waaroor hy so begeesterd was nie. ’n Aantal jare gelede het hy nog in ’n onderhoud aan Mieliestronk.com te kenne gegee dat ’n vlaktesebra wat soos ’n kwagga sal lyk niks anders as kwagga sal wees nie. Dit het ooreengestem met wat hy steeds ook aan ander lede van die media bly sê het: “Die kwagga is ’n kwagga vanweë sy voorkoms. En as jy diere produseer was só lyk, dan is hulle kwaggas.”
Rau self is nie verniet deur bewaringsbewustes as een van die laastes van ’n uitsterwende geslag van navorsers bestempel nie.
En die Kwagga-projek gaan voort al kon hy self nie die uiteinde daarvan belewe nie...
  

Kwaggas word deur jagters afgemaai...DIE slagting van die kwaggas in Suid-Afrika word grafies uitgebeeld in ’n ou skildery deur Franz Roubai in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad (afbeelding HIERBY). Waar hulle eenmaal in hul menigtes op die vlaktes van die Karoo en die Vrystaat gebaljaar het, is daar sedert 1883 nie meer ’n enkele lewende kwagga op die aarde oor nie. DIe mens het hierdie diere tot uitsterwing gejag.

Net in museums kan mense nog die opgestopte reste van kwaggas besigtig. Dit is die groot hartseer kant van die verhaal.

Die kwagga "leef" weer!Die gelukkiger sy word voorgestel deur ons guitige animasie LINKS. Dit beklemtoon die moontlikheid dat die uitgestorwe kwagga tog weer binne afsienbare tyd springlewendig kan wees indien ’n unieke plan slaag om hom uit die dood uit terug te teel!

Met ’n verbeeldingryke teelprogram wat reeds sedert 1987 deur die SA Museum onderneem word, word gehoop om ’n vlaktesebra met genoeg kwagga-eienskappe te teel sodat dit as ’n volwaardige kwagga sal deurgaan.

Die teelprojek was tot in 2006 onder leiding van wyle Reinhold Rau, die museum se beroemde taksidermis en die man deur wie se toedoen weefsels van ’n opgestopte kwaggavulletjie van die museum reeds jare gelede ontleed is—net om vas te stel dat die kwagga nie ’n eie spesie was nie, maar ’n subspesie van die vlaktesebra.

Om ’n spesie uit die dood terug te teel, is met ons bestaande tegnologie onmoontlik (tensy goed gepreserveerde reste van uitgestorwe diere nog eendag met welslae gekloon kan word). Om egter ’n subspesie van ’n bestaande spesie weer “op te wek”, is  ’n heeltemal ander saak. Rau het besef dit sou moontlik wees om die kwagga volledig terug te teel bloot deur vlaktesebras te selekteer wat klaarblyklik nog baie kwagga-gene in hul samestellings het.
  

Rau en sy opgestopte kwaggavulletjie in die SA Museum in Kaapstad

BO: Wyle Reinhold Rau staan in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad by sy opgestopte kwaggavulletjie wat alles aan die gang gesit het. Daar is al selfs vertel dat dit Rau se werk was wat die Amerikaanse skrywer en rolprentmaker Michael Crichton geïmspireer het om die beroemde Jurassic Park te skryf. Daar is egter maar ’n skrale ooreenkoms tussen die Kwagga-projek en die fiktiewe opwekking van dinosourusse deur die kloning van ou reste van hierdie reuse-diere. In die Kwagga-projek word immers van oudmodiese metodes van selektiewe teling gebruik gemaak en nie van moderne genetiese ingryping nie.

Beelde van Rau en kwaggatjie onttrek uit ’n foto van die SA MUSEUM

  
Rau het aanvanklik nege teeldiere gekies uit sowat 2500 vlaktesebras wat hy in die Etosha-wildtuin ondersoek het. Later is nog diere uit Etosha asook Zoeloeland bygevoeg. ’n Paar generasies van inteling later, was Rau as koördineerder van die Kwaggaprojekvereniging saam met ander betrokkenes reeds baie opgewonde oor wat  bereik is.

Veral twee vulletjies wat in die Wes-Kaap gebore is, het teen die eeuwisseling groot geesdrif gaande gemaak. Die een was die hingsvul Etienne, wat in Oktober 1998 die eerste lewenslig op die Groote Schuur-landgoed aanskou het. Die ander was die merrievul Tracy, wat in Februarie 2000 aangekom het in die Elandsberg- private wildtuin by Wellington.

By dié nuwe aankomelinge was daar reeds opwindende uiterlike tekens te bespeur dat die projek aan die slaag is, dat daar al hoe nader beweeg word aan die herteelde kwagga.

Maar in die somer van 2005 het Rau gevoel hy is selfs nóg nader aan sukses. In die private wildtuin het 'n vulletjie genaamd Henry sy opwagting gemaak, met ’n sagte geelbruin pels van sy ribbekas af tot by sy boude.

Iemand wat Rau vergesel het toe hy Henry deur ’n verkyker bekyk het, onthou sy woorde: “Kyk net daardie strepe. Hulle is nêrens naby die pens nie. Dis baie soos die kwagga is.”

Wanneer  ’n suiwer  kwagga wel sy herverskyning gaan maak, is nie seker nie, maar vir Rau sou dié dag veel groter gewees het as vir al die baie kenners en leke wat steeds gretig daarop wag...
 

Etienne
 Etienne

Tracy
Tracy

Foto's: AFRIKOM / SA MUSEUM

 

 

MAAR presies hoe pas die kwagga in die sebrafamilie in? En hoe het Rau destyds vasgestel dat die oorlede kwagga eintlik ’n sebra is?

 

Suid-Afrika het twee sebraspesies, naamlik die bergsebra en vlaktesebra. Die Kaapse bergsebra was teen 1950 op die rand van uitwissing, met minder as honderd van dié diere oor. Gefokusde bewaringsinisiatiewe het egter gesorg dat hul populasie vyftig jaar later, teen die eeuwisseling, tot naastenby 1200 aangewas het.

 

Die Kaapse bergsebra lyk meer gestreep as die vlaktesebra omdat hy smaller strepe het. Die vlaktesebra is die volopste sebrasoort. Daar is, of was, sowat vyf subspesies—wyd versprei oor Suider- en Oos-Afrika. Die uitgestorwe kwagga—as ’n subspesie van die vlaktesebra—is ook die “egte” kwagga genoem, omdat die ou Boere eintlik maar van alle vlaktesebras as kwaggas gepraat het. Hierdie verwarring het bes moontlik die uitwissing van die kwagga help verhaas. En al wat behoue gebly het, was 23 kwaggavelle, wat meestal in Europese museums beland het.

 

Die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad kon darem op een eksemplaar roem: ’n opgestopte kwaggavulletjie waarvan die vel om en by 1858 deur ’n plaaswerker afgeslag is. Dit is daarna opgestop deur ’n Franssprekende taksidermis (diere-opstopper) wat tydelik vir die museum gewerk het.

 

Maar die Duits-gebore taksidermis Rau, wat meer as vier dekades gelede by die museum aangestel is, was glad nie tevrede toe hy die Fransman se kru opstoppery van destyds ondersoek nie. Die kwaggatjie is bloot met hennep en strooi opgestop. Dit het Rau laat besluit om dit van nuuts af te doen met behulp van moderne metodes. Diervelle word immers nie meer werklik “opgestop” nie, maar van die dier word eers ’n lewensgetroue beeld gemaak, wat dan met die vel oorgetrek word.

 

Terwyl hy met die taak besig was, het Rau reste van spiere, bloed en ander weefsels aan die vel van die jong kwagga opgemerk en besluit om dit vir ontleding te bewaar. Want soos sekere ander kenners het hy altyd gewonder of die kwagga miskien glad nie tot ’n afsonderlike spesie van die perdagtige diere behoort het nie. Was dit dalk eintlik net die mees suidelike variant of subspesie van die vlaktesebra?

 

Meer as tien jaar sou egter verloop voordat ’n genetikus van Kalifornië aangebied het om die reste te ontleed. Hy het bevind dat Rau reg in die kol was met sy vermoede. Die DNS (erflike eienskappe) van die uitgestorwe kwagga het presies ooreengestem met dié van die vlaktesebra, wat steeds in die suide van Suid-Afrika voorkom.

 

Die res is, soos hulle sê, geskiedenis.

 

Klik hier vir die Kwagga-projek se eie omvattende webwerf. (Sal in ’n nuwe venster oopmaak)

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad