HEEL MOONTLIK het jy
dit al meermale gesien—daardie tregtervormige gaatjies
in die sand of stof in die veld, wat vir n dwalende
miertjie of ander insek n dodelike valstrik kan
wees.
Sodra n niksvermoedende goggatjie in die kuiltjie
ingeloop het, kom hy nie sommer weer daaruit nie. Hy trap-trap
hier en kriewel daar, maar die ronde sandwalletjie bly op
hom intuimel.
En terwyl hy nog so spook, ontpop die kloue van n
meedoënlose klein verskrikking van onder uit die sand-tregter.
Die prooi word blitsvinnig vasgegryp. Hierna word sy
liggaamsvloeistowwe uitgesuig totdat slegs die doppe of
dekskild oorbly.
Geen wonder die venynige roofinsek word die mierleeu
genoem nie.
Wat seker heelwat minder bekend is, is dat die bekende
mierleeu bloot die larwe van n vlieënde insek is.
En dat die volwassenes nogal baie soos naaldekokers lyk!
In die Karoo, byvoorbeeld, is daar boonop baie soorte
mierleeus, kleintjies sowel as grotes, spesies met
gevlekte vlerke en ander met glashelder vlieserige
vlerkies.
Dog die mens se geboeidheid bly maar eintlik by hierdie
insek in sy larwestadium. Kyk maar net hoe grawe hy sy
slagoffer se doodsput deur agteruit in n sirkel te
beweeg. Om en om gaan hy ál dieper in die grond in,
terwyl die spiraal ál smaller raak en hy oortollige sand
met sy kop buitentoe uitwerp.
Sodra die tregter voltooi is, lê hy dan vlak onder die
sand en wag...
Wat baie eienaardig van die tregterbewoners is, is dat
hulle baie lank sonder kos kan klaarkom. Dit kan n mierleeu-larwe baie maande of selfs jare kos om
tot n volwassene te ontwikkel.
Sy lyf, wat met stywe borselhare bedek is, bied hom die
nodige houvas in die sand. En pleks van n mond het
sy sekel-agtige kake smal gleufies aan die binnekant
waardeur die slagoffer se liggaamsappe beweeg.
As jy graag wil sien hoe hierdie
vraatsugtige kêrel lyk, kan jy in droë, sanderige
grond na een van sy putjies gaan soek. Blaas dan die sandwande
van die putjie versigtig met ’n strooitjie weg—en daar is
ta!
Die mierleeu ondergaan n volledige metamorfose—van eier tot larwe tot papie tot volwassene.
Die eiertjie is piepklein. Die larwe wat sy verskyning daaruit
maak, is die eintlike "leeu". Hy vreet miertjies en
al sulke diertjies totdat hy volgroeid is en dan begin hy
spin, nogal deur middel van sy anus, totdat hy geborge aan die
binnekant van ’n sykokon as ’n papie tot rus kom. Nou vind
die groot metamorfose plaas. Wanneer hy uiteindelik weer sy
verskyning buite maak, lyk hy nie meer naastenby soos die
gulsige larwe wat die miere se moses was nie.
Maar
nou kan hy sy jagtog op insekte voortsit—in die lug, want
nou kan hy vlieg! Soos gesê, herinner hy ’n mens aan ’n
naaldekoker. Sy lyf is ook skraal en hy het lang netvlerke,
maar hy kan maklik van die naaldekoker onderskei word deurdat
hy twee groot voelers op sy kop het. ’n Mens kan omtrent nie
’n naaldekoker se voelers met die blote oog sien nie. Klik
hier vir ’n foto van ’n regte
naaldekoker (foto in openbare
domein). Klik dan net op die
terugpyltjie in jou gewel om hierheen terug te keer.
En anders as die naaldekoker is
die volwasse mierleeu se vlug baie swak en rukkerig. Terwyl
ander vlieënde insekte se borskas ’n stewige kapsule vorm
met goeie anderplek vir die vliegspiere, is die mierleeu se
borssegmente los en beweeglik. Die bring mee dat sy vlerkslag
stadig is.
Sy vlerke beweeg ook nie saam
soos by die meeste ander insekte nie. Die mierleeu se
voorvlerke beweeg op wanneer die agterste afgaan en omgekeerd.
Mierleeus het veral die kinders van vorige geslagte
gefassineer, omdat dié in veel meer landelike
omstandighede grootgeword as vandag sn. In
Afrikaans het die mierleeu selfs ander name—
joerie, joelie, kiepie of kokkewiet— wat nie meer so dikwels gehoor word nie.
Die naam joerie is nietemin lewend gehou in n volksrympie,
wat kinders gedreunsing het terwyl hulle met n
stokkie in n mierleeu se sandgaatjie gekrap en hom
probeer uitlok het om sy verskyning te maak:
Joerie, Joerie, botter en brood,
as ek jou kry, slaat ek jou dood.
Soos ’n mierleeu-kenner dit
dan ook stel: ''Die bekoring wat mierleeus vir mense het,
is universeel. Baie van ons leer as kinders van
mierleeus, en ons herinneringe aan hierdie geheimsinnige
kreatuurtjies is onuitwisbaar. In die stories wat ons as
volwassenes vertel, onthou ons weer wat ons as kinders
waargeneem het, en baie van hierdie verhale het duidelik
herkenbare temas van onskuld, ontdekking en selfs
moraliteit.''
Om Salomo so effens anders te parafraseer: Gaan na die
mierleeu en word wys...
|