ZOEI-I-I-I-I-I-I...
ZIP! Daar sit sy ongevraag op jou ontblote vel en sy hou ’n
bloed-makietie.
En jy besef dit moontlik nie eens
nie.
Eers agterna krap jy vir
’n vale aan die rooi en bultende klein gevolge van die vrypostige
muskiet se brassery.
Verpestelike klein
Dracula! Wie gee haar die reg om jou so te treiter?
Hoe ook al, as haar
bietjie bloed steel maar al was, kon ’n mens miskien-miskien nog hierdie
hoogs lastige bytertjie so halfpad geduld het. Wat egter veel erger is,
is dat die
muskietwyfie onmoontlik kan besef watter
onnoemlike ellendes sy alles op aarde veroorsaak.
Malaria, geelkoors, knokkelkoors,
harsingsontsteking—en nog
sowat tagtig virussiektes wat aan muskiete gewyt word—het saam reeds
miljoene mense in hul graf laat beland.
Die
muskietwyfie,
het ons gesê? Inderdaad.
Raar maar waar, die mannetjiemuskiet is geen bloedsuier
soos sy nie. Hy’s ’n doodsedige jansalie wat heeltemal tevrede is om
lewenslank aan niks anders as nektar te teug nie. Ook vrugtesappe en selfs
vuil water is op sy geheelonthouer-spyskaart.
Dit is dus sy wyfie wat haar
lyf bloedsuier hou en so venynig op jou lyf te kere gaan. Tot haar
verdediging kan miskien tog gesê word dat sy die proteïen in jou bloed
broodnodig het. Sonder bloed kan sy immers nie haar
eiers lê sodat die muskietnasie kan voortbestaan nie. (Daar is darem ook
party soorte muskietwyfies wat nooit bloed soek nie.)
’n
Aantal van die meer as 3000
muskietsoorte wat wêreldwyd voorkom, is die draers van al die
pestilensies waarvan ons hierbo gepraat het. Suidelike Afrika is
die gasheerstreek vir nagenoeg 500 muskietsoorte. Malaria
is beslis die bekendste muskietverwante siekte, en in ’n ander
Mieliestronk-artikel word breedvoeriger daarvan vertel.
’n Baie gevaarlike
muskiet is Aedes aegypti, die soort wat in
die tropiese en subtropiese dele van Afrika en die Amerikas die virus
van geelkoors versprei. Hierdie muskiet het al duisende mense
doodgemaak.

REGS: Aedes aegypti, die
gevreesde soort muskiet wat geelkoors oordra.
Foto: ARS / U.S. DEPARTMENT
OF AGRICULTURE
|

|
LINKS: ’n Insektekundige
demonstreer in ’n reukmeter watter aantrekkingskrag sy hand vir
geelkoors-muskietwyfies het. In die reukmeter is ’n skerm wat die
lokmiddel (in hierdie geval sy hand) van die muskiete skei.
Foto: PEGGY GREB / ARS / U.S. DEPARTMENT
OF AGRICULTURE |
Speekselklier
van
besmette muskiet
REGS:
Nog ’n gevreesde siekte wat deur muskiete oorgedra word, is ’n
harsingsontsteking wat in die oostelike helfte van die VSA voorkom en deur
die Amerikaners Eastern equine encephalitis (of EEE) genoem word.
Hierdie verkleurde transmissie-elektronmikrograaf toon ’n speekselklier
van ’n besmette muskiet. Die EEE-virusbesmetting is rooi gekleur. Dit
word as een van die ernstiger “muskiet-siektes” in Amerika beskou
omdat soveel lyers daarvan sterf. Dit word deur muskietbyte aan mense
oorgedra, maar die hoofoordragsiklus is tussen voëls en muskiete. Perde
kan ook besmet raak en vrek.
Foto: FRED MURPHY,
SYLVIA WHITFIELD / U.S. CENTERS FOR DISEASE CONTROL AND PREVENTION |
MAAR
kom ons bekyk ’n
bietjie een of meer van die aarde se ontelbare muskiete van naderby.
Miskien het jy byvoorbeeld al gewonder presies hoe hierdie verfoeilike
insekte daardie gewraakte
zoei-geluid maak waarvoor hulle so bekend is. Al praat die digter van ’n
muskiet wat ’n aria “sing”, is daar hoegenaamd geen ooreenkoms tussen
die muskiet se geluid en my en jou musikale geneurie onder die stort
nie. Dit het nie eens iets gemeen met die sang
van voëls nie.
Die geheim van die geluid lê nie in stembande nie, maar in die wyfie se vlerkies. Dié het
duisende skubvormige hare wat die zoei-klank
voortbring wanneer sy die vlerkies teen ’n duiselingwekkende 200 tot 600 vlerkklappe per sekonde
laat vibreer.
En op hul
eiesoortige manier is die muskiete se geluide tog wel “liefdesliedere”.
Die mannetjie
hoor die wyfie se gonsery met sy twee pluimvormige voelers. Daar is eers
gedink dat die wyfie miskien doof kan wees en dat net die mannetjie kan
hoor waar sy rondvlieg, maar navorsers van die Cornell-Universiteit in
Ithaca, New York, het anders bevind.
Hulle het
die geelkoors-muskiet Aedes aegypti bestudeer en agtergekom dat
vryerige muskiete ’n paringsduet lewer deur hul vlerke harmonieus saam
te klap. Minnelied van die Muskiet... ’n mens staan weer verwonderd oor
die harmonie in die natuur wat tot in die kleinste dingetjies bestaan!
Maar só vind
meneer en sy liefdesmaat dan mekaar in die donkerte. En in die maand of wat
waarin die wyfie leef, kan sy vier of
vyf keer eiers lê, wat sy telkens bevrug met die manlike
saad wat sy in haar liggaam hou.
DIS besonder
interessant dat die verskillende muskietspesies elk hul
eie tyd het wanneer hul bedrywig is—sowat twee uur
lank uit elke 24 uur. Dit is dus nie dieselfde soort wat
jou vroegaand en dan weer laat in die nag tempteer nie.
Verskillende soorte byt selfs op verskillende hoogtes bokant
die grond.
Voorts waag
party muskiete dit nooit verder as 500 meter van hul “geboorteplek” nie, terwyl ander tot 30 km in een nag kan
aflê agter ’n slukkie mensebloed aan. Nie almal is egter
kieskeurig nie. Sommige byt honde, beeste, hoenders,
olifante, paddas, slange—enige bloedskenker wat hulle kan vind—en die mens
is dan bloot ’n toevallige slagoffer.
Enkele soorte suig selfs
die bloed van ander insekte soos hottentotsgotte en miere.
Die
wyfiemuskiet is al ’n lugvaartkundige wonder genoem. Sy
kan onderstebo, agteruit en selfs sywaarts vlieg—en
boonop skielik versnel of stadiger vlieg om ’n klappende
hand vry te spring. Party soorte, word vertel, kan selfs
in ’n reënbui vir elke druppel koes en droog anderkant
uitkom!
WAT dit is
wat muskiete na die mens toe aantrek, is steeds nie heeltemal
duidelik nie. Daar is tot al vertel dat dit die reuke
van ’n mens se voete is wat hulle die meeste verlei.
Sodra jy jou skoene uittrek, sou hul aptyt aangewakker
word deur die walms in hul onmiddellike atmosfeer—al
sou jy ook self hóé oortuig daarvan wees dat jy nie met
onwelriekende voete gepla is nie!
Dit lyk wel
of temperatuur ’n belangrike rol speel. Trouens, die muskiet se groot,
niervormige oë kan infrarooi (of hittestrale) waarneem, net soos die
mens se missiele vliegtuie kan opspoor. Navorsing dui boonop daarop dat muskiete wisselings van tot 0,05 ºC in die
lugstrome om die mens kan aanvoel.
Hulle het besonder gevoelige sensors. Hiermee vang hulle jou reuk op aan die
koolsuurgas wat jy uitasem en die melksuur aan jou vel.
En as jy vir hulle lekkerder ruik as iemand anders, is jy
die een wat môreoggend gaar gebyt is.
Vogtigheid lok ook
muskiete, sodat vet mense, wat meer sweet, meer gebyt word as maer mense.
Maar nou moet
’n mens uiteindelik ook sê dat die
“byt” van ’n muskiet is eintlik ’n verkeerde
woord in die volksmond is. Wat die insek in werklikheid doen, is steek, en wel met
’n geniepsige steekbuis.
Hierdie steekbuis is ’n lang snoet met messies waarmee jou vel ongeërg oopgekerf word, waarna die muskiet haar snoet
’n millimeter of wat onder jou vel in een van jou
haar-aartjies indruk voordat sy begin bloed suig.
Sy spuit
ook speeksel in die wondjie in. Dit bevat ’n teenstolmiddel
wat keer dat jou bloed op pad na haar maag stol. Dit is
hierdie speeksel wat die steekplek agterna so hinderlik
laat jeuk. Dit is, afhangende van die muskietspesie, ook só ’n
druppeltjie spoeg waarin die kieme kan skuil wat ’n mens dalk kan laat
siek word of doodmaak.
Voordat sy
op jou liggaam feesvier, weeg die muskiet maar ’n piepklein breukdeeltjie van
’n gram. Wanneer sy binne ’n minuut nadat sy haar sit gekry het met jou
vrag bloed wegvlieg, is sy baie swaarder. Haar kosbare
buit het dikwels ’n gewig van meer as 5 mg—drie keer
meer as wat sy self weeg.
Nou het sy
genoeg voeding om 70 tot 500 eiers te produseer, ook afhangende van die spesie. En daarmee word
’n nuwe geslag
muskiete verwek wat jou met hernieude bloeddorstigheid in die
somernagte uit die bed kan jaag. Tensy jy vooraf verstandig genoeg was
om vir jou ’n doeltreffende muskietverdrywer te gaan koop. Wyk,
muskiet, wyk!
Die muskiet van die
eier tot volwasse insek
|
Die
Anopheles-soorte:
|
Die
Culex-soorte:
|

|

|
Volwasse Anopheles-muskiet
|
Volwasse
Culex-
muskiet
|
|
MUSKIETE behoort tot die familie
Culicidae in die orde van die
Tweevlerkiges (Diptera).
Malariamuskiete, soos die een LINKS BO, behoort tot die
genus Anopheles. Die gewone huismuskiet
(REGS
BO) word as Culex pipiens geklassifiseer.
Die
muskiet ondergaan in sy ontwikkeling van eier tot volwasse
insek ’n volledige metamorfose. Nadat die wyfie haar
trommeldik met jou proteïeryke bloed gevul het, lê sy haar
eiers enkeld of in groepe (eiervlotte), meestal op water.
Wyfies lê tussen 70 en ’n
yslike
sowat 500 eiers, na gelang van die spesie. (Party
soorte lê wel hul eiers op plante of op die grond, waar hulle in
’n rustende toestand verkeer totdat dit reën.)
Muskieteiers
dryf op die water danksy twee of meer lugkamertjies in die
eierdop. Ná twee of drie dae broei die eiers uit en die
pootlose, wurmagtige larwes maak hulle tuis in die water. Hier
sal hulle later eers tot papies ontwikkel voordat hulle as
volwassenes uit die water sal kan klim en wegvlieg.
Die
larwe is, sover dit die mens aanbetref, miskien die enigste
nuttige stadium van die muskiet. Muskietlarwes is immers
voortreflike klein watersuiweraars. Weerskante van die mond
van die larwe is twee haarborsels waarmee hy alge,
mikroörganismes en stukkies organiese afval uit die water in
sy mond inwarrel. Boonop dien larwes as kos vir visse.
Die
larwe is effens dikker by die koppenent en haal asem deur
middel van lugpypies wat aan die agterpunt van die liggaam
uitmond sodat hy telkens die stert na die oppervlak moet bring
om lug in te neem.
Hy
verander ná ’n week of twee in ’n papie nadat hy vier
keer vervel het. Die papie, wat glad nie vreet nie en op sy
beurt met twee snorkels op sy bors asemhaal, vervel ná twee
tot drie dae—en die vlieënde muskiet kry sy koers in die
lug in.
Muskietlarwes
en -papies kan in staande water doodgemaak word deur olie op
die water te gooi en só te keer dat hulle lug kry. Ongelukkig
is dit nie altyd die beste opsie nie, omdat olie die omgewing
besoedel.
Hoofbron
vir teks: E. Holm en W.M. de Villiers: ONS EIE INSEKTE,
uitgegee deur Tafelberg-Uitgewers. ISBN 0 624 01945 4.
|
|