KAART: Die wêreld van die Nazca.
SOVEEL
eeue het intussen verloop dat niemand werklik meer weet waarom hulle hier in die reënlose
woesteny aangebring is nie. Hier sien jy ’n voël,
elders ’n aap, op verskillende ander plekke onderskeidelik weer ’n
walvis, ’n spinnekop, ’n akkedis en nog meer. Dit lyk byna of ’n
verveelde reus die een of ander tyd plek-plek hier kon gebuk het om ’n
aantal tekeninge op die aardkors te krabbel.
Die
gegraveerde orakels op die woestynlandskap in die suide van Peru—lang geometriese lyne
plus tekeninge van tot meer as 200 meter lank daarby— is geskep deur rotse en klippe te verwyder en die woestynsand
daaronder bloot te lê.
Die
skeppers daarvan was vermoedelik ’n antieke Peruaanse volk, die Nasca,
wat dit na alle waarskynlikheid hul eiesoortige kultuur ook op hierdie
manier seremonieel uitgeleef het.
Die Nazca was tydgenote van die
ou Romeine, en hul kultuur het etlike eeue voor
die bekende Inka-kultuur uitgesterf. Hulle het in
die riviervalleie van die Ica en Nazca in Suid-Peru
gewoon en, benewens die woestynpatrone, het hulle
ook indrukwekkende potte en fyn afgewerkte
tekstielstowwe gemaak.
REGS: Nazca-potte.
Boonop het hulle
’n vindingryke besproeiingstelsel ontwerp. Die Nazca-ekonomie
was immers op die landbou gegrond, hoewel die vang van
visse ook belangrik kon gewees het.
Dit sou verbasend genoeg
gewees het as dit al was wat die Nazca nagelaat het, maar
naby die duistere patrone is ook die heilige stad
Cahuachi, ’n reusagtige seremoniële sentrum van destyds,
wat jare lank deur die Italiaanse
argeoloog Guiseppe Orefici nagevors is.
LINKS:
Nazca-skedels.
Hy het die tempels en grafkelders daar bestudeer en ’n menigte
eienaarige dinge omtrent die Nazca se lewenswyse en geloof ontbloot.
Benewens beendere, potte en vroeë Pansfluite, het hy en sy span ook
gemummifiseerde menskoppe ontdek. In elk van dié koppe was ’n gat in
die voorkop geboor, sodat ’n tou daaraan geheg kon word, oënskynlik
as ’n dra-handvatsel.
BO: ’n Nazca-mummie.
''Die koppe was nie
dié van vyande wat in gevegte gedood is nie—die Nazka
was ’n vreedsame volk—maar het aan Nazka-mans,
-vroue
en -kinders behoort,'' sê Orefici, wat glo dat hulle as
offerande aan die gode in die tempels geplaas is.
Baie van die grafkelders is
ongelukkig eeue lank deur grafrowers geplunder wat na
goud gesoek het, maar in die ongeskonde kelders het
Orefici-hulle erdewerk en weefstof van ''uitsonderlike
gehalte'' gevind. En, sê hy, "dit bevat dieselfde
motiewe as die woestyntekeninge: al die dieregode van die
Nazca-panteon.''
Dit is verstommend dat
party van die weefstowwe ná meer as tweeduisend jaar
steeds helder is, met die gebruik van meer as tweehonderd
kleure, indrukwekkende weeftegnieke en bisarre fraiings
van mensfigure.
Tog,
met Peru se lang en ingewikkelde geskiedenis, is
daar ander navorsers wat die verband betwyfel
tussen die Nazca-artefakte en die vreemde lyne en
tekeninge in die woestyn. Hulle reken weer die
patrone op die grond lyk nie soos enigiets wat jy
op die ou historiese voorwerpe sal vind nie.
REGS: Benewens die tekeninge is daar
ook onverklaarbare geometriese lyne op die grond.
Een probleem
is dat ’n mens nie die bekende metode van koolstof-datering
kan gebruik om die ouderdom van die grondpatrone te
bepaal soos wat jy met die artefakte kan doen nie. En dalk, wie weet, is die lyne en grondtekeninge nog die werk van meer as
een Peruaanse kultuur.
Of, as jy dink dat vlieënde
pierings moontlik tog bestaan, kan jy allerhande verbeeldingryke ander
moontlikhede vir jouself optower. Soos dat die lyne eenmaal landingstroke
vir buite-aardse ruimteskepe was—en die tekeninge dan seker was daar
om die vlugpassasiers te vermaak!
|