’N VINNIGE, daaglikse gevryf met ’n brandnetel kan
’n prikkelende lafenis vir mense met
pynlike gewrigte wees. Só reken Britse geleerdes wat ’n tyd gelede die uitwerking van dié stekelplant op lyers aan
osteoartritis van die duim nagevors het.
Osteartritis is ’n siekte van die kraakbeen by litte. Dit slaan veral toe
wanneer ’n mens oud word—die onverbiddelike gevolg van
die slytasie en verrinnewasie van die liggaam.
LINKS:
Die brandnetel.Die
brandnetel
(Urtica dioica) het seker geen bekendstelling nodig
nie. Dis daardie venynige onkruid met die skerp
haartjies op die blare, wat in tuine of op ashope,
oop kolle en elders groei. Die haartjies beskadig
maklik jou vel en laat ’n branderige sap in die
wondjies kom.
’n Navorsingspan
by die Plymouth Postgraduate Medical School in
Devon het saamgewerk met 27 pasiënte met
osteoartritis aan die basis van duim. ’n Aanmerklike aantal van hulle het verligting van
pyn met brandnetel-behandeling ondervind.
Van die
menslike proefkonyne het sowat ’n halfuur lank ’n duidelike geprik op die behandelde plek ervaar, gevolg
deur ’n warm tinteling vir sowat 24 uur. Daarna het party
van hulle gevind dat die pyn so lank verdoof gebly het
dat daaropvolgende behandelings soms glad nie eens seer
was nie.
Hoewel nog
navorsing nodig is, meen die span dat daar iets in
brandnetels kan wees wat pyn verlig deur op die
pynreseptors in te werk. Buiten die normale veluitslag
wat deur die netels veroorsaak word, lyk dit ook nie of
die behandeling enige newe-effekte het nie.
Tog waarsku die
projekleier, Colin Randall, mense om versigtig daarmee te
wees. Mense dink natuurlike rate is doodveilig, sê hy,
maar dis nie noodwendig altyd die geval nie.
Waarop iemand
hierdie stuitigheid kwytgeraak het: moenie in die
brandnetels gaan rondrol elke keer wanneer die jig in jou
gebeentes invaar nie—netnou sit jy met die "netelige"
probleem dat jy nog boonop "brandsiek" ook is!

BO: Bloeiwyse en
saadvorming van die brandnetel.
MAAR dis nie net van gister af dat mense helende
eienskappe aan die nederige brandnetel toedig nie.
Soldate het dit glo reeds in die Romeinse tyd gebruik,
terwyl selfs die bekende agttiende-eeuse Metodistiese
prediker John Wesley dit aanbeveel het.

REGS: Die tee wat van hierdie nederige plant gemaak word, sou glo help
vir ’n hele rits kwale.
Daar is ook
lankal mense wat sweer by die genesende kragte en
pynverdowende eienskappe van tee wat met die blare van
die netels gemaak word. Dit en ander brandnetel-preparate
word byvoorbeeld vir nierkwale aanbeveel, asook vir
hooikoors, bloedsuiwering, brongitis, asma, aambeie
allergieë, moegheid, prostaatprobleme, blaaskwale,
velkwale, maagontsteking, noem maar op.
As jy spat-are
het, beweer party, kan jy baat vind by uitwendige
kompresse wat in brandnetelsap geweek is. Verder sou dit
help vir skilfers as jy jou hare daarmee was. Of dit kan
jou hare stimuleer om te groei.
Dit verhoog glo
egter ’n mens se bloedsuiker en diabete word dus afgeraai
om dit te gebruik. Volgens ’n ander bron is dit om die
een of ander rede ook nie aan te beveel vir swanger vroue
of dié wat hul babas laat drink nie. Brandnetels werk
boonop in op die menstruasie-siklus.
Maar vir dié
wie se gestelle net voordeel daaruit kan trek, word ’n kooksel van die sagte botseltjies van brandnetelplante as
groente hartlik aanbeveel deur mense wat dit al geproe
het. Wat meer sê: jy kan glo met vrug brandnetel-ekstrakte
by omtrent enigiets voeg—van poedings tot kaas tot sop
tot wat ook al!
Op die koop toe
kan rou stingels en blare van die plante 24 uur lank in ’n emmer water geweek word. Die stingels word dan verwyder
en die water as ’n organiese insektedoder teen plantluise
aangewend.
En as
tradisionele Afrika-medisyne word die brandnetel weer tot
snuif verpoeier om bloeiende neuse, oormatige menstruasie
en inwendige bloeding te behandel.
Tog is die
plant, wat deur sekere mense die brandnekel of
brandneukel genoem word en hier so ’n bekende onkruid is,
vreemd genoeg glad nie inheems aan ons land nie.
Twee spesies,
die gewone brandnetel en die groot perdenetel, is
blykbaar reeds vroeg-vroeg van Europa af hierheen gebring,
óf as saadjies met die een of ander saadbesending óf in
die voer vir ingevoerde diere. Dit het nie lank geduur
voordat hulle oor die hele land versprei geraak het nie.
Dis voorts
interessant dat die brandnetel tot ’n plantorde behoort
wat dagga sowel as die vye- en moerbeibome insluit, asook
hop, die klimplant wat op groot skaal as geurmiddel vir
bier gekweek word.
Tot dieselfde
plantfamilie as die brandnetel behoort die inheemse
bergbrandnetel, wat volop in die Laeveld, van Pretoria af
tot by Lydenburg, voorkom. Dié plant, wat byna vyf meter
hoog kan word, het ook wit, stekelrige hare soos die
brandnetel, maar sy vernaamste eienskap is sy taai bas
met sterk vesels waarvan tradisioneel matte gemaak word.
Ook die
Voortrekkers het hierdie vesel dikwels as ’n plaasvervanger vir tou gebruik. Trouens, by die ``Colonial
and Indian Exhibition'' wat in 1886 in Londen gehou is,
is ons bergbrandnetel bekroon as op een na die beste
vesel.
REGS:
Nog brandnetel-haartjies... piepklein, maar vol venyn.
Die
brandnetel se beweerde medisinale kragte lê
volgens natuurgenesers in sy ryke verskeidenheid
van vitamiene en minerale, maar die feit bly dat
hy nie ’n plant is wat jy sonder handskoene moet
pak nie. Die irriterende suur wat sy afbreekte
haartjies in jou verinneweerde vel afskei, is
mieresuur, dieselfde suur wat miere in hul
spoegkliere het.
Plaas ’n alkali soos
’n pasta van koeksoda en water op die
veluitslag as jy erg onder die netels deurgeloop het.
Selfs spoeg, wat effens alkalies is, kan die suur in ’n sekere mate neutraliseer.
En kyk volgende
keer as jy ’n brandnetel gewaar met nuwe oë na die
“pestilensie”. Wie weet watter ander van sy
beweerde heilsaamhede gaan nie ook nog wetenskaplik bewys
word nie!
|