Karsiek   Seesiek Lugsiek
  

RYSIEK!
   

Die gekruiste lyne in jou kop

 

 

Goed negentig persent van ons mense is in ’n mindere of meerdere mate daarvoor vatbaar. Jy ry nog doodluiters in ’n motor, bus, skip of vliegtuig, en met verdrag sak daar ’n ondraaglike en onheilige naarheid op jou toe. UIteindelik sak jy wasbleek so diep moontlik in jou sitplek in en is jy half geneig om te wonder of die dood nie beter sal wees nie. Maar presies wat gebeur in jou brein wanneer só ’n mislikheid jou oorval? En watter rate en wenke is daar vandag om dit te voorkom en te behandel? Hier is die nuutste omtrent rysiekte . . .

H

Y HET Mauritius ''wankelrig binnegekom soos ’n dronk hoender op ’n waterbed''. Dis nou Gert Burger * van Kaapstad se grafiese beskrywing van sy nare ondervinding ná ’n busrit. Gert het van die lughawe af na sy eilandhotel gery en byna heel agter in die voertuig gesit. Toe hy moes afklim, was hy karsiek.
  
Ook ’n ruimteman kan rysiek word...''Ná ’n rit van baie kinkels en draaie het ek ten aanskoue van almal op ’n bankie op die hotelstoep neergeval,'' vertel Gert, ''terwyl die hele sieklike wêreld om my gedraai het soos ’n makabere mallemeule. Man, ek dog toe net ek het dalk ’n vreeslike tropiese pestilensie onder lede.
 
''Sien, ek was laas karsiek toe ek nog kind was en het nie onthou hoe dit was nie. Dis eers toe hulle my ’n pilletjie teen die naarte injaag dat ek besef het ek was eintlik net rysiek.''
  
Karsiek, rysiek, seesiek, lugsiek... vier name vir dieselfde ding. Die Engelse ''motion sickness'' bied waarskynlik die beste beskrywing van dié mislike beproewing, want dit kan deur enige beweging veroorsaak word, ook selfs wanneer jy nie fisiek deel van die aksie is nie.
  
Jy sit byvoorbeeld muisstil na ’n video en kyk, maar daar's ’n wilde gejaag deur ’n bos en die kamera spring woes op en af en heen en weer om die bedrywigheid te volg. Om alles te kroon, ruik jy ook nog die walms van gebrande vet uit die kombuis.
  

Kort voor lank voel jy ellendig. Jy skakel die kassie af en verruil die TV-kamer vir die badkamer. ''Praat van ’n siek fliek,'' kreun jy kop-in-die-bak vir jou besorgde gade, ''volgende keer huur ons liewer ’n stemmige video oor die dooie kraters op die maan!''

 

MAAR presies wat is rysiekte dan? Dit het alles te doen met dit wat jy sien tesame met ’n sekere vloeistof binne-in jou oor wat jou in staat stel om jou posisie te ''voel'' -- om te weet of jy byvoorbeeld regop staan, skuins hang of plat lê.
  

’n Mens se oë en binne-oor werk normaalweg saam om jou liggaamshouing en die ervaring van beweging oor te dra, verduidelik ’n dokter. Rysiekte vind plaas wanneer daar teenstrydige boodskappe na jou brein gestuur word.
  

''Gestel dat jy ’n boek sit en lees terwyl jy in ’n motor ry,'' sê die arts. ''Hoewel jou oë weinig beweging waarneem, word dit steeds deur jou binne-oor ervaar. Dit verwar jou brein en laat jou naar voel, met simptome wat wissel van ’n ongekrapte maag tot vomering.''
  

Of soos ’n ander kenner die sneller verduidelik wat seesiekte aanbring: ''Terwyl jou binne-oor, wat veranderings in oriëntasie en versnelling waarneem, duidelik die deining van die golwe aanvoel, ervaar jou oë geen beweging nie -- relatief tot die kajuit beweeg jy mos glad nie. Die gekruiste lyne in jou kop het dan ’n katastrofale effek!''
  

Maar hoekom sou ons brein ons dan op so ’n liederlike manier flous? Party bioloë reken dat rysiekte die simptome (soos ’n dronk kop) naboots wat veroorsaak is deur giftige plante wat ons vroegste voorouers tot hul verdriet sou geëet het. Dit sou hulle dan laat vomeer het sodat die liggaam van die gif ontslae kon raak.
  

’n Ander onaangenaamheid wat die reisiger kan tref, is hoogtesiekte. ‘n Joernalis-kollega vertel hoe hy eenmaal op ’n lughawe hoog in die Andes moes land. Hy het nie geluister na die vermaning om ’n tee van koka-blare te drink en eers ’n paar uur te gaan slaap nie. ''Dit was erger as tien ‘hangovers’. My kop wou bars van die pyn, ek was doodmoeg as ek ’n paar tree gestap het en ’n ontsettende naarheid het my oorval. Eers ná twee dae in die bed het ek begin regkom.''
  

Hoogtesiekte word veroorsaak deurdat daar weens die laer lugdruk (op sowat 3 600 m en hoër) te min suurstof in die bloed opgeneem word. Dit gebeur as jy te vinnig daar bo kom. Dit kan noodlottig wees as jy nie jou liggaam kans gegee het om aan te pas nie.
  

Hierdie beproewing is dus iets heel anders ry- of seesiekte -- wat ’n mens kan tref selfs as jy op ‘n haai vlakte, of natuurlik by die seevlak, rondgeskommel word. En rysiekte is boonop nie juis potensieel dodelik nie.

 
 

TOG IS dit ’n skrale troos vir ’n rysiek mens om te moet hoor dat hy in die goeie geselskap van verreweg die meeste mense op aarde is. Trouens, daar word geskat dat tot negentig persent van die mensdom rysiek kan word as die omstandighede hulle daartoe sou dryf.
  

So het die beroemde Britse krygsman Thomas Lawrence, ook bekend as ''Lawrence of Arabia'', wat in die Eerste Wêreldoorlog so ’n groot rol in die Midde-Ooste gespeel het, erg naar geword van al die wippery op sy kameel.
  

En Charles Darwin se teorie van natuurlike seleksie het, só word vertel, deels ontstaan omdat hy weens seesiekte sy skip moes verlaat om ’n ruk op die Galápagos-eilande deur te bring.
 

Aanbevole middels teen rysiekte was natuurlik van altyd af legio.
 

Twee teelepels heuning. Of pille wat die brein se geneigdheid onderdruk om van dinge te walg. Eliksers en tonikums. Paregories en lewensessense en vlugsout.
  

Maar nou kom die wonderlike tegnologieë van die 21ste eeu ook nog by.
  

Soos plakkertjies op die vel.
  

Of wat as die ''mees logiese vordering sedert die gebruik van slanggif teen slangbyte’’ bestempel word: ’n kasset genaamd Travelwell, waarna potensiële rysiekes voor en selfs gedurende ritte met behulp van oorfone moet luister. Die Britse vervaardigers voer aan dat verskuilde klanke, frekwensies en impulse op die kasset, wat met musiek vermeng is, op die binne-oor inwerk om dit op die normale manier ongevoelig vir rysiekte-boodskappe te maak -- deur middel van klank.
  

In Amerika het ’n maatskappy weer vorendag gekom met die sogenaamde ReliefBand. Dit word om die arm gedra en maak van elektroniese seine gebruik om senuwees in die pols te prikkel. Hierdie seine sou op hul beurt natuurlike senu-impulse in die liggaam stimuleer, wat dan sou inmeng met naarword-boodskappe wat na die maag op pad is.
  
Of so iets.
  

Die beste voorkomende raad teen rysiekte bly miskien nog om gemmer in een van sy verskillende vorms (maar straks liewer as ’n poeier) te sluk, reken heelparty gesoute rysiektelyers. Neem dit twaalf tot 24 uur voordat jy gaan ry. En neem van een tot vier gram daarvan -- ons verskillende bronne is nie eenstemmig oor die presiese dosis nie.
  

Hoe ook al, dink net, ''Pret belemmer? Sluk meer gemmer’’ kan mos naderhand ’n gewilde slagspreuk word vir al ons mislikes!


 
Ander beproefde wenke wat werk

DIS BAIE makliker om rysiekte te voorkom as om dit te behandel wanneer dit eers daar is. Hier is nog sekere van die maniere:

  • Sit waar die beweging die minste is. Ry, indien moontlik, op die voorsitplek van ’n motor en kyk reguit voor jou. Of, nog beter, bestuur self, omdat dit ’n egaliger akkoord verseker tussen jou oë en jou balanseerorgaan.

  • As jy vlieg, probeer om ’n venstersitplek langs een van die vlerke te kry.

  • Indien jy op ’n skip is, kies ’n kajuit in die middel van die skip, maar bring soveel tyd moontlik in ’n goed geventileerde gebied deur. Sit op die dek en kyk vorentoe na die horison. Probeer om nie ondertoe te gaan waar dit lyk of alles staties is nie.

  • Vermy alkohol of rook, skerp kosgeure of die dampe van vlugtige vloeistowwe soos petrol of diesel.

  • Vermy vetterige en gekruide kosse en bruiskoeldranke.

  • ’n Ligte, styselryke maaltyd vooraf met periodieke smulhappies terwyl jy ry (soos daardie kraakbeskuitjies wat die Engelse ''crackers'' noem) is die beste om jou bloedsuiker normaal te hou.

  • Vra jou apteker vir pille wat naarheid voorkom.

As jy begin olik voel:

  • Stel jou oë in op die horison.

  • Probeer om vars lug te kry.

  • Haal stadig en diep asem.

  • Plaas koue yspakke op jou oë en teen jou nek.

  • Sluk van die pille wat jou apteker jou gegee het en hou by die aanbevole dosis.

  • Les bes, probeer jou brein in rat kry deur aan niks te dink wat jou naarte sal vererger nie.

  • En onthou dat jy kan reken op al ons simpatie!

----------------------------------
* Nie sy regte naam nie

Klik hier om terug te keer na die inhoudsblad