DIS
nagenoeg 2 700 v.C. en die Chinese keiserin
Si Ling-Shi wandel in haar tuin waarin
daar baie moerbeibome groei. Toe, aan een
van die bome, gewaar sy ’n rusper wat
besig is om ’n blink kokon om homself te
weef. En die
keiserin pluk die kokon van die boom af.
Volgens ’n ander weergawe van die
verhaal het sy in die skaduwee van ’n moerbeiboom
sit en tee drink toe ’n kokon in haar koppie val.
Hoe ook al, die keiserin
bestudeer die kokon en kom agter dat sy ’n lang, dun draadjie, wat
verbasend sterk is, daarvan kan afdraai.
 BO: Vir vroue van die
Ooste draai die lewe dikwels om sy. Dit kan
die geskenk aan ’n eersgebore kind, die
bruid se versiering of bruidskat en
uiteindelik die gestorwene se doodskleed
wees.
|
|
Watter pragtige klere kan daar nie gemaak
word as materiaal van hierdie draadjies
geweef word nie! dink sy.
Si
Ling-Shi se man skenk haar hierna sommer ’n hele bos
moerbeibome en sy begin met
sywurms boer. Spoedig het sy genoeg van
die kokonne se sydrade afgewen om die
eerste symateriaal te maak.
Só is systof,
volgens die legende, in die Oudheid in
Noord-China ontdek, maar geskiedkundiges
sal seker nooit kan vasstel presies
hoeveel waarheid daarin steek nie. Dit
wil egter voorkom of die Chinese die
geheim van sy 2.000 jaar lank jaloers
bewaar het.
Eers
sou slegs die vorstegesin toegelaat
gewees het om klere te dra wat van
hierdie ryk stof gemaak is. Om hul kuns
vir hulself te hou het die Chinese
fantastiese stories oor die oorsprong van
sy opgedis vir mense wat gevra het waar
dit dan vandaan kom.
Die
stof het ’n duur luukse geword wat slegs
die rykstes kon bekostig. Sedertdien was
die sybedryf altyd ’n toonaangewende
industrie in China.
Die
geheim is, word vertel, uiteindelik aan
die Europeërs uitgelap toe twee monnike
sywurmeiers in hol kieries uit China
gesmokkel het. Teen die negende eeu was
die kuns feitlik in die hele Klein-Asië
bekend. Dit het na Afrika, Portugal,
Spanje en Italië versprei. Frankryk het
in die veertiende eeu sy geproduseer en
Engeland in die sestiende eeu.
Sy
was eenmaal die mees gesogte kledingstof
op aarde, hierdie produk uit die binneste
van ’n nederige wurm (wat eintlik geen
wurm is nie, maar die larwe van die
sywurmmot). Die vervaardiging van nuwe,
sintetiese stowwe wat sy op verskeie
maniere oortref, het die sybedryf egter ’n geweldige knou toegedien.
Maar die romantiek
van sy is steeds gevestig in die
keurigste kledingstukke, soos trourokke,
waarvan die ''sy en satyn'' selfs in ’n bekende ou liedjie besing word. En die
glansende weelde wat die mens uit die
produk van ’n onaansienlike insek geskep
het, loënstraf die opvatting dat alle
goggas op aarde, buiten miskien die bye,
as ons onverbiddelike vyande beskou moet
word.
Omstreeks 100 vC het
die Sy-roete ontstaan—'n antieke roete wat China en
Europa met mekaar verbind het. Nie net is goedere op die
verskillende paaie van die roete vervoer nie, maar ook
idees is in die proses uitgeruil. Die Sy-roete het in
der waarheid 'n kanaal vir die verspreiding van kennis,
kulture en denke tussen die Ooste en Weste geword.
Die Sy-roete
REGS:
Die netwerk van handelsweë wat Oos en Wes
verbind het en as die Sy-roete bekend
gestaan het (hoewel nie slegs sy daarlangs
vervoer is nie, maar baie ander dinge). Die
landweë word in rooi aangedui en die seeweë
(of waterweë) in blou.
Kaart deur
Ѕan Roze
(Wikiality123),
wat dit op
hierdie bladsy
in die
Wikipedia-ensiklopedie op die web uitgeplaas
het en kopiëring, verspreiding en/of
modifikasie vergun ingevolge die bepalings
van die
GNU Free Documentation
License,
Weergawe 1.2 of enige latere weergawe wat
deur die Free Software Foundation
gepubliseer word. Name verafrikaans deur
Mieliestronk.com.
DIE Sy-roete—'n 12 800
km lange roete van die Ooste na die
Weste—was geen enkele pad nie, maar het
plek-plek in verskillende paaie verdeel. By
sekere punte het dit ook by ander
handelsroetes aangesluit om ’n uitgebreide
netwerk van handelsweë te vorm wat onderling
met mekaar verbind was. Daar was boonop
eintlik verskillende roetes oor land en oor
die see.
Die roete oor land het by Tsjangan (vandag
Xian) in Oos-China begin, die
Gansoe-korridor deurkruis—'n vrugbare
landgordel aan die Gobi-woestyn—en dan in
twee verskillende paaie gevurk om die kante
van die Tarim-bekken te volg—'n barre
wildernis met hoë berge en 'n onherbergsame
woestyn daarbinne. Die hele bekken word deur
uiterste temperature, skuiwende sandduine en
verblindende sandstorms gekenmerk.
Asof die ongenadige omgewing nie genoeg was
nie, moes die karavane ook nog rowerbendes
die hoof bied.
Met die gevaarlike bekken agter die rug, kon
reisigers nou kies of hulle die
Karakoramberge na Indië wou oorsteek, of die
ruwe Pamirberge na Turkestan.
Op altwee bergreekse, met hul spitse vol ys
en sneeu en diep spoelklowe, woed daar
ongenadige winde en sneeustorms, en daar is
ook sneeustortings. Die pad het dikwels
vernou tot weinig meer as 'n smal rotslys
teen die afgrond.
Die suidelike roete (oor die Karakoram) het
daarna deur Baktra gegaan, 'n belangrike
handelsentrum waar goedere van Indië, die
Midde-Ooste, Europa, China en Maleisië
aangebied is. Die noordelike pad (oor die
Pamir) het vervolgens deur Samarkand
geloop, in die huidige Oesbekistan, waarna
die twee paaie saamgeloop en voortgegaan het
oor Iran (toe 'n deel van Persië).
By Ravy (naby die huidige Iranse hoofstad)
het die Sy-roete verdeel, met een pad
noordwaarts na die Swart See en die ander
een na Mesopotamië. Van Mesopotamië af het
die pad gevurk na Turkye en die hawens Tirus
en Antiochië aan die Middellandse See, van
waar die sygoedere per skip na Rome,
Venesië, Genua en Griekeland vervoer is.
As alles goed verloop het, is die reis van
Oos na Wes binne drie jaar afgelê. Maar nie
almal was so gelukkig nie. Soos een reisiger
dit beskryf het: “Dit was vir 'n mens
onmoontlik om die pad te ken as dit nie vir
die dooies se ontbindende beendere was wat
vir jou die weg aangewys het nie.”
Namate ál meer karavane van handelaars op
die Sy-roete beweeg het, is wel kastele
gebou om hulle te beskerm. Soms het rowers
dit egter reggekry om die kastele oor te
neem, en dan is niksvermoedende reisigers
oorval en van hul kosbare ware beroof. Dit
was net die belofte van reuse-winste aan die
einde van die pad wat die handel lewend
gehou het.
En praat van duur. Die prys van sy in Europa
was iets ysliks. Tiberius Nero, wat die
keiser van Rome was toe Jesus op aarde
gelewe het, het selfs sy mense gewaarsku dat
hulle fortuine aan 'n sinlose weefstof
verspil.
“In ruil vir nietighede,” het hy gekla,
“word ons geld na vreemde lande en selfs na
ons vyande gestuur.”
Maar die sy-honger Romeine het hulle min aan
sy woorde gesteur, en die handel het bly
floreer.
Teen 300 n.C. het Japan sywurms begin teel,
met Indië kort op sy hakke. Die kuns van
sy-boerdery was egter nog grootliks tot die
Ooste beperk, en die prys van sy het hoog
gebly.
In die sesde eeu n.C. het die Bisantynse
keiser Justinianus twee monnike na China
gestuur om te probeer agterkom wat die
geheim van sy was. Hulle het die dood
getrotseer deur sywurmeiers en
moerbeisaadjies in hul hol kieries weg te
steek en dit na Konstantinopel terug te
smokkel.
Uiteindelik was dit geen geheim meer nie, en
die sybedryf het geleidelik na ander lande
versprei, waardeur die monopolieë van China
en Persië beëindig is.

BO: ’n Foto van iets meer as ’n eeu
gelede wat straks nog so iets weerspieël
van die transaksies op die Sy-roete in
die Klassieke Oudheid. Kokonne van
sywurms word hier in Antiochië in die
Midde-Ooste gekoop om na Frankryk
uitgevoer te word waar dit tot symateriaal
vir gesogte kledingstukke verwerk sal
word.
Foto: Histories (“PD Old”)
|
Die
metamofose van die sywurm |
 |
 |
 |

|

DIE
sywurmmot
(Bombyx mori)
ondergaan ’n volledige
metamorfose—van eier tot larwe
(rusper) tot papie tot mot. Die piepklein
eiertjies broei ná sowat tien
dae uit en die gulsige larwes,
wat aanvanklik elk maar sowat 0,6
cm lank is, groei op hul dieet van niks anders
nie as moerbeiblare
tot ’n lengte van nagenoeg 7,5 cm.
Ná sowat ses weke hou
hulle egter op om te vreet en
begin hulle hul kokonne spin.
’n
Taai draad wat hard word wannneer dit met die
lug in aanraking kom, kom uit ’n buis naby
die larwe se mond. Die sywurm heg hom aan ’n
takkie vas en beweeg sy kop soos ’n syfer 8
totdat hy hom in ’n kokon toegespin het.
Binne-in
die kokon verander die ruspe eers in ’n
papie en dan
in ’n mot.
Die volwasse mot maak sy verskyning
ná ongeveer twee weke in die
papiestadium. Die
sy wat hom in die kokon omhul, word met
speeksel sag gemaak en die nat, verkreukelde
mot breek uit die kokon.
Ná
’n kort rus word ’n maat gevind.
Hierdie motte, wat wel
vlerke het maar nie kan vlieg nie
(stellig weens die inteling oor
duisende jare), vreet glad nie.
Hulle is net daar om te paar
sodat die wyfie haar 300 tot 400
eiers kan lê. Hulle vrek gou daarna.
Hoe
sy deur sywurmboere gewin word
OMDAT
die motte die kosbare sy beskadig wanneer
hulle uit die kokonne breek,
laat
sywurmboere
slegs ’n klompie van hul papies toe om tot motte
te ontwikkel
sodat hulle weer eiers kan lê. Die meeste
word doodgemaak, gewoonlik in ’n warm oond.
Om
die sy te win, word die
sykokonne in kookwater gegooi om die
"gom" te versag wat die windings
aanmekaar laat kleef. Só ’n kokon is byna
soos ’n bol breiwol. Die punt van die draad
word gesoek en die hele draad, wat tot 1,5 km
lank kan wees, moet in een stuk afgerol word.
Omdat
die individuele drade so uiters fyn is, word
die drade van verskeie kokonne saam ontrafel
en opgewen. Die gesmelte gom bind hulle saam
om ’n dikker, sterker draad te vorm.
Ná
verdere prosesse kan die sy verskillende
kleure gekleur en tot kledingstof geweef te
word.
Dit
is interessant dat 45 000 kokonne op die ou
end net 1 kg ruwe sy oplewer!
Sywurms word in uiters
beheerde omstandighede geteel. Die eiers, wat in
panne of op spesiale papierstroke gelê word,
word herhaaldelik ondersoek om seker te maak dat
hulle nie siektes gekry het nie. Hulle word tot
die lente in koelbewaring gehou, wanneer die
sywurmboer hulle in 'n broeikas, of inkubator,
oorplaas om uit te broei.
Die temperatuur in die plek waar die jong
ruspetjies aangehou word, word versigtig beheer,
en hulle kry elke paar uur vars blare. Daar word
spesiaal gesorg dat insekpeste nie by die
sywurmpies uitkom nie. Volwasse ruspes spin hul
kokonne in spesiale houtrame met takkies en
strooi daarin.

BO: ’n Voorstelling van sywinning in die
sewentiende eeu. Die sydrade word van
kokonne afgewen sodat dit tot materiaal
geweef kan word.
Detail van illustrasie deur
Sydney King,kunstenaar
van die Amerikaanse nasionale
parkdienste (U.S, National Park
Services)
|
|