|
|||||
|
|||||
![]() |
"In
’n gat in die grond het ’n Hobbit gewoon. Nie ’n nare, vuil, nat
gat vol dooie wurms en met ’n slykerige reuk nie, ook nie ’n droë,
leë, sanderige gat sonder enige sitplek of eetgoed nie; dit was ’n
Hobbit-gat, en dit beteken gerief." |
||||
HY
WAS die eerbiedwaardige professor met die super-verbeelding van ’n
kind. Wanneer hy nie besig was om sy studente gedigte en goeie
taalgebruik te leer nie - en sodra hy enigsins ’n tydjie
daarvoor kon afknyp - was hy self vasgevang in ’n epiese
droomwêreld vol van die fabelagtigste wesens en hul lotgevalle. Dit
was sy eie, selfgemaakte sprokiesland waar die goeie altyd sou seëvier.
En dit was natuurlik ligjare verwyder van sy saai verpligtinge as ’n
dosent. En
tog ook nie. Eintlik behoort ’n mens nie so ’n onderskeid tussen
Tolkien die geleerde en Tolkien die storieverteller te tref nie. Want
dié hoogleraar aan die Universiteit van Oxford, eers van Angel-Saksies
en later van die Engelse taal en letterkunde, het juis sy liefde vir die
taal en lettere gebruik om die vryste teuels aan sy merkwaardige
fantasieë te gee. Gefassineer
deur byvoorbeeld die verhale van Robin Hood en die oud-Engelse gedig
Beowulf, het sy wonderlike lugkastele gestalte gekry in prosa met die
ritme en krag van Noorse sagas en Angel-Saksiese poësie. Boonop het hy alles in verstommende oortuigende detail neergeskryf. Sy reeks romans oor ’n goedige groep wesens wat hy Hobbits genoem het, wat saam met elwe, kabouters, towenaars en mense in ’n wêreld genaamd Middle-earth woon, word in der waarheid deur baie mense as die heel beste fantasie-literatuur van die twintigste eeu gereken.
Tragiese
jeugjare en JOHN
RONALD REUEL TOLKIEN het feitlik presies 110 jaar gelede, op 3 Januarie
1892, die eerste lewenslig nogal in Suid-Afrika, in Bloemfontein,
aanskou. Sy familie en kindervriende het hom Ronald genoem. Sy
pa, Arthur, was ’n Engelsman in die egte Rooinekkige sin van die woord,
hoewel die Tolkien-stamvader (ene Toll-kühn, wat iets soos dom-slim
beteken) vermoedelik in die 1700’s uit Sakse in Duitsland na Engeland
verhuis het. Arthur
Tolkien was ’n bankklerk. Hy het in die 1890’s na Suid-Afrika gekom
omdat hy gereken het dat dit sy kanse sou verbeter om bevorder te word.
Hy het hom in die Vrystaatse hoofstad gevestig, waar sy bruid, self ’n
Engelandse nooi Mabel Suffield, haar by hom aangesluit het. J.R.R.
Tolkien het as volwassene min herinneringe aan sy Bloemfonteinse
kinderdae gehad, maar die bietjie wat daar was, kon hy hom tog helder
voor die gees roep -- soseer dat dit sy latere geskrifte ook in ’n
sekere mate beïnvloed het. Een daarvan was ’n ondervinding met ’n
harige spinnekop, moontlik ’n bobbejaanspinnekop, soos
volbloed-Vrystaters hierdie paaiboelie van ’n gogga ken. Tolkien
se verblyf in sy geboorteland was kortstondig. Hy was skaars vier toe sy
pa sterf en hy, sy ma en boetie Hilary noodgedwonge na Engeland moes
terugkeer. Hulle bevind hulle mettertyd in Birmingham. Die
vaderlose Tolkien-gesin moes maar spartel om kop bo water te hou, veral
toe ma Mabel ’n Katoliek word en hierdie ommeswaai haar totaal van
haar familie vervreem. Nog ’n gevolg van dié stap was dat Ronald en
Hilary in die Roomse geloof geskool is en hul lewe deur stoere Katolieke
gebly het.
In
1904 tref ’n ramp die gesin toe diabetes by Mabel gediagnoseer word.
Die siekte kon destyds nog nie met middels beheer word nie en was
inderdaad ’n doodsvonnis. Mabel sterf. Haar twee jong seuns bevind
hulle in die uiterste armoede. Hul priester, die half-Spaanse, half-Walliese
vader Francis Morgan, ontferm hom oor die kinders en sorg vir hul
verdere opvoeding. Teen
hierdie tyd toon Ronald reeds dat hy ’n merkwaardige taalkundige
talent het. Hy bemeester Latyn en Grieks en raak meer as vaardig met
’n aantal ander tale. Hy is ook besig om sy eie tale op te maak
- sommer vir die lekkerte. Maar
nou ontstaan ’n nuwe komplikasie, alles veroorsaak deur ’n jonge
dametjie genaamd Edith Brad. Ronald is slegs 16 en sy 19, maar die twee
is erg danig met mekaar en hul verhouding verdiep geleidelik. Eindelik
gryp vader Francis in en verbied hy Ronald om Edith te sien of aan haar
te skryf, totdat hy 21 is. Stoïsyns gee Ronald ten volle gehoor aan sy
instaan-pa se bevel.
Hy gaan na Exeter College, Oxford, waar hy hom tot in 1913 in die klassieke tale verdiep, waarna hy vinnig - maar nie so maklik nie - die ou bande met Edith probeer hernuwe. Oplaas
verower hy haar hart ten volle en word sy self ’n Katoliek. Maar
terwyl die liefde tussen hulle blom, neem die haat tussen volkere toe en
die Eerste Wêreldoorlog breek in Augustus 1914 uit. Oorlog
en ’n dansery ANDERS
as so baie van sy tydgenote, sluit Tolkien hom nie dadelik by die leër
aan nie, maar gaan studeer hy verder aan Oxford, waar hy in 1915 ’n
graad in die eerste klas verwerf. Uiteindelik
word hy gestuur om aktiewe diens aan die Westelike Front te verrig. Ná
vier maande in en uit die loopgrawe, word hy ’n slagoffer van ``loopgraaf-koors'',
’n tifus-agtige infeksie wat volop voorkom in onhigiëniese toestande.
Hy word na Engeland teruggestuur, waar hy ’n maand lank in die
hospitaal in Birmingham deurbring. Daar herstel hy darem sodanig dat hy
hom by Edith in Great Haywood, Staffordshire, kan aansluit. Maar
regdeur 1917 en 1918 pak die koors hom telkens weer. Gelukkig is hy
tussendeur gesond genoeg om tuisdiens in verskillende kampe te verrig en
daardeur tot luitenant bevorder te word. Dis
wanneer hy by Hull gestasioneer is, dat hy en Edith by die nabygeleë
Roos in die woude gaan stap en sy in ’n bos vir hom dans. Dit word die
inspirasie van die verhaal van Beren en Lúthien, ’n herhalende tema
in sy werk Legendarium. Hy het aan Edith begin dink as ``Lúthien'' en
aan homself as ``Beren''. Hul eerste seun, John (wat later ’n priester
sou word), is reeds op 16 November 1917 gebore. Toe
die wapenstilstand op 11 November 1918 onderteken word, was Tolkien
reeds aan die soek na akademiese werk. Hy werk ’n tyd lank vir die
Oxford English Dictionary, wat destyds nog in wording was, en word in
die somer van 1920 as adjunk-professor in Engels aan die Universiteit
van Leeds aangestel. Hier word nog twee seuns tot sy en Edith se gesin
toegevoeg. In die 1925 kry hy die pos as professor aan Oxford. Edith
skenk in 1929 die lewe aan hul laaste kind, ’n dogter, wat net soos
die seuns ’n groot rol sou speel om Tolkien se vrugbare verbeelding te
stimuleer. Hy het talle slaaptyd-stories vir sy kinders vertel, wat
later in boeke verewig sou word. Tog
was dit, interessant genoeg, nie presies waar sy beheptheid met
Middle-earth begin het nie. Na wat hy self vertel het, was hy eendag met
die sieldodende taak besig om studente se eksamenskrifte te merk, toe hy
opmerk dat 'n student een bladsy van sy antwoordeboek blanko gelaat het. Op
hierdie bladsy, aangespoor deur wie weet wat se onhebbelike duiweltjie,
skryf hy toe: `` In a hole in the ground there lived a Hobbit.'' Tipies
Tolkien besluit hy daarna hy moet uitvind wat ’n Hobbit is, in watter
soort gat hy woon, hoekom hy hom juis in ’n gat gaan tuismaak het,
ensovoorts. Uit hierdie fassinasie groei ’n storie wat hy wel vir sy
kinders begin vertel en waarvan ’n onvoltooide getikte manuskrip in
1936 in die hande van ’n uitgewer beland. Tolkien
word gevra om die manuskrip te voltooi en die uitgewersfirma se
voorsitter, Stanley Unwin, lê die voltooide werk aan sy tienjarige seun,
Rayner, voor. Die kind skryf ’n verslag van goedkeuring en dit word in
1937 as The Hobbit uitgegee. Die
boek was ’n onmiddellike sukses en kinders het nog nooit opgehou om
dit aan te beveel nie. Dit is so geslaag dat Stanley sr. vir Tolkien vra
of hy nie soortgelyke geskrifte het wat uitgegee kan word nie. Uiteindelik
ontwikkel dit tot iets veel groters as ’n blote kinderverhaal -
die hoogs komplekse sestienjare geskiedenis van dit wat The Lord of the
Rings sou word. Rayner Unwin raak as volwassene diep betrokke in die
latere stadiums van hierdie opus. Hy werk op ’n uitmuntende manier
saam met ’n talmende en temperamentele skrywer wat, in een stadium,
die hele werk aan ’n mededinger van die betrokke uitgewer aanbied. (Hierdie
konkurrent raak egter gou knypstert toe hy die presiese aard en omvang
van die pakket besef.) Dis
danksy Rayner Unwin se voorspraak dat The Lord of the Rings hoegenaamd
gepubliseer is. Sy pa se firma het besluit om die waarskynlike verlies
van duisend Britse pond vir die prestige-werk te dra en dit in 1954 en
1955 in drie dele uit te gee. Dit raak gou duidelik dat sowel die
skrywer as die uitgewer die gewildheid, om die minste te sê, totaal
onderskat het. Die
kultus en ’n TOLKIEN
het sy roem met gemengde gevoelens ervaar. Enersyds het hy uiters gevlei
gevoel en, tot sy groot verbasing, nogal ryk geword. Andersyds kon hy
maar net ’n walging voel vir die feit dat sekere van die destydse
dwelmslawe dit as ’n ``great trip'' beskou het om The Lord of the
Rings saam met LSD te verteer. The
Lord of the Rings was sy beroemdste, maar natuurlik nie sy enigste werk
nie. Tussen 1925 en sy dood het hy ’n aantal ander werke, waaronder
’n reeks akademiese essays gepubliseer. Wat
dit des te merkwaardiger maak, is dat die stroom publikasies met sy dood
net tydelik tot stilstand gekom het. So was daar onder meer die heel
geslaagde History of Middle-earth,
onder die redakteurskap van sy een seun Christopher. Ná
sy aftrede in 1969 het Edith en Ronald in Bournemouth gaan woon. In
November 1971 is Edith oorlede en Ronald het kort daarna na Oxford
teruggekeer, waar hy tot sy dood op 2 September 1973 gewoon het. Maar
die roem leef voort. In 1997 was hy bo-aan drie groot meningsopnames
waarin mense gevra is om vir die grootste boek van die twintigste eeu te
stem. Hy
en Edith lê saam begrawe in ’n enkelgraf in die Katolieke deel van
die Edith
Mary Tolkien, Lúthien, 1889-1971 John
Ronald Reuel Tolkien, Beren, 1892-1973 |
|||||