Dugeot vir Afrikaans

"Die Troon": hoe onsindelik is dit rêrig?
Geen mens kan op sy gemak wees op 'n openbare gemak nie, reken ons. Maar hoe onhigiënies is daardie sitplekkie werklik?
DIS die jiggieste troon op aarde, maar elkeen moet hom bestyg. En wanneer ons weg van die huis af is en die nood roep op sy hardste, hoop ons maar almal ons kry 'n silwerskoon en sindelike bankie om op te hurk.

Die naarste stories word mos altyd vertel oor openbare toilette. Oor legioene van kieme wat op die ronde raamwerkie wemel en jou alles kan gee van vigs tot die vernederendste jeuksiekte.

Dit het al selfs gelei tot allerhande uitvindsels om mense teen toilet-infeksies te beskerm. Soos dié in sekere groot internasionale lughawens. Daar maak 'n vars plastiekvel om die toiletbril te bedek sy verskyning elke keer wanneer jy die toilet laat spoel.

In Amerika kan 'n mens nou al selfs 'n plastiek-omhulsel vir die toiletbril koop wat jy met jou kan saamdra, een maal gebruik en dan weggooi. Volgens die uitvinder hoef 'n mens nooit eens aan die verfoeilike sitplek te vat nie.

Maar nou sê die mikrobioloë ons gaan eintlik heeltemal te erg aan. ''As jy iemand met die hand groet, is dit waarskynlik veel erger,'' reken een geleerde.

Trouens die kans is skraal dat enigiemand op 'n toiletbankie besmet sal raak, tensy hy of sy êrens 'n seertjie of gebarste vel het waardeur besmetting kan plaasvind.

'n Amerikaanse mikrobioloog, wat 'n studie van private en openbare toilette in Arizona gemaak het, sê in die waterbakke en op vloere van openbare toilette, asook aan die onderkante van die sitplekke, krioel dit inderdaad van die besmetlike mikro-organismes.

Maar ironies genoeg is die bokant van die bril, wat mense so geneig is om te bedek, betreklik kiemvry. ''Die risiko wat 'n mens loop, is klein in vergelyking met ander oppervlakke,'' sê die navorser, dr. Charles Gerba van die Universiteit van Arizona in Tucson.

Hy sê die kerfplanke in huise waarop mense met rou vleis werk, het tweehonderd keer meer ontlastingskieme as die deursnee-toiletbankie.

``As jy voor 'n keuse gestel word,'' sê dr. Gerba, ``lek liewer 'n toiletbankie as 'n kerfplank.'' 

Mylpale in die
geskiedenis
van die ''troon''

* 2500 vC: In Mohenjo-Daro, 'n antieke stad in die Indusriviervallei in Indië, bestaan daar reeds 'n hoogs ontwikkelde rioolstelsel. Die afvalwater van elke huis vloei in die hoofriool.
* 1000 vC: Op die eiland Bahrein in die Persiese Golf word 'n soort spoeltoilet uitgevind.
* 69 nC: Die Romeinse keiser Vespasianus hef vir die eerste

keer belasting op openbare toilette.
* 1596 nC: J.D. Harrington vind die ``W.C.'' uit (W.C. staan vir ''water closet'' of spoellatrine).
* 1668 nC: Die polisiekommissaris van Parys gelas dat toilette in alle huise aangebring moet word.
* 1739 nC: Die eerste aparte toilet vir mans en vroue maak sy verskyning by 'n deftige dansparty in Parys.
* 1824 nC: Eerste openbare toilet in Parys.
* 1859 nC: Die toilet van koningin Victoria word met goud versier.

Om terug te keer na die hoofblad van die
Dugeot-webwerf klik hier

Laaste hersiening: 22/07/00