Mieliestronk-argief |
|
|||||
|
|||||
’N GLIMMENDE potvol goud aan die einde van die reënboog
oorsee . . . wag dit rêrig
op al die Suid-Afrikaners wat die land so in strome verlaat? Dis ’n ding waaroor
steeds baie gewonder word -- veral telkens wanneer die rand so wipplank ry met die groot geldeenhede. Veral ook
wanneer sekere uitgewekenes in die media te koop loop met hul vragte
nuwe dollars, terwyl almal wat agtergebly het maar net droëbek van hul
spogterye moet verneem. Telkens lees ’n
mens ook weer in die pers van die legio werkgeleenthede in die buiteland.
Soos dat ’n kleuterskool-juffrou, ná vier jaar se studie, in Engeland
in net een dag soveel kan verdien as in 'n maand in Suid-Afrika! Goed en wel as jy die sterk ponde in Brittanje kan inoes, om dit
later in stapels Suid-Afrikaanse rande om te skakel as jy terugkeer -- dán
maak jy jou fortuin. Só sê die deurwinterdes wat weet. Maar as jy anderkant bly en
die pot daar aan die kook moet hou, is dit ’n ander saak. Jy’s nie noodwendig in die spreekwoordelike "pond-sitplekke" nie, sê hulle. Jy verdien so baie, want jy bestee
so baie! Mieliestronk
het ’n tyd gelede 'n "elektroniese wêreldtoer" onderneem om die
menings te vra van verskillende Suid-Afrikaners wat, tydelik of
permanent, na die vyf lande verhuis het wat vir ons emigrante die heel
gesogste is: Engeland, Australië, Nieu-Seeland, die Verenigde State en
Kanada. Ons het hulle gevra hoeveel beter -- of slegter dan -- hulle
dit in hul nuwe tuistes het. Die meeste ondervraagdes het dit benadruk, of ten minste duidelik laat blyk, dat hulle nie ekonome of finansiële kenners is nie. Hulle is bloot gewone verbruikers en hulle sê maar net hoe hulle die omstandighede vertolk...
SUID-AFRIKANERS gaan nie Nieu-Seeland toe om ryk te
word nie, maar vir veiligheid, bewegingsvryheid en lewenskwaliteit, het
Martina Louw uit Auckland laat weet. Sy en haar man, Ken, het Suid-Afrika verlaat, nadat sy in ’n motorkaping in die bors geskiet is, om ’n nuwe lewe in die vreemde te begin. En dit het baie goed met hulle gegaan daar tussen die Kiwi's, dankie. "Die mense hier verdien nie
fenomenale salarisse nie,’’ het Martina vertel, "die teendeel is
eerder waar. Met die land se minder as vier miljoen mense is die
ekonomie betreklik klein. Hier is talle klein maatskappytjies (meer as
100 000 met minder as 10 werkers), en baie min grotes (slegs sowat 700
met meer as 100 werkers). Dit maak die arbeidsmark aansienlik anders as
in Suid-Afrika." Volgens Martina is die
salarisstrukture dus ook heel anders. "Onderwysers, verpleegsters en
polisiemanne is in vergelyking miskien effens beter daaraan toe as in
Suid-Afrika, omdat dié beroepe daar so hoog geag word -- Nieu-Seeland
is immers histories ’n welsynstaat "Maar ingenieurs en wetenskaplikes soos chemici is minder gesog," het sy gesê, "aangesien die land gerieflikheidshalwe baie produkte invoer en dit nie self vervaardig nie. "Die gemiddelde salaris in
Nieu-Seeland (ongeskoolde arbeiders ingesluit) is dan ook slegs sowat 36
000 Nieu-Seelandse dollars per jaar, en net omtrent 5 persent van die
bevolking verdien meer as NS$60 000," het Martina vertel. Wanneer jy opmerk dat dit
beslis nie kleingeld is nie, kom jy gou agter dat dit maar net die
wisselkoers is wat dit so goed laat lyk. Die koopkrag van die
Nieu-Seelandse dollar binnelands is nie naastenby so sterk nie. "Die lewensduurte is beslis
hier hoër as in Suid-Afrika," aldus Martina. "En verreweg die meeste
wat hier ’n heenkome vind, doen dit bepaald nie vir geldelike gewin
nie. Net om hier te kom, met jou voos rande en al, laat jou met 80
persent minder as wat jy in
Suid-Afrika besit het. "Daar is darem 'n paar
faktore wat in ons guns tel: die Kiwi’s is baie vriendelike mense en
Suid-Afrikaners word gewoonlik met ope arms ontvang. Met ons mense se
reeds beroemde werkywer en dissipline styg hulle ook vinnig uit, selfs
dié wat weer heel onder moes begin. Room styg mos altyd boontoe! "Maar bowenal sorg die rykdom aan rustigheid en veilige beweging dat die 'wonderlike luukshede' van die huidige Suid-Afrika hier net vae herinneringe is...’’
"UITGEWEKENES. Weglopers. Drosters. Bangbroeke. Dis maar 'n paar van
die name wat mense soos ons genoem word,’’ het Elza Plotz uit
Australië laat weet. Maar
sy en haar man, Johan, en hul vier seuns het Suid-Afrika ’n
klompie jare gelede verlaat om, soos sy sê, in die "vreemde, maar
vriendelike, pragtige land Australië te kom woon. "Ons het geweet hoe dit
hier lyk, want ek en Johan was voorheen hier op besoek. Australië het
ons laat dink aan die Suid-Afrika van so twintig jaar gelede --- gasvrye,
vriendelike mense, pragtige,
ongerepte natuurskoon met minimale besoedeling. Ons is baie vriendelik
ontvang en het dadelik gevoel dat ons tuis hoort. "As ’n geregistreerde
verpleegkundige het ek my dadelik by ’n verpleegagentskap aangesluit
en deeltyds begin werk. Die omstandighede in die groot hospitaal, waar
ek ’n permanente pos gekry het, is net mooi die teenoorgestelde van dié
in Suid-Afrika se openbare hospitale. Hier is geen tekort aan toerusting
of voorrade nie en die toerusting
is van die beste en in 'n puik toestand. Dis werklik 'n plesier om jou
werk te doen. "Volgens die bestuur is
daar wel 'n personeeltekort, maar in die drie eenhede vir intensiewe
sorg met altesaam 22 beddens wat ons tans gebruik, is daar sowat 90
verpleegpersoneellede in diens. Intensief het plek vir ongeveer 120
verpleegpersoneellede en gebruik ook agentskappersoneellede indien nodig. "In elke beroep is daar 'n
basiese skaal of `award
rate’ wat deur die regering bepaal word. ’n Baas mag jou wel méér
as die `award’ betaal, maar glad nie minder nie. Ek is bevoorreg
deurdat ek nagenoeg 22 Australiese dollars per gewone uur en
tweeweekliks sowat A$1 400 verdien -- basies soveel as wat ek in
Suid-Afrikaanse rande gekry het. Werk ek my nuwe salararis in rande om,
is dit 'n hele paar maal soveel! Vakansiedae word ek vir dubbeltyd
betaal. "
’n Apteker kan hier
ongeveer A$37 per uur verdien (sonder oortyd) en 'n geoktrooieerde
rekenmeester om en by A$60 per uur. "Ja, ’n mens verlang wel
na jou vaderland en sy mense, maar ons glo dat, waar jy die verskriklike
moeilike besluit geneem het om te emigreer, jy nie met die eerste
terugslag moet gaan lê nie. Soos Johan sê: `As ons moet swaar kry,
doen ons dit hier en nie in Suid-Afrika nie.’ "Ons nuwe land is inderdaad
iets om op trots te wees. Ons leef baie geriefliker as voorheen en kon
binne die eerste jaar al ons meubels, ens. vervang, asook ’n gebruikte
bussie, ’n nuwe bakkie en ’n nuwe motortjie vir my aanskaf. "Ons woon verskriklik
lekker, het al baie nuwe (Afrikaanse) vriende ontmoet, het een maal per
maand ’n Afrikaanse kerkdiens en hou gereeld ’n vleisbraai. Ons maak
ons eie boerewors en biltong en kan sekere Suid-Afrikaanse produkte hier
koop (ook mieliemeel!). "Ons sal Suid-Afrika beslis weer sien, maar slegs as besoekers by vriende en familie. Ons is nou `Aussies’ en trots daarop -- al is dit steeds onmoontlik om nie vir die Springbokke te skree nie! In ons harte sal ons maar altyd Springbokke bly!’’ Barry
Olivier in Engeland: "BLY ek is land uit om in Engeland te woon?
Allesbehalwe. Ek is bloot dankbaar vir die geleentheid en vir die
veiligheid wat hierdie land my gesin bied,’’ het Barry Olivier, wat
met sy vrou in Brittanje kom skoolhou het, vertel. Die egpaar het in die gesogte Teemsvallei, 35 km wes van Londen,
gaan woon. Hulle het vier seuns, wat hulle uiters goed in hul nuwe land
aanpas: twee op skool en die oudste as ’n kunsstudent. Die naasoudste
is verstandelik gestrem en ook hy is baie gelukkig in ’n sentrum waar
die geriewe en versorging, volgens Barry, "duisend keer beter as in
Suid-Afrika is’’. Hy sê die Suid-Afrikaners
daar verlang maar almal na hul land. "Ek ook -- elke dag. Ek mis die
bekendheid van alles. En daar is baie mense vir wie ons lief is en na
wie ons oneindig verlang. Maar ek sal nooit teruggaan nie. Ek bly dan
maar liewer veilig hier in die vreemde, wat mettertyd hopelik minder
vreemd sal word, verduur dit wat my nie aanstaan nie en weet dat my
kinders ten minste uiteindelik 'n beter lewe gaan hê.’’ Barry het vertel dat hy en
sy vrou in dieselfde private skool skoolhou, waar "ons kop bo water hou
met ’n leefbare salaris, maar nooit werklik welvarend sal word nie’’. Huispryse is hul grootste
probleem, sê hy. "Hier in die Teemsvallei betaal jy 'n paar miljoen
rand vir 'n gemiddelde vierslaapkamerhuis met een of, as jy gelukkig is,
miskien twee badkamers. Selfs met die lae rentekoerse (gemiddeld 6%)
hier en die baie groter salarisse is dit moeilik en vir ons net-net
moontlik om teen daardie pryse te koop.’’ Sowat 130 km noord van
Londen, het Barry gesê, kan ’n mens huise teen 50 tot 60 persent minder kry,
maar hulle is nog vir 'n paar jaar kontraktueel aan die skool verbonde. "Die hele koste van ons
verhuising, vlugkaartjies en nog wat en verblyf in ’n
vierslaapkamerhuis vir die eerste ses maande is deur ons nuwe werkgewers
betaal. Min mense kom hierheen met sulke voordele. "Ons oorleef maar moes ook
baie prysgee. Vir ‘n huis soortgelyk aan ons huis in Suid-Afrika betaal jy hier miljoene rande. Met die patetiese wisselkoers
was so ’n herkopery vir ons dus totaal onmoontlik.’’ Jacques
Muller in die Verenigde State: NIE SOSEER weens Suid-Afrika se hoë misdaadsyfer of
die onseker toestande nie, maar uit eie ambisie en om eendag baie dollars
te kan huis toe te bring – dis eintlik waaroor Jacques Muller tydelik na
Amerika uitgewyk het. As ’n “Weskus-klong”, gewese Pretorianer en oud-Matie wat sy MBA in Edinburg, Skotland, verwerf het, sou Jacques (iets oor die dertig) ’n konsultant in marknavorsing en mededingende strategie op die gebied van mediese en farmaseutiese tegnologie word. "Ek het Suid-Afrika verlaat
om hierheen te kom omdat my beroepsontwikkeling daar ’n plafon bereik
het,’’ het hy vertel. "Ek is hier om harder as enige Amerikaner te
werk, om beheer oor my eie lotsbestemmming te neem, om die geld te spaar
wat ek nie in Suid-Afrika sou kon gedoen het nie, sodat ek kan terugkeer
om die dinge te geniet wat ons groot land te bied het, maar waarin min
mense hulle kan verlustig omdat hulle nie die tyd of geld daarvoor het nie. "Ek is op my gelukkigste
tussen die rotse op Lambertsbaai, besig om kreef uit te haal, daar tussen
die klippe en bossies en sand, want vir my is daar net een land. "Met die pad wat die
wisselskoers loop,’’ het Jacques bygevoeg, "sal ek ná vyf jaar kan
terugkeer met ’n miljoen of drie en doen wat ek altyd wou doen: verder
studeer en ’n boek skryf oor hoe om die beestert net reg te kry in ’n
potjie op ’n hardekoolvuur ... ‘’ Oor die lewe in Amerika het
Jacques vertel dat die wisselkoers (deesdae so 6 teen 1) ’n skewe beeld bied van die werklike waardeverhouding
tussen die twee geldeenhede. "Die verhouding is in der waarheid 3,2 teen
1 – vir elke R3,2 wat ’n mens in Suid-Afrika verdien, sal jy $1 in die
VSA moet verdien om dieselfde lewenstandaard te handhaaf. "
’n Mens moet dus let op verhoudings. So sal jy
in Suid-Afrika 25 persent van jou netto inkomste (ná belasting)
aan maandelikse paaiemente vir ’n motor betaal, teenoor slegs 5 tot 7
persent vir dieselfde motor in Amerika. Huispaaiemente is egter weer ’n
bietjie duurder hier, naamlik 28 persent van die salaris teenoor 25
persent in Suid-Afrika. "Buiten rooi vleis, haarsnye en ’n paar ander dingetjies, is
alle ander dinge hier goedkoper. Waar ek in Suid-Afrika nie juis geld kon
wegsit nie, spaar ek hier van $2 500 tot $3000 ( per maand. ’n Mens
betaal $20 per maand vir ’n telefoondiens en alle plaaslike oproepe
gratis is. Selfone kos $35 per maand en jy kry maandeliks 1 000
gratis minute.’’ Geoff
en Colleen Viljoen in Kanada: DIE
"TOER" na Suid-Afrikaners in verskillende lande
is afgesluit met ’n kuiertjie by Geoff en sy vrou Colleen Viljoen in
Vancouver, Kanada. Dié egpaar het diep gemymer oor "die Amerikaanse
droom" en "die Suid-Afrikaanse nagmerrie". "Of ons nou in die ooste
van Kanada woon en ons motors onder berge sneeu moet uitgrawe," het hulle
vertel, "of in die weste onder sambrele teen die ewigdurende reën moet
skuil -- hier is ons vry en, nog belangriker, veilig." Volgens hulle is die meeste
van die "oorgeplante" Suid-Afrikaners in Kanada hoogs gekwalifiseerdes
wat hul terdeë hul man in ’n uiters mededigende arbeidsmark moet staan.
"Tog beklee ons gesogte poste en word ons as vriendelike, uitwaartse
mense beskou wat (meestal) in ons onderskeie gemeenskappe bemind en
gerespekteerd is. "Natuurlik hunker ons terug
na die `goeie ou dae', en dikwels verlang ons verskriklik huis toe.
Gelukkig kan die meeste van ons sonder veel moeite ons hande op 'n bekende
Suid-Afrikaanse bier lê, asook op 'n redelik smaaklike stuk boerewors.
Dit lyk of dit nie veel verg of ons gesond van gees te hou nie. "Ten slotte bid ons vir ons
vaderland. Ons bid vir gematigdheid, harmonie en vrede. Ons sien daarna
uit dat ons land uit sy huidige `nagmerrie' sal ontwaak en ook elke dag
met nuutgevonde verwagtinge sal groet!" |
|||||