EKURHULENI METROPOOL
Provinsie: Gauteng.
Geskep: 2000; met inbegrip van Alberton, Benoni, Boksburg, Brakpan, Germiston, Nigel en Springs.
Dit lyk nie of die wapen geregistreer is nie. Dit bevat ’n skild en etlike ander elemente wat deels by ’n tradisionele heraldiese wapen pas, maar wat in ander opsigte die tradisie nie pas nie. Dit mag so geblasoeneer word:
Wapen: Van ligblou en blou gedeel, in die skildbasis ’n afgesnyde punt van goud: 1: ’n atomiese diagram wat die bane van drie elektrone voorstel; 2. ’n koedoehoring skuins van silwer en ’n trompet skuins links van goud; 3. ’n formele berg van swart, bestaande uit vierkantige blokke in drie trappe.
Helmteken: Op ’n halwe sirkel van blou ’n duif in vlug met in sy bek ’n olyftakkie van silwer.
Skildhouers: Weerskante ’n vrou in tradisionele Ndebele-uitrusting, kop van swart in silhoeët, elk met ’n paar wit nekringe met ’n swart streep, die twee vroue elk geklee in ’n kombers wat in drieë gesny is, die segmente in silwer gelyn: 1. n goud, drie ruite van swart en van silwer geledig; 2. In ligblou ’n dwarsbalk van silwer belaai met twee ruite van ligblou, die dwarsbalk en die ruite van blou omlyn; 3. In blou, drie verkorte dwarsbalke horisontaal in lyn (een volledig aangetoon, twee wat uit die kante uitloop), elk belaai met ’n horisontale strepie wat weerskante uitloop, almal van silwer.
Grond: Twee eikeblare wat van agter die skildbasis uitspruit; die skildhouers staan op die buiterante van die blare; onder die skild drie golwende dwarsstrepe van ligblou.
Die geheel word afgerond met ’n paar linte, die boonste van swart met die woord Ekurhuleni, die onderste met die woorde Prosper in Peace, die lettering van silwer.
Oor die wapen:
Die metropool se naam, Ekurhuleni, is ’n isiNguni-woord wat “oord van vrede” beteken. Die letters RH staan vir die klank wat in Afrikaans en Nederlands met die letter G voorgestel word. IsiNguni, soos alle Bantu-tale, is tonaal en toon nie klem soos dit in European bekend is nie. In die mate waartoe ’n mens van klem kan praat, val dit egter op die tweede E, wat die klank Ê het.
Die amptelike beskrywing wat deur die Metropolitaanse Raad Ekurhuleni voorsien is, ignoreer die heraldiese links en regs (wat gesien word van agter die skild), en verwys bloot na “links” (heraldiese regs) en andersom. Dit lui (volgens my vertaling):
“Die leidende tema word in die betekenis van die naam Ekurhuleni – ’n Vredesoord – bevat. ’n Uitspansel bevat die grafiese simbool van die vrede.
“Die wit duif is ’n simbool van die Gees en die olyftakkie simboliseer die groei van daardie vrede.
“Links bo is ’n simbool vir kernfusie wat wetenskaplike ontwikkeling en vordering voorstel – die rasionele ideale van die streek.
“Bo regs is ’n kombinasie van ’n tradisionele en ’n moderne musiekinstrument – ’n koedoehoring en ’n (ongekrulde) trompet – wat ’n koppeling is aan die geesteswêreld deur die beoefening van die kunste.
“Hierdie drie aspekte vorm ’n holistiese voorstelling van mensebehoeftes; om te werk, om te groei en om te leer.
“Weerskante van die wapenskild is twee skildhouers in die vorm van twee vroue, in tradisionele kleding. Hulle stel versorging en leiding in die mensefamilie voor. Die eikeblare waarop die skildhouers staan stel die belofte van groei voor. Tussen die blare is die simbool vir water en mere – die kern-lewenshulpbron.
“Die leuse voltooi die wapen en spreek die essensiële visie en hoop van die Ekurhuleni-streek uit: om in vrede te floreer.”
Om die een of ander rede laat die beskrywing die skildbasis uit. Dit is blykbaar ’n voorstelling van ’n mynhoop, met hoë moderne geboue in die voorgrond.
Die beskrywing noem nie watter element in die eerste gedeelte gebeeld word nie. Donkerblou en wit word gebruik om die bane voor te stel.
Die horing van die koedoe (Tragelaphus strepsiceros), word in Bantu-sprekende tradisies gebruik waar in Wes-Europa os-horing of iets dergliks in die verlede gebruik was.
Daar word verwys na “Gees” – blykbaar om politiese redes word dit verswyg na watter gees verwys word, maar dit is duidelik dat die Heilige Gees (ten minste vir Christene) in gedagte is.
Die beskrywing verswyg ook die etnisiteit van die skildhouers, maar hule is duidelik Ndebele-vroue, geklee in tradisionele drag en kraalwerk van die Suid-Ndebele streek wat die eermalige KwaNdebele tuislandstaat gevorm het.
Die munisipaliteit lê langs die Witwatersrand se hoofgoudrif, en daar is goudmyne in die meeste eermalige munisipaliteite waaruit Ekurhuleni bestaan.
Oor die metropool:
Die munisipaliteit is uit die oostelike deel van die Witwatersrandse konurbasie geskep. Dit is eers Oos-Rand genoem, maar die naam Ekurhuleni is aangeneem kort nadat die raad gekonstitueer is.
Die munisipaliteit bestaan uit 88 wyke. Dit beslaan ’n oppervlak van 1 932 km².
Terug na indeks van munisipaliteite sedert 2000
Terug na Armoria civica-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle