Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

GOODWOOD

Gestig: 1905; in 1938 as munsipaliteit ingelyf, met inbegrip van Goodwood, Townsend, Vasco en Richmond.

Toevoegings: Elsiesrivier 1944, Monte Vista 1946, Edgemead 1969.

Ingelyf: in Munisipaliteit Tygervallei, 1995; in Kaapstad 2000.

Afdeling: Kaap.

Landdrosdistrik: Bellville.

Provinsie: Kaap (tans Wes-Kaap).

Goodwood

Die wapen is deur die stadsraad aanvaar en het amptelik geword deur publikasie as Provinsiale Kennisgewing No 2626 wat in Provinsiale Koerant No 2969 gedateer 1 Mei 1959 gepubliseer is. Dit lyk nie of dit geregistreer is, òf in terme van die Wet op Beskerming van Name, Uniforms en Wapens van 1935 òf die Heraldiekwet van 1962. Dit mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: In drieë gesny: 1. In silwer, vier swart bome van ses blare elk; 2. In rooi, ’n gaande aansiende luiperd in silwer met swart kolle; 3. In silwer, drie swart pale waarop ’n tandrat van die een in die ander.

Helmteken: Uit ’n goue muurkroon oprysend ’n halwe palomino-eenhoring wat tussen sy voorbene ’n koek van rooi vashou.

Dekkleed: Silwer en rooi.

Leuse: Procedo.

 

Oor die wapen:

Die blasoen is my eie interpretasie van die swakkerige “heraldic description” wat in die Provinsiale Koerant verskyn het.

Die illustrasie kom uit Goodwood and its History deur Eric Rosenthal (1980).

Die beskrywing se hooffout is dat die nie die verdeling in drie erken nie, en aanvanklik die dwarsbalk (die rooi band middeldeur) beskryf, waarna dit die skildhoof en dan die skildbasis ook beskryf.

Die term gesny[1] dui op ’n horisontale verdeling – ’n vertikale verdeling word met die woord gedeel aangedui.

Die vier bome word verduidelik as verteenwoordigend van die oorspronklike vier dorpsgebiede – Townsend, Goodwood, Vasco en Richmond – wat tydens die oorspronklike proklamasie die munisipale gebied uitgemaak het.

wapen soos dit op ’n muurplaat by die burgersentrum verskyn

Die foto links toon hoe die “bome’ geïnterpreteer is in weergawes van die wapen wat in metal en emalje uitgevoer is en wat in beide die dorpsbiblioteek en die burgersentrum op gedenkplate opgerig is: in plaas van bome toon hierdie beelde blomme, in swart omlyn maar met silwer of wit blomblare en blare..

Die luiperd word eienaardig geblasoeneer as “a South African tiger passant” (’n gaande Suid-Afrikaanse tier), met uitlating van die woord gardant (aansiende), wat beteken dat die gesig na die aankyker gedraai is. Gaande beteken dat die dier stap.

Die woord tier is nietemin beduidend: die vroeë Nederlandse nedersetters aan die Kaap het verskeie mans ingesluit wat vroeër die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC) in òf Indië òf die Maleise gebiede (vandag Malaysië en Indonesië) en die Asiatiese tier geken het (hoofsaaklik die Bengaalse, Skiereilandse [Maleise], Sumatraanse en Javaanse subspesies van Leo tigris).

Hulle het van die luiperds (Leo pardus) wat aan die Kaap gevind is – en veral in die heuwels oos van Tafelbaai – as tijgers gepraat, wat dus vir ons die Nederlandse naam vir die heuwels, die Tijgerberg, gee – of Tygerberg soos dit in Afrikaans en Engels geskryf word.

Tot vandag toe sal veral plattelandse Afrikaners na luiperds as tiers verwys.

Die tradisionele heraldiek het geen luiperd gehad nie, alhoewel leeus wat aansiende getoon is, is in die Britse en Franse heraldiek soms luiperds genoem, of “lions leopardé”. Die drie goue leeus op rooi in die wapen van Engeland (in die wapen van die Verenigde Koninkryk, die eerste en vierde kwartiere) staan in sommige kringe as luiperds bekend.

Die heraldiese tyger is ’n mitiese kreatuur met ’n vreesaanjaende voorkoms, maar die Bengaalse tier verskyn reeds die afgelope twee eeue in die Europese heraldiek.

Die verduideliking van die “significance” van die wapen (soos dit in Rosenthal se boek voorkom) stel dit (volgens my vertaling): “Op die dwarsbalk is die luiperd, of Suid-Afrikanse tier, simbolies van die Tygerberg, die agtergrond van die munisipaliteit. Die rooi agtergrond dra die betekenis van moed.”

Daar is geen verduideliking van kleuring van die “tier” nie, wat eintlik dit is van die sneeuluiperd van die noordelike dele van Asië. Om dit as silwer (of wit) te kleur, in plaas van die natuurlike geelbruin of ’n meer heraldiese goud, is nie in die heraldiek heeltemal onreëlmatig nie, maar ’n mens bly dink dat dit ’n verdraaide interpretasie was van die heraldiese reël van kleurkontras. Die kolle is die natuurlike swart, al is dit buitengewoon geteken.

Die onderste deel van die skild is silwer met drie swart pale.

Hierdie deel van die “significance” vertaal ek: “In die skildbasis verteenwoordig die vier silwer en drie swart vertikale strepe die sewe myl wat die munisipaliteit Goodwood van die moederstad Kaapstad skei.”

Op gelyke wyse het die wapen van Bellville ’n paal wat in 12 horisontale stukke gedeel word, ook swart en wit, wat die oudste geskrewe naam vir die gebied waar die dorp gegroei het, simboliseer: Twaalfde Mylpaal – dit lê 12 myl van Kaapstad af.

Nog ’n deel uit die verduideliking: “Terwyl die tandrat, ons industriële groei verteenwoordig, is dit ook simbolies van die ywer en mense van die dorp; die inwoners is hoofsaaklik werksmense.”

Die kleuring van die tandrat is van die een in die ander – dit wil sê dat die dele daarvan wat op die sentrale paal lê wit (silwer) is, en die dele daarbuite is swart. Dit word nie in die muurplaak-weergawe weerspieël nie, want dit toon die tandrat in ligblou – beslis nie ’n heraldiese kleurgebruik nie, want daar is te min kontras.

Die helmteken is eienaardig want, ten spyte van wat algemeen verstaan word van die eenhoring, is hierdie mitiese kreatuur nie van die perd afgelei nie, maar die bok (plaasbok). Hierdie devies beskou die eenhoring as ’n soort perd, want sy kleuring is as palomino aangegee. ’n Nota oor kleuring noem by dat die dier se horing, maanhare en hoewe swart is.

Dit hou tussen sy voorbene ’n koek van rooi. Die woord koek word in Afrikaans gebruik om ronde wapenfigure of rondele aan te dui, behalwe as dit van goud of silwer is – in sulke gevalle word daar gepraat van pennings van goud of silwer.

Alhoewel hierdie kreatuur die kleur en algemene vorm het van ’n perd, het hy ten minste gesplete hoewe, soos wat betaamlik is vir ’n eenhoring.

’n Muurkroon word dikwels as deel van ’n munisipale helmteken aangetref; dit dui op munisipale gesag.

Die beskrywing lui (weereens volgens my vertaling): “Die vier oorspronklike dorpsgebiede is deur die dorpseienaars, die firma Joyce en McGregor, ontwikkel. Die eenhoring, uit die wapen van die McGregors, en die rooi koek uit die wapen van die familie Joyce, wat uit die goue muurkroon opstyg en wat op ’n skildknaap se helm rus, is symbolies van ’n gemeenskap wat ontwikkel het op en vanuit grondgebied wat in besit was van die firma Joyce en McGregor.”

Ek kon dusver geen McGregor-familie naspoor wat ’n eenhoring òf as helmteken òf as wapenfiguur voer nie (binne die skild). Dit wil nie sê dat daar nie so iets is nie – daar kan wel ’n tak wees van die Klan Gregor wat ’n eenhoring-helmteken voer – maar die klan-hoof en sy naasbestaandes het vir hulle helmteken ’n afgerukte leeukop, met ’n antieke kroon gekroon.

(Afgeruk beteken dat die kop grofweg van die karkas afgeskeur is – die afkappinglyn is rof. ’n Dierkop wat netjies van die karkas afgesny is het ’n reguit afkappingslyn en word bloot as afgesny beskryf.)

Burke’s General Armory lists gee nog twee helmtekens vir McGregors: ’n hand paalsgewys wat ’n dolk, ook paalsgewys, vashou, in sy natuurlike kleure en’n ontwortelde denneboom in sy natuurlike kleure.

Burke het ook die wapens van vier families met die van Joyce. Een van hulle, wat ook die van as Joice of Joys voer, het hierdie wapen: In silwer, drie skuinsgeplaaste koeke tussen twee skuinsstrepe, alles van rooi.

Wat die leuse betref, lui die beskrywing (my vertaling):

Procedo (Latyns, wat ‘Ek gaan vooruit’ beteken) dui op die bestendige vooruitgang en ontwikkeling van die munisipale gebied in ’n vooruitstrewende woon- en industriële gebied.”

Nà die amptelike beskrywing kom daar hierdie aantekening:

“Die huidige wapen is ontwerp deur mnr I Mitford-Barberton, ARCA, beeldhouer, ’n deskundige op die gebied van die heraldiek, van die Michaelis School of Fine Art[2] in Kaapstad, in samewerking met die Raad se stadsingenieur, en is aanvaar en goedgekeur luidens Provinsiale Kennisgewing No 2626, uitgegee in Provinsiale Koerant No 2969 gedateer 1 Mei, 1959.”

Ivan Mitford-Barberton was ’n begaafde beeldhouer, en was onder andere die aanvoerder van die luiperd-standbeeld wat langs die Chapman’s Peak-rylaan staan, oorkant Houtbaai en die bergpiek (deel van die Karbonkelberg) wat as die Sentinel bekend staan.

Tesame met V White was hy die skrywer van Some Frontier Families, oor vroeë setlaars in die Oostelike Provinsie (1968).

 

Vorige wapen:

Voordat die wapen hierbo aangetoon, in gebruik geneem is, het die dorp ’n devies gevoer wat in 1939 heel amateurig aanmekaar getimmer is, met goue strepies om die oormatig versierde skild te omlyn, en om die onderverdelings aan te toon, en met ’n leuselint wat deur gaatjies in die skildbasis deurgesteek is, en wat ’n ossewa (op ’n rooi veld), ’n hinderniswedloop-toneel en ’n springbok bevat het.

vroeëre ‘‘wapen’’ van Goodwood

Die skild word in drie dele gedeel, min of meer gaffelsgewys omgekeerd – nie eweredig nie, maar met die twee boonste segmente boontoe verskuif. Die eerste segment is blou, en toon ’n wit vliegtuig – ’n viermotorige propeller-aangedrewe Suid-Afrikaanse Lugdiens-vliegtuig van die jare vyftig. Dit is duidelik ’n hertekening van die vliegtuig wat vroeër getoon is. Dit verteenwoordig die lughawe Wingfield, wat tot in die 1950s vir Kaapstad gedien het, en wat net wes van Goodwood geleë is.

Die segment bo links is rooi en toon ’n ossewa in bruin en wit op ’n groen veld.

Die onderste segment is groen en toon ’n hindernisren. Die perd is bruin met ’n saal van geel en rooi, die ruiter dra ’n rooi pet en hemp, met Indiese rybroek en swart rystewels, die paalheining is wit met rooi klemstrepe en die bosheining is groen en geel. Onder die heining is ’n waterpoel in blou en wit (amateurig geteken). Onder die hindernistoneel is vyf kettingskakels, die middelste rond, wat die ketting van eenheid genome word, in goud, rooi omlyn.

Die rooi-goud-tema vord in die leuselint voortgesit, want dit het ’n inskrywing in goud (dieselfde Procedo as in die wapen hierbo) op rooi, goud omlyn.

Die helmteken is ’n springbok, lelik in goud gekleur met bruin horings en oë.

Die hindernisren is nie slegs landskapheraldiek nie – ’n afvallige gebruik – maar onvanpas, want die wedlope wat op Goodwood in Engeland gehou word is op die vlakte.

Die ossewa en die springbok was hoogs stereotipiese beelde wat algemeen, en slaafs, gebruik is deur volgelinge van die Afrikaner nationalistiese beweging gedurende die eerste helfte van die 20ste eeu.

Terwyl die ossewa soos wat dit deur die Boere gebruik is, in die dae toe die Kaapse nedersetting tot die Kaapse Skiereiland beperk was, sy ontstaan gehad het, word dit veral met die Groot Trek geassosieer (kyk hieronder).

Die springbok (Antidorcas marsupialis) is ’n dier van die droë vlaktes, en is heelwat deur plaaslike owerhede as simbool aangewend. Die springbok in die “wapen” van Goodwood was so swak geteken dat Mitford-Barberton daarop moes let dat die regte springbok horings het wat inhaak, en ’n wit gesig en keel het.

 

Oor die dorp:

Goodwood, wat in 1905 gestig is, het die naam gedra van die perderenbaan in Engeland want dit was die gedagte van die stigters om dit ’n perdewedren-sentrum te maak. Maar nadat ’n baan gebou en ’n enkele wedrenbyeenkoms gehou is, is die gedagte laat vaar.

Dit het langs die ou hoofpad (oorspronklik ’n wapad) vanuit Kaapstad deur Bellville na die Paarl gelê, wat in 1936 tydens die Voortrekker-Eeufees as Voortrekkerweg[3] vernoem is.

Dit is in 1938 as munispaliteit ingelyf, met inbegrip van die dorpsgebiede Townsend, Goodwood, Vasco[4] en Richmond, en in 1942 is sy regsgebied noordwaarts uitgebrei tot die omgewing van die huidige N1-deurpad.[5] Elsiesrivier is in 1944 tot Goodwood toegevoeg, en daarna Monte Vista in 1946 en Edgemead in 1969.

Die bevolking van die dorp was in 1971 19 000, almal blankes. In daardie tydstip het dit oor die 70 industrieë gehad, hoofsaaklik op Elsiesrivier, waaronder staalkonstruksie-ingenieurswese, saagmeule en fabrieke wat meubels, kleding, kosprodukte en grondverskuiwingsmasjinerie vervaardig het, asook ’n motormonteringsaanleg en ’n drukpers.

Aangesien die dorp se ontwikkeling saamgeval het met die tyd van segregasie (tot in 1948) en apartheid (vanaf ’48) is die Kleurlingbevolking van Elsiesrivier van die munisipaliteit uitgesluit; die Kleurlingwoongebied is ’n lokasie genoem, en het dit buite die dorp gelê.

Alhoewel die munisipaliteit onder die Hooflanddros[6] van Bellville geval het, het die dorp sy eie landdroshof gehad.

Die spoorlyn tussen Kaapstad en Bellville (oorspronklik tot op Wellington gebou, daarna na De Aar en Kimberley, en uiteindelik met die ganse subkontinent gekoppel) het reeds 4½ dekades lank bestaan toe die eerste Goodwood-stasie in 1905 opgerig is. Die munisipaliteit het uiteindelik langs hierdie lyn drie stasies behels – Goodwood, Vasco en Elsiesrivier – terwyl daar in die 1970s ’n noordelike omgangsroete gebou is met stasies op Akasiapark (wes van Goodwood), Monte Vista (in Goodwood), De Grendel (in Parow) en Oosterzee (in Bellville).

Suid van die spoorlyn (en buite die munisipale gebied) was die blanke woongebied Epping Tuine (tans Ruyterwacht), met ’n bevolking van 8 551. Die nywerheidsgebied Epping Industria is as deel van Kaapstad ontwikkel.

Ook suid van die lyn, maar buite die munisipale gebied, was die Goodwood-Skougrond, tuiste van die jaarlikse skou van die Landbougenootskap Westelike Provinsie. Hierdie gebied is onlangs omskep in ’n kasino-kompleks.

Ietwat verder van die munisipale gebied as die Wingfield-lughawe (en suid-oos daarvan) is die Internasionale Lughawe Kaapstad, voorheen die Lughawe D F Malan.



[1] In Afrikaans praat ’n mens, soos in Engels, van ’n verdeling in drie dele (in hierdie geval, tierced in fess).

In Nederlands word daar egter van tweemaal gesnijd gepraat – daar is twee skeidslyne, dus is dit tweemaal gesny. ’n Vertikale deling sal dan tweemaal gedeeld wees. ’n Soortgelyke benadering is ook kenmerkend van die Duitse heraldiek.

[2] Die Michaelis-skool is deel van die Universiteit Kaapstad, en word op UK se Hiddinghsaal-kampus bokant die Kompanjiestuin in die hartjie van die moederstad gehuisves.

[3] Alhoewel enkeles onder die Voortrekkers van die 1830s uit die Westelike Provinsie afkomstig was –Piet Retief kan hier genoem word – het geen trekgeselskappe vanuit die Westelike Provinsie vertrek nie. Dit was geheel en al ’n beweging vanuit die Oostelike Provinsie.

Dit het die entoesiasme van die Afrikaner-nasionaliste wat die naam Voortrekker aan verskeie strate in Wes-Kaapse dorpe gegee het, glad nie verminder nie.

Voortrekkerweg is die hoofweg vir Maitland (sedert 1913 deel van Kaapstad), Goodwood, Parow en Bellville.

Totdat die oos-wes-deurpad gebou is, was dit die nasionale pad deur hierdie gebiede (kyk onder).

[4] Vir die Portugese seevaarder Vasco da Gama vernoem.

[5] Die roetenommer wat vanaf die 1930s tot in die vroeë 1970s gebruik is vir die nasionale pad vanaf Kaapstad in die rigting van Johannesburg, was N9. Op hierdie stadium het werk begin aan ’n deurpad wat Voortrekkerweg as nasionale pad sou vervang.

Toe die nasionale roetes in daardie tyd herorganiseer is, is die nommer N1 vir die Kaapstad-Johannesburg-roete gebruik.

Oorspronklik was N1 die roete vanaf George na Bloemfontein, Johannesburg, Pretoria, Pietersburg en Beitbrug. Die dele van hierdie roete noord van Colesberg is steeds N1; die nommer N9 word tans gebruik vir die pad vanaf George tot by Colesberg.

[6] Die term landdros is eers sedert 1958 gebruik as die Afrikaanse ekwivalent vir die Engelse woord magistrate. Voor daardie jaar is hulle magistrate genoem (enkelvoud magistraat), en was hulle gesagsdistrikte magisteriële distrikte genoem.


Terug na bo

For English, click here

Bron: inligting oor die dorp uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa.

Beeld deur die skrywer gefotografeer; kleure met behulp van MS Picture It! aangepas.


Terug na indeks van munisipaliteite (voor 2000)

Terug na Armoria civica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle