Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

VISHOEK / FISH HOEK

Provinsie: Kaap (tans Wes-Kaap)

Afdeling: Kaap

Magisteriële distrik: Simonstad

Ingelyf: in Suid-Skiereiland (1995)

Vishoek

Die wapen mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: In goud, ’n klimmende leeu van silwer met tong van rooi; oor alles heen ’n dwarsbalk van rooi.

Helmteken: Uit ’n graafskroon uitkomend, ’n gewapende regterarm, die hand (in natuurlike kleur) hou ’n kromswaard vas, met die greep van goud.

 

(gedeelte van die) dekaal van die wapen van Vishoek soos dit op die deure van munisipale voertuie getoon is

Die wapen soos die dorp dit gevoer het sou by die Staatsheraldikus geen erkenning verkry het nie, aangesien dit ’n verbreking is van die kleurereël: die leeu is silwer op ’n goue skildveld.

Die skild kom van die wapen van die Bruins-familie, aan wie die grond waarop die dorp uiteindelik uitgelê is, deur lord Charles Somerset verleen is, en die helmteken van die De Villiers-familie wat lateraan die grond besit het.

Volgens Rietstap se Armorial Génèral is daar ’n familie genaamd Bruins in Oos-Vlaandere wat ’n wapen voer: in goud, ’n klimmende leeu van swart, oor alles heen ’n dwarsbalk van rooi. Die kleur van die leeu is duidelik verander om sodoende nie die familie se regte in te perk nie, maar die keuse van silwer was swak.

De Villiers-helmteken

Die wapen van die familie De Villiers soos dit in die boeke deur Cor Pama verskyn toon ’n helmteken van dieselfde formaat, behalwe dat die hand in ’n pantserhandskoen is, en die swaard is in sy geheel van silwer of staal, nie goud nie.[1]

Die kroon is blykbaar ’n foefie van die stadsraad. Apart van die feit dat dit onreëlmatig is (in plaas daarvan moes ’n helm eerder gebruik word), is dit nie in die standaardvorm nie, en die verlengings van die kroonring word met goue balle getoon, terwyl dit tradisioneel pêrels was (vyf van hulle) en in die krone wat op kronings werklik deur Britse grawe (earls) gedra word, word die pêrels met silwer balle vervang, en word dit met aarbeiblare afgewissel. Die illustrasie toon 11 goue balle en geen aarbeiblare nie.

Die wapen is in 1941 deur die pas gevormde dorpsraad aanvaar. Briefhoofde is gedruk en dasse vir manlike werknemers gemaak, asook serpe vir vroulike werknemers, almal met die wapenskild op.

Dit is voorgestel dat die College of Arms in Londen genader word om ’n wapenverlening. Weens die kleure daarvan wou die heroute egter daarvan niks weet nie. Met die oog op die hoeveelheid geld wat toe al reeds op die wapen gespandeer is, het die munisapliteit besluit om die Kollege te ignoreer. Die wapen het in gebruik gebly totdat die munisipaliteit by Suid-Skiereiland ingelyf is.

Die beeld kom van ’n dekaal wat aan die deure van munisipale voertuie geplak is.

Die dorp het ook ’n vlag gehad, ’n vertikale driekleur in geel, swart en geel, met die wapen op die swart streep, die leeu met sy gesig na die hyskant wedersyds.

 

Oor die dorp:

Vishoek lê 31 km suid van Kaapstad en is in die bekken van Vishoekbaai, ’n inskulping in Valsbaai aan die oostekant van die Kaapse Skiereiland. Die dorp het sowat halfpad na die Atlantiese kus by Langstrand uitgebrei, alhoewel daar ’n moeras en ’n aansienlike duineveld lê wat verdere uitbreiding in daardie rigting hinder.

Die dorp is vir sy baaistrand beroemd. Die gemiddelde somertemperatuur van die seewater is 20°C.

Vishoek lê by ’n onderbreking in die Skiereilandse bergketting, en staan op duine tussen die Kalkbaaiberge (hoogste piek 516 m) aan noordekant en, aan die suidekant, ’n bergrant wat die aparte name dra van Elsepiek (302 m, suidoos van die dorp) en die Brakkloofrant (305 m, suidwes), alhoewel hulle ’n enkele bergwand vorm wat noordwes na suidoos loop.

Ook aan die noordekant is die piek Skildersgat (172 m), waar die skedel van die beroemde Vishoekmens gevind is deur Victor Peers en sy seun Bertie in ’n grot, tans Peersgrot genoem, tydens uitgrawings in die jare 1927 tot ’29. Die skedel is dié van ’n mens wat sowat 10 000 jaar gelede geleef het.

Tussen Skildersgat en die Kalkbaaiberge loop die Silwermynrivier, met sy monding aan die noordekant van Vishoekbaai. Die rivier ontleen sy naam aan ’n uitgrawing sowat halfpad langs die rivierloop op waar daar in 1687, tydens die kommandeurskap van Simon van der Stel, aanspraak gemaak is dat silwer ontdek is. Ten spyte van verdere uitgrawings is geen silwer daar gevind nie.

Aan sy monding het die Silwermynrivier die noordgrens van die munispaliteit Vishoek gemerk. Aan die linkeroewer (noordekant) lê Clovelly, ’n klein woonbuurt wat aan Kaapstad behoort, op die hange van Trappieskop (240 m), die mees suidelike piek van die Kalkbaaiberge. ’n Enkel ry huise staan bo Hoofweg en die spoorlyn, terwyl etlike meer aan die binnelandse kant lê. Verder rivier-op is die Gholfklub Clovelly.

Die naam Vishoek word die eerste maal in 1725 gekry, alhoewel hierdie naam destyds ook geheg is aan Gordonsbaai, aan die noordoostelike hoek van Valsbaai.

In 1818 het goewerneur lord Charles Somerset 2 761 akker (1 117 ha) grond in hierdie omgewing aan Andries Bruins verleen. Onder die titelvoorwaardes was ’n bepaling dat geen openbare wynhuis behou mag word nie, en dat die reg op visvang vry sou wees.

Bruins se huis, wat later as die De Villiers-opstal bekend gestaan het, is blykbaar die eerste huis wat op Vishoek gebou is. Later het die Homestead-hotel daar gestaan.

In 1901 het Jacob de Villiers die grond gekoop, ten tye waarvan ’n verdere serwituut neergelê is, dat nie-blanke persone daar nie grond mag besit, mag woon of mag handel dryf nie.

Die Standard Encyclopædia of Southern Africa (wat in die 1970s gepubliseer is) stel dit dat hierdie drie voorwaardes steeds van krag is, ten spyte van pogings om dit te laat verhef. Tot in die 1980s was die enigste plekke waar drank bedien mag word die sportklubs, maar die beperking op drank is uiteindelik gelig. Die rassebepaling het eers weggeval toe groepsgebiede afgeskaf is.

Die spoorlyn na Wynberg (een van die eerste wat in Kaapkolonie gebou is) is in 1883 sover as Kalkbaai (sowat 2 km noordoos van die De Villiers-opstal) verleng. In 1889 het bouwerk begin aan die verdere verlenging van die lyn na Simonstad. Een van die vernaamste ingenieursprobleme was om die sanderige monding van die Elserivier, waar Glencairn tans staan, te oorbrug. Die lyn het 1 Desember 1890 Simonstad (of eerder ’n punt sowat ’n kilometer noord van die dorp) bereik.

Die enkelbaan is later tot by Vishoek verdubbel, maar die lyn na Simonstad bly tot vandag toe ’n enkel spoor.

Die spoorweg, soos dit vanaf Muizenberg tot by Simonstad loop, volg die roete van Hoofweg. Dit was oorspronklik die wapad wat in die ou dae Simonstad met Kaapstad gekoppel het. In die 1970s het die Kaapse Afdelingsraad ’n nuwe pad oor die berge gebou, met sy beginpunt te Steenberg (agter Muizenberg). Dit volg die Silwermynrivier af tot agter Skildersgatkop. Die afdelingsraadslede het onder die foutiewe indruk gestaan dat daar vroeër ’n wapad oor die berge geloop het, en dat hierdie kamstige pad deur Hoofweg vervang is. Gevolglik het die raad hierdie nuwe pad die Ou Kaapse Weg genoem. Hierdie wanbenaming duur voort.

In 1919 het De Villiers se erfgename die plaas Vischhoek onderverdeel en is ’n dorp uitegelê. In 1921 is ’n plaaslike raad van drie lede daargestel, en in 1927 is dit uitgebrei tot ’n dorpsbestuurraad van ses lede.

Die munisipaliteit Vishoek is Oktober 1940 geproklameer en die eerste raad is vroeg 1941 verkies.

In 1960 was die bevolking 5 213 blankes, 194 Kleurlinge en 198 swart mense (“Bantu”). Laasgenoemde twee syfers is in die lig van die beperkings op bruin en swart inwoners verrassend.

Die dorp is tydens die plaaslike verkiesing van 1995 by die munisipaliteit Suid-Skiereiland ingelyf (’n onderverdeling van die Grotere Kaapstad). Dit is tans deel van die Eenheidstad Kaapstad.



[1] Pama se blasoen vir die helmteken van De Villiers, soos dit in die Groot Afrikaanse Familienaamboek voorkom, lui:

’n Gepantserde en geboë regterarm arm wat ’n kromswaard horisontaal vashou.

In die wapen van Vishoek word die kromswaard skuins gehou, eerder as horisontaal.


Bronne: Aantekeninge oor die munisipale wapen vanaf die biblioteek Vishoek verkry deur Skout-Admiraal (2de klas) André P Burgers, en die geskiedkundige detail uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa, en Early Railways at the Cape, deur Jose Burman (Human & Rousseau).

Bron van beeld: Beeld van ’n dekaal van die dorpswapen soos op die deure van munisipale voertui vertoon, deur Skout-adm Burgers voorsien. Beeld van De Villiers-helmteken van ’n illustrasie van die De Villiers-wapen in Die Groot Afrikaanse Familienaamboek. Kleure van hoof-illustrasie met gebruik van MS Picture It! aangepas.


Terug na bo

For English, click here


Terug na indeks van munisipaliteite

Terug na voor-2000-indeks

Terug na Armoria civica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle