Armoria familia
http://oocities.com/skuinsbalk

Helmtekens en ander heraldiese wapens

deur Mike Oettle

NOUJA, ons het vasgestel dat die helmteken deel vorm van die heraldiese vertoon.

helmteken van Drummond Drummond-klanlid of dienskneg met sy helmtekenwapen

Maar dit funksioneer ook as vrystaande wapen, en kan een wees van ’n reeks sulke bykomstige wapens (Nederlands leus, leuzen, Engels badge) wat deur ’n wapenvoerende persoon gebruik word.

Kom ons kyk weer na hoe Moncreiffe en Pottinger[1] die saak bespreek (weereens volgens my vertaling):

helmtekenwapen van Drummond

“Die helmteken word gerieflkheidshalwe op die wrong alleen vertoon, sonder die helm, as merk van eienaarskap.
plantwapen van Drummond

“In Skotland is daar in die verlede ’n metaalplaat gebruik wat ’n klanhoof se helmteken en leuse vertoon het, wat met ’n riem en gespe aan die nekke van die klanhoof se volgelinge gedra is.

“Hedendaags word die klanhoof se helmteken, omring deur ’n riem en gespe waarop die leuse staan, gebruiklik deur al sy personeel, familie en klan as wapen gedra.
perdeduiwel, wapen van Drummond snuffelhond, wapen van Drummond

“Baie klanhoofde het ook plantwapens, wat ook deur die klan gevoer mag word.

“’n Klein wapenskild is in sommige lande as wapen (leus) gedra, en etlike belangrike persone het ook ander heraldiese wapens (leuzen) – wat gebruik word om hul eiendom te merk en om hul volgelinge uit te ken.

Na deel 2

Hoe Drummond die perdeduiwel as wapen verkry het
standaard van Drummond, graaf van Perth

“Hierdie wapens word soms op ’n agtergrond van die livreikleure (gewoonlik die twee hoofkleure van die skild), op ’n hoofkwartiervlag wat die ‘standaard’ of ruiteryvlag genoem word.

“Alle here met sitting in die House of Lords, en daardie Skotse lairds wat territoriale baronne is, mag ’n mus[2] bo hul skilde plaas – lords sit dit altyd binne die kroon.[3]
Drummond, graaf van Perth en ’n
moordsugtige baron Drummond se skild met hermelyngevoerde mus (links) en met kroon en kroonmuts

“Dekklede is gewoonlik in die livreikleure, maar die Soewerein[4] s’n is goud, hermelyn gevoer, en dié van Skotse lords en sekere hoë Staatsbeamptes is rooi, hermelyn gevoer.

“Sekere prominente manne word ook toegelaat om hulle skilde te vertoon as opgehou deur ‘skildhouers’, wat op ’n ‘grond’ staan.

“Dus bestaan die volle heraldiese vertoon van ’n lord uit sy skildwapen, mus, kroon, helm, helmteken, dekkleed, leuse of wapenspreuk, skildhouers en grond.”

heraldiese vertoon van Drummond, graaf van Perth

Dit geld ten minste vir die wapens van Britse here. Op die Europese Vasteland is die seremoniële mantel – of, in die geval van soewereine, die pawiljoen – ’n belangrike deel van die vertoon van ’n belangrike heer. (Kyk hier vir ’n voorbeeld van ’n mantel, hier vir ’n pawiljoen.) Gewoonlik hermelyn gevoer, hang dit agter die heraldiese samestelling, en genoeg van die buitekant is weerskante gedraai sodat die kyker die kleur daarvan te sien.

Die pawiljoen is effektief ’n meer deftige mantel. Aan sy bopunt is die soewerein se kroon, wat op ’n klokvormige tentstruktuur rus, waaruit die mantel vloei.

Dikwels, waar daar geen pawiljoen is nie, sit ’n kroon of soms ’n spesiale mus bo-aan die mantel, en in die geval van beide pawiljoene en gekroonde mantels is die mantel weerskante geknooop, sodat dit uitgesprei kan word en meer effektief die wapenvertoon kan wys.

Carl Alexander von Volborth, in sy boek Heraldry of the World,[5] skryf (my vertaling:

“Die oorspronge van die seremoniële mantel kan ten minste tot in die sestiende eeu teruggevoer word. Dit word soms gebruik as alternatief vir die dekkleed, en stam miskien uit die ere- of ampsmantels wat prinse en belangrike beamptes by seremoniële geleenthede gedra het, of van die behangsels om ’n troon.

“Die seremoniële mantel word veral deur prinse, die hoë adel en die houers van sekere belangrike ampte gevoer, maar nie deur almal in hierdie kategorieë nie.
Drummond se slaapkamer

“Die buitekant van ’n seremoniële mantel is gewoonlik pers of rooi, maar kan ook swart of blou wees, soos by tye in Swede en Frankryk gevind word. Dit het soms ’n patroon van lelies (fleurs-de-lys), krone of Napoleontiese bye, of herhaal dit die wapenfigure. Die voering is gewoonlik van hermelyn, maar geel (goud) en wit (silwer) kan ook gebruik word.”

heraldiese embleme op huishoudelike goed

Maar dit is taamlik ver weg van die heraldiek soos deur gewone mense gebruik (en Skotse lords is heelwat meer gewone mense as hul neefs op die Vasteland). Ons kyk weer na Moncreiffe en Pottinger, en vervolg van die laaste aanhaling aangaande ’n wapenvoerende heer (Drummond, graaf van Perth):

“Sy heraldiese embleme kan op velerlei maniere gebruik word om sy eiendom te merk.
Drummond in tradisionele Skotse drag, sy helmtekenwapen ingesluit, met drie arendvere

“Hulle kan op sulke dinge soos gordyne, meubels, borsels, mansjetknope, knopies, borsspelde, silwer, porselein en skryfpapier voorkom.

“Dit kan ook gebruik word om hom te identifiseer. Skotte dra hul eie persoonlike helmteken of die helmtekenwapen van hul klanhoof op hul hooftooisel (klanhoofde voeg drie arendvere by, en onderhoofde twee).

“Livreikleure word dikwels gebruik, veral as perderesieskleure.

“Hy kan sy banier oor sy huis ophys, en op sy motorkar.”

’n banier oor sy huis, en op sy motorkar

Om te sien hoe ’n wapen in verskillende vorms vir verskillende lede van ’n familie voorkom, kliek hier.



[1] Simple Heraldry, Cheerfully Illustrated, deur Iain Moncreiffe van Easter Moncreiffe, O St J, MA, LlB, FSA Scot, Advokaat, Kintyre-persevant, en Don Pottinger, MA DA, ekstraordinêre herout-skilder aan die Hof van die Wapenkoning Lord Lyon (Thomas Nelson and Sons, Londen, eerste uitgawe 1953). Moncreiffe was later klanhoof van Clan Moncreiffe en ’n baronet (sir Iain) asook Albany-Herout.

Die rangstruktuur binne die Britse heraldiese kantore bestaan uit ’n wapenkoning (vir Skotland, Lord Lyon King of Arms) of wapenkonings (vir Engeland, Garter, Clarenceaux en Norroy, en vir Noord-Ierland, Ulster), heroute en persevante (of onderheroute). In die 20ste eeu is die ampte van Norroy en Ulster gekombineer.

[2] Die hermelyngevoerde mus of muts (in Frans, chapeau) van ’n heer. Dit word ook binne ’n kroon gedra, in welke geval dit ’n kroonmus genoem word.

[3] Sulke krone word in Engels coronets genoem; in Afrikaans word die woord kroon vir beide die koningskroon en die krone van mindere here gebruik.

[4] Die Britse soewerein; ander gekroonde Europese staatshoofde het ander gebruike.

[5] Heraldry of the World, geskryf en geïllustreer deur Carl Alexander von Volborth, K St J, AIH, redaksie deur D H B Chesshyre, MA, FSA, Rouge Croix Pursuivant (Blandford Press, Poole, Dorset, 1973), uit die Deens vertaal deur Bob en Inge Gosney.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Erkenning: skanderings uit Simple Heraldry deur Howard Lancaster.


    Terug na familiewapens-indeks

    Terug na Armoria familia-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle