Heraldiek – stokoud en splinternuut
deur Mike Oettle
“ELKE Afrikanerfamilie het ’n familiewapen . . .”
Nie waar nie. Baie families besit glad nie ’n heraldiese wapen nie, en onder dié wat wel wapens voer, is daar baie wat dit onreëlmatig doen.
Boonop bestaan daar nie so iets soos ’n wapen wat deur elke lid van ’n familie gevoer mag word nie.
“Hoe dan, kan ek maar vergeet van ’n wapen?”
Nee, glad nie. Dit is vir enigiemand oop om ’n wapen op te trek en te registreer.
En selfs as dit nie geregistreer is nie, is dit toelaatbaar mits dit nie ’n bestaande wapen dupliseer nie.
Dis altyd die probleem, natuurlik. As jy nie jou wapen laat registreer nie, is dit altyd moontlik dat daar ’n duplisering of ’n oorvleueling is.
In Suid-Afrika kraai onkunde koning, as dit kom by wapens.
Jare terug, toe ek in die Staatsdiens gewerk het, het daar ’n brief gekom vanaf ’n firma in die eiendomsbedryf. Op die briefhoof het die wapen verskyn van die professionele vereniging waaraan lede van die firma behoort het.
My baas kyk op die briefhoof en sê: “Dis een van daardie ou Johannesburgse families. Kyk, hulle het selfs ’n familiewapen!“
Het hy maar die moeite gedoen om die briefhoof te lees, en dit te vergelyk met die briefhoofde van ander soortgelyke firmas, het hy geweet waaroor gaan die simbool.
Wat die heraldiek betref, is Johannesburg nie oud nie – selfs ook nie Kaapstad nie.
Dis ’n wetenskap wat ten minste uit die tyd van die Kruistogte dateer.
Maar dis ook nie te sê ’n wapen kan nie heel modern wees nie.
Daar is wapens wat simbole insluit wat kernreaktors simboliseer, of die ellipses wat die wentelgange van elektrone in pas ontdekte elementatome voorstel.
Hier regs sien jy die wapen van die Verenigde Koninkryk se Atoomkragowerheid, wat ’n omgekeerde punt (die skerp, langwerpige heroutstuk wat in die middel afloop) gebruik om ’n kernreaktor voor te stel – ’n voorbeeld van ’n woordspelende wapen, want altwee heet in Engels “pile”.
Die wapens van Nederland se provinsies weerspieël die heraldiek van die Middeleeuse heersers van die Lae Lande – maar daar is ook ’n wapen vir Nederland se heel jongste provinsie, Flevoland: die provinsie is in Januarie 1986 in die lewe geroep, in in Juliemaand daardie selfde jaar is ’n wapen met ’n heraldiese seeleeu (’n leeu se kop, voorpote en borskas gekoppel aan ’n visstert) aan die nuwe provinsie verleen.
Die heraldiek is stokoud en ook splinternuut.
Terug na Armoria familia-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle