Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Naaktheid op TV en in rolprente

’n NAAKTE film het onlangs op Suid-Afrikaanse televisie gewys.

Maar moenie te entoesiasties raak nie. Die hele film is nie vertoon nie. Dit is ingebring vir niks meer as titillasie – en dit in ’n taamlik ongure betekenis van die woord.

Dit wil nou nie sê dat die film self onguur was nie. Naked Paradise was sy titel, en dit het getoon hoe ’n onskuldige meisie, Sally, voorgestel is aan pret in die buitelug in ’n wêreld wat sy gevrees het: ’n nudiste-vakansie-oord.

Maar Naked Paradise was nie die titel wat voordat die film gewys het, geadverteer is nie, want die ernstige doel van die vervaardigers daarvan is geïgnoreer deur die span wat heeltemal ’n ander draaiboek verfilm het: Carry on Camping, die Britse komedie uit die reeks wat vanaf die jare vyftig tot die tagtigs geloop het, wat slegs enkele snitte uit die nudiste-film leen, bloot om die toneel vir rowwe humor voor te berei.

Die Carry On-films gebruik naaktheid nes die res van die filmnywerheid: in klein brokkies vir effek, in hierdie geval humor.

Moenie vir my verkeerd verstaan nie: ek geniet nogal die Carry On-reeks. Hulle gee nie voor om oor enigiets ernstig te wees nie, en wanneer hulle rampspoedige foute begaan wat die geloofbaarheid van, byvoorbeeld, ’n ernstige geskiedkundige film sou ruïneer, maak dit nie saak nie.

Carry On: Don’t Lose Your Head is nie ’n geskiedenis van die Franse Rewolusie nie; dit skeer net liggies die gek daarmee. (Die Franse sien dit natuurlik as ’n ernstige aantyging teen hulle Republiek, maar hulle kan hulle daaroor bekommer wanneer die film in Parys vertoon word.)

Maar om terug te kom by Naked Paradise: in Carry on Camping se begintonele, sien jy ’n tipiese Engelse bioskoop met ’n plakkaat buite (in swart-wit gedruk) wat twee naakte meisies toon – met ’n lelike stuk rooi lint bo-oor hulle tepels vasgeplak.

Dis tipies van die plaaslike sensorskap wat die Britse manier kenmerk waarop hulle sensitiewe films hanteer.

Maar dis nie ’n ernstige probleem nie. Ten minste vertoon die bioskoop die film geheel en sonder snitte (of neem ’n mens so aan).

Dit toon naakte mans en vroue wat bal-en-net speletjies speel; naakte vroue en mans langs die swembad; ’n naakte vrou agter ’n tafel vol kos (die kos steek haar onderlyf weg) wat die kos vir klein kinders uitgee; ’n familie – ma en twee kleintjies – wat gaan stap (jy sien hulle slegs van agter af).

Die agtergrondstem vertel vir jou van ’n toneel waar mans oefen, en daarmee oorbuig om hulle tone te raak – maar die Carry On-mense het daardie beeld uitgehaal, en fokus in plaas daarvan op die geskokte kommentaar van Joan Sims en haar vriendin Anthea (die aktrise se naam ontglip my).

Sally stap na ’n groep waar mans en vroue saam pluimbal speel, daar sê Joan tjankerig: “If one of those men turns around, I’m walking straight out of here!”

Die spelers is in die verte, en min van hulle liggame kan gesien word, maar die vervaardigers van Naked Paradise het vooraf gedink en die mans se rûe is vir die kamera gedraai.

Miskien kyk hulle wel later in die film na die kamera se kant toe, maar die Carry On-mense wil nie hê ons moet daardie deel sien nie.

In die afgelope jare is daar al hoe meer naakte vel in films te sien. Maar ek sou dink dat die byvoeg van addisionele naak-tonele in die Carry On-films hulle nie snaakser sou maak nie. Hulle effek het daarin gelê dat hulle naaktheid bietjies-bietjies gebruik het.

Maar watter soort naaktheid kry jy deesdae in films?

Daar’s bitter min wat onskuldige pret is nie.

Ek het nou die dag kommentaar gelees wat gesê het dat storttonele dikwels in films en op TV voorkom, en dat die kamera dikwels liefderik op die vrou se borste fokus terwyl sy dit met seep was en weer afspoel.

Maar, het die kommentaar voortgegaan, as die vrou sonder handdoek uit die stortbad uittree, kan jy seker wees daar gaan ’n sekstoneel wees.

En dit is die probleem met naaktheid in film: dit word vir ongure doele gebruik, wat slegs die idee verskerp dat naaktheid gelyk is aan ongurigheid.

Dit lyk of daar twee soorte filmmaker is: dié wat goed maak vir die familie om te bekyk, waar naaktheid onaanvaarbaar is, en dié wat glad nie vir familiewaardes omgee nie, en vir wie seks op die skerm aanvaarbaar is.

Maar as ek nou sê seks op die skerm, moet ek ’n verdere onderskeid maak: aan die een hand het jy die uit-en-uit pornograwe, wat vir jou die seksorgane wys, eers apart en dan waar hulle by mekaar kom (dit laat ek vir jou verbeelding oor), en dan kry jy filmmakers wat gesimuleerde seks op beeld sit (of wat ten minste nie vir jou die pornografiese dele wys nie), maar in hulle tonele is mense steeds wulps ongeklee, en tree hulle wulps op.

Maar hoe dit ookal uitgebeeld word, is die indruk waarmee jy gelaat is, obseen, en die verbintenis word ingeskerp: naak = obseen.

Maar kom ons laat daardie perverse indiwidue eenkant wat bereid is om geld te betaal om sulke liederlikheid te sien. Waar laat dit dan die gemiddelde burger?

Voor sy TV neergesit, en hy wonder of hierdie spesifieke TV-kanaal volgens die reëls speel.

Want terwyl mense betaal om regte erg variëteite van porno te sien, vind sagte porno steeds sy weg na die openbare TV-kanale, en jy’s nooit heeltemal seker waar dit gaan opduik nie.

Ek het eenmaal daarop afgekom dat my tienerjarige kinders in die middel van die dag gesit en TV kyk het, en wat gewys het was ’n film oor die ergste seksuele wangedrag, en het gesimuleerde seks ingesluit (met volle naaktheid van voor af). Natuurlik het ek dit dadelik stopgesit.

Maar waar was die reguleerder? Wie het die kanaal gemagtig om in die helder dag, wanneer kinders sou kan toekyk, so ’n rolprent te wys?

Die ironie is egter dat hierdie selfde kanaal, wat nie geskroom het om sagte porno te vertoon, sou weier om ’n naturistefilm te vertoon.

Hulle sou verskonings maak, en sê dat mense beswaar sou maak, en sal hulle vra of dit reg is om aanstoot te gee – maar hulle gee genoeg aanstoot met hulle sagte porno.

En dit stop nie met materiaal wat algemeen erken word as sagte porno nie. Elke TV-kanaal wys vroeër of later materiaal oor ’n skoonheidskompetisie, of meisies op die strand – miskien in verband met ’n fotografiese skietsessie op ’n eksotiese lokaal, met beeldskone mannekyne wat so min moontlik aan het, of miskien slegs die aksie op die strande van Durban, Port Elizabeth of Kaapstad.

Maar sou hulle die kameras na Sandy Bay neem?[1] Of na Secrets?[2]

Waarskynlik nie. Maar waarom nie?

Daar sal sekerlik naakte mense wees. Maar hul naaktheid is geensins seksuele vertoon nie – dis hoe jy die jong poppe in hulle eina-klein bikini’s en aantreklike eenstuk-baaikostuums kan karakteriseer.

Die bewakers van ons sedes sal ons kinders dan toelaat om hulle op jong poppies in swemklere te verstaar, en om sagte-porno-films op TV te kyk, maar sal niemand, onder enige omstandighede, toelaat om te sien hoe heeltemal normale mense hulle ontspanning in die son sonder klere geniet.

Hier in Suid-Afrika kan ons die Internet gebruik en allerhande materiaal bekyk, goed sowel as sleg, wat op rekenaars rondom die wêreld gebêre is. Daar is liederlike pornografie wat homself agter onskuldige URLs verskuil.

International Naturists Association

Maar daar is ook die International Naturists Association webwerf, www.clothesfree.com, met sy foto’s van klerevrye ontspanning – waaronder heel dikwels beelde uit Nudes in the News. Daar sal jy foto’s sien van INA-president Corey Mangold en sy vroulike mede-aanbieders Red en Sherry – nie een van hulle òf geklee òf onkuis.

Maar Nudes in the News is nie iets wat jy in Suid-Afrika op jou TV kan besigtig.

Nog die openbare uitsaaier nog private TV-kanale sou daaraan dink om dit te toon, want hulle is bang hulle sal te veel mense aanstoot gee as hulle sulke programme wys.

Maar met al hierdie minder as smaaklike programering, vra ek, watter skade kan ’n paar naakte mense aanrig?

– Strandloper



[1] Sandy Bay lê aan die Atlantiese kus van die Kaapse Skiereiland, aan die voet van ’n onontwikkele stuk fynbos-berg. Om daar te kom moet ’n mens na die oord-dorpie Llandudno ry, dan parkeer jy in die parkeerterrein langs die strand, en dan stap jy ’n paar kilometer langs die strand wat vol groot klippe is.

[2] Secrets, wat vroeër as Secret Spot bekend gestaan het, lê langs Port Elizabeth’s se Marinerylaan, nie te ver van Kaap Recife nie. Die presiese ligging daarvan is nie alombekend nie, maar dié wat daar gaan moet ook ’n hele ent daarvan af parkeer en deur digte bos stap.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper