Strandloper
http://www.oocities.org/strandloper2003

Naaktheid, seks en die Kerk

DIE Kerk word geblameer vir vir heelwat wat deesdae fout is met die wêreld.

Miljoene 21ste-eeuse mense beskou die huidige era as “nà-Christelik”, bevry van die bespotlike strikture wat die Kerk op hulle geplaas het.

En dis waar dat die Kerk reeds eeue lank reëls gehad het oor hoe mense hulle moet klee en hoe hulle seksueel moet optree. Die Kerk het in der waarheid hierdie tradisie nie nuut geskep nie – dit is van die Joodse gemeenskap geërf, wat deur Moses hulle wette gegee is.[1]

Maar nie al die reëls is 3 400 jaar oud nie. Baie van hulle is heelwat meer onlangs uitgedink.

Baie van die kleinlike detail oor klerasie en seksuele aktiwiteit ontstaan uit die Evangeliese beweging, ’n herlewing wat die Christelike samelewing van Groot-Brittanje tydens die tweede helfte van die 18de eeu en in die 19de oorweldig het.

Die Wesley-broers, John (*1703 †1791) en Charles (*1707 †1788), het dit begin, en dit het nie net die Metodiste Kerk gestig nie, maar het in etlike ander denominasies invloed uitgeoefen, die Kerk van Engeland (waarin altwee broers oorspronklik as priesters ingeseën is) ingesluit.

Wat meer belangrik is, is dat dit geslaag het in die teweegbring van ’n diepgaande transformering van die Britse samelewing. Waar Britte voorheen geneig was om drank buitensporig te verbruik (jenewer was vryelik vir klein kinders bekombaar vir minder as ’n sjieling per pint), prostitusie algemeen was (meisies van 13 en 14 is omgepraat om hulle liggame te verkoop) en ’n verskeidenheid brutale sportsoorte waarin diere mishandel is, gewild was, soos bultarting en beertarting, het nugterheid die wagwoord geword, die leeftyd van toestemming is na 16 verhoog, en ’n verskeidenheid wrede sportsoorte is verban.

En aanmerklik genoeg is die slawehandel (’n belangrike bron van inkomste vir die Britse ekonomie) is in 1807 onwettig verklaar, en die slawerny self in 1833 afgeskaf.

Die sosiale probleme wat die beweging aangepak het, het nie heeltemal verdwyn nie, maar die Britse volk was meer geneig om kerkdienste by te woon, om sterk drank te vermy, om prostitusie uit te skakel en in die algemeen om die welvaart van hul medemens, en van diere, na te streef.

Toe Frankryk en daarna die res van Europa aan die einde van die 18de eeu na bloedige rewolusie oorgegaan het, het Brittanje stabiel gebly, en het in die 19de eeu parlementêre hervorming bewerkstellig wat verder gekeer het dat die Vastelandse rewolusies van die middel-19de eeu die eilande geraak het..

Die Evangeliese beweging het eers laat sy invloed op die adel uitgewerk, maar onder koningin Victoria is dit beslis swaar gevoel.

Aangesien Brittanje die meeste van die jaar ’n koue land is, was naaktheid nie ’n verskynsel waarmee dit veel te doen gehad het, en die naaktheid wat dit meestal as euwel beskou het, was grotendeels aan prostitusie verbonde.

Ek weet nie of Brittanje ooit spesifiek naakte danse verban het, maar gemengde ongekleede danse waaraan prostitute en hul klante deel gehad het, was in Kaapstad so gewild dat dat dit onder Britse gesag in ’n ordonnansie van die vroeë 19de eeu pertinent genoem is as onsedelik.

Die Engelse Evangelicals, wat so gewoond was om sosiale probleme te takel, het die laat 19de-eeuse verskynsel van nudisme – aanvanklik hoofsaaklik die Duitse Freikörperkultur (die kultuur van die vrye liggaam) – as nog ’n teiken beskou.

Hulle het heel moontlik nie eens daaraan gedink nie dat naakte swem reeds duisende jare aan die gang was.

Vir hulle het naaktheid seks beteken. Ordentlike mense, het hulle dit volhou, het in die donkerte hul klere uitgetrek en het nooit hulle gades eens in die daglig naak gesien nie.

Die Evangeliese houding teenoor naaktheid het in die 20ste eeu voortgeleef, alhoewel vir baie mense is dit effens aangepas (kyk baaikostuums), en naakte volwassenes word steeds as steurnisse beskou, indien nie seks-maniakke nie.

Die siening dat naaktheid en seks aan mekaar gekoppel is, is tans so diep ingewortel dat dit nie net Christene is wat so dink nie, maar mense wat geheel en al buite die Kerk se invloed staan.

Ateïste en agnostici vrees blykbaar steeds dat wanneer mense gewone daaglikse aktiwiteite ongekleed uitvoer, seksuele losbandigheid die gevolg gaan wees.

Maar wat is die realiteit van die 21ste eeu? Die uitvinding in die 1950s van die geboortebeheer-pil het tot die seksuele rewolusie van die ’60s gelei. Egskeiding, in die ’50s feitlik ongehoord, het algemeen geraak.

Ouers los hul “lewensmaats” en trou weer – of, dikwels genoeg, bly hulle saam en trou hulle nie, met min gewete oor die effek van hul optrede op hulle kinders.

Tieners, bevry (so dink hulle) van die vrees van ongewenste swangerskap, voer seksuele verhoudings terwyl hulle steeds in die skool is – in baie skole word maagde van 11 en 12 uitgetart oor hulle is “bang om regte vroue te wees”, en verkeer onder druk van seuns wat sê: “’n Meisie wat nie met my slaap nie, het my nie lief nie,” en word sodoende tot seksuele aktiwiteit ingedwing.

Dan is daar ook die Vigs-pandemie, wat in geheime toegedraai word nie deur die Kerk nie, maar deur sekulêre politici wat bang is om hulle eie roekelose optrede van nader te beskou. Dit word beslis nie alleenlik deur seksuele kontak versprei nie, maar losbandige, roekelose seks is beslis die modaliteit waardeur dit die maklikste versprei word.

Seksuele losbandigheid is in der waarheid reeds los in ons samelewing, en die wêreld wil dit eerder nie in die gesig staar nie. Soos die spreekwoordelike volstruis wat sy kop in die sand steek,[2] glo ouers op OOVs en politici dat solank mense gekeer word om Gods sonskyn in hul God-gegewe Adamsgewaad te geniet, niks verkeerd kan gaan nie.

Meer pertinent is die feit dat families wat die gewoonte het om hul ontspanningstyd ongeklee deur te bring, nie deel is van hierdie prentjie van verval nie.

In sulke families is ouers meer in staat daartoe om probleme te hanteer, en kinders minder geneig is om hande uit te ruk, ten opsigte van probleme wat spruit uit seksuele nuuskierigheit, seksuele eksperimentasie en buitengewone seksuele optrede.

Baie Evangeliese Christene sien dit in dat die ou reëls die nuwe probleme nie oplos nie. Jammerlik sien baie ander dit nie so in nie.

Maar dis eienaardig om te sien hoe die onwrikbare reëls van die Evangeliese beweging se oplossings vir 18de-eeuse probleme ondenkend behoue gebly het.

– Strandloper

 

International Naturists Association

Vir nadere bespreking van verwante punte, kyk Does God Desire us to be ashamed?, en Does body acceptance promote lower teen pregnancy and abortion rates? op die webwerf van die International Naturists Association.



[1] Dit word geskat dat die gebeure van Eksodus 19 en 20, toe Moses die stene van die Gereg (die Tien Gebode) omstreeks 1450 vC plaasgevind het.

[2] Regte volstruise (Struthio camelus) is glad nie dom genoeg om hulle koppe onder die sand te steek nie – daardie lawwe idee kom van die ondeurdagte verslae van vroeë reisigers. Om te keer dat hulle gesien word, sal volstruise plat op die grond lê, met hul stowwerig-vaal nekke uitgerek en feitlik onsigbaar.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Terug na Strandloper se hoofbladsy


Skryf vir my: Strandloper