Die praktiese redes agter manlike besnyding, en die euwel van vroulike “besnyding”
DAAR bestaan
heelwat mense wat oortuig is dat manlike besnydenis ’n soort verminking is. Ek is daarvan oortuig dat dit ’n foutiewe en verwarde houding is.
Eerstens is dit verward omdat dit blykbaar hand aan hand gaan met die heel behoorlike afkeer wat enige fatsoenlike persoon sou hê teen dit wat eufemisties vroulike besnydenis genoem word.
Die Engelse woord vir “besny” is circumcise – daar word rondom die eikel (wat met ’n metaal-dop gedek word) gesny om die voorvel of voorhuid te verwyder. So werk dit in ’n groot klomp gevalle. In ander gevalle word die voorvel eenvoudig vorentoe getrek en gesny.
Dit word nie altyd reg gedoen nie. Elke jaar in Suid-Afrika is daar ’n protes teen tradisionele besnyers (of iingcibi, in isiXhosa) wat te veel afneem, of wat sleg sny, en teen amakhankhatha (tradisionele verpleërs) wat versuim om die wonde skoon te hou.
Swak bestuurde besnydingskole produseer abakwetha (ingewydes) wat nie as amadoda (manne) uitkom nie, maar wat hul manlikheid verloor het, sy dit die punt van die penis, die gehele penis, of die knaters ook, òf weens die aanvanklike skade òf weens sepsis.
Gans te veel jong manne oorleef die ritueel nie – sterftes was in die verlede seldsaam.
Maar wanneer daar teen misbruike geprotesteer word, verwerp kapteins en opperhoofde (tans tradisionele leiers en konings genoem) alle kritiek deur om te sê dat dit onwelvoeglik is vir buitestaanders en vrouens om in te meng, al is die betrokke vroue mediese dokters wat besorg is vir die gesondheid van jong mans.
Hierdie soort praktyk is beslis verminking. Maar dit is ook nie besnydenis soos wat dit behoort te wees.
Selfs al word die besnydenis behoorlik en met genoegsame ontsmetting toegepas word, is die besnydenisskole steeds desperaat vir hervorming, aangesien die abakwetha ’n hoogs seksistiese uitkyk op die lewe geleer word wat van vroue diens vereis,
van beide seksuele en nie-seksuele aard.
Traditionaliste weier om dit wat in hierdie skole geleer word, te bespreek, want hulle beskou dit as heilig. Maar dit blyk tog dat die hoë verkragtingsyfer in Suid-Afrika veel te doen het met wat daar geleer word.
Christelike kerke vermy gewoonlik om betrokke te raak by die besnydingsritueel. Tog is die besnydingskole ’n kernmiddel vir die inprenting van ’n heidense gedagtetrant in jong mans, en kerkgangers is onder geweldige sosiale druk om hul seuns na sulke skole te stuur.
Jong manne wat mediese besnydenis ondergaan, word nie as regte mans beskou nie.
Onder Bantu-sprekende gemeenskappe in Suider-Afrika, besny die meerderheid wel. Hierdie praktyk vind gewoonlik plaas wanner ’n seun sy puberteitsjare deurleef, of dit voltooi het. In die praktyk gaan baie heelwat later om hulle te laat besny, maar tradisioneel word ’n man belet om te trou, of andersins seksueel aktief te raak, voordat hy besny is.
’n Opvallende uitsondering is die amaZulu, onder wie besnydenisrituele onder koning Shaka in die vroeë 19de eeu laat vaar is, sodat sy manne gouer slaggereed sou wees.
Die besnydenis of onbesnydenis van Bantu-sprekende mans is deesdae nie maklik sigbaar nie, weens die afdruk op die Bantu-sprekende samelewing van Westerse waardes.
Anderhalf eeu gelede sou die meerderheid swart mans, vroue en kinders daagliks naak rondgaan. Hulle sou dit nie met sulke woorde beskryf nie, aangesien tieners en volwassenes krale en ander soorte versiering sou dra, en slegs vir hulself as naak sou beskou wanneer alle versier en tooiings afgehaal is.
Maar hulle geslagsorgane was bloot, en dit was vir almal duidelik of ’n jong man besny is aldan nie. Sou hy die ritueel nie ondergaan het nie (en nie ’n Zulu was nie), is hy uitgelag as iemand wat nie beskore was om vir lede van die vroulike geslag die hof te maak nie.
Belangrike mans (soos kapteins) en ouer vroue sou miskien wel hulle geslagsorgane op die een of ander manier toemaak, maar gewone jong mense was ongeklee, en indien hulle wel toegemaak het, is dit as onwelvoeglik beskou.
Dit is van getroude vroue wat aan kinders geboorte gegee het (in die antropologiese literatuur word daar fatsoenlik na hulle verwys as matrones) dat hulle hul borste toemaak, maar dit was van ’n kinderlose vrou as onkuis beskou as sy nie naakborstig was nie.
Daar is heelwat instansies op rekord van swart mans wat, effens meer as honderd jaar gelede – in sommige gevalle, heelwat minder as 100 jaar – naby blanke gemeenskappe gebly het, en wat vir openbare onsedelikheid aangekla is, omdat hulle niks verkeerd gesien het om kaal te wees veral toe hulle hulself in ’n rivier skoongemaak het.
En toe die pos die eerste maal tussen King William’s Town en Oos-Londen in die 1830s gedra is, was die bode (met briewe in ’n mikstok)[1] beslis kaal (ten minste was sy geslagsorgane bloot).
Toe hierdie gebeurtenis 150 jaar later kommemoratief herhaal is, moes die man wat die rol van die bode gespeel het, anachronisties en onwelvoeglik ’n stertriem van diervelle dra sodat hy die “beskaafde” samelewing nie aanstoot gee nie.
Vroulike verminking
Suider-Afrikaanse Bantu-sprekers is nie skuldig aan die gruwel wat eufemisties “vroulike besnyding” genoem word nie. Dit is ’n afwyking van volkere heelwat verder noord in Afrika, en die presiese meganismes wissel.
Algemeen in Egipte is die gebruik waarvolgens ’n moeder haar dogter in die ouderdom van 11 of 12 na ’n manlike barbier sal neem. Sonder verdowing sal hy ’n klitorektomie[2] op die skreeuende meisie daar in sy barbierswinkel uitvoer terwyl die moeder haar stil hou. Daarna moet die kind huis toe stap met bloed wat langs haar bene afdrup.
Elders word heelwat erger verminkings uitgeoefen: die buitelippe van die vagina kan weggesny word, of die binnelippe miskien ook. Onder Somali-sprekende stamme is dit algemeen dat die vagina ook toegewerk word.
In alle gevalle word hierdie soort “besnyding” uitgevoer met die doel om ’n vrou se seksuele plesier te verminder of uit te skakel, om vroue te verneder en om oor hulle groter beheer uit te oefen, terwyl manlike besnyding seksuele plesier verhef.
Hierdie vroulike verminkings, soos dit eerder genoem kan word, word as nodig geag om ’n meisie se kuisheid te verseker, en om die eer van die familie te preserveer. Wanneer ’n moeder nie gesorg het dat haar dogter die proses ondergaan nie, sal sy haarself beskou as verantwoordelik vir oneer teenoor die familie.
Dat dit enigsins bestaan is ’n sprekende getuienis van ’n samelewing waar vroue geen vryheid van enige aard geniet nie, en waar mans totaal domineer.
Dit is onwaarskynlik dat die gevolge van sulke verminking sigbaar sou wees, want die slagoffers kom selde vry uit die onderdrukkende samelewings waar dit die norm is.[3]
Enkele Somali-vroue het wel ontsnap en leef tans vry in die Westerse samelewing, maar om verskeie redes is dit onwaarskynlik dat hulle tot die naturistiese leefwyse aangetrokke sou voel.
Gesondheidsoorwegings
Dan is dit so dat terwyl die besnydenis van manlikes – babaseuns, tieners of volwassenes – ’n direkte seksuele konnotasie mag hê, is dit aan die ander hand ook ’n saak van reinheid.
Voorstaanders van die afskaffing van besnyding wil dit as bysaak sien, en sê dat dit in die moderne wêreld altyd vir ’n man moontlik is om ordentlik te was.
Maar mans wat militêre diens in ’n warm klimaat ondergaan het, sal weet dat hulle onbesnede kamerade sonder uitsondering hulle was wat na ’n dag of twee in die bos, of in die woestyn, eenvoudig gestink het.
Daar is ook ’n verontrustende aspek. Statistiek oor servikale kanker – ’n kwaal wat alleenlik vroue affekteer – lê dit bloot dat die oorsprong daarvan heelwat met mans te doen het.
Statisiese analise toon eerstens dat vroue wat maagd gebly het (veral nonne) feitlik nooit aan hierdie siekte ly nie.
Onder getroude vroue, toon sekere groepe ’n baie lae insidensie van die siekte: Jodinne, en, in Suid-Afrika, Xhosa-vroue.
Aan die ander hand toon die vroue van Zulu-mans ’n baie hoë insidensie.
Die hoofverskil? Die getroude vroue wat die hoogste risiko dra is dié wat met onbesnede mans getroud is.
Twee groepe vroue het die hoogste risiko-faktor: die wat jonk met seks betrokke geraak het, en prostitute.
’n Aspek wat onder kankersoorte buitengewoon is, is dat hierdie blykbaar deur ’n virus veroorsaak word, naamlik die menslike papillomavirus (MPV),[4] wat ook verantwoordelik is vir vratte (of ten minste seker soorte vratte, soolvratte genoem) op mense se hande en voete.
Die voorkoms van MPV in die serviks blyk om nou verband te hou met ’n vrou se seksuele vennootskap met ’n onbesnede man – en die risiko blyk ook heelwat hoër te wees indien daar veelvoudige seksvennote is.
Jammerlik is daar deesdae so ’n sterk groep bevooroordeeldes in die mediese professie wat teen besnydenis gekant is dat hierdie statistiek onderskat word, weggesteek en selfs aangeval as “onwetenskaplik” – hoofsaaklik, wil dit voorkom, om enige bevraagtekening te voorkom van die ideologie dat manlike besnydenis “skending” of “verminking” is, en bloot “iets slegs”.
Opponente van die besnydenis val in ’n verskeidenheid ideologiese kampe.
Daar is Jode wat onder hulle eie mense besnyding toepas, maar wat weier om dit op nie-Jode toe te pas.
Daar is selfs enige ateïstiese Jode wat weier om dit self toe te pas.
Daar is Christene in ’n verskeidenheid denominasies wat glo dat besnyding aan dié wat in die Kerk is, verbied word.
Aan die ander hand is daar Christenfamilies wat dit wel toepas, en wat dit reeds eeue lank gedoen het.
En daar is nie-Joodse ateïste wat eenvoudig glo dat om te besny, ’n outydse bygeloof is, en dat dit verkeerd is om aan die menseliggaam enige verandering aan te doen.
Ironies is hierdie selfde anti-besnydenis-aktiviste dikwels mans wat daagliks hulle gesigte skeer, vroue wat hul bene en onderarms skeer, mense wie se oorlobbe of ander liggaamsdele deurstek is vir die invoeg van oorbelle en ander juweliersgoed, of mense met tatoeëring.
Kom ons kyk na wat die Skrif oor die besnydenis te sê het:
Dit word ten eerste in Genesis genoem, waar God met Abram[5] ’n verbond maak. Die Almagtige beloof hierdie kinderlose man, reeds in die ouderdom van 99: “Jy sal die vader wees van ’n menigte nasies.”[6]
Hierdie man, steeds nog nie ’n patriarg nie, ontvang ’n nuwe naam, Abraham, en word hy vertel:
“Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word.
“Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle.
“Elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie.
“’n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as ’n blywende verbond.
“Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy voksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.”[7]
Daar is in hierdie hoofstuk verwysing na Abraham wat met ’n mes sny, maar dit is hoogs waarskynlik dat hy geen metaalmesse of lemme gehad het nie.
Ons lees in die boek Rigters dat die enigste smede in die Heilige Land in daardie tyd, etlike eeue later, Filistyne was, en dat hulle alles moontlik gedoen om te keer dat die Israeliete toegang gehad het tot metaal-lemme.
Hierdie heidense invallervolk wou verhoed dat die Israeliete metaalswaarde en spiese bekom het, om sodoende aan die dominansie van hulle leërs weerstand te bied.
Ons lees dat Sippora die Midianiet, die vrou van Moses, haar seun Gersom met ’n klipmes[8] besny het, en dat wanneer die Israeliete besny is nadat hulle die Beloofde Land binnegekom het, die Here[9] met Josua gepraat het en gesê het: “Maak vir jou klipmesse en besny die Israeliete. Daar moet weer ’n besnydenis wees.”[10] Dit het hy by die Heuwel van die Besnydenis gedoen, of in Hebreeus Gibeath-ha’araloth.[11]
Sommige mens vind die gebruik van klipmesse aardig, maar dit was blykbaar die enigste lemme wat vir Abraham en sy nageslag bekombaar was, tot veel later.
Roland de Vaux lewer kommentaar (volgens my vertaling): “. . . klipmesse is gebruik, wat wys hoe oud die gebruik is; later is metaal-instrumente egter gebruik”.[12]
Die Skrifte is op verskeie plekke heel spesifiek oor die gebruik van besnydenis in die agtste dag na geboorte. In ons tyd het mediese navorsers dit vasgestel dat op hierdie stadium (tussen sewe en nege dae na geboorte) die kind se bloed die maklikste stol, wat dit dan die ideale tyd maak vir so ’n operasie.
Die Israeliete het nie slegs die besnydenis op hul eie seuns, hul diensknegte (slaaf of vry) en enige man wat by hul samelewing wou aansluitbesny nie, toegepas nie, maar in die tyd van die Makkabeërs (die 1ste eeu vC), toe ’n suksesvolle Joodse opstanding die regering van die Hasmoneër-konings[13] oor Israel gevestig het, is alle manlikes in die gebiede wat hulle verower het, onder dwang besny.
Hieronder was baie Grieke wat in Galilea gewoon het, asook die Edomiete of Idumeërs, nageslag van Esau. Herodus die Grote was ’n Idumeër wie se familie op hierdie manier Joods gemaak is.
As ons na die Nuwe Testament oorblaai, vind ons dat Lukas (’n mediese man) nie net een nie, maar twee besnydings neergeskryf het.
Ten eerste is die seun van Elisabet en die priester Sagaria op die agtste dag besny[14] is.
Sagaria, wat stom geslaan is as gevolg van sy ongeloof toe hy by die engel hoor dat hy die vader van ’n seun sou word, is steeds sprakeloos, maar skryf aandringend op ’n skryfbordjie (toe hy hoor dat hulle die seun Sagarias wou noem) dat sy seun Joganan genoem moet word (of Johannes, soos dit in Afrikaans vertaal word). Die oomblik toe hy dit skryf, kan hy skielik weer praat, en bevestig hy dit ook mondelings.
Daarna skryf Lukas ook dat die Christuskind op die agtste dag[15] besny is en ook sy naam gekry het. Afrikaanse Bybelvertalings gee Sy naam as Jesus aan. In Hebreeus is dit Jehosjoea, en in die Aramaïes van sy tyd, Jesjoea.
Die Evangelie van Johannes noem waar Jesus ’n punt uit die besnydenis neem om ’n argument te onderstreep.
Tydens die Huttefees in Jerusalem, nà ’n insident waar Hy op die Sabbatsdag ’n man genees het, vra Hy:
“Het Moses nie die wet vir julle gegee nie? En tog hou nie een van julle die wet nie. Waarom wil julle my dan doodmaak?”
Toe die skare Hom vertel word dat Hy van die duiwel besete is, antwoord Jesus:
“Julle is almal ontsteld oor een ding wat Ek gedoen het. Omdat Moses die besnydenis vir julle gegee het – en eintlik kom dit nie eens van Moses af nie, maar van die aartsvaders – besny julle ook op ’n sabbatdag. As iemand op ’n sabbatdag die besnydenis mag ontvang om nie die wet van Moses te vebreek nie, waarom is julle dan vir my kwaad omdat Ek op ’n sabbatdag iemand se hele liggaam gesond gemaak het?”[16]
Die besnydenis het eers etlike jare nà die kruisiging saaklik geword, toe die Evangelie geneem is na volkere wat nie besny[17] was nie – ten eerste ’n groep Romeine wat Petrus gedoop het, en later ook Grieke, veral onder Paulus se leierskap.
’n Faksie het in die Kerk ontstaan wat almal wat gedoop is, wou dwing om streng die Mosaïse Wet te volg, met die besnydenis as sy beginpunt.
Petrus het onder die invloed van hierdie faksie gekom, wat vir Paulus kwaad gemaak het.
Dit sou miskien gedink wees dat Paulus die besnydesnis sou steun, want hy was ’n Fariseër wat onder Gamaliël die Wet geleer het, en aanvanklik vir die Wet so ywerig dat hy talle Christene laat arresteer het.
Maar sy ervaring van bekering langs die pad Damaskus toe (waarheen hy gestuur is om nog Christene te laat aanhou) en sy loopbaan daarna as apostel het daartoe gelei dat hy die saak weer oordink.
Nâ die ervaring van die Damaskus-pad het hy drie jaar oos van die Jordaanrivier deurgebring, en dan etlike jare in sy tuisstad van Tarsus, voordat hy geroep is om in die Kerk te Antiochië hand by te gee.
Sy jare van meditering oor Christus se woorde oor die Wet en sy praktiese werk onder nie-Joodse gelowiges het hom tot die gevolgtrekking gebring dat, terwyl Joodse gelowiges die Wet behoort te probeer behou, die Wet self was ’n oorsaak van sonder.
Om dit op nie-Jode af te druk was ’n ondraagbare las.
Hy argumenteer so in sy brief aan die Romeine:
“Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? Inderdaad, soos daar geskrewe staan, ‘as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.’
“Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie.
“As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie?
“Ja, iemand wat kragtens sy afkoms ’n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree.”[18]
Aan die Korintiërs vra hy:
“As iemand reeds besny was toe God hom geroep het, met hy die teken van sy besnydenis nie ongedaan probeer maak nie. As iemand ’n onbesnedene was toe hy geroep is, moet hy hom nie laat besny nie.
“Dit kom nie daarop aan of iemand besny is of nie, maar wel of hy die gebooie van God onderhou.
“In die samelewing moet elkeen bly in die omstandighede waarin hy was toe God hom geroep het.”[19]
En in die slot van sy brief aan die Galasiërs skryf hy in sy eie hand (nadat die res van die brief op sy diktee deur ’n skribent neergeskryf is):
“Daardie mense wat so daarop aandring dat julle julle ook moet laat besny, wil maar net uiterlik ’n goeie indruk maak, sodat hulle nie vervolg sou word ter wille van die kruis van Christus nie. Al het hulle hulle laat besny, onderhou hulle self nie die wet van Moses nie, maar hulle wil hê dat julle julle moet laat besny sodat hulle kan roem oor wat met julle liggaam gebeur het.
“Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld. Of ’n mens besny is of nie, is nie van belang nie, maar dat jy ’n nuwe mens is.”[20]
Vir baie Christene is hierdie argumente eenvoudig ’n verklaring dat nie-Joodse gelowiges nooit enigsins behoort te besny nie. Maar hierdie argumente moet gesien word in die konteks van Handelinge 16:1-3, waar Paulus besluit om Timoteus te besny.
Terwyl Timoteus self half Joods was (deur sy moeder), sou enige onwrikbare, doktrinêre verwerping van die besnydenis aan Paulus se kant vir hom verplig het om Timoteus onbesny te laat, soos wat Titus was.[21] (Titus se ouers was albei Grieks.)
Paulus se punt was dat die ritueel van besnyding in Christelike redding geen rol te speel het nie.
Aangesien min Christen-families, indien enige, die ritueel van besnyding volg nie – dit is geheel en al ’n mediese prosedure wat in die meeste gevalle in ’n hospitaal uitgevoer word – kan dit nie met die formele seremonie wat in Joodse huise nâ die geboorte van ’n seun afspeel, vergelyk word nie.
Ewenso kan daar teen Joodse families wat besny, enige kritiek gerig word nie, of hulle nou gedoop is of nie.[22]
Jesus en Paulus het altwee agting gehad vir dié wat die Wet gevolg het – hulle kondemnasie is behou vir dié wat versuim het om die Wet ten volle na te kom, of wat die verpligtinge daarvan op ander neergedwing het, waar hulle nie by magte was om daardie las te dra nie.
Om mee af te sluit:
Terwyl ek voel dat ek hier ’n genoegsame argument na vore gebring het wat die praktyk van besnyding regverdig, is my posisie glad nie een van verpligte besnyding nie. Eerder is dit ’n bepleiting van toleransie, vir ’n filosofie van leef en laat leef.
Terwyl ek en my broers en my seun besny is, net soos ons vader en grootvader voor ons, en ons verwag ook dat verdere seuns wat aan die familie gebore word, ook besny sal word, is dit nie vir almal nie.
Daar is enkele mans vir wie besnyding nie voordelig is nie. By sulke mans is daar ’n hoë vlak van sensitiwiteit in sy eikel dat dit vir om ongerieflik is om geklee te wees, ofskoon dit met sagte onderklere is, of sonder onderklere.
Gelukkig is dit onnodig dat die pynlike chirurgie wat in die Klassieke tyd uitgeoefen is – waarvolgens die voorvel herstel is – toegepas word nie. Plastiese chirurge kan deesdae dit verrig sonder die pyn en lyding wat Joodse mans beleef het as hulle aan heidense Griekse sport wou deelneem.
– Strandloper
[1] Die mikstok van die tradisionele posbode in Afrika is dikwels aan grappe onder die onkundiges onderworpe, maar die stok, wat orent gehou is, was ’n belangrike simbool dat die bode met amptelike besigheid betrokke was.
Ernstige taboe’s het dié wat hy raakgeloop het, gekeer dat hulle hom voorlê en met sy boodskap inmeng.
[2] Die afsny van die kittelaar of klitoris,
’n klein vroulike orgaan ooreenkomstig met die penis.
[3] Dit is ’n interessante ironie dat terwyl
die meerderheid Somali’s Moeslim is, en aan strenge Moeslim-kodes onderworpe is
wat kleding en seksuele optrede betref, sommige van die Somali-stamme (steeds
Moeslim) dit verwag dat hulle volwasse vroue kaal bolyf omgaan, net soos die
mans in daardie stamme.
Dit is blykbaar as gevolg van die uiters
hoë temperature wat in hulle tuisgebied aangetref word.
[4] Etlike jare lank was die verbintenis
tussen servikale kanker en MPV selfs in wetenskaplike kringe met ongeloof
gegroet, maar deesdae is dit aanvaarde mediese feit. Kyk hierdie webwerf vir
nadere inligting.
[5] Hierdie naam beteken “heerlike vader”.
Abraham beteken “vader van ’n ontsaglike getal”.
[6] Genesis 17:4.
[7] Genesis 17:10-14. Alle Skrif-aanhalings is
uit Die Bybel: Nuwe Vertaling (vierde druk 1989).
[8] Eksodus 4:25.
[9] Die uitdrukking die Here (of in sommige
vertalings, die HERE, word gebruik as vertaling van die Hebreeuse woord Adonai (Heer), wat op sy beurt in die Hebreeuse teks ingevoeg is om die vier letters YHWH te vervang. Hierdie letters spel in Hebreeus die Naam van die Almagtige.
Hierdie vervanging is oorspronklik slegs
mondelings in die voorlees van die teks gedoen, maar die Goddelike Naam is
later as so heilig beskou dat dit nie eens geskryf kon word nie.
[10] Josua 5:2. Die seuns wat tydens die
40-jarige wandeling in die woestyn gebore is, was nie besny nie, en dit was op
hierdie stadium nodig om hierdie aspek van die Gelofte te volbring.
Die ouer mans, wat geleef het in die tyd toe Moses die Wet te Sinaï ontvang het, was reeds besny.
[11] Ek gebruik hier die Engelse spelling van
die Hebreeuse pleknaam, om sodoende die uitspraak te beklemtoon: die letters TH dui op die klank wat in die familienaam Smith voorkom.
In Moderne Hebreeus kom hierdie uitspraak
nie voor nie; in Asjkenazi-Hebreeus word dit as S uitgespreek, en in Sefardiese Hebreeus met ’n T-klank. Maar in Antieke Hebreeus is dit wel so uitgespreek. Bewys hiervan is dat toe die Bybel in Grieks vertaal is, dit met die letter theta (Q) geskryf is.
[12] Ancient Israel: Its Life and
Institutions, deur Roland de Vaux, OP, uit Frans in Engels vertaal deur
John McHugh (Darton, Longman & Todd).
[13] Die Hasmoneërs was ’n priesterlike
familie, wat volgens die geskiedskrywer Josefus van ’n man genaamd Hasmoneus
(Hasmon of Asamonaios) afgestam is.
Die Encyclopædia Britannica noem dat in 143 of 142 vC Simon Makkabeus hoëpriester geword het, en in 141/140 vC
onafhanklik geword het van die dinastie van die Seleukiede (Griekse konings van Sirië) as hoëpriester, heerser en etnarg van Judea. Hy is deur sy seun Johannes Hyrcanus I en vyf ander mans van die familie opgevolg. Die weduwee van een van hulle was ook ’n tyd lank aan bewind.
Die laaste Hasmoneër, Antigonus, is deur die Romeine onder Markus Antonius gedeponeer en tereggestel.
[14] Lukas 1.59-64.
[15] Lukas2:21.
[16] Johannes 7:19-23.
[17] Beide die Jode van Judea en Galilea, en
die Samaritane van die gebied tussenin, het volgens die Wet van Moses besnyding
beoefen.
[18] Romeine 2:23-27.
[19] 1 Korintiërs 7:18-20.
[20] Galasiërs 6:12-15.
[21] Galasiërs 2:3.
[22] Alhoewel die meerderheid gelowige Jode ’n Jood wat gedoop is, nie meer as ’n Jood beskou nie, is daar ’n groeiende getal onder hulle wat wel gedoop is maar nie hulle tradisionele geloof laat vaar het nie, en wat stip ’n Joodse leefwyse volg.
Sulke gelowiges, wat dikwels Messianiese
Jode genoem word, glo dat hulle deur die doop voltooide Jode geword het.
For English, click here
Terug na Strandloper se hoofbladsy
Skryf vir my: Strandloper