Meer as 20 000
lesers elke week ...
LORRIES BOTS IN DIGTE MIS - Plaaswerker spring na dood
RIEBEEK-WES – ‘n Plaaswerker is dood toe hy uit ‘n vragmotor gespring het kort voordat dit van agter teen ‘n ander vragmotor gebots het.
Volgens ‘n ooggetuie het ‘n verby-gaande motor vanuit die teenoorge-stelde rigting kort na die botsing oor die plaaswerker gery en versuim om stil te hou. Die ongeluk het verlede Don-derdagoggend omstreeks agt-uur in digte mis op die pad tussen Riebeek-Wes en Moorreesburg gebeur. Twee plaaswerkers was saam met die bestuur-der in die kajuit van die agterste vragmotor waarop twee trekkers gelaai was.
Toe die insittendes die ander vrag-motor voor hulle sien en besef dat ‘n botsing onvermydelik gaan wees, het een van die plaaswerkers uitgespring. Die vragmotor het feitlik onmiddellik daarna teen die voorste vragmotor, wat vol kunsmis was, gebots. Volgens ‘n motoris wat by die ongelukstoneel stilgehou het, het die plaaswerker wat uitgespring het nog in die pad gelê toe ‘n motor oor hom ry en daarna aanry sonder om stil te hou.
Die oorledene was mnr. Herman Welkom van die plaas Middelpos. Geeneen van die ander insittendes in beide vragmotors is beseer nie. Toe die Herald-span by die ongelukstoneel opdaag, het die liggaam van wyle mnr. Welkom onder ‘n wit laken langs die pad gelê.
Die voorste vrag-motor was reeds van die toneel verwyder terwyl daar nog gepoog is om die agterste vragmotor vir wegsleep gereed te kry. Die kajuit van dié vragmotor was heeltemal verwoes. Volgens ‘n polisiewoordvoerder op Riebeek-Wes word die bewering dat ‘n verbygaande motor oor die plaaswerker gery het nog ondersoek. Die uitslae van die nadoodse ondersoek is ook nog nie bekend nie.