Meer as 20 000
lesers elke week ...
Metingstudie vir wynbedryf in SA
EEN van van Suider Afrika se voorste professionele dienste- en konsultasiemaatskappye, Deloitte, het ‘n omvattende metingstudie vir die wynbedryf bekend gestel, berig Johan Claasen.
Die studie beoog om sodoende waardevolle hulp aan wynkelders, -plase, -koöperasies en -landgoedere te verleen met die monitering van hul bedrywighede teenoor eweknieë in die bedryf.
“Die studie sal in ‘n belangrike bron van inligting ontwikkel en het die bykomende voordeel dat dit volkome onafhanklik en onpartydig is,” sê mnr. Michael van Wyk, vennoot by Deloitte in Kaapstad. “Dit (die studie) is reeds in Australië en Amerika bekend gestel waar dit ‘n deeglike reputasie verwerf het om aanplanters, produsente en bemarkers van tydige en toepaslike inligting oor die bedryf te voorsien, wat hulle tot hul voordeel benut het.”
Volgens Van Wyk sal die internasionale komponent van die studie die Suid-Afrikaanse bedryf help om ‘n idee te kry van waar dit in die mededingende landskap staan - veral m.b.t. die bedryf in Australië.
Deloitte sal die studie tussen Junie en Desember vanjaar doen en moedig belanghebbendes in die Suid-Afrikaanse wynbedryf aan om daaraan deel te neem.
“Deelname is gratis,” verduidelik Van Wyk, “en bied aan deelnemers gratis toegang tot die studie se bevindings.”