Meer as 20 000
lesers elke week ...
KASSIE & KIE - skrikbewind duur voort
Piketberg – Inwoners in die omgewing van Starr Kingstraat 92 en Portlandstraat voel weereens bedreig deur die teenwoordigheid van ‘n groep wat al vantevore Kassie en kie genoem is, berig Ilna Grobler.
Verlede week het die Herald ‘n berig gedra oor mnr. Hector Castor wat volgens sy eie getuienis deur Victor Williams met ‘n mes in die bors gesteek is. Williams is een van die vier beskuldiges wat in ‘n moord vrygespreek is in die Hooggeregshof weens on-voldoende getuienis.
Twee ander beskuldiges het opgeskorte vonnisse gekry. Die verhoor was die gevolg van die ondersoek na die gru-dood van die 17-jarige Stewart Pickhard in Februarie verlede jaar. Die saak teen Williams rakende die messteek voorval is weer uitgestel tot 5 Julie 2004.
Uit betroubare bron word verneem dat “Kassie” die noemnaam Freddie Booyse wat as leier van die groep uitgewys is, en sy trawante die eienaar van Starr Kingstraat 92 hardhandig uit sy huis gesit het.
Die man en sy gesin is toe glo met hul meubels op Koringberg afgelaai en hulle is verskeie dreigemente toegevoeg. Die man woon en werk nou op ‘n plaas in die omgewing wat weens veiligheids redes nie bekend gemaak word nie.
Die Herald verneem voorts dat hierdie groep ‘n skrikbewind onder inwoners van Onder-Piketberg voer.
Dit is egter so dat hoewel baie blanke inwoners reken die probleem is tot die sogenaamde bruin woonbuurt beperk, die groep hul teenwoordigheid ook in die middedorp laat geld.