

|
|
Vooraf
God is groot. Ons woorde skiet te kort as ons iets oor die Here
wil sê.
God is goed. Ons leer die Vader, Seun en Heilige Gees in die
Bybel ken, en ons kan nie anders as om ander van die goedheid en grootheid van
God te vertel nie.
Geloofsverklaring 2000 word in dié gesindheid met die oorgang
na ‘n nuwe millennium aangebied. Dit is ‘n poging om die vreugde van en insigte
in ons geloof met elkeen te deel. Dit is nie ‘n nuwe of ander
geloofsbelydenis as die bestaandes nie, en dit is ook nie 'n "finale
verklaring" nie. Die Gees van die waarheid is immers met die gelowiges onderweg
na dieper en heerliker insigte en daarvoor stel ons ons tot die Here se
beskikking. Maar tot dán getuig ons: só sien en só verstaan ons almal wat
hierdie 20 verklarings onderteken, die geloof wat ons bely en die implikasies
daarvan in die jaar 2000nC.
Eerste Verklaring: oor God
Ons glo
 | in God
 | dat God as Vader alles gemaak het en daarvoor sorg
 | dat God as Seun die sonde en ellende van ons bestaan oorwin het en dit
uiteindelik heeltemal sal wegneem
 | dat God as Heilige Gees vir ons intree en ons leer wat die waarheid is en
hoe om volgens die waarheid te leef
| | | |
 | dat God die Vader steeds die wêreld waarin ons leef, regeer as die goeie en
liefdevolle Vader wat nooit sy kinders in die steek laat nie
|
 | dat God die Seun as die ware mens Jesus gely en gesterf het vir wat op aarde
verkeerd is; dat Hy as bewys van sy oorwinning oor die kwaad opgewek is en nou
by sy Vader is; en dat Hy weer sal kom vir die finale heelmaak van alle dinge en
vir die nuwe lewe saam met God
|
 | dat God die Heilige Gees die hele skepping nader laat beweeg aan die nuwe
lewe saam met God; dat die Gees aan elke gelowige die geloof skenk, ons lei om
die Bybel te verstaan en ons leer hoe om as Christene te lewe
|
Tweede Verklaring: oor die Bybel
Ons glo
 | dat ons deur die Bybel leer wie God is
 | dat God vandag nog deur die Bybel met ons praat.
 | dat die Bybel onder leiding van die Heilige Gees deur mense geskryf is en
dat die Heilige Gees die gelowiges as gemeenskap kan lei om die Bybel in hulle
tyd nuut te verstaan
 | dat die Bybel die blye boodskap is van God se liefde vir mense
 | dat die Bybel ook vertel van God se veroordeling van die kwaad
 | dat die onderskeie dele van die Bybel verskillend aangebied word – as
vertellings oor die voorgeskiedenis, profesieë, gedigte, reisbeskrywings,
verhale, briewe – en dat elke Skrifdeel aan die hand van sy besondere aard en in
die lig van die geheel verstaan en verklaar moet word
| | | | | |
Derde Verklaring:
oor die koninkryk
Ons glo
 | dat God oor alles en almal regeer
|
 | dat die koninkryk van God dáár deurbreek waar God se wil geskied en waar wat
stukkend is, weer heelgemaak word
 | dat die koninkryk van God nou reeds teenwoordig is, maar eers volheid sal
bereik wanneer Christus weer kom
 | dat gelowiges en die kerk geroep word om op elke terrein van die lewe na God
se wil te soek en sigbare tekens van God se koninkryk op te rig: van die
erediens tot by die werkplek, ontspanningsoord, gesinskring, politieke arena en
in al ons verhoudinge
| | |
Vierde Verklaring: oor die kerk
Ons glo
 | dat die kerk mense is wat God uit liefde geroep en gered het. Die Here het
sy kerk lief, sê die Bybel, soos ‘n bruidegom sy bruid liefhet
 | dat die kerk gesien word
| |
 | in gemeentes waar mense God aanbid en mekaar in die geloof versterk
 | in vergaderings en samekomste waar dit duidelik word dat gelowiges één in
Christus is
 | in die gewone lewe waar gelowiges elke dag as kerk leef
| | |
 | dat Jesus Christus die enigste Here en Hoof van die kerk is
|
 | dat die kerk menslik is en daarom vol foute en mislukkings is. Ons weet ons
stel God én mense dikwels teleur, maar ons glo dat God ons as kerk nogtans
liefhet en gebruik. Ons moet mekaar op die weg van die geloof help
 | dat kritiese lojaliteit die regte houding teenoor hierdie menslike kerk is.
Dit beteken dat ons die kerk liefhet en aktief daarin werk, maar dat ons nooit
 | tevrede mag wees met die kerk se tekortkominge nie en dit moet probeer
regmaak
| | |
 | dat vir die kerk se lewe na binne die volgende sake baie belangrik
is:
|
 | dat vir die kerk se lewe na buite die volgende sake baie belangrik
is: |
 | om só te lewe dat álle mense kan sien dat ons die Here en ons naaste liefhet
 | om die nuus dat God almal liefhet en dat Jesus Christus ons Redder is, aan
een en almal te vertel
 | om die liefde van God oral deur dade sigbaar te maak waar daar siekte en
eensaamheid en armoede is
 | om te werk vir reg, vrede en gesonde waardes en daardeur onreg,
diskriminasie, misdaad, geweld en morele verval teen te werk | | | |
 | om ons daarvoor te beywer dat al hoe meer van die eenheid van die kerk van
Jesus Christus gesien kan word. Hierdie eenheid is 'n werklikheid wat ons
van die Here ontvang en nou reeds op allerlei maniere mag ervaar en geniet. Dis
ook 'n opdrag waaraan ons gedurig dringende aandag moet gee. |
 | dat die Here baie gawes aan die gemeente gegee het: die Bybel, die doop en
die nagmaal, lidmate met allerlei talente. Ons moet seker maak dat ons hierdie
en ander gawes gebruik soos die Here wil hê dat ons dit moet doen
|
Vyfde Verklaring: oor doop en nagmaal
Ons glo
 | dat die doop en nagmaal twee tekens is wat ons van God se liefde vir ons
verseker en ons geloof sterker maak
 | dat die doop met water ‘n teken is van God se genade dat Jesus Christus ons
sonde deur sy bloed van ons afwas, net soos wat ons onsself met water skoonwas
 | dat die doop vir ons sê dat die beloftes wat God deur die eeue aan gelowiges
gemaak het, ook vir ons geld. God het belowe om vir ons Gód te wees en dat ons
God se kinders kan wees. Die Here het belowe om enduit deur die Heilige Gees met
ons te wees en in ons te woon en ons op die regte pad te lei
 | dat die nagmaalsbrood en die wyn soos foto's vir ons wys hoe Jesus se
liggaam vir al ons sondes stukkend gebreek is, en hoe sy bloed in ons plek
gevloei het om ons te red
 | dat die lewende Here ons eregas by die nagmaal is. Ons kyk ook gelowig
vorentoe na die dag wanneer ons almal saam in God se nuwe wêreld gaan feesvier
 | dat, hoewel Christene soms onder mekaar oor aspekte van die doop en nagmaal
verskil, dit ons nie van mekaar moet vervreem nie. Ons geloof in
| | | | | |
Jesus Christus bind ons aan mekaar en dit is baie sterker as
die verskille tussen ons
Sesde Verklaring: oor gebed
Ons glo
 | dat ons genooi word om op enige tyd en plek, met min of baie woorde, oor
enigiets met God te praat
 | dat gebed is om jou hart voor die Here in gedagtes, woorde of liedere bekend
te maak
 | dat ons seker kan weet dat God ons eenvoudigste woorde hoor en dat Christus
saam met ons bid
 | dat God na ons gebede luister, omdat Christus aan die kruis gesterf het
 | dat God op ons gebede antwoord, al gee die Here ons nie altyd wat ons vra
nie
 | dat ons nie ons eie belange in ons gebede voorop moet stel nie, maar God se
wil en eer
 | dat gebed ons help om nood raak te sien en iets daaraan te doen
 | dat ons ook sonder woorde in die gebed van stilte die nabyheid van God
beleef
 | dat gebed en die verhoring daarvan die uitdrukking is van 'n verhouding met
God en nooit as 'n beloning verstaan kan word nie
 | dat die gemeenskaplike gebede van gelowiges groot krag het
| | | | | | | | | |
Sewende Verklaring: oor die owerheid
 | dat die hoogste gesag aan God behoort. Alle regeerders en vorms van regering
is aan die Here ondergeskik
 | dat God vrede, geregtigheid en orde op aarde wil hê. Daarom het God beskik
dat mense gesag dra om vrede en orde te bewaar
 | dat mense wat gesag dra, dit verantwoordelik moet hanteer - tot voordeel van
al die burgers van hulle dorp of stad of provinsie of land
 | dat ons vir almal wat gesag dra, moet bid
 | dat die kerk teenoor mense en instellings wat gesag uitoefen, met
vrymoedigheid moet getuig hoe die kerk God se wil in bepaalde omstandighede
verstaan en met hulle moet saamwerk om die samelewing vir almal 'n beter plek te
maak
 | dat ons gehoorsaam moet wees aan die wette en maatreëls van diegene wat
gesag oor ons het. Maar wanneer ‘n regering in stryd met God se wil optree, moet
ons eerder aan God gehoorsaam wees as aan die regering
| | | | | |
Agste Verklaring: oor die mens
Ons glo
 | dat God ons volgens 'n unieke plan geskep het |
 | dat alle mense gelykwaardig is
 | dat God ons wonderlik en besonders as man en vrou gemaak het
 | dat die mens van nature in opstand teen God kom en sodoende verwyderd van
God raak
 | dat die Seun van God self mens geword het om die pad na God toe weer vir ons
oop te maak
 | dat ons onsself eers ken as ons God ken
 | dat God mense gemaak het om mekaar te ondersteun en te waardeer
 | dat mens-wees binne ‘n netwerk van verhoudings tot volle ontplooiing kom
 | dat Jesus Christus aan mense se lewe sin gee
| | | | | | | |
Negende Verklaring: oor die medemens
Ons glo
 | dat ons God bo alles moet liefhê en ander mense soos ons onsself moet liefhê
 | dat ons aktief alle vorme van onreg teen en benadeling van ander mense moet
bestry
 | dat ons, in navolging van Jesus, moet omgee vir, uitreik na en hulp verleen
aan die uitgestotenes uit ons samelewing, soos straatkinders, bejaardes,
vigslyers, armes en vlugtelinge
| | |
Tiende Verklaring: oor die omgewing
 | Ons glo |
 | dat ons op die aarde as deel van God se skepping aangewese is soos ‘n kind
op sy of haar ouer
 | dat ons die aarde wat ons van God ontvang het, saam met alles wat dit inhou,
moet bewaar - ook met die oog op toekomstige geslagte
| |
Elfde Verklaring:
oor lewe
Ons glo
 | dat lewe 'n wonderlike gawe van God is wat ons met dankbaarheid en vreugde
kan benut
 | dat ons alle lewe behoort te respekteer, maar in die besonder menslike lewe,
omdat God besondere waarde heg aan die lewe van mense
 | dat ons nie ons eie en ander mense se lewe mag neem of in gevaar mag stel
nie, maar dit eerder behoort te beskerm en bevorder
 | dat die verwekking van lewe 'n voorreg is, wat met groot verantwoordelikheid
en in gehoorsaamheid aan God se wil benader moet word
 | dat kwaliteit lewe 'n lewe van vrede is met God, ons medemens, onsself en
die natuur
 | dat die lewe saam met God verder strek as die grense van die lewe op aarde
 | dat aborsie op versoek moreel onaanvaarbaar is, maar dat daar uitsonderlike
situasies is waarin aborsie nie afgewys kan word nie, omdat dit die minste van
twee kwade is
| | | | | | |
Twaalfde Verklaring: oor lyding en dood
Ons glo
 | dat lyding en dood ‘n tragiese feit van ons sondige en stukkende aardse lewe
is
 | dat God ook by lyding en dood saam met ons is en dit vir ons moontlik maak
om dié dinge te aanvaar, om te volhard en om te oorwin
 | dat die boodskap oor God in die Bybel nie altyd kant en klaar antwoorde gee
vir die vraagstuk van lyding en dood nie, maar ons wel vertel dat God ons van
angs en bitterheid kan verlos
 | dat 'n gelowige nie vra na die sin van lyding nie, maar na die sin van die
lewe ten spyte van lyding
 | dat daar ‘n tyd kom dat ‘n mens wat terminaal siek is, toegelaat moet word
om op ‘n natuurlike wyse dood te gaan sonder die toediening van kunsmatige
middels om die lewe te verleng
 | dat om sonder Christus dood te gaan, die grootste ramp is wat ‘n mens kan
tref
 | dat gelowiges, wanneer hulle sterf, by God is
 | dat God ons uit die dood sal opwek
| | | | | | | |
Dertiende Verklaring: oor armoede, rykdom en
arbeid
Ons glo
 | dat God wil hê dat alle mense menswaardig moet lewe en betekenisvolle werk
moet kan doen
|
 | dat alles wat ons het, aan God behoort en aan ons sorg en bestuur toevertrou
is
 | dat arm mense op God kan hoop en hoopvol kan lewe te midde van hopelose
omstandighede omdat God ook in besonder by mense in nood staan
 | dat mense wat oor meer hulpbronne en kundigheid as ander mense beskik, in
naasteliefde daarvan moet deel met dié wat minder as hulle het
 | dat die ontsaglike armoede rondom ons, ons moet dring tot opoffering en ‘n
meer beskeie leefwyse
 | dat ons meer moet doen om geleenthede vir ontwikkeling te skep
 | dat ons ons moet beywer vir 'n regverdige, mens- en omgewing= vriendelike
ekonomie
 | dat 'n mens jou werk en vrywillige dienslewering so goed moet doen as wat jy
kan – tot eer van God
 | dat werkers billik betaal moet word
| | | | | | | |
Veertiende Verklaring: oor die huwelik
Ons glo
 | dat man en vrou mekaar in die huwelik met liefde moet aanvul, bystaan en
verryk
 | dat man en vrou in God se oë gelykwaardig is en mekaar ook so moet behandel
 | dat huweliksmaats mekaar in 'n gesindheid van wedersydse respek en diens die
ruimte moet gun om hulle eie persoonlikheid uit te leef en dinge op hulle eie,
unieke manier te doen
 | dat kinders ‘n geskenk van God is en dat die ouers die verant= woordelikheid
moet aanvaar vir die grootte, vorming en opbou van hulle gesin
 | dat gelowige huweliksmaats nie behoort te skei nie. Waar dit wel gebeur,
moet dit met die wete wees dat God dit anders wou gehad het en nadat absoluut
alles gedoen is om die verhouding te herstel. Aan God se vergifnis en genade
hoef gelowiges wat in ‘n egskeiding betrokke was, egter nie te twyfel nie
| | | | |
 | dat enkelouergesinne nie vir God minderwaardig is nie
 | dat God ook die huwelik van kinderlose egpare wil seën
 | dat mense wat òf uit eie keuse òf vanweë omstandighede nie trou nie, van die
Here die geleentheid ontvang om tot voordeel van kerk en samelewing 'n ryk en
sinvolle lewe te lei
| | |
Vyftiende Verklaring: oor seksualiteit
Ons glo
 | dat God seksualiteit as ‘n onlosmaaklike deel van mens-wees bedoel het
 | dat ons seksualiteit binne die ruimte van die huwelik tot volle ontplooiing
kom as man en vrou hulle volledig aan mekaar gee en hulle eenheid liggaamlik en
geestelik beleef
 | dat, hoewel gelowiges verskil oor wat die Bybel oor homoseksualiteit sê,
homoseksuele mense kan weet dat God hulle liefhet en dat daar vir hulle in die
kring van gelowiges plek is
| | |
Sestiende Verklaring: oor die Christendom en ander
godsdienste
Ons glo
 | dat Jesus Christus die enigste Een is wat vir ons die pad na God toe
oopgemaak het – Hy is die weg, die waarheid en die lewe
 | dat ook mense wat ander godsdienste aanhang, goeie eienskappe soos goedheid,
liefde, trou en eerlikheid kan vertoon
 | dat ‘n mens die volheid van God slegs deur Jesus Christus leer ken en bekom
 | dat die lot van mense wat nie vir Christus ken nie, in God se hande is
 | dat ons vir alle mense wil vertel dat Jesus Christus hulle met God kan
versoen
 | dat ons graag ook met mense van ander godsdienste in die daaglikse lewe wil
saamwerk en met hulle in gesprek wil tree. Ons woorde en dade moet hulle iets
laat sien van die liefde van Jesus
| | | | | |
Sewentiende Verklaring: oor die toekoms
Ons glo
 | dat die toekoms aan God behoort
 | dat God se beloftes nog verrassender vervul sal word as wat ons kan droom
 | dat Jesus Christus op 'n dag in die geskiedenis weer sal kom
 | dat alles dan splinternuut sal word
 | dat dit ook 'n dag van afrekening met die kwaad sal wees
 | dat die gelowiges vir altyd by God sal wees
 | dat verskille onder Christene oor die besonderhede van wat in die toekoms
sal gebeur, nie ons gesamentlike geloof in die komende Here in die gedrang moet
bring nie
 | dat ons deur woord en daad wyd en syd moet vertel dat Jesus weer kom sodat
al hoe meer mense hierdie vooruitsig met ons kan deel | | | | | | | |
Agtiende Verklaring: oor vrede
Ons glo
 | dat vrede ‘n geskenk van Christus die Vredevors is wat sigbaar word waar
mense dit met mekaar deel
 | dat mense nie met geweld oor mekaar mag heers nie
 | dat vrede beteken dat, ook waar onreg gepleeg is, mense bereid sal wees om
hulle met mekaar te versoen deur vergiffenis te vra vir onreg wat hulle gepleeg
het, die onreg te probeer herstel, en diegene wat vir hulle veronreg het, te
vergeef
 | dat ware vrede nie ten koste van regverdigheid en die waarheid gedien word
nie
 | dat God se vrede ons in staat stel om mekaar te versorg en heel te maak
| | | | |
Negentiende Verklaring: oor geloof en hoop
Ons glo
 | dat, soos die Heilige Gees die gawe van geloof in God deur al die eeue aan
mense gegee het, so sal dit ook in die eeu wat voorlê, gebeur. Nie sekularisme
of watter tydsgees ook al sal die geloof in die Here van die aarde laat verdwyn
nie
 | dat al God se beloftes waarvan die Bybel ons vertel, vervul sal word. Hoewel
ons dit nie nou alles sien nie, weet ons dit sal gebeur. Dít is geloof!
 | dat die Heilige Gees saam met geloof en as deel daarvan ook aan ons hoop
gee: teen alle onsekerheid en twyfel en swaarmoedigheid in, laat die Here ons
telkens weer met hoop en verwagting vorentoe kyk waar dit lig word
| | |
Twintigste Verklaring: oor die liefde
Ons glo
 | dat God liefde is
 | dat die bewys van God se liefde vir ons Jesus Christus is
 | dat die bewys van ons liefde vir God, ons daaglikse dade van liefde is
 | dat liefde die één gawe van God aan ons is wat vir altyd bly
 | dat die krag van God se liefde uiteindelik die wêreld sal oorwin
| | | | |

Geloofsverklaring 2000 is opgestel op inisiatief van Die Kerkbode, koerant
van die NG Kerk.
 | Die medewerkers aan Geloofsverklaring 2000 is lidmate van ses kerke en het
op uitnodiging in hulle persoonlike hoedanigheid meegewerk: dr Pieter Bingle
(Geref Kerke SA), dr Johan Buitendag (Ned Herv Kerk), dr Coenie Burger (NG
Kerk), ds Perold de Beer (Ref Church in Africa), prof Etienne de Villiers (NG
Kerk), dr Wim Dreyer (Ned Herv Kerk), prof Gert Jordaan (Geref Kerke SA), prof
Stephan Joubert (NG Kerk), ds David Keta (NG Kerk in Afrika), ds Nico Koopman
(Verenigende Geref Kerk), prof Christina Landman (NG Kerk), prof Piet Meiring
(NG Kerk), prof Piet Naudé (NG Kerk), mev Joke Nicol (NG Kerk), dr Willem Nicol
(NG Kerk), prof Pieter Potgieter (NG Kerk)
|
 | Eindredaksie (in hulle persoonlike hoedanigheid): mnr Herman Bailey
(Verenigende Geref Kerk), prof Pieter Coertzen (NG Kerk), dr Yolanda Dreyer (Ned
Herv Kerk), prof Danie du Toit, (NG Kerk), mnr Neels Jackson (NG Kerk), ds Jan
Mettler (Verenigende Geref Kerk), ds Freek Swanepoel (NG Kerk), mej Adri-Louise
van Renen (NG Kerk), prof Koos Vorster (Geref Kerke SA)
|
 | Eindredakteur: dr Frits Gaum (redakteur van Die Kerkbode) |
This site was last updated
06/10/01
|