Wie
was die Hugenote?
Johannes Calvyn (1509 - 1564)
godsdienstige hervormer.
|
Die Hugenote was Franse
Protestante wat lede was van die
Gereformeerde Kerk wat in 1550
deur Johannes Calvyn
gestig is. Die oorsprong van die naam Hugenoot is onseker maar dateer uit
ongeveer 1550, toe dit gebruik is in hofsake teen die "ketters" (afgewekenes
van die Rooms Katolieke Kerk). As skimp- en skeldnaam is dit selfs verbied
deur Hendrik IV (Hendrik van Navarre, wat self vroeër 'n Protestant
was) in regulasies wat aan die Edik van Nantes in 1598 gekoppel
was. Die Franse Protestante self het aanvanklik niks van die woord gehou
nie, en verkieslik na hulle self as "réformees" (gereformeerdes) verwys.
Dit was heelwat later dat
die naam "Hugenoot" 'n erenaam geword het.
'n Algemene Edik wat die
uitroei van die Hugenote aangespoor het, is op 29 Januarie 1536 in Frankryk
uitgereik. Op 1 Maart 1562 is ongeveer 1200 Hugenote vermoor by Vassy
in Frankryk. Dit was die begin van die Godsdiensoorloë
wat Frankryk uit mekaar geskeur, verwoes en bankrot gemaak het vir die
volgende drie dekades. |
 |
St Bartholomeusnag massamoord,
1572
Klik op afbeelding hierbo
vir vergrote beeld
|
Gedurende die berugte St
Bartholomeusnag van 23/24 Augstus 1572 is meer as 8000 Protestante,
insluitende Admiraal Gaspard
de Coligny, Goewerneur van Picardy en leier en spreekbuis van die Hugenote,
in Parys vermoor. Dit het geskied tydens die huwelik van Hendrik van Navarre,
'n Hugenoot, met Marguerite de Valois (dogter van Catherina de Medici),
toe duisende Hugenote in Parys saamgetrek was vir die huweliksfees.
Catharina de
Medici
|
Dit was Cathararina de Medici
wat haar swakkeling-seun, Karel IX, ooreed het tot die massamoord, wat
drie dae geduur en na die platteland versprei het. Op Sondagoggend 24 Augustus
1572 het Catharina self deur Parys se strate gewandel om inspeksie van
die dooies te hou. Hendrik van Navarre se lewe word egter gespaar, danksy
die feit dat hy voorgee om die Rooms Katolieke geloof aan te hang. In 1593
besluit hy om die Rooms Katolieke geloof te aanvaar, en 5 jaar later is
hy as koning Hendrik IV (le bon Henri - goeie Hendrik) die onbetwisde
heerser van Frankryk.
Toe die eerste gerugte van
die massamoord op St Bartholomeusnag die Vatikaan in Rome op 2 September
1572 bereik, was pous Gregorius XIII jubelend en wou hy vreugdevure in
Rome laat aansteek. |
Hy is oorreed om te wag
vir die amptelike bevestiging van die nuus; dieselfde oggend van die dag
waarop hy die bevestigende nuus ontvang het, het hy 'n dankdiens gehou
en aangekondig dat "dit God behaag het om ons barmhartig te wees".
Hy en die kardinale het vervolgens na die St. Markus-kerk verdaag om 'n
Te
Deum aan te hef, en het gebid en gebede versoek dat die Mees Christelike
Koning van Frankryk sy hele koninkryk mag verlos en reinig van die Hugenote
plaag.
Op 8 September 1572 is 'n
dankseggings-optog in Rome gehou. Die pous het, in 'n gebed na afloop van
die mis, God gedank dat hy "die katolieke bevolking 'n glorieryke oorwinning
oor 'n verraderlike ras" gegee het (gloriosam de perfidis
gentibus populo catholico loetitiam tribuisti).
Gregorius
XIII het Vasari opdrag gegee om tonele in een van die Vatikaan se lokale
te skilder van die triomf van die Mees Christelike Koning oor die Hugenote.
Het het 'n medalje laat slaan waarop die engel van verdelging die Hugenote
met die swaard uitwis, met die inskripsie: Hugonottorium strages
(Hugenote samesweerders). In Frankryk self het die Franse owerhede
bevel gegee dat 'n beeltenis van Admiraal de Coligny verbrand en dankgebede
opgestuur en dankseggings-optogte jaarliks op 24 Augustus gehou word, uit
dankbaarheid dat God die katolieke die oorwinning oor die Hugenote gegee
het.
Hendrik van Navarre,
eertydse Hugenoot,
later Hendrik IV
|
Die Edik van Nantes
is op 13 April 1598 deur Hendrik van Navarre onderteken, wat 'n einde gebring
het aan die Godsdiensoorloë.Die Hugenote was toegelaat om hul godsdiens
te beoefen in 20 gespesifiseerde Franse vrystede. Frankryk is verenig en
'n dekade van vrede het gevolg.
Nadat Hendrik van Navarre
egter in 1610 vermoor is, is die vervolging van die "afvalliges" egter
weer in alle erns begin onder leiding van Kardinaal Richelieu. Die Hugenote
se vrystede het die een na die ander verlore gegaan nadat dit deur kardinaal
Richelieu se magte verower is, en die laaste vernaamste en sterkste vesting,
La
Rochelle, is in 1629 na 'n maandlange beleg prysgegee. |
Richelieu, wat die
Hugenote met mening
vervolg het.
|
Lodewyk XIV
|
Lodewyk XIV (die Sonkoning,
1643-1715)
het sy leuse
l'état c'est moi (ek is die staat) begin uitleef,
en die berugte dragonnades ingestel waardeur dragondersoldate by
Hugenote-gesinne ingeboek is. Hy het met 'n beleid van une foi, un loi,
un roi (een geloof, een wet, een koning) die Edik van Nantes op 22
Oktober 1685 herroep. Die grootskaalse vervolging van Hugenote het opnuut
en met groter felheid begin.
Protestantse kerke en die
huise van "hardnekkiges" is afgebrand en afgebreek, en hul psalmboeke en
Bybels is verbrand. Baie Hugenote het op die brandstapel gesterf. Emigrasie
is onwetting verklaar. |
Tonele soos hierdie was
algemeen tydens die vervolging van die Hugenote in Frankryk in die sestiende
en sewentiende eeu.
(Klik op die foto hierbo
vir 'n vergrote beeld).
Ten minste 200 000 Franse
Hugenote het gevlug na lande soos Switserland, Duitsland, Engeland, Amerika,
en Suid-Afrika waar hulle godsdiensvryheid kon geniet. Tussen 1618 en 1725
het tussen 5000 tot 7000 Hugenote vlugtelinge na Amerika uitgewyk.
Die grootste getal Hugenote
vlugtelinge wat na die Kaap van Goeie Hoop gevlug het, het gedurende 1688
- 1689 gearriveer. Selfs voor hierdie groottskaalse emigrasie het individuele
Hugenote vlugtelinge soos Francois Villion (1671) en die broersFrançois
en Guillaume du Toit (1686) hulle aan die Kaap van Goeie Hoop gevestig.
Teen 1692 was 'n totaal van 201 Franse Hugenote aan die Kaap woonagtig.
Die meeste van hulle het hulself gevestig in die omgewing van die huidige
dorp Franschhoek, sowat 70 km vanaf Kaapstad, waar vele van die plase nog
hul oorponklike Franse naam dra.
'n Eeu later het die promulgering
van die Edik van Verdraagsaamheid op 28 November 1787 die burgerlike en
godsdienstige regte van die Hugenote in Frankryk gedeeltelik herstel.
Volgende: Die
Hugenotekruis:
Tuisblad
Alle teks en afbeeldings
op hierdie webwerf is © Kopiereg 1998: HC Viljoen