Armoria academica
http://uk.oocities.com/wapenskild

LAERSKOOL SUMMERWOOD / SUMMERWOOD PRIMARY SCHOOL, Somerstrand, Port Elizabeth.

Laerskool Summerwood

Die wapen, wat nie tans geregistreer is nie, mag so geblasoeneer word:

Wapen: Golwend gestreep van blou en silwer, ’n omgekeerde seeperd van silwer, die geheel binne ’n skildsoom van silwer.

Leuse: Do ye even so.

Die leuse is onveranderd sedert die skoolwapen in 1948 opgetrek is. ’n Geskiedkundige nota wat deur die skool uitgegee is noem dat dit geneem is van die Evangelie van Matteus, die versverwysing 12:6.
ou Summerwood-wapen in sand gebou op een van Somerstrand se seestrande

Die ontwerp van 1948 het die seaperd in blou op ’n agtergrond van silwer, met drie golwende blou strepe daaragter.

Dit is egter later gevoel dat dit nie duidelik genoeg is, dus is die devies verander, en soos dit huidiglig gebruik word, bestaan die agtergrond uit meer as 30 blou golwende strepies, waartussen heelwat nouer wit golwende strepies staan.

Nòg die huidige wapen nòg die oorspronklike is heeltemal bevredigend nie.

In altwee kyk die seeperd na links (soos van agter die skild gesien), wat tradisioneel beskou word as ’n lafhartige posisie.

En of dit blou of silwer is, kan die seeperd onmoontlik duidelik met die agtergrond kontrasteer solank die diertjie se kleur deel is van die agtergrond.

Vir eenvoud van tekening, en ontwerpsduidelikheid, laat die heraldiek selfs nie soveel as dosyn strepies wat saam ’n agtergrond opmaak, ofskoon dit reguit of golwend is.

Die skool is blykbaar ook onseker of die skildsoom daar moet wees of nie. Terwyl dit duidelik op die skool se koeverte en briefhoofde in blou omlyn is, laat die wapen wat agter op die prospektus verskyn die skildsoom heeltemal verdwyn in die agtergrond van seestrand wat die omslagontwerp vorm.

Die skool se beheerliggaam het relatief onlangs besluit dat dit weens die onkoste daarvan nie aan die Buro vir Heraldiek om registrasie aansoek sou doen nie.

Dit word egter voorgestel dat die skool die Buro nader omdat die registrasiegeld geensins buitensporig is nie (minder as R1 000 vir skild en leuse).

Daarby dek die registrasiegeld professionele raad van die Buro en sluit ook die werk van ’n professionele heraldiese kunstenaar in. Daardie kunswerk verskyn dan op die amptelike registrasiesertifikaat (wat dan verder gekopieer kan word).

’n Verdere voordeel van registrasie is dat die skool nie net ’n duidelike en definitiewe weergawe van sy wapen ontvang nie, maar ook die wetlike reg daartoe. Dit beteken dat enige ongemagtigde gebruik volgens die landswet gestraf kan word.

Oor die skool:
Die skool is vandag ’n parallel-medium (Afrikaans en Engels) laerskool, Grade 1 to 7, wat in Tweedelaan, Somerstrand, gehuisves word.

Sy aanvang was op 1 April 1945, toe ’n klein hout-geboutjie in Port Elizabeth se Happy Valley[1] as Engels-medium skool geopen is onder die naam Humewood[2]-Summerstrand[3] Preparatory School. Die skoolhoof was mej R Clementz.

Die geboutjie het in 1953 afgebrand, en al wat gered kon word was ’n klavier en die inter-huis skild wat steeds in die skool se besit is.

Agtien maande lank is die skool in die Dollorico Café in Happy Valley gehuisves, op ’n perseel wat ook as nagklub gebruik is. Elke oggend moes daar voor skooltyd die tekens van die vorige aand se jolyt verwyder word.

’n Nuwe skoolgebou is in 1954 in Tweedelaan, Somerstrand, in gebruik geneem, nadat dit amptelik deur Albert Jackson, voorsitter van die Port Elizabethse Skoolraad, geopen is. Die skool se naam is ook amptelik verander na Summerwood Primary; ’n samevoeging van elemente uit beide voorstede se name. Op daardie stadium was daar 260 leerlinge en agt personeellede.

Leerlinggetalle het so gegroei dat die nuwe gebou gou te klein was, en ’n dubbelverdieping-gebou is daaragter opgerig en in 1957 in gebruik geneem.

Die skool het in 1958 ’n parallel-medium-inrigting geword toe die eerste Afrikaanse leerlinge toegelaat is.
drie Summerwood-meisies in tartan-hokkierompe besig om hokkie te speel

Entoesiastiese fondsinsameling gedurende die 1950s het uitgeloop in die oprig in 1960 van ’n skoolsaal, wat die naam gekry het van die energetiese skoolkomitee-voorsitter, Warren Hastings.

Verdere fondsinsameling het uitgedraai in die oprig van ’n swembad vir die skool wat in 1976 geopen is. In 1977 is vier tennisbane geopen, en die verkryging van addisionele grond in 1980 het dit toegelaat dat twee rugbyvelde en ’n krieketveld ontwikkel is.

Die skool het in 1987 ’n rekenaar-netwerk laat installeer.

’n Bekoorlike aspek van die meisies se skool-uniform is die gebruik van ’n tartan. Die skoolrokke en sportrompe word gemaak uit ’n katoen tartan-stof wat ontwerp is met die behulp van die Wol- en Tekstielnavorsingsinstituut op Summerstrand, en wat spesiaal vir die skool se gebruik gefabriseer word.

Die skoollied is in 1978 deur Eugene Kritzinger, ’n musiekonderwyser wat destyds aan die skool verbonde was, gekomponeer.

Webwerf:
Die skool het hier sy eie webwerf.



[1] Die naam Happy Valley verskyn in 1924 as benaming vir die vallei van die Shark-rivier, wat vandag tussen Humewood en Somerstrand lê, toe die Humewood Café langs die vallei geopen is.

Die kafeegebou het bly staan, alhoewel die besigheid onder ’n verskeidenheid name geopereer het, totdat dit in die vloed van 1968 weggespoel is.

Die vallei is met tuine uitgelê en die grasperke (aan die seekant) is ’n gewilde oord vir konserte en talent-kompetisies. In die somervakansie-seisoen word dit met tablo’s versier wat ’n variëteit fantasie- en TV-karakters toon. Hierdie word snags belig vir die vermaak van klein kinders.

Vroeër is die naam Happy Valley (vanaf ten minste 1893) gekoppel aan die vallei waarlangs die Humewoodweg-spoorwegstasie (terminus van die smalspoorlyn na Avontuur) geplaas is toe die lyn tussen 1903 en 1907 gebou is.

[2] Die dorpsgebied Humewood het in 1893 sy begin gehad toe die Port Elizabeth Harbour Board (Port Elizabethse Haweraad) 20 villa-erwe tussen die oorspronklike Happy Valley (die vallei waar die smalspoorlyn die plato bestyg om vir Victoriapark en Walmer te bereik) en die Klein Shark-rivier verkoop is.

Die nuwe dorpsgebied is na raadvoorsitter William Hume vernoem.

Die spoorlyn staan vandag bekend as die Apple Express-lyn, want dit is die roete van ’n toeriste-stoomtrein wat onder daardie naam opereer.

[3] Somerstrand het in 1927 sy begin gehad toe 30 erwe langs Marinerylaan, suid van die Beach Hotel, te koop aangebied is. Die Beach Hotel het in 1924 oopgemaak.

Tydens die 19de eeu was hierdie gebied die plaas Strandfontein, wat kortstondig gehuur is deur Piet Retief, later ’n Voortrekker-leier. Hy was egter nooit die eienaar daarvan nie.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: illustrasies en geskiedkundige aantekeninge deur die skool voorsien (foto’s uit die skool se prospektus); bykomstige geskiedkundige inligting uit A Port Elizabeth Chronology deur Margaret Harradine (E H Walton Packaging).


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle