Armoria familia
http://uk.oocities.com/wapenspreuk

Sir Rufane Donkin

deur Mike Oettle

piramide

ALHOEWEL generaal sir Rufane Shaw Donkin geen nasate aan die Kaap gelaat het nie en slegs enkele jare in die kolonie deurgemaak het, het die voer van sy wapen deur die dorp Port Elizabeth sedert 1861 (hy het in 1820 die dorpie gestig) verseker dat sy wapen ’n blywende invloed het in die heraldiek van die Algoabaai-streek.

Rufane Donkin is in 1772 of ’73 gebore – die datum September 1772 verskyn op sy grafsteen, maar sy ouers is eers in daardie jaar getroud, en sy skoolrekords dui aan dat hy in ’73 gebore is – en is 1 Mei 1841 oorlede. Hy is na sy vader se bevelvoerende offisier, genl William Rufane, genoem. Genl Rufane se familie-oorsprong is Frans, en die van was blykbaar Ruffane of Ruffine voordat dit verengels is.
wapen van sir Rufane Donkin (vanaf die kerkbankplaat)

Sy wapen mag so geblasoeneer word:

 

Wapen: In rooi, ’n keper van silwer belaai met drie gespes van swart tussen bo twee vyfblare, en onder ’n beuelhoring, versier en gestring, alles van goud. Eretoevoeging: Op ’n gekanteelde skildhoof van silwer, ’n Indiese olifant in sy natuurlike kleure onderkant die woord INDIA in goud.

Bykomende eretoevoeging: Op ’n rooi vryhoek, ’n voorstelling van die Peninsular Gold Cross wat van ’n muurkroon hang; die medalje omsingel deur die woord “Talavera” in goud. Die skild omboord met die kraag van die Order of the Bath, in rooi en met goud omlyn en versier, met die woorde Tria juncta in uno, sowel as ’n lourierkrans. Van altwee hangend is die kruis van die Order of the Bath.

Wrong en dekkleed: silwer en rooi.

Helmteken: Bo-op ’n muurkroon van goud, swart gemessel, wat op ’n wrong rus, ’n anker en ’n ploeg skuins gekruis, met die Peninsular Gold Cross wat vanaf die kroon se kantelings met ’n rooi lint hang.

Persoonlike leuses: Op ’n lint onderkant die skild die woorde Tu meliora spera, en op ’n tweede lint bo die helmteken die woorde Bona Spes.

wapen sir Rufane Donkin (die gehele kerkbankplaat)

Om die skild is die kraag van die Order of the Bath, en behalwe sy persoonlike leuses is daar die leuse van die orde, Tria juncta in uno (Drie wat in een gekoppel is; ’n uitdrukking van die leer van die Drieëenheid).

Die leuse Tu meliora spera is ’n aansporing om met hoop dit uit te soek wat beter is. Die ander leuse, Bona spes, het dieselfde betekenis (alhoewel waarskynlik ’n heel anderse ontlening) as die leuse wat deur die Kaap Colonie, die Kaapprovinsie, die Provinsie Wes-Kaap en die Stad en Universiteit Kaapstad gedeel word.

Die kerkbankplaat-weergawe van die wapen sluit die leuse Ich dien in (“Ek dien”, leuse van die Prins van Wallis), wat ook deel vorm van die insignia van die Order of the Bath.

Die illustrasie regs bo toon die geëmaljeerde geelkoperplaat (wat in Engels ’n “stall plate” genoem word) wat gedurende sir Rufane se leeftyd in sy kerkbank geplaas is in die kapel van die Order of the Bath, waarvan hy ’n ridder-kommandeur was (die volle plaat word hier links vertoon). Die kapel, wat ook bekend staan as die Kapel van Henry VII, is agter die hoë altaar in die Abdykerk Westminster in Londen.

Die kerkbankplaat is in 1980 deur die Port Elizabethse Museum (tans as Bayworld bekend) gekoop. Hierdie beeld toon dat dit restorasie kort, aangesien die rooi emalje van die skildveld afgeval het, en ’n vuil wit agtergrond gelaat het.)

Die tweede illustrasie (onder links) is ’n ou foto van ’n bibiloteek-skildery van sir Rufane se wapen wat 1927 vir die Stad Port Elizabeth uitgevoer is deur ’n herout-skilder wat aan die College of Arms in Londen verbonde was. Die oorspronklike het in die Port Elizabethse Stadsaal gehang en is vernietig in die brand wat in 1979 die binnekant van daardie gebou verwoes het.

Die skildhoof met sy olifant en die woord “INDIA” is verleen om eer te betoon na aanleiding van Donkin se diens in Indië, veral in die suksesvolle Britse veldtog teen die Mahrattas van 1817-18.
wapen van sir Rufane Donkin (biblioteekskildery)

Die medalje word nie in enigeen van die blasoene wat ek tot nog toe kon naspoor, genoem nie, maar Robert Laing (redakteur van Arma, joernaal van die Heraldiese Genootskap van Suider-Afrika) skryf dat dit heel waarskynlik die Peninsular Gold Cross is, ’n toekenning vir dié wat in die Spaans-Napoleontiese Oorlog (die sogenaamde Peninsular War) geveg het. Hierdie oorlog is in Portugal en Spanje gevoer teen Napoleon se bondgenote. Donkin was bevelvoerder van ’n brigade tydens die veldtog langs die Dourorivier in noord-Portugal, en het ’n sleutelrol gespeel in die inname van die stad Talavera de la Reina, belangrik in die benadering van Madrid. Die medalje is laat in sir Rufane se lewe toegeken, aangesien al die Britse toekennings vir diens in die Napoleontiese Oorloë onderworpe is aan vertraginge van so lank as ’n dekade nadat Napleon verslaan is.

Donkin is in Ierland gebore, lid van ’n militêre familie uit Northumbria afkomstig, waar dit sowat 600 jaar reeds gewoon het, alhoewel die heraldiek van die familie aantoon dat dit ’n vertakking is van die Skotse familie Duncan.

Die Duncans is op hulle beurt ’n vertakking van die Klan Robertson, wat in Gaëlies Clann Donnchaidh of Clann Donnachaidh genoem word – wat in Engels as Clan Donnachie geskryf word. Hierdie naam beteken glo “bruin krygsman”, alhoewel George F Black (The Surnames of Scotland: Their Origin, Meaning and History) dit as “fort-krygsman” weergee. Black maak dit duidelik dat daar vanaf die vroeë Middeleeue vertakkings van die familie in of naby Engeland was.

Rufane Donkin, teen daardie stadium ’n generaal-majoor, is in 1819 as kranke uit Indië na die Kaap gestuur is na die voltooiing van die Mahratta-veldtog. (Teen die tyd wat hy die Kaap verlaat het, is hy tot luitenant-generaal bevorder, en het hy in 1838 ’n volle generaal geword.) Tydens die Mahratta-veldtog is sy vrou, Elizabeth, dogter van dr Markham, Dekaan van York, aan ’n tropiese koors in Meerut in Augustus 1818 oorlede. Hul babaseun het die koors oorleef. Genl Donkin is in Oktober daardie jaar gegazetteer as Knight Commander (ridder-kommandeur) of the Bath, wat beteken dat sy vrou nooit as “lady Donkin” bekend was nie, alhoewel die titel glo so ver terug as 1815 vir hom geskep is.

In Junie 1820 het sir Rufane Algoabaai besoek om te sien hoe dit landing van die Britse setlaars vaar. Hierdie aantekeninge is uit ’n artikel deur Margaret Harradine (my vertaling):

“Dit was Donkin wat ingesien het dat ’n hawe langs hierdie deel van die kus gestig sou moet word en het die eerste stappe gedoen om een te vestig. Hy het die dorp-in-wording na sy vrou vernoem. Op die heuwel wat oor die baai uitgekyk het, het hy grond opsy gelê wat vir altyd ’n oop ruimte sou wees, en ook die perseel van ’n aandenking.

“Sy keuse van ’n piramide is, vir sy tyd, glad nie buitengewoon nie, en die proporsies daarvan is dié van die denkmaal aan Gaius Cestius in Rome en die argitek Hawksmoor se piramide op die perseel van Castle Howard in Yorkshire, om slegs twee te noem, en het met Egipte glad niks te maak nie. Daarby was dit natuurlik ook ’n eenvoudige struktuur vir die soldate, wat dit uit die plaaslike sandsteen moes bou.”

Die piramide dra ’n inskripsie wat ’n roerende testament is van Donkin se liefde vir sy vrou. Dit is egter onwaar, ’n gewilde gerug desondanks, dat haar hart onder die piramide begrawe lê. Alhoewel hy wel haar hart uit Indië weggedra het, is dit in Engeland begrawe.

Hierdie piramide verskyn in sommige wapens as simbool van Port Elizabeth: Livingstone-hospitaal, Hoërskool Pearson and Lawson Brown High School.

Om weer na die Donkin/Duncan-familie te kyk: aangesien ’n wapen, net soos tartan, aan ’n familienaam gekoppel is, het die Duncans nie net ’n ander tartan as die Robertsons, maar ook ’n wapen wat anders is. Aangesien ’n wapen die eiendom is van slegs een persoon op ’n bepaalde tydperk, voer verskeie vertakkinge van die familie variasies op daardie wapen.
helmtekenwapen van Duncan

Die graaf van Camperdown, hoof van die senior-tak van die Duncan-familie, het vir sy helmteken ’n seilskip, wat in een bron beskryf word as “in distress” en in ’n ander bron as “a dismasted ship” (ontmas).

Waar dit egter as ’n hooftooiselwapen (bonnet badge) voorkom, met die leuse Disce pati (“Leer lyding”), word die skip met sy maste geheel aangetoon en met vol seile. Die seilskip is in 1800 aan die eerste burggraaf (’n admiraal) verleen ter erkenning van sy diens tydens die Slag van Kamperduin (in Engels, Camperdown) in 1797, ’n geveg teen die vloot van die Bataafse Republiek. Die vlag van die Nederlandse bevelvoerder, Vise-Admiraal De Winter, kan hier gesien word.

Die skip – in sy ongedeerde vorm, min of meer soos wat dit in die hooftooiselwapen voorkom – kom nie by sir Rufane voor nie, maar in die helmteken van die Stad Port Elizabeth. Twee Port Elizabethse skole het wapens wat van hierdie helmteken afgelei is, maar geeneen is tans as heraldiese wapen geregistreer nie. Die stad se helmteken is ook geneem as model vir die helmteken van die Standard Bank.

Die olifant is Indies (spesienaam Elephas maximas) en het bo sy rug in goue letters die word “INDIA”.

Die gespes in sir Rufane se wapen lê horisontaal na regs, terwyl die gespes in die stadswapen regop is.

Een skool in Port Elizabeth, Hoërskool Pearson, voer ’n wapen waarin die skild soos in sir Rufane se wapen opgedeel is, met ’n keper en ’n gekantileerde skildhoof. Die kleure is heeltemal anders (behalwe dat die keper ook silwer is, en die gespes daarop ook swart). Ook lê die gespes horisontaal, soos in sir Rufane se wapen.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Bostaande kom grotendeels uit ’n artikel deur die skrywer, gepubliseer as “The Arms of Sir Rufane Donkin and the City of Port Elizabeth” in Arma, joernaal van die Heraldiese Genootskap van Suider-Afrika, Vol 5 No 1. Die aanhaling van Margaret Harradine kom uit ’n artikel in The Herald, Port Elizabeth, van 22 Junie 2002. Mev Harradine is die afgetrede Africana-bibiliotekaresse aan Port Elizabeth se Sentrale Biblioteek.

Illustrasiebronne: foto van ongedeerde kerkbankplaat voorsien deur Tennyson Smith Bodill; foto van beskadigde kerkbankplaat deur Frankie Simpson; foto van biblioteek-skildery van Newspaper House-biblioteek, Port Elizabeth.

Skanderings van biblioteek-skildery en van Frankie Simpson se foto met vergunning van die Evening Post.


Terug na stigters-indeks

Terug na indeks goewerneurs

Terug na Armoria familia-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle