Die kaart wys dat die staproete McGregor toe begin met ‘n bulterigheid van ‘n goeie paar kilomer lank. Op hierdie lieflike Novemberoggend geniet julle dus varsgebroude koffie en warm skons met aarbeikonfyt in Greyton Lodge se hoteltuin om die nodige moed bymekaar te skraap vir die staptoggie.
![]() Teen ½ 9 is daar nie verdere uitstelmoontlikhede nie, julle gaan parkeer die motor onder ‘n koelteboom, pak die rugsakke op en stap die eerste kilometer of wat deur Greyton se natuurreservaat met ‘n pragtige uitsig oor die dorp. Ná ‘n halfuur bereik julle ‘n rivier waar die pad verdeel. Die uitdraaipad na links lei deur die reservaat teen die bergie op en terug na die motor toe; die dowwe paadjie vorentoe en oor die rivier lei na ‘n 4x4-pad wat teen die berg uitkronkel. Die op-een is waar julle moet stap. Ná ‘n bietjie meer as ‘n uur se stap, maar heeltemal te vroeg vir ‘n tweede ontbyt, kom julle by ‘n klip met die naam ‘Breakfast Rock’. Die opdraend hou aan, die 4x4-pad verander in ‘n voetpaadjie, die asems jaag, maar die plantegroei is lieflike en uiteindelik is julle bo. Die paadjie sak af in die kloof en julle bereik ‘n lieflike swempoel net toe die waterbottels leeg raak.
![]() Ná ‘n lang teemaak-swem-en-middagete-uitspanning volg julle die paadjie al in die kloof totdat die pad vurk. Beide paaie lei na die Galg. Die paadjie na links klim steil op na ‘n historiese bergpas. Die paadjie na regs loop eers langs die rivier en waterpoele voor dit ewe steil klim tot by julle oornagplek.
![]() ![]() Julle besluit op die historiese pas, en ná ‘n gehoes en gehyg is almal uiteindelik op die halfklaar bergpas. (Die plan om ‘n pad tussen McGregor en Robertson en Sir Lowryspas te bou is laat vaar toe die geld opgeraak het.) Van hier af klim die pad geleidelik tot by die einde van die staproete en jul oornagverblyf by die Galg, ‘n proteaplaas sowat 13 km van McGregor af. Die huisies is netjies en toegerus met beddens, elektrisiteit, ‘n yskas, tweeplaatstofie en lieflike braaiplek. Die lekkerste is egter die yskoue Coke wat Barney Oosthuizen, baas van die plaas, vir julle reël.
![]() Die volgende oggend neem die ‘scenic route’ julle steil af tot by die rivier. Die linkerkantse pad is Oosthuizen se eie staproete; julle volg die paadjie regs in die kloof op. Teen teetyd is julle by die swemgat, en teen middagete is julle in Greyton, betyds vir ‘n lekker ete in een van Greyton se vele gastehuise.
![]() Die roete kan van enige kant af gestap word. As stappers ‘n motor by die eindpunt wil los, kan die roete net in een rigting as ‘n dagstap voltooi word.
Verblyf word nie by die permit ingesluit nie en kan gereel word by: die Galg (Mc Gregor se kant) tel 023 625 1735
|