|
Watter vermetelheid van die Portugese om teen 'n vreemde land se kus anker te gooi, 'n kruis daar te plant en dan die mense aan wie die land behoort, as slawe te begin uitvoer. Dis nie dat Mosambiek hierdie agteraf landjie was toe Vasco da Gama in 1498 sy skip daar vasgemeer het nie: Skepe van Arabië, Persië, China en Indonesië het teen 600 n.C. al gereeld Inhambane se hawe besoek om handel te dryf in goud, ivoor, amber, velle en renosterhoring. Veelverdiepinggeboue en groot skepe met navigasieinstrumente was niks vreemds vir die Mosambiekers nie.
"Terra de Bõa Gente" is wat die Portugese die land genoem het: Land van die Goeie Mense. En wat was die 'goeie mense' se beloning? Hulle was daar om Portugal ryk te maak: om belasting te betaal, om vir ses maande van die jaar (dikwels in kettings) op die staat se rys- en katoenlande te werk en om uitgevoer te word as slawe. (Teen 1820 vorm slawe 85% van alle uitvoere; Twee miljoen is tussen 1820 en 1912 na die suikerplantasies van Brazilië en Kuba verskeep.) Portugal het nooit bedoel om enige geld in die sosiale welsyn van die bewoners te belê nie. Hospitale en skole is uitsluitlik vir die Portugese immigrante opgerig. Teen 1950 word die swart inwoners deur die wet verbied om handel te dryf. Op 16 Junie 1960 hou die Mosambiekers 'n vreedsame protesoptog en seshonderd van hulle word doodgeskiet. Die Frelimo-bevrydingsbeweging word gestig en in 1965 begin die Vryheidsoorlog. Toe Mosambiek in 1974 onafhanklik word, onttrek negentig persent van die Portugese feitlik oornag en los die land in chaos met geen infrastruktuur nie en bitter min opgeleide mense om die land te bestuur. Toe kom Renamo en Rhodesië en Suid-Afrika en meng in met Mosambiek se huishoudelike sake en die land is weer-eens in oorlog gewikkel. In 1983 word die land boonop nog deur droogte en hongersnood ook getref. Die Nkomati-verdrag (1984) bring geen vrede nie. In 1986 sterf President Samora Machel in 'n vliegongeluk. Die ergste droogte van die eeu tref die oorlogsvoos land in 1992, maar kort daarna breek vrede uiteindelik aan vir die land wat nou een van die armste ter wêreld is. As jy onder kasjoerina-bome op die wit strand van Bilene met 'n paar Mosambiek-kinders kibbel oor die prys van 'n strooimatjie, kan jy nie dink dat die land so 'n morsige geskiedenis het nie. Die water is prentjieblou. Die koraalriwwe veroorsaak dat daar byna geen branders is nie. Oral sien jy kinders wat aan taai mango's suig. Om in Praia do Bilene te wees, is baie makliker as om daar te kom. Die grensbeamptes by Ressano Garcia was maar vol fiemies en die taxi-rit tot in Maputo skrikwekkend. Die pad is vol slaggate en die voertuie loop net op genade. Soms is meer as genade nodig. Soos toe die taxi oorverhit en die bestuurder uitklim om die enjin bietjie af te koel - deur daarop te piepie! Die hele roete Maputo toe is vol padblokkades, maar die Mosambiekse polisie is nie geïnterresseerd in die taxi’s nie. Dis die Suid-Afrikaanse voertuie wat boetes kry vir enige-iets denkbaar en ondenkbaar. Dit het sy voordele om met ‘n oorlaaide taxi Maputo toe te ry. Jy wil nie te veel tyd in Maputo spandeer nie en nadat jy Rande vir Meticas omgeruil het by die tabakhandelaar, klim jy op die eerste chapa wat see se kant toe gaan. ‘n Chapa, kom jy later agter, is enige voertuig wat pasassiers teen betaling kan oplaai. Dit kan wissel van die voorsitplek van ‘n BMW tot agterop ‘n oop trok wat vreeslik rook terwyl ‘n donderbui rondom jou uitsak. Die woord dat daar toeriste by Bilene is, doen vinnig die rondte en een na die ander daag die kinders met hul ware op: mango’s teen 1000 meticas (so omtrent 40 sent) vir drie, kokosneute, kasjoeneute, kreef, krap en enige soort ding wat onlangs nog in die see gelewe het. Dis makliker om met die kinders handel te dryf: hulle is darem 'n bietjie Engels magtig. Die tieners en jongmense verstaan nie Engels nie en dikwels ook nie Portugees nie - tydens die burgeroorlog was daar geen skoolopleiding nie. Die tekens van die burgeroorlog is duidelik te sien in Praia do Xai-Xai. Ook die tekens van ‘n tyd toe Maputo nog Lorenco Marques was. Vervalle hotelle, vervalle aantrekhokkies gemerk ‘WC’ op die strand, ‘n vervalle publieke konstruksie op die strand waar konserte en strandpartytjies lank terug gehou was, ‘n stukkende reeks trappies van byna ‘n kilometer van daar af tot by die hoogste punt in die dorp langs die (gerestoureerde) kerk - alles dui op die prag en praal van vervloë dae. En alles dui daarop dat daardie tyd verby is. Die hotelle staan leeg en die vensters is gebreek. Die WC se deure is af en die mosbegroeide krane stukkend. Die palmbome wat langs die gebreekte middelpunt-van-die-dorp-trappies gegroei het, is lankal dood. Maar die Suid-Afrikaners is besig om die dorp te herontdek. Xai-Xai is vinnig besig om weer ‘n speelplek vir ryk Gautengers te word. Ryk Gautengers met splinternuwe four-by-fours wat op ‘n wildernisvakansie gaan om ‘weg te kom van alles’. En dan in die proses ‘alles’ saamvat: die sattelietskottel, die M-Netdekodeerder, die ‘lêptop’, selfoon of twee, vrou, kinders, X-vrou se kinders en diè se aanhangsels, die boot, die waterponies, die kragopwekker en die vrieskas met drie weke se bier en steak. En die tuinjong om die ‘alles’ op te pas, en twee bediendes om die ‘alles’ skoon te maak. Jy hou nie van die gekommersialiseerdheid van Xai-Xai nie en vertrek verder noord. Die E.N.1 bring jou by Maxixe, wat deur 'n stuk see geskei word van die kaap by Inhambane. Jy kan met 'n ferrie oorry tot by een van die pragtigste dorpies in Mosambiek. Of jy kan as 'n goedkoper en opwindender alternatief 'n dau-eienaar voorkeer en onderhandel. Die ontwerp van hierdie ou Arabiese seilbootjies het sedert 1200 n.C. weinig verander - dis net die seile wat deur die jare meer gelap en meer kleurvol geraak het. Praia do Tofo is net 'n paar kilometer van Inhambane af. Dit is 'n bekende branderry-strand in Mosambiek, maar die koraalrif keer dat die branders noemenswaardig groot word en jy wonder hoe branderplankryers dit enigsins regkry om op die brandertjies te 'surf'. Tofo het geen kampeerterrein nie en jy slaan maar, soos die ander, jou tent net daar op die strand onder kasjoerina-bome op. 'n Monument by Praia do Tofinho ('Strand van Klein Tofo') trek jou aandag en jy kan aflei dit gaan oor die burgeroorlog. Toevallig sien 'n dosent by die Universiteit van Maputo hoe jy jou Portugese fraseboek fynkam vir die betekenis van die monument. Hy knoop 'n geselsie aan en kort voor lank vat hy jou op 'n geskiedenis-toer van die mooi strandjie: hy wys jou waar bote vasgemeer het, waar Renamo se kamp was, waar die onderwatergrot-tronk is waar krygsgevangenis aangehou is en waar die hoogwater baie soldate wat nie wou praat nie, se lewens geëis het. Hy vertel van oorlogsgruwels en jy weet hy praat nie op hoorsê nie. Jy kyk rondom jou na die groen van die land en die blou van die see en weet nie hoe mense sulke goed aan mekaar kan doen nie. As die Portugese nie 300 jaar gelede als kom opvoeter het nie, sou die Franse of die Engelse of Nederland dit in elk geval seker kom doen het. Om terug op die roete Noord te kom, moet jy weer deur Inhambane en met die dau tot op Maxixe waar jy vir die volgende chapa wag. (Chapa is 'n afkorting vir chapa-cem, letterlik blik met honderd in.) Die E.N.1 (Estrada Nationale 1) loop parallel met die see; soms nader en soms verder, maar die hele tyd te ver om te stap van die E.N.1 af (waar jou chapa jou afgelaai het) see toe (waar jy wou gehad het die chapa jou moes aflaai). Die gevolg is dat jy die hele reeks van Mosambiek se openbare en soms minder openbare vervoerstelsels leer ken. Jy kom gou agter dat jy (omdat jy 'n toeris is?) dubbeld moet betaal vir dieselfde afstand as die ander reisigers. Jy ry agterop oorvol bakkies; saam met hoenders en bokke agterop 'n rooi vragmotor; in 'n groen jeep saam met 'n weermag-grootkop, sy mak apie en sy AK47; saam met 'n Sweedse landbounavorser van die Universiteit van Maputo, en in 'n geel unimog saam met Gielie van Messina wat jou later nooi vir 'n steakbraai by die vakansie-oord wat hy besig is om te ontwikkel. Die vakansie-oord wat Gielie besig is om te bou, is op ‘n lieflike stuk strand ‘n paar kilometer van Vilanculos af. Jy's jaloers omdat jy weet as hierdie vakansie-oord eers klaar is, gaan die Gautengers met hulle vierwiel-voertuie ook hierdie stukkie land kom binneval en kom oorneem met hul sattelietskottels, kragopwekkers en waterponies. Die hotel Donna Anna se eienaar sit toevallig onder in die kroeg wanneer jy moeg daar instap en aanwysings na die kampeerterrein toe vra. Hy wil daar niks van hoor dat jy in die kampeerterrein wil gaan tent opslaan terwyl hy jou 'n kamer (met 'n uitsig op die Bazarutu-eilande) kan gee teen dieselfde prys nie. Die hotel het nie elektrisiteit nie en jy voel soos iemand in 'n Middeleeuse kasteel as die lakeie (in swart en wit uniforms, nogal) in die aande die kerse op die breë houttrappe kom aansteek en aan jou deur klop om jou kerse vir die aand te bring. Vilanculos se markie is ‘n belewenis. Daar kan jy enige-iets koop: gedroogte tamaties, neute, vis, klere, skoene, sambrele, kruie, prons. Selfs musiekinstrumente en pêrels, alhoewel die pêrelverkopers maar ‘n bietjie suspisieus gelyk het. En mango’s . Daar’s nie ‘n plek in Mosambiek waar jy nie mango’s kan koop nie. Meer ‘Westerse’ items soos tandepasta en kondensmelk is ook op die markies te koop, maar dit is bykans onbekostigbaar. Bring maar liewer jou eie saam. Elke oggend se vars broodjies kan jy direk by die Pana de Ria gaan koop. Elke bakkery het dieselfde atmosfeer: een of meer bakoonde buite op die grond tussen hoenderkuikens, makoue en kaalvoetkinders wat aan mango’s suig. En elke Pana de Ria bak dieselfde broodjies: vars en warm met ‘n harde krakerige kors en ‘n kluitjie-binnekant. Mens kan nie sò naby die Bazaruto-eilande wees en nie soontoe gaan nie. Vroeg die oggend keer jy 'n dau-eienaar voor en onderhandel met hom oor 'n prys. Nadat jy 'n hele paar uur op die oop see in 'n geankerde dau spandeer terwyl 'n reënstorm woed, meer die dau uiteindelik by Margarugue vas. Maar die eiland is 'n 'come-down'. Dis iets uit 'n Hollywood-'movie'. Jy betaal vir jou broodjies in dollars. Vyf. (Hoeveel mango's kon jy hiervoor gekry het?) Daar is Chinese oral wat foto's van alles neem. Hierdie is nie Afrika nie. Of Mosambiek nie. Maar jy verstaan waarom hierdie eilandjie so gewild is. En waarom mense beried is om baie dollars te betaal om 'n dag of twee hier te spandeer. Jy stap eenkeer rondom die eiland met die lieflike kuslyn en tel raar skulpe op en sien hoe die oseaanvloer so twee meter see-in net padgee - die donker dieptes in. Jy sien, terwyl jou voete nie eens natword nie, die mooiste grootste helderkleurige tropiese visse en besluit om ook maar eendag de dollars uit te haal om 'n dag of twee hier te spandeer. Die ryk seelewe wat deur die korralriwwe gevoed word, word entoesiasties deur die plaaslike bevolking leeggevang. Die jare van oorlog (Renamo het volgens gerugte graanskure afgebrand en voedselvoorraad vernietig) het die mense geleer om uit die see uit te leef. Enorme blou krewe, klein blou babakrefies, alles wat in die water leef, word gevang en geëet. Op Inhassoro hou jy 'n visvang-episode, wat die hele oggen in beslag neem, van begin tot einde dop. 'n Paar manne staan op die land met een punt van 'n net. 'n Bootjie ry kilometers die see in, draai dan uiteindelik terug en bring die ander punt van die net ook land toe. Die hele bevolking van Inhassoro is op die strand en help om die net in te trek. Die kleiner vissies ontsnap deur die gate van die net, maar die kinders staan gereed met fyner net om hulle ook te vang. Dit neem nog 'n uur of wat om die dag se buit te verdeel. As almal weg is, lê die hele strand vol miljoene babavissies wat nog nie veel groter is as ogies nie. Môre se vis. Dood op die strand. Hoe lank gaan Mosambiek nog sy mense uit die see uit kan voed? Die bus waarmee jy die duisend plus kilometer terug Maputo toe aflê, het lewendige hoenders en bokke op die dak en 'n soldaat of twee met 'n AK 47 binne-in. By elke bushalte is daar kinders wat mango's of piesangs deur die venster probeer verkoop. Een of twee keer stop die bus om 'n possak af te lewer, of om 'n kospakkie vir die busbestuurder op te laai. Die E.N.1 loop vir kilometers en kilometers tussen kokos- en mangobome deur en jy besluit: die nasionale vrug van hierdie land moet ‘n mango wees. En die nasionale dier beslis ‘n muskiet. Jy't voor die tyd vreeslik baie stories oor die gesondheidsrisiko's in die land gehoor. Net twee goed is werklik gevaarlik: hulle water en hulle muskiete. Jy wil nie in 'n Afrika-hospitaal met malaria opgeneem word nie en hou jou vakansie kort genoeg sodat jy, indien jy sou siek word, dit in Suid-Afrika sal kom doen. En jy drink jou larium pligsgetrou. Jou trein vertrek eers die volgende dag terug Kaap toe en jy't 'n dag oor om in Maputo te spandeer. Alle winkels in Maputo is tussen 11 en 3 toe vir middagete, en jy verwyl die tyd in 'n bioskoop waar jy 'n Amerikaanse Viëtnam-oorlog-fliek met (soms) tikmasjiengetikte Portugese onderskrifte kyk. Jy gaan koop LM-Prons op die munisipale markie en maak dit gaar op die dak van die hotel Polanna, waar jy 'n asemrowende uitsig oor die hawe en die ou en nuwe deel van die stad het. Die stasiegebou is vroeg in die 1900's gebou deur 'n Mnr Eiffel. (Dieselfde een van die toring in Parys.) 'n Asemrowende gebou van marmer en gepoleerde hout onder 'n groot koperkoepel. Jy's half jaloers op die Mosambiekers as jy in die trein sit met die groen heuwels weerskante van jou. Oral langs die treinspoor lê ontspoorde trokke; laaste herhinneringe uit die oorlog. Met jou laaste paar meticas koop jy yslollies by die kinders wat op elke stasie staan en wag vir hul kliënte.
Miskien, as jy Vasco da Gama was, sou jy ook jou anker by Inhambane gegooi het en die Land van die Goeie Mense vir jouself wou hê.
|