Groot Winterhoek (Porterville)


Die Groot Winterhoeknatuurreservaat naby Porterville is ‘n wildernisgebied, wat beteken dat jy self jou roete beplan en oorslaap waar jy opslaanplek vir jou tent kry.

Die oorspronklike plan was om Hel toe te stap – volgens gerugte een van die lekkerste swempoele in die Wes-Kaap. Die kouerigheid en nattigheid van die Novemberoggend laat jou egter maklik besluit om eerder te mik vir die oornagskuiling naby de Tronk, 5 km van die Hel af. As die weerburo se belofte van beter weer realiseer, kan julle altyd van die hut af na die swemgat toe stap.

Dis 13 km vanaf die parkeerarea tot by die oornaghut, maar dit duur veel langer as die verwagte 3 ure omdat rotsformasies en plate pienk en wit Erica veroorsaak dat jy elke nou en dan moet stop om die kamera uit te haal. (Op kouerige natterige oggende moet die kamera waterdig verpak word; uithaal, mik, druk en weer verpak kan tydrowend wees.) Die paadjie volg die Groot Kliphuisrivier vir die grootste deel van die oggend. Water is volop en daar’s geen bulterigheid om jou onnodig moeg te maak nie.

Net voor middagete sluit die voetpad by ‘n 4x4-pad aan. Julle besluit om maar uit te pak vir middagete om die kaalvoet-stap deur die ysige water van die driffie ‘n bietjie uit te stel. ‘n Reënbui knip die vroeë middagete egter kort, en julle besluit om maar aan te stap. Die 4x4-pad het ‘n paar op- en afdraendes, maar kort voor lank sien julle die eerste van die geboue wat op die kaart aangedui word. De Tronk is die laaste van die hutte Natuurbewaring hèt op die faks geskryf basic shelter - en dis presies wat dit is: vier mure, ‘n dak en ‘n kaggel. Maar dis beter as tent opslaan in die reën, die ligging is pragtig en julle trek maar in.

Huisieuitsig

Teen laatmiddag hou die reën op, maar dis te laat om die 10 km heen-en-terug na die Hel toe aan te pak, en die rotsformasies by die hut bied genoeg om jou mee besig te hou.

Rots

Die volgende oggend skyn die son, maar dis steeds nie warm genoeg om ‘n stap na die Hel toe te regverdig nie, en julle besluit om eerder via Groot Kliphuis terug te stap na die parkeerterrein toe.

Die pad na Groot Kliphuis toe draai uit die 4x4-pad uit na regs, sowat ‘n kilometer voor gister se kaalvoet-yswaterepisode. ‘n Kort klimmetjie bring jou tot langs die Klein Kliphuisrivier. Pienk en wit Erica en besonderse rotsformasies maak die kilometers kort. Ná ongeveer vyf kilometer split die pad by ‘n kol blokombome. Die duidelike paadjie reguit aan lei na Perdevlei, maar die pad na die parkeerterrein is die dowwe een na links teen die berg op. Die klim is steil, maar gelukkig nie veel langer as ‘n kilometer nie. Van bo af sien jy die oornaghut by Groot Kliphuis en ‘n 4x4-pad wat oor die horison verdwyn. Die stap op die plato is maklik en daar’s volop riviere vir ‘n teetjie of twee. Van hier af is dit ongeveer 15 km tot by die parkeerterrein. Vir kilometers loop jy deur wat lyk soos ‘n versteende Jurrasic Park: Hièr is ‘n dinousourus met ‘n horing op sy neus, dààr is ‘n ruimtevlermuis wat ‘n toespraak hou, hier voor jou sit ‘n olifant en kaartspeel en daar oorkant staan ‘n seeperdjie en wuif.

Klippe

As julle uit die surrealistiese vallei uitkom, moet julle ‘n paar riviere kruis, een of twee keer na bakens soek omdat die paadjie verdwyn oor rotse, en dan is dit nog ‘n kilometer of wat na die vurk in die pad waar julle gister regs gehou het na die Hel toe. ‘n Kilometer verder en die skoongereënde motor wag vir julle om weer terug te vat beskawing toe.

Permitte kos R40 per persoon per dag; die gebruik van die oornagskuiling is ingesluit by die permit. ‘n Toegeruste oornaghut naby de Tronk is beskikbaar teen R80 per persoon per nag.

Bespreek by die Weskaapse Natuurbewaring:
(Tel) 022 931 2900
(Faks) 022 931 2913
(e-pos) porterville@cnc.org.za
(webwerf)www.cnc.org.za/Nature_Reserves/html/grootwint.html



Terug na Fietstoer-indeks




Created with notepad by carine on 5 February 2003
carine@ananzi.co.za