Armoria academica
http://www.oocities.org/bona_spes

UNIVERSITEIT PORT ELIZABETH / UNIVERSITY OF PORT ELIZABETH / IYUNIVESITHI YASEBHAYI, Somerstrand, Port Elizabeth.

Universiteit Port Elizabeth

Wapen 15 September 1972 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer. Die blasoen op die wapenbrief lui:

In blou, ’n vierpuntige ster vergesel van vier stoklose ankers skuinskruisgewys geplaas met skagte na die middel en in die skildhoof drie vyfblare, alles van silwer.

Helmteken: ’n Oop boek en daarvoor twee oop passers paalsgewys, die onderste omgekeer, bene aanstotend, alles van natuurlike kleur.

Wrong: Silwer en blou.

Wapenspreuk: NULLI CESSURA FIDES.

Oor die wapen:
Twee elemente in hierdie wapen is van die wapen van Port Elizabeth afgelei:

Twee goue vyfblare verskyn in die stadswapen, en is afkomstig uit die familiewapen van sir Rufane Donkin. Die keuse van drie vyfblare vir die universiteitswapen lyk of dit gemaak is om die skildhoof te balanseer.

Twee stokankers verskyn in die skildhoof van die stadswapen as breuk of merk van verskil van sir Rufane se wapen (dit is weerskante van die Indiese olifant, wat tesame met die gekantileerde skildhoof ’n eretoevoeging was tot sir Rufane se wapen). Dit wil voorkom asof stoklose ankers in die universiteitswapen gekies is aangesien moderne skepe ankers van hierdie tipe gebruik, terwyl seilskepe (soos die een wat in die stad se helmteken verskyn) gewoonlik stokankers gebruik het.

Die boek in die helmteken is ’n simbool vir geleerdheid wat dikwels in universiteitswapens voorkom, terwyl die passers heel moontlik presiesheid in die wetenskappe sou simboliseer.

Die kleure van silwer en blou verskil hemelsbreed van die rooi, goud en silwer van die stadswapen, en is moontlik ’n verwysing na Port Elizabeth se ligging langs Algoabaai.

’n Buitengewone aspek van die wapen is die byvoeging, rondom die kante en onderkant van die skild, van ’n swart band waarop die leuse geskryf is. Dit is onduidelik of dit bedoel is om ’n gedeeltelike skildsoom te wees (wat onwaarskynlik is, aangesien die invoeg van die leusebewoording op die skild deel vorm van die heraldiese tradisie van Spanje en Portugal, nie van die dele van Europa wat ten nouste met nedersettings in Suid-Afrika verbindings het nie) of ’n buitengewone variant op die tradisionele leuseband.

Die bo-ente van die swart band word met ses silwer blomme versier (drie regs, drie links). Elkeen bestaan uit vier blaartjies skuins gekruis en vyf silwer dotjies, een in die middel en die res tussen die blare. Hierdie “blomme” se voorkoms is nie juis heraldies nie.

Die leuse is van die Latynse digter Ovidius geneem en vertaal as “Onwrikbare Geloof” of “Moet nooit die Geloof prysgee nie.” Meer oppervlakkig kan dit gelees word as “Moenie ophou getrou wees nie.”

Oor die universiteit:
Die Universiteit Port Elizabeth (alombekend as UPE) is volgens wet op 31 January 1964 in die lewe geroep en het in 1965 sy eerste akademiese jaar begin. Dit is daargestel om tersiëre opvoeding in beide Engels en Afrikaans te voorsien – Suid-Afrika se eerste, en lank die enigste, dubbel- en parallel-medium universiteit. Die oprigting daarvan is sterk deur die Nasionale Party-regering gesteun, wat graag ’n teenvoeter wou vind vir die invloed van die relatief liberale Rhodes University, wat in die vroeë 1960s etlike kursusse op ’n kampus in Birdstraat, in Port Elizabeth se geskiedkundige Central Hill-gebied, aangebied het.

UPE het in die begin die Birdstraat-kampus van Rhodes oorgeneem, maar het in Januarie 1974 na ’n geheel nuwe kampus getrek. Dié is gebou op ’n 800 ha stuk duinesand in voorheen onontwikkelde bos langs die see, naby die voorstad Somerstrand en die Humewood-Gholfklub.

Die universiteit se bynaam is “Die kampus by die see”, en mariene sportsoorte – veral branderplankry en resies jaag in ligte seilkatamarane – is gewild onder studente en personeel. Uit ’n meer akademiese oogpunt, is die universiteit lank reeds ’n sentrum vir die studie van mariene biologie en die strandstrook tussen die getye, en het onlangs ’n kursus in omgewingswetenskap ingestel.

Die Birdstraat-kampus is uiteindelik in die 1990s verkoop.

Somerstrand-kampus:
Die Somerstrand-omgewing was, in die vroeë 1800s, ’n plaas met die naam Strandfontein wat ’n tyd lank aan die Voortrekkerleier Piet Retief behoort het. Retief, wie uit die Wes-Kaap afkomstig was, het vanaf 1814 tot ’17 in die distrik Uitenhage gewoon. Die sensus van 1815 wys dat hy in Algoabaai woonagtig was.

Strandfontein is nie-amptelik in 1814 aan hom verleen. Hy het tot in 1818 daarop huurgeld betaal 1818, toe Port Elizabeth-pionier Frederik Korsten begin betaal het. Strandfontein is in 1821 amptelik opgemeet en aan Retief verleen, maar toe het hy dadelik dit aan Korsten oorgedra. Retief het ook ten minste een erf, miskien meer, langs die strand besit waar die dorpie Port Elizabeth begin groei het.

Hierna het hy dikwels getrek, alhoewel hy hoofsaaklik in Grahamstad gebaseer is tot die vertrek in April 1837 van sy trek na Transorangia (vandag die Provinsie Vrystaat) en uiteindelik na Natal, waar hy 6 Februarie 1838 luidens bevele van Zulu-koning Dingane gedood is. Om ’n wapen te sien wat (alhoewel onreëlmatig) met Piet Retief geassossieer word, kliek hier.

In die laat 19de eeu het Strandfontein en naasliggende eiendomme suid van die dorp Port Elizabeth ’n kaal woestyn geword, weens die aktiwiteite van houtkappers wie se vernietiging van die inheemse fynbos ’n dramatiese vermeerdering van duinebewegings veroorsaak het. Die stadsraad het gevrees dat die dorp onder sandduine sou verdwyn, het aan Joseph Lister om hulp geroep. Hy het reeds geweldige sukses gehad in die hanteer van soortgelyke probleme op die Kaapse Vlakte (die sandgebied tussen die Kaapse Skiereiland en die Hottentots-Holland, suid van die Tygerberg). Lister se metode het die stort van vullis op die duine behels en die beplanting daarvan met ’n verskeidenheid plantegroei, met veral inbegrip van Australiese lede van die Acacia-familie, veral A saligna (Port Jackson) en A cyclops (rooikrans). Die gevolg is dat hierdie eksotiese plante, tesame met ander, gevestig is – tot waar hierdie plante vandag (in beide Oos-Kaap en Wes-Kaap) probleemplante is, en moeilik om uit te roei.

’n Gevolg hiervan is dat die natuurreservaat wat op deel van UPE se kampus gestig is, steeds eksotiese plantegroei bevat, den pogings om dit uit te roei en om inheemse plante aan te help, steeds aan die gang is.

Tale op UPE:
UPE het oorspronklik in slegs Engels en Afrikaans onderrig gegee, en het alleenlik vir blanke studente gesorg. Altwee tale is as hoof-medium behou, maar in sedert 1994 het die universiteit spesiale pogings gemaak om studente van ander rasse in te pas. Xhosa-sprekende studente kry spesiale aandag – daarom dat die universiteit se naam op hierdie bladsy ook in daardie taal weergee word.

Samesmelting:
1 Januarie 2005 is die universiteit met die Port Elizabethse Technikon geamalagmeer om die Metropolitaanse Universiteit Nelson Mandela te vorm. Reeds in middel-2004 het die universiteit die Zwide-kampus van die Universiteit Vista ingelyf. Die webwerf van die nuwe universiteit kan hier gevind word.

NMMU het ’n logo maar geen heraldiese wapen nie.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Illustrasie deur die universiteit voorsien.


    Terug na universiteite-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle