Armoria patriæ
http://www.oocities.com/haigariep

Colony of Natal

wildebees / Groot Trek / Shepstone


Colonie Natal (1907)

Wapen 16 Mei 1907 per Koninklike Oktrooi verleen ná ’n herontwerp deur York Herald (aan die College of Arms) van die kolonie se vlagwapen, wat in 1870 die eerste maal in gebruik geneem is. Die oktrooi blasoeneer die wapen (volgens my vertaling) as:

In blou, voor berge en op ’n vlakte, twee Swart Wildebeeste wat los hardloop, alles in natuurlike kleure.

Die dier se wetenskaplike naam is Connochætes gnou.

Oor die wapen:
Die wapen soos verleen bestaan slegs uit ’n skild – anders as die wapen wat in 1876 aan die Kaapkolonie verleen is, wat uit skild, helmteken en skildhouers bestaan het – maar (daarin dat dit slegs ’n skild is) volg eerder die patroon van die wapens wat aan die Kanadese provinsies Prince Edward Island, Manitoba, Saskatchewan, Alberta en British Columbia verleen is, asook dié van die Orange River Colony, wat almal uit dieselfde tydvak dateer. Uit die Kanadese provinsies wat genoem is, bly egter slegs die wapen van Prince Edward Island tot in 2002 sonder helmteken.

Koning Edward VII-seël van Kolonie Natal Staatsheraldikus F G Brownell skryf in 1993: “Dit is skaars verbasend nie dat die meer indrukwekkende kombinasie van die wapenskild, Keiserlike Staatskroon en ’n lint waarop die naam NATAL staan, wat op die Kolonie se Edward VII-seël verskyn het, meer gewild sou word as die eenvoudige skild van Natal, en dat dit tussen 1910 en 1955 in gebruik was nie. Dit is hierdie Edwardiaanse seëldevies, maar met ’n ander kroon, wat dus die huidige weergawe van Natal se provinsiale wapen geïnspireer het.

“Heraldiese ontwikkelings in die Britse Ryk en later in die Gemenebes het selde in isolasie plaasgevind en ontwikkelings in Suid-Afrika het dikwels met soortgelyke ontwikkelings in ander wêrelddele saamgeval. Sover as die toevoeging van ’n kroon as versiering van die basiese wapenskild betrokke is, is dit interessant om daarop te let dat die Kanadese provinsie Quebec Natal se voorbeeld gevolg het. Sedert 1939 het dit ook ’n kroon bo-op sy wapenskild gevoer. Dit is ook die geval in die Geheime Seël van die Luitenant-Goewerneur van die Kanadese provinsie New Brunswick.

“In die Suid-Afrikaanse konteks is die wapen van die Provinsie Natal daarin uniek dat hulle die enigste oorblywende voorbeeld is van die behoud, in ’n amptelike wapen, van ’n kroon as aandenking van Suid-Afrika se keiserlike verlede.”

Die gebruik van die wildebees as simbool van die kolonie gaan ten minste tot 1861 terug, toe dit deel gevorm het van ’n tentoonstelling in die kolonie se hoofstad, Pietermaritzburg.

Die tentoonstelling was ’n voorskou van die International Exhibition wat die daaropvolgende jaar in Brittanje gehou is. Dit het heelwat aandag getrek omdat die kolonie in die handel ’n bloeityd beleef het en daar was ’n ywerigheid om die ekonomie uit te brei.

Die Pietermaritzburgse voorskou is in Desember ’61 gehou. Brownell haal aan uit ’n verslag in die Natal Mercury van 12 Desember wat die sentrale boog beskryf (weereens my vertaling): “Die raam (van die middelboog) het ’n gesnyde skild gedra met die wildebees van Natal [the ‘Gnu’ of Natal] aan die middelpunt . . .”

“Hierdie ‘wapen’ was nie amptelik nie, maar in die een of ander formaat was die wildebees hier om te bly.” Hy gee geen aanduiding van waarom die wildebees gekies is nie, maar huide van hierdie boksoort was destyds onder die grootste uitvoere uit die kolonie.

Die volgende ontwikkeling, berig Brownell, was in Brittanje se Merchant Shipping (Colours) Act van 1864 en die Colonial Defence Act van ’65, wat “die weg gebaan het vir koloniale skepe om uitkenbare weergawes van die Rooi of Blou Vaandel te hys, ‘met die seël of wapen van die kolonie aan die wapperkant’ ”.

En: “Vir koloniale goewerneurs is dieselfde devies in die middel van die Union Jack geplaas, binne ’n krans.”

In Natal is egter geen stappe gedoen nie voordat ’n Koninklike Besluit in Augustus 1869 aangeneem is nie, waarna die Sekretaris van Staat vir die Kolonies die Wetgewende Raad van Natal versoek het om ’n paslike vlagwapen te voorsien.
1870-seël van Natal Colony

Brownell gaan voort: “Op hierdie stadium het Natal nog nie ’n koloniale Groot Seël gehad nie, en dit wil voorkom dat altwee sake tegelykertyd afgehandel is.

“In ’n koerantberig oor die Wetgewende Raad se debat oor die ontwerp van ’n devies vir Natal, het die Koloniale Sekretaris van Natal na berig word gesê: ‘. . . ek dink dat wanneer u daarna kyk, u sal voel dat dit heel paslik en aantreklik is. Dit kom uit die kantoor van die Koloniale Ingenieur [Peter Paterson], die devies bevat die wapen van Natal met die paslike wildebees (gelag) en die wapen van Engeland oor alles heen . . .’ ”

Brownell merk: “’n Mens wonder waarom daar in die Huis ’n gelag was toe die wildebees bloot genoem is. Miskien was dit ’n geval van ’n staande grap wat deel geword het van ’n geëerde tradisie. Ten spyte daarvan dat die lede blykbaar geamuseerd was, is die devies 4 Augustus 1870 deur die Wetgewende Raad goedgekeur en na die Sekretaris van Staat vir die Kolonies aangestuur.”

Wat Paterson na vore gebring het, was ’n illustrasie van ’n koloniale seël volgens ’n standaardpatroon wat in die Groot Seël van Newfoundland van 1839 die eerste maal gebruik is, ’n ontwerp wat, soos Brownell uitwys, “ideaal geskik was vir gravering, maar beslis nie vir die doel waartoe dit ook toegepas is, naamlik as die uitkennende devies op vlae”.
vlagwapen van Natal Colony

Alhoewel dit moontlik is dat die seëldevies oorspronklik in sy geheel op die Blou Vaandel geplaas is, is dit ten minste in latere weergawes aansienlik verminder: bewoording rondom die buiterand het weggeval, en is vervang deur die woord “NATAL” onder die pote van die wildebeeste, die koningswapen is met ’n kroon vervang, en die devies (met behoud van ’n raam in die Chippendale-styl) is sonder ’n wit rondeel direk op die vlag geplaas.

Brownell noem dat die Newfoundlandse seëlpatroon wyd gebruik is, veral in Britse gebiede in Noord-Amerika, maar ook in die Edward VII-seël van die Orange River Colony.

Uit al hierdie kolonies het egter slegs Natal sy seëlontwerp as vlagwapen aangepas. Brownell gaan dus so voort:

“Dit is dus nie te verbase nie dat die College of Arms nie bereid was om hierdie seëlontwerp as die wapen van die Kolonie Natal te erken nie, en dat York Herald sover gegaan het om te sê dat dit ’n voorbeeld was van ‘baie swak heraldiek’. York Herald het egter die twee wildebeeste uit die paneel gebruik, die oriëntasie verbeter van links na regs (die kyker se regs na links), as basis van die wapenskild wat verleen is . . .”

Die witstert- of swart wildebees (Connochaætes gnou) is kleiner as sy neef die blou wildebees (Connochaætes taurinus); dit staan 115 cm hoog teen die skouer, terwyl die blou soort 125 cm hoog staan. Die twee wildebees-spesies is ook taamlik naby familie van die hartebees (Alcelaphus buselaphus). Soos die hartebees, staan die wildebees hoër aan die agterkwarte as die skouers, maar dit is meer duidelik in die hartebees.

Altwee wildebees-spesies is in Suid-Afrika inheems, maar C taurinus kom ook in etlike ander Afrika-lande voor, terwyl C gnou hoofsaaklik tot hierdie land beperk is.

Die swart wildebees het ’n borseltjie lang hare aan die keel en bors en tussen die voorbene, ’n maan wat regop staan en ’n kruin regop hare in die middel van die kort neus. Die liggaamskleur is oorwegend ’n egalige diep bruin-swart. Voor die aankoms van jagters met vuurwapens, is dit dwars oor die hoogliggende plato’s gevind tussen die gebiede wat tans as Noord-Kaap/Noord-Wes en Mpumalanga bekend staan, en suidwaarts tot in die Natal-gebied, dikwels saam met kwaggas. (Die Provinsie Wes-Kaap het ’n kwagga as skildhouer in sy wapen.) Soos die meeste wildspesies is sy getalle aansienlik minder as in die verlede, en word dit hoofsaaklik op wildplase en -reservate gevind. Dit was die provinsiale dier van die Provinsie Natal

Naam van die kolonie:
Anders as in die Kaapkolonie, waar Nederlands beperkte erkenning gegee is, het daardie taal (vanaf 1843) in Natal glad geen status gehad nie. Engels was die enigste amptelike taal. (Nederlands was natuurlik die amptelike taal van die Republiek Natalia, en ’n vroeë vorm van Afrikaans die omgangstaal.) Gevolglik word die kolonie se naam hierbo slegs in Engels weergee.

Oor die kolonie:
Die Portugese ontdekkingsreisiger Vasco da Gama het die naam Terra do Natal gegee ’n streek wat hy Kersdag 1497 verbygevaar het. Dit is onseker presies waar hy daardie dag in werklikheid was nie, maar dit blyk waarskynlik te wees dat hy naby die huidige Port St Johns was. Drie dae later, 28 Desember, het Da Gama se eskader in ’n klein baai ankers gegooi en vis gevang. Hulle het die hawehoof Ponta de Pescaria (“Vissermanspunt”, waarskynlik Durban se Bluff) genoem. In later jare het het die naam egter gekoppel geraak aan die baai wat vir die Britte as Port Natal bekend geword het, waar in die 19de eeu die stad Durban gebou is.

Vanaf die 1680s het Port Natal aan beide Nederlanders en Britte bekend geraak, weens die tydelike nedersetting aldaar van matrose wat skipbreuk gely het.

Die streek wat tans as Natal bekend staan was duisende jare lank die tuiste van Boesmans. In die afgelope millennium het abeNguni die gebied binnegekom, en is hulle deur Europeërs aangetref, wat opgelet het dat hulle gewasse kweek en beeste aanhou. Die uiteindelike noodlot van die weinige oorblywende Boesmans in die voetheuwels van die Drakensberge is dat hulle deur koloniste uitgewis is, of gedwing om die berge binne te gaan. Dit was ’n reaksie op die willekeurige dood van beeste deur jagters wat geen kennis of tradisie van eienaarskap oor diere gehad het nie.

Die naam Natal is die eerste maal gebruik vir ’n gebied waar mense van Europese herkoms hulle gevestig het, toe die Groot Trek van die laat 1830s die gevolg gehad het dat groot getalle Boere in die land onderkant die Drakensberge aangekom het. Daar het hulle groot dele van die groen en aantreklike land – wat in meer vreedsame tye die tuiste was van Nguni-sprekende klans was – as gevolg van die Mfecane onbewoond gevind.

Dit is die naam wat tans gegee word aan ’n oorlogstydperk wat begin het met die aanvaarding van die mag in die land benoorde die Thukelarivier deur Shaka ka Senzangakhona (1788 gebore, koning vanaf 1816, 1828 vermoor). Hierdie gebied het hy die naam gegee van sy eie klein klan, die AmaZulu, en het dit in ’n magtige gemilitariseerde koninkryk opgebou.

As deel van sy strategie het Shaka groot dele aan die grense van sy ryk in puin gelê om sodoende sy veiligheid te verseker. Soms is die inwoners almal doodgemaak, soms is die jong mans en vrouens geneem om by sy regimente aan te sluit, en soms was dit vir die mense moontlik om te ontsnap, en om lang afstande na vriendeliker plekke te reis. Onder dié wat ontsnap het, was etlikes wat deel geword het van die Mfengu van Ciskei en Transkei. Al hierdie taktieke het verseker dat die land suid van die Thukela grotendeels leeg was.

Klein getalle Britse setlaars (selde meer as ’n paar dosyn in die eerste dekade) het vanaf 1824 op Port Natal begin aankom. In 1835 het hulle hul dorpie D’Urban vernoem (na sir Benjamin d’Urban, Goewerneur van die Kaapkolonie). Die nedersetting is Victoria genoem.

In 1834 het ’n kommissietrek (uitkenningsgeselskap) van 40 mans met 16 waens, deur Pieter Uys aangevoer, Natal besoek. Hul gunstige verslag was een van die motiverings vir die Groot Trek.

6 Junie 1837 het die Voortrekkers langs die Vetrivier in Transorangia vergader om ’n grondwet aan te neem en ’n leier te kies. Piet Retief[1] is gekies. Sy titel word òf as Goewerneur of President aangegee.

Ook in daardie jaar het kaptein Allen Francis Gardiner (Britse Vloot, afgetree), wat in 1835 op Port Natal aangekom het, teruggekeer met gesag as magistraat onder die Cape of Good Hope Punishment Act. Hy het slegs ’n verdere jaar aangebly, maar dit was die eerste aanmelding van Britse gesag in Natal.

In Oktober daardie jaar het Retief en Andries Pretorius in D’Urban besoek afgelê en in November ook by Shaka se opvolger, Dingane aangedoen. Nà ’n besoek aan die Trekkergroepe in Transorangia en ’n strooptog op Sekonyela,[2] kaptein van die Batlokwa, het hy Februarie 1838 na Dingane se hoofstat, Mgingindlovu, teruggekeer. Nadat hy die beeste gelewer het wat hy van Sekonyela teruggekry het, het hy die koning oorreed om sy merk op ’n dokument te plaas wat aan die Trekkers grondgebied suid van die Thukelarivier belowe het.

Dingane het terloops die vorige jaar sy merk op ’n soortgelyke dokument geplaas, waarin hy die grond suid van die Thukela aan koning William IV oorgegee het.

Dingane het egter, aangesien hy heksery aan die part van die Trekkers gevrees het, sy krygers beveel om die ontwapende Boeregeselskap te dood. Regimente is toe gestuur om die Trekkers dood te maak wat hulle onderkant die berge gevestig het. Swaar verliese is op Doornkop, Blaauwkrantz, Moordspruit, Rensburgspruit en ander plekke langs die Boesmansrivier gely. ’n Kolonis, ene Richard Philip (Dick) King, het gery om die Trekkers te waarsku, maar 600 is gedood. Die Boesmansrivier-distrik is daarna Weenen genoem. ’n Strooptog het ook op D’Urban plaasgevind, maar die inwoners het dit ontglip deur om aan boord te gaan op ’n skip in die baai.

In April 1838 is ’n kommando van 350 mans onder Piet Uys en Andries Potgieter te Italeni aangeval. Uys en sy 14-jarige seun Dirkie is dood, maar Potgieter het ontsnap. Britse koloniste het ook aanvalle geloods, die eerste waarvan meer as 500 Zulu-vroue en -kinders na D’Urban gebring het. Die tweede is egter amper in sy geheel uitgewis. King was onder slegs vier Engelsmanne wat dit oorleef het.

Onder die leierskap van Pretorius het die Trekkers teruggeslaan. Sy goed gewapende kommando het 7 Desember ’n eed afgelê dat hulle God sou eer in die geval van oorwinning. Die 15de het hulle laer opgeslaan langs die Ncomerivier, wat in die Mzinyathi (Buffelsrivier) invloei. Die 16de (’n Sondag), is hulle deur ’n enorme Zulu-leër aangeval, wat neerlaag gely het. Soveel Zulu-krygers het dood gelê dat die rivier rooi geloop het. Die Trekkers het dit Bloed Rivier genoem.

’n Derde Britse geselskap vanuit D’Urban is die 27ste langs die Wit Umfolozi uitgewis.

Die slag op Bloedrivier is opgevolg met ’n aanval op Mgingindlovu, waar die geraamtes van Retief en sy volgelinge gevind is, sowel as Retief se leer tas waarin die akte van sessie veilig bewaar is. Dingane het egter gevlue, en is deur sy halfbroer Mpande in die slag verneder. Dingane het na die Swazi-koninkryk gevlug, waar hy in in 1840 vermoor is.

Terwyl die Trekkerkommando vir Dingane en sy volgelinge agternagesit het, het sir George Napier vanuit die Kaapkolonie ’n klein troepemag na D’Urban gestuur. Maar die Britse Regering het hierdie stap nie goedgekeur nie, en die troepe is 24 Desember 1839 onttrek.

Die Trekkers het hulself meesters gevind van ’n aansienlike gebied, en het die Republiek Natalia verklaar, met grense wat teoreties vanaf die Mzimvuburivier (Port St Johns) tot die Mfolozi gestrek het, en tot by die Drakensberge.

Die republiek het geen wapen of vergelykbare simbool gehad nie, maar het wel ’n unieke vlag gehad wat in Januarie 1840 die eerste maal op Port Natal gehys is.

In 1840 is dit ook ooreengekom dat die Trekker-gemeenskappe op Winburg en Potchefstroom deel sou word van die Republiek Natalia. Die staat is in drie distrikte georganiseer, elk met sy eie hof van landdros en heemrade, een op Port Natal (D’Urban), een op Pietermaritzburg (die hoofstad) en een op Winburg.

Ten spyte van versoeke van die setlaars op D’Urban het Brittanje tot in 1841 geweier om Natalia te annekseer. In August daardie jaar is die Goewerneur van die Kaap egter beveel om ’n militêre besetting van Port Natal weer op te vat, omrede die beleid teenoor inheemse volkere, weens die belang in die nuwe staat wat deur vreemde magte getoon is, en omdat steenkool in Natalia ontdek is.

Vroeg in April 1842 het kaptein Thomas Smith en 200 soldate oorland uit die Kaapkolonie aangekom. Ná ’n paar skermutselings met die Boere is hulle op Port Natal vanaf 25 Mei tot 24 Junie beset. Dick King het, tesame met sy handlanger, Ndongeni, en twee perde, oornag ontsnap en binne ses dae na Grahamstad gery – vandag ’n afstand op moderne paaie van meer as 750 km, en in daardie tyd ’n afstand nater aan 960 km oor ’n uiters bergagtige landskap sonder enige paaie.

Versterkings onder bevel van kolonel Josias Cloete het het aan boord die Southampton en die Conch aangekom en op 15 Julie 1842 het die Volksraad op Pietermaritzburg formeel oorgegee. Alhoewel die Volksraad voortgegaan het om te vergader, was dit effektief magteloos en het uiteindelik uitmekaar gegaan. Die landdroste wat op Port Natal en Pietermaritzburg aangestel is, is deur Britse magistrate vervang; die heemraden is nie vervang nie.

Dit was egter nie voor 9 Augustus die daaropvolgende jaar wat die Volksraad formeel die Britse bewind aanvaar het. In Junie 1843 het kol Cloete se broer Henry as spesiale kommissaris vir die distrik Natal aangekom, en sy grens met die Zulu-koninkryk langs die Thukela- en Mzinyathirivier gevestig. Hierdie grens het by Majuba by die Drakensberge aangesluit. Hierdeur is Andries Pretorius se anneksasie van grond sover noord as die Swart Mfolozirivier laat vaar.

In Augustus ’43 het die Britse garnisoen homself op Pietermaritzburg gevestig, en het die latere Fort Napier begin oprig.

31 Mei 1844 is Natal formeel geannekseer as distrik van die Kaapkolonie. Alhoewel die Volksraad steeds vergader het, was dit effektief magteloos en het uiteindelik uiteengegaan. Die landdroste wat die Trekkers te Port Natal en Pietermaritzburg aangestel is, is met Britse magistrate vervang; die heemrade is nie vervang nie.

Baie Trekkers het nou Natal verlaat, en teen die einde van 1843 was daar nie meer as 500 Boerefamilies in Natal oor nie.

As Britse besitting was Natal nie net tot die Thukela in die noorde beperk nie, maar sy suidelike grens is op die Mzimkhulu gevestig.

September 1845 is Natal as aparte distrik van die Kaapkolonie geïnkorporeer. Aan die hoof was ’n luitenant-goewerneur wat aan die Goewerneur van die Kaap geantwoord het, en saam met hom was ’n handjievol amptenare.

In 1847, met die aanstelling van sir Henry Pottinger as Goewerneur in Kaapstad, het Natal die eerste maal ook onder ’n Hoë Kommissaris (ook Pottinger) geval.

In Julie daardie jaar het die luitenant-goewerneur die sogenaamde Kliprivier-republiek onderdruk. Hierdie was ’n Boere-nedersetting wes van die Mzinyathirivier wat glo met verlof van Mpande daar was. Die verdwyning van die republiek het beteken dat baie Boere weggetrek het, aangesien hulle geweier het om die eed van trou aan die Britse kroon af te lê.

Onder die amptenare wat in 1845 aangestel is, was Theophilus Shepstone (1817-1893), wat in die begin aangestel is as Diplomatieke Agent aan die “inboorlingstamme”. Hy is in Brittanje gebore maar is as klein seuntjie na die Kaap gebring en op ’n sendingstasie grootgemaak. Hy het vlot isiXhosa gepraat (baie soos isiZulu) en het in 1835 by die Kaapse staatsdiens as tolk aangesluit.

Hy is onder die klans van Natal as Somtseu (“magtige jagter”) bekend gestaan. Hy kon maklik mense na sy siening ompraat, en het dit reggekry om die abeNguni wat die kolonie binnegetree het, te oorreed om hulle op lokasies te vestig – grond tussen die plase wat deur wit manse gekoop is – waar hulle as arbeid beskikbaar was. Die meeste wat ingekom het, was mense wie se voorouers daar gebly het, en wat teruggekom het nadat Shaka se leërs hulle verdryf het.

Die verslag oor koloniale administrasie wat Shepstone in 1846 aan die Colonial Office in Londen voorgelê het, was die fondament waarop beleid in Natal en elders die daaropvolgende 30 jaar gebou is.

As Diplomatieke Agent het hy tot in 1853 alleen gewerk, en van toe af tot in 1874 is hy deur ’n klerk en twee Nguni-bodes bygestaan. Hy het die ordonnansie van 1849 opgetrek wat wetlike erkenning aan die Nguni-gebruiksreg verleen het, asook die wetgewing van 1852 wat die Goewerneur die opperhoof van al Natal se stamme gemaak het. In 1871 is sy dienste erken met die toekenning van Metgesel van die Orde van Sint Michiel en Sint Joris (Companion of the Order of St Michael and St George, of CMG).

In 1875 het hy Sekretaris van Naturelle-aangeleenthede geword, en het daardeur sy regterlike rol aan die Native High Court verloor. In 1876 is hy tot ridder geslaan, en het hy ’n Ridder-Kommandeur van die Orde van Sint Michiel en Sint Joris (Knight Commander of the Order of St Michael and St George of KCMG) geword. Hy het ook bedank, en het hy Spesiale Kommissaris geword. Hy is weg na die Zuid Afrikaansche Republiek, wat hy as Transvaal geannekseer het, en die daaropvolgende paar jaar geadministreer het.

Tydens die Shepstone-jare het Britse immigrasie die karakter van Natal verander. In 1849-51 het 5 000 Britse setlaars onder ’n verskeidenheid skemas aangekom, veral dié van die Ierse spekulant J C Byrne. Teen 1856 was daar 8 000 blanke mense in Natal, die meeste van hulle Britte.

Natal is 15 Julie 1856 formeel van die Kaapkolonie afgeskei deur middel van die Oktrooi vir Natal (Charter of Natal). Die Kaapse Goewerneur sou steeds Hoë Kommissaris wees (behalwe vir kort periodes rondom die Zulu-Oorlog en die Suid-Afrikaanse Oorlog), maar die Luitenant-Goewerneur sou nie direk aan hom rapporteer nie, en die kolonie sou deur ’n deels verkose Wetgewende Raad beperkte selfregering hê.

Natal het in 1866 effens gegroei met die anneksasie van deel van die Mpondo-opperhoof Faku se Niemandsland, tussen die Mzimkhulu- en Mtamvunarivier, as Alfred County (distriksetel Harding). (Die res van Niemandsland sou later deel word van die Kaapkolonie, as Griekwaland-Oos.) In 1884 het Natal dieselfde dag as Kaapkolonie vir Port St Johns geannekseer (die twee landingspartye het mekaar met ure gemis), maar het later die riviermonding aan die Kaap oorgegee. As kolonie het Natal geen verdere uitbreiding aan die suidekant gemaak nie.

11 Desember 1878 het die Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika, sir Henry Bartle Frere, gebruik gemaak van swak kommunikasies en het sy instruksies om die Zulu in vrede te laat, geïgnoreer, en ’n ultimatum teen Cetshwayo uitgereik. Die gevolg was die rampspoedige neerlaag te Isandlwana op 11 Januarie 1879. Teen die einde Maart, egter, is die Zulu-koninkryk beëindig, nadat Britse versterkings dit oorwin het.

In Junie 1879 het sir Garnet Wolseley (wat kortstondig in 1875 Luitenant-Goewerneur was) as Goewerneur van beide Natal en Transvaal teruggekeer, en is ook aangestel as Hoë Kommissaris vir Suid-oos Afrika.

Vir Wolseley se opvolger, sir George Pomeroy Colley, wie in 1880 aangestel is, is sy mandaat as Hoë Kommissaris uitgebrei om Griekwaland-Wes in te sluit. Maar teen Februarie ’81 is Colley aan die hande van Transvaalse Boere dood tydens die neerlaag van Majuba. Sy opvolger, sir Henry Bulwer (voorheen Luitenant-Goewerneur) is die volgende jaar aangestel, maar sonder ’n Hoë Kommissarisskap – hierdie gesag het na die Kaapse Goewerneur teruggekeer.

Belang wat deur vreemde magte in gebiede langs die kus benoorde Natal het daarop uitgedraai dat Brittanje op 18 Desember 1884 St Luciabaai as deel van Zululand geannekseer het. Die kolonie is in 1897 verder vergroot met die Ingwavuma- of Tongaland-gebied, wat deur Brittanje in stukke in 1888, ’90 en ’95 geannekseer is – hierdeur is Kosibaai, die laaste ongeannekseerde stuk kusland, uiteindelik ingelyf. Ingwavuma het by tye vir die Zulu-konings hulde betoon, maar is nooit in die koninkryk ingelyf nie.

Brittanje het vroeër (in 1875) probeer om die suidelike oewers van Delagoabaai te annekseer, wat in daardie tyd deur die Portugese laat vaar is nà verskeie pogings tot nedersetting. Maar arbitrasie onder Frankryk se president MacMahon het daarop uitgedraai dat die hele baai aan Portugal oorgegee is. ’n Hawedorp het hierna daar begin groei wat die stad Lourenço Marques (tans Maputo) geword het.

’n Verdere gevolg van die Zulu-oorlog van 1879 was die erkenning dat die kolonie die risiko van invalle geloop het. Maar hierdie vrese het verminder toe Zululand in 1887 as aparte kolonie geannekseer is, en in 1892 het Natal vir selfregering gestem. Die eerste verantwoordelike ministerie in Natal het in 1893 die amp aanvaar, en op 29 Desember 1897 is Zululand in Natal ingelyf.

Die abeNguni van die kolonie was in die begin sterk teen die amaZulu gekant. Hulle het hulself aan hulle klan-name geken, en is deur blanke koloniste “kaffirs”[3] genoem. Toe die Natalse Ngunitaal egter neergeskryf is, is dit Zulu genoem, en koloniste het begin om hul swart landgenote Zulus (dikwels as “Zooloos” geskryf) te noem. Na sowat ’n geslag het die koloniale abeNguni na hulself begin verwys as Zulu, en nà die gebeure wat met die Zulu-Oorlog begin het, het hulle begin om die Zulu-koning as hul opperhoof te erken.

Alhoewel die skeiding tussen die kolonies Natal en Zululand miskien sou gelyk het asof daar besuide die Thukela ’n “blanke” kolonie was, en ’n “swarte” ten noorde, het Shepstone se beleide daarvoor gesorg dat uitgebreide dele van die “blanke” kolonie deur abeNguni bewoon is, en die uitbreiding van hierdie beleide na Zululand toe dit geleidelik onder Britse invloed geval het, het daarop uitgedraai dat hierdie gebied ook gedeel is in gebiede van blanke en swart nedersetting, wat ’n lappieskombers geskep het wat gestrek het vanaf die grens van Transkei tot in die noorde. Hierdie gebiede van swart bewoning sou mettertyd die nie-onafhanklike tuislandstaat KwaZulu word.

Met die uitbraak van oorlog in 1899 is Natal deur magte van die Zuid Afrikaansche Republiek en Oranje Vrij Staat binnegeval, en het die kolonie die beleg van Ladysmith en etlike bloedige veldslae verduur voordat die dorp weer ingeneem is. Alhoewel die meeste Britse magte wat aan die oorlog deelgeneem het, van oorsee gekom het, het ook vele Natallers vrywillig vir diens aangesluit. Natalse regimente het ’n klein maar belangrike rol in die oorlog gespeel.

Nà die einde van die oorlog in 1902, het Natal vergoeding gevra en is in 1903 beloon met drie distrikte van die ZAR (of Transvaal Colony, soos dit nou geword het): Utrecht (wat in die 1840s kortstondig ’n mini-Boererepubliek was) en die twee distrikte wat gevorm is uit die Nieuwe Republiek van 1886-88: Vryheid, die republiek se hoofstad, en Paulpietersburg. Veral die Nieuwe Republiek het groot grondgebied wat van die Zulu-koninkryk geneem is, en dit het nà 1903 in blanke hande gebly.

Gedurende 1909 het Natal deelgeneem in wat die Nasionale Konvensie genoem is – besprekings tesame met die Orange River Colony, Transvaal en die Kaapkolonie (met sitting van waarnemers uit Rhodesië) met die oog op federasie of unie. Die gesprekke het uitgedraai met die passsasie van die South Africa Act (1909) deur die Britse Parlement te Westminster, wat die weg gebaan het vir die totstandkoming op 31 Mei 1910 van die Unie van Zuid Afrika. Die Kolonie Natal het nou die Provincie Natal geword.



[1] Om ’n wapen te sien wat (onreëlmatig) met Piet Retief verbind word, kyk hier.

[2] Sekonyela was vroeër deel van die Mfecane deurdat sy volk, die Batlokwa, een van twee Sotho-sprekende groepe in die Vrystaat-streek was wat, nadat hulle deur ’n Nguni-sprekende klan wat deur Shaka verjaag is, op hulle beurt verjaag is, daarna vir ander klans aangeval het. Die slagoffer-gemeenskappe het hulle vee en kos verloor, soms ook van hulle mense, en die Batlokwa het daarna verder getrek. In hierdie tydperk is hulle aan blanke mense as Mantatees bekend – ’n mislees van sy moeder se naam, Mantatisi. Mantatisi was regent vir Sekonyela, wat op hierdie tydstip ’n seun was. Dit was die geluk van die Tlokwa om die Mfecane (of Difaqane, soos dit in Sesotho bekend staan) te oorleef, alhoewel hulle sosiale struktuur in hierdie tyd aansienlik verander is en hulle bevolking deur hongersnood verminder.

[3] Hierdie woord word tans met reg as hoogs beledigend beskou. Dit is aan die Arabiese kafir ontleen, en beteken in daardie taal ’n ongelowige. Toe dit eers in die Kaapkolonie gebruik is, het dit na enige inboorling-nie-Christen verwys, en is gebruik met verwysing na Khoikhoi en Boesmans. Britse setlaars in die Oostelike Provinsie het geglo dat dit die regte naam is vir die amaXhosa (of suidelike Nguni). Baie vroeë setlaars in Natal het uit die Oostelike Provinsie gekom, en het die woord gebruik van die Nguni wat hulle in Natal gevind het.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell, en verskeie geskiedkundige bronne.

  • Skandering met vergunning van die Evening Post.


    Terug na kolonies- en republieke-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Comments, queries: Mike Oettle

  • 1