Armoria patriæ
http://www.oocities.org/haigariep

Rephaboliki ya Bophuthatswana

Republiek Bophuthatswana

Bophuthatswana

Die wapen van Bophuthatswana, wat 8 September 1972 deur die Staatsheraldikus in Pretoria geregistreer is, kan so geblasoeneer word:

Wapen: Op ’n Tswana-skild verlaag gesny van rooi en groen, ’n mynskagapparaat bo en, onder regs, drie gesade koppe mabele skuins en, onder links, ’n aansiende bulkop, skuins links, alles van goud. Die skild word gesteun deur ’n spies en ’n krygsbyl skuins gekruis en, regop, ’n tradisionele gepluimde staf.

Skildhouers: Twee klimmende aansiende luiperds, in hulle natuurlike kleure.

Leuse: Tshwaraganang lo dire pula e ne.

Wapen verduidelik:
Die skild is ’n tipiese Tswana-skild, wat heeltemal ’n ander formaat het as ander skilde wat in die heraldiek bekend is. Dit is gebaseer op ’n tradisie waar skilde nie gebruik word om in oorlogvoering die liggaam te skut nie – dit kontrasteer met die Nguni-tradisie, waar die skild (voor die hervormings van Shaka) so lank as ’n man was, en krygers het agter die skild geskuil om spiese af te weer, voordat hulle die spiese opgetel het om dit na die vyand terug te gooi.

Die Tswana-skild is klein, ongeveer 300 mm breed, en word in die stokgevegte gebruik wat tradisioneel is in beide die Sotho- en Nguni-kultuur. (Die woord Sotho dui hier nie net op die Noord- en Suid-Sotho nie, maar ook die Tswana, of Wes-Sotho.) Soos die Nguni-skild word hierdie soort tradisioneel van beesvel gemaak.

Eiendaardig genoeg verskyn ’n Tswana-skild ook in die wapen van die nie-onafhanklike tuislandstaat QwaQwa, wat ’n Suid-Sotho distrik is.

Die mynskag-apparaat is ’n element in die wapen wat veral lelik is, want sy industriële konteks is in teenstelling met die meer simboliese aard van deviese wat gewoonlik in heraldiese wapens gevind word. Dit simboliseer die staat se minerale rykdom, veral die platinummyne van die oostelike distrikte naby Rustenburg en Sun City. Dit is ’n heel moderne skagapparaat, met ’n groot proporsie betonkonstruksie; ouer skagapparate in Suid-Afrika was tradisioneel van yster- of staalstawe gebou. (Vir ’n voorbeeld van hierdie ouer soort, kyk die Groot Seël van die Transvaal Colony.)

Die graangewas is mabele (om die Sotho-Tswana-naam te gebruik). Dit staan ook bekend as graansorghum. Sy botaniese naam is Sorghum bicolor. Dit is nie in Suider-Afrika inheems nie; dit was aanvanklik in Etiopië gekweek, maar dit is een van slegs twee graangewasse wat algemeen in die subkontinent gekweek word wat hul oorsprong in Afrika het.

Die bulkop is tipies van die beeste van die Batswana. Die teelras is baie soos die Nguni-soort wat in die kusgebiede tradisioneel is, en het dieselfde oorsprong: beide die Basotho/Batswana en die abaNguni het hulle beeste en bees-kultuur van die Khoikhoi ontvang. Hulle het op hulle beurt hulle beeste en woordeskat van ’n tans uitgestorwe Nilotiese volk gekry.

Die wapens is tradisioneel onder die Sotho – die lang werpspies en die krygsbyl, altwee met metaal-lemme wat deur tradisionele smede gemaak word. Die gepluimde stok is ’n teken van koninklike gesag.

Die luiperds (Leo pardus) staan ook koninklike gesag voor: dit is tradisioneel in Suider-Afrika dat slegs konings luiperds mag jag, en slegs konings of dié wat spesiale gunste verdien mag luiperdvel dra. Die luiperds se houding – hulle kyk na die kyker – beteken dat hulle vir die nasie wagstaan.

Aansiende luiperds verskyn ook in die wapen van Ciskei, terwyl Transkei se skildhouers luiperds was wat nie die kyker aangekyk het nie.

’n Luiperdkop verskyn in die vlag van Bophuthatswana.

Die leuse, Tshwaraganang lo dire pula e ne, vertaal as: “As ons saamstaan en hard werk, sal ons geseën word.” Die woord pula beteken letterlik reën, wat in die Tswana-kultuur as ’n teken van seëning. Die tradisionele groet onder die Batswana is “Pula!” – hierdie woord is ook die nasionale leuse van die Republiek Botswana.

Oor die staat:
Die naam Bophuthatswana beteken “al die Tswana-volk” – dit is ironies, aangesien die helfte van die Tswana-volk buite Suid-Afrika gevind word, in Botswana. Ook het die staat nie binne sy gebied die vele duisende Suid-Afrikaanse Batswana in stede en dorpe, in op plase onder blanke besit, ingesluit nie. Maar in terme van die apartheidsbeleid het hulle stemreg in Bophuthatswana gehad, en het so hulle demokrasie uitgeoefen. Tog was die idee agter die skep van die staat die saamgroepering van al die Tswana-sprekers in Suid-Afrika, en dit het wel die meeste van die stamtrustlande wat aan Batswana behoort het, ingesluit.

Die stamtrustlande wat Bophuthatswana gekonstitueer het, was in drie provinsies van Suid-Afrika soos dit voor 1994 was: die tradisionele Tswana-grond is verspreid oor die verre noorde van Kaapprovinsie en die weste van die Provinsie Transvaal, oor tot in die middel van Transvaal.

’n Bietjie van ’n anomalie was die Thaba Nchu-distrik, deel van die Oranje Vrystaat totdat Bophuthatswana geskep is. Dit lê in ’n gebied wat tradisioneel die tuiste van Basotho was, en is deur Tswana-sprekers bewoon as gevolg van die Difaqane (of Mfecane, soos die abeNguni dit noem). Die mense van Thaba Nchu is Rolong en het hul oorsprong in die suide van die huidige Botswana. Hul kaptein, Moroka, het hulle weens bevolkingsdruk suidwaarts tot by die Langeberg (nou in die Provinsie Noord-Kaap) gelei.

Daar het hy opgelet dat die gebied vol raak van vlugtelinge van die Difaqane, en het besluit om in weerwil van die tendens ooswaarts te trek. Uiteindelik het hy in ’n ontruimde land ’n tuiste gevind aan die voet van ’n groen berg, wat hy Thaba ea Ntsho genoem het. Hy was gasheer vir die vroeë trekpartye van die Groot Trek en is deur die burgers van die Oranje Vrij Staat gelos om sy eie sake te hanteer. Nà sy dood het sy opvolgers gestry, en die OVS het in die distrik oorgeneem.

Bophuthatswana was ’n paar jaar lank ’n nie-onafhanklike tuislandstaat, maar het besluit om Suid-Afrika se aanbod van “onafhanklikheid” op te neem, en het 6 Desember 1977 hierdie status aanvaar.

Behalwe Thaba Nchu, was die distrikte van Bophuthatswana:

1. Uit Kaapprovinsie: Ganyesa, Thlaping-Thlaro, Taung, Ditsobotla en Molopo.

2. Uit die Provinsie Transvaal: Lehurutshe, Madikwe, Mankwe, Bafokeng, Odi en Moretele.

Die distrik Moretele het uit twee dele bestaan: ’n gebied net wes van nasionale roete N1, noord van Pretoria (Moretele 1, aangrensend aan Odi), en ’n tweede stuk grond oos van Hammanskraal wat uit die Settlers-distrik uitgesny is (Moretele 2).

Soos die ander drie “onafhanklike” tuislandstate, het Bophuthatswana 27 April 1994 opgehou om te bestaan. Die meeste van Bophuthatswana is nou deel van die Provinsie Noord-Wes, maar Thaba Nchu is aan die Vrystaat teruggegee, terwyl die sub-distrik Moretele 2 aan Mpumalanga oorhandig is.

Tale van Bophuthatswana:
Die kerntaal van Bophuthatswana was (en bly, sedert die val van die staat) Setswana. Die meeste Batswana (in aldrie provinsies) het ook Afrikaans gepraat, hoofsaaklik in hulle handeling met werkgewers, beamptes en handelaars. Skole onder die Bantoe-onderwysstelsel het weinig in die Bantu-tale onderrig gegee, en het Engels, Afrikaans of altwee verkies. Effektief het dit beteken dat die meeste Batswana-skoolkinders Afrikaans as medium van onderrig vanaf die senior primêre vlak gehad het.

Bophuthatswana het egter, kort na sy onafhanklikheid, besluit om Afrikaans uit te skakel weens daardie taal se verbintenis met apartheid, en om in plaas daarvan Engels in die skole en ook in die administrasie te gebruik.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Skandering deur Howard Lancaster.


    Terug na Bantustans-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle