Armoria patriæ
http://www.oocities.org/haigariep

Transvaal Colony

Seël van die kolonie


vlagwapen van Transvaal Colony

Die Transvaal Colony het geen heraldiese wapen gehad nie. Dit het egter twee embleme gehad wat ’n invloed op toekomstige simbole van die Provinsie Transvaal sou uitoefen. Staatsheraldikus F G Brownell gee geen datum vir die inbruikneming van die wapen wat op die Transvaalse weergawe van die Rooi en Blou Vaandels verskyn het nie, maar hy teken aan dat dit teen 1905 in die vlagboek van die Keiserlike Duitse Vloot gevind kon word.

Die vlagwapen verskyn op ’n rondeel en is in landskap-formaat. Dit toon ’n mannetjie-leeu wat in die couchant-posisie lê, dit wil sê met sy kop regop en na vore. Hy kyk na wapperkant en is op ’n grasgrond met palmbome agter sy rug en wit berge in die verte.

Groot Seël van Edward VII van die Transvaal Colony

Die vlagwapen is voorafgegaan deur die Groot Seël van Edward VII vir die Transvaal Colony. Sy formaat stem baie ooreen met dié van die Groot Seël van die Unie van Zuid Afrika (1910), en dit wil voorkom asof dit gebruik is as basis vir daardie ontwerp. In die middel is ’n skild van die Britse koningswapen,[1] met die keiserlike kroon bo-op en daaronder ’n lint met die koninklike leuse DIEU ET MON DROIT. Vier rondele verskyn langs die skild, twee weerskante. Hulle toon (bo links) ’n myn-skagtoring en ’n stoomlokomotief, (bo regs) ’n ossewa, (onder links) ’n leeu couchant en (onder regs) ’n groep byekorf-hutte.

Die skagtoring en lokomotief dui op nywerheid en modernisering (een van die hoofdoele van die oorlog teen die Boererepublieke was Britse beheer oor die oor die goudmyne van die Witwatersrand). Die lokomotief kom heel vreemd voor, want dit verskyn sonder sy koolwa. Dit is ook moeilik om die wiel-konfigurering uit te maak, maar dit is óf ’n 4-8-0, die tipe wat vanaf 1890 in Suid-Afrika vir hooflynwerk gebruik is, óf ’n 4-6-2, ’n tipe wat eers in 1904 deur die Central South African Railways (die Britse spoorweg-administrasie wat Transvaal en die Orange River Colony gedek het) in gebruik geneem is.

Die wa is van die trekwa in die wapen van die Zuid Afrikaansche Republiek geneem – maar die wa wat afgebeeld word is die half-tent soort wat deur transportryers gebruik is. Dit was ongepas vir die leefwyse van die Voortrekkers en hul voorgangers, die Trekboere, aangesien dit nie genoegsame dekking voorsien het om as tuiste op wiele te dien nie. Die half-tent-wa het nietemin die model voorsien vir die wa in die Transvaalse kwartier van die wapen van die Unie van Zuid Afrika – blykbaar omdat hierdie seël vir die College of Arms bekombaar was, terwyl die ZAR se wapen nie voor hande was nie. Dit is waarskynlik dat die halftent-wa gebruik is omdat weinige, indien enige, eksemplare van die voltent-wa te siene was, wat moontlik tot die gevolgtrekking gelei het dat sulke waens nie meer die mode was nie.

Die leeu is duidelik uit die wapen van die ZAR (dit het min in gemeen met die heraldiese leeus van die Britse koningshuis), en terwyl die vlagwapen ’n onheraldiese landskap is, blyk dit of daardie leeu van hierdie een ontleen is.

Die byekorf-hutte is tipies van die tuistes van die abeNguni – die amaZulu (wie se tradisionele hutte in hierdie styl steeds gewaar kan word), die amaXhosa (wat meer as ’n eeu gelede opgehou het op sulke hutte te bou), die Swazi (van wie veel in die oostelike dele van die kolonie gewoon het) en heel moontlik die amaNdebele van Transvaal, alhoewel hulle tans beter bekend is vir ’n ander boustyl. Hutte van hierdie tipe is minder kenmerkend van die tuistes van die Sotho- en Tswana-volkere – die meerderheid van die inheemse bevolking van die kolonie was óf Noord-Sotho óf Tswana – of van die VaVenda, wat in die verre noorde woon. Dus lyk dit of die hutte ’n simbool is vir die “naturelle-stamme” wat ongenoegsaam nagevors is.

Die buitekant van die seël het die standaard-inskrywing vir seëls van Edward VII: “EDWARDUS VIT D: G: BRITT: ET TERRARUM TRANSMAR: QUÆ IN DIT: SUNT BRIT: REX: REX F: D: IND: IMP:” plus die woorde “THE TRANSVAAL”.

Oor die kolonie:
Britse magter onder lord Roberts het 28 Mei 1900 die Vaalrivier oorgesteek en die Zuid Afrikaansche Republiek binnegekom. Die 31ste het hulle Johannesburg ingeneem. Pretoria het 5 Junie geval sonder dat ’n skoot gevuur is, en die laaste konvensionele veldslagte van die Suid-Afrikaanse Oorlog het kort daarna oos van Pretoria plaasgevind. Dit was egter by verre na nie die einde van die oorlog nie, slegs die begin van ’n nuwe fase. Nietemin is die republiek 3 Februarie 1901 as die Transvaal Colony geannekseer.

Daardie dele van Transvaal wat onder effektiewe Britse beheer was (die snelle bewegings van die kommando’s het beteken dat dit van dag na dag gewissel het) is soos ’n Britse kolonie behande, alhoewel krygswet dwarsdeur die Transvaal en Orange River kolonies effektief was (en weerskante misbruik is). Die guerrilla-fase van die oorlog het slegs tot ’n einde gekom met die tekening op 31 Mei 1902 van die Vrede van Vereeniging op Pretoria.

Die anneksasies van die twee republieke was in terme van internasionale wet ten minste bevraagbaar, en het vir die Boere-bevolking ’n twispunt gebly. Jan Christian Smuts (wat tydens die anneksasie van die OVS steeds Prokureur-Generaal was van die ZAR) sou ná die Eerste Wereldoorlog dié saak by die Volkerebond hangig maak. Daardie internasionale liggam het eensydige anneksasies van verowerde gebied onwettig verklaar en het ’n raamwerk in die internasionale gereg geskep om gebeure van hierdie aard te dek, geskep.

Sir Alfred Milner, Hoë Kommissaris vir Suid-Afrika en reeds Goewerneur van die Orange River Colony (hy het intussen as Goewerneur van Kaapkolonie bedank), is ook Goewerneur van Transvaal aangestel. Meimaand is hy as Baron Milner tot die adelstand verhef. Dieselfde maand is Administrateurs oor die Orange River- en Transvaal-kolonies aangestel, as adjunkte tot die Goewerneur.

Milner se adeltitel het in effek beteken dat die aggressor wat die oorlog aangeketen het, nou vir sy werk beloon is.

Selfregering:
In 1907 het die kolonie, tesame met die Orange River Colony, selfregering behaal. 27 November het Louis Botha van Het Volk Eerste Minister van die Transvaal Colony geword.

Onder selfregering het die kolonie weer die Nederlandse taal erken, nadat dit onder direkte Britse regering uit amptelike gebruik verwyn het, en was dit vanaf 1907 mooontlik om ook na die kolonie onder sy Nederlandse naam, Colonie Transvaal, te verwys.

Gedurende 1909 het die Transvaal Colonie deelgeneem aan wat die Nasionale Konvensie genoem is, deelgeneem – gesprekke met Natal, die Oranje Rivier Colonie en Kaapkolonie (met sitting van waarnemers uit Rhodesië) met die oog op federasie of unie. Die gesprekke het uitgedraai met die passsasie van die South Africa Act (1909) deur die Britse Parlement te Westminster, wat die weg gebaan het vir die totstandkoming op 31 Mei 1910 van die Unie van Zuid Afrika. Die Colonie Transvaal het nou die Provincie Transvaal geword.


[1] Vir meer besonderhede oor die Britse koningswapen, kyk hierdie webbladsy.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: National and Provincial Symbols of South Africa, deur F G Brownell, en verskeie geskiedkundige bronne.

  • Skandering met vergunning van die Evening Post.


    Terug na kolonies- en republieke-indeks

    Terug na Armoria patriæ-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle