Vrydag middag, 8 Desember 1995 vertrek ek en my vrou van Pretoria na Nelspuit om
by my skoonouers te gaan kuier. Dit is ‘n heerlike sonskyn dag, 28 grade
Celsius. Toe ons Witbank bereik ry ons in heerlike reën in, die temperatuur
tussen 9-11 grade C. Ek maak die motor vol brandstof by die Ultra Diensstasie en
8 km verder by die tweede afrit na Middelburg sien ek dat daar fout met die
brandstof meter is. Ons stop en ek skakel die motor se enjin af om na die
brandstof kap te kyk. Ek sien niks fout nie, maar toe ek die motor weer wil
aanskakel is daar geen krag nie.
Met my beperkte kennis van die
binnegoed van ‘n motorenjin probeer ek kyk of ek fout sien.
In die proses om die motor aan die gang te stoot reën ek boonop sopnat. Terwyl
ek stoot en sukkel, bid ek ernstig vir uitkoms. Die Streek-bevelvoerder van die
veiligheids polisie van Mpumalanga kom tot my redding en besluit om ons
Middelburg toe te sleep. Met ‘n stuk tou wat hy van bomtoerusting afsny, maak
hy ons motors aan mekaar vas.
Hy sleep ons teen 90km per uur, want hy wil ons binne 15-20 minute by die VW agente in Middelburg hê, voor sluitingstyd. Ons het niks krag in ons motor nie. Die ruitveërs werk nie, die waaier werk nie en dit reën ! Van die gestoot is my lyf lekker warm en wasem die ruit van binne heeltemaal toe, geen poging om hom skoon te vee help nie. Die wind waai die reën teen die voorruit op sodat dit die uitsig nog verder belemmer. Ek kan slegs ‘n skynsel van die Kolonel se motor se ligte sien. Steek ek my kop by die venster uit, slaan die reën in my oë. Daar is geen manier om te sien waar die Kolonel ry nie. In my lewe was ek nog nooit so benoud nie, en hoe meer ek probeer sien wat aangaan, hoe meer “panic” ek. Hoe meer ek “panic” hoe meer ontstel ek my vrou. Ek het net gewag vir ‘n ongeluk om te gebeur!!
Deur die genade van die Here het ons veilig in Middelburg aangekom.
Die sondag aand ervaar ek dat die Heilige Gees my herinner aan my ervaring en my vra om weer daaroor te dink. Hy sê: “Die oomblik toe jy nie in beheer van die voertuig was nie en nie kon sien wat voor jou in die pad aangaan nie, toe “panic” jy en wend allerhande pogings aan om weer in beheer te kom. Hoe meer pogings jy aanwend, hoe meer vererger jy die situasie. Die Kolonel het die pad geken, hy kon sien wat hy doen en het “geweet” wat hy doen. Jy moes net agteroor sit en oorgee.”
“Net so gee meeste van God se kinders aan Hom oor. Die oomblik wanneer hulle in ‘n situasie kom waar hulle voel dat hulle nie meer in beheer is nie, en die toekoms skielik donker lyk, dan “panic” ons en wend dan allerhande pogings aan om self weer in beheer van hulle lewens en die situasie te kom. Wanneer jy jou lewe oorgee aan God, dan ken Hy nie net die toekomspad nie, maar Hy beplan en bou self jou toekomspad.”
Ons sing so maklik “I surrender all” of “My alles op die altaar en wagtend op die vuur”, maar wat doen ons wanneer die vuur dan kom ?
Die volgende Woensdag oggend, 13 Desember het ek ‘n uroloog gaan sien. Sy reaksie op die ondersoek was: ”Dit moes al gister gedoen gewees het, ek sny jou of vanaand hier in Jakaranda of anders word jy môre oggend in HF Verwoerd gedoen.”
Toe ek die middag oorstap na HF Verwoerd hospitaal toe om opgeneem te word, het dieselfde benoudheid my beetgepak as toe die Kolonel ons motor gesleep het.. Ek het ervaar die Heilige Gees sê vir my: “Jaco, jy het nog nie oorgegee nie.” Iewers daardie aand het ek myself opnuut aan my Hemelse Vader oorgegee en ervaar hoe die Vrede van God van my besit neem om my hart en my sinne te bewaar.
Ek is die volgende oggend geopereer en die uitslag was positief - dit was kanker. Die 19 Desember is daar ‘n scan geneem en gevind dat daar reeds uitsaaings na die maag toe was.
Die aand nadat ek oorgegee het, het ek in my hart geweet dat die Here in beheer was van die situasie. Dit het vir my gevoel asof ek ‘n buitestaander was en dit nie besig was om met my te gebeur nie. Ek het in my hart die oortuiging gehad dat ek nie sou sterf nie, maar sou leef om te vertel van die wonderdade van God.
Ek het die 8ste Januarie 1996 met chemoterapie begin. Die spesifieke behandeling was baie aggresief. Vir 5 dae moes ek elke dag vir ongeveer 3 ure aan ‘n binneaarse voeding gekoppel wees, dan twee weke breek om net weer dieselfde vir ‘n week deur te gaan.
Die 22ste Januarie die aand, ‘n week na die eerste behandeling, het feitlik al my hare met een slag uitgeval. Goedbedoelde trooswoorde soos “Ag toe maar man, dit sal weer groei het maar min beteken. Ek moes self vrede maak met die gesig in die spieël.
Na die derde reeks is daar weer ‘n scan geneem en gevind dat ek skoon was, maar ek moes die vierde behandeling deurgaan om die reeks te voltooi. Hiervoor het ek nie kans gesien nie. Om met die wete dat ek reeds gesond was, te gaan sit en vol gif gepomp te word, was nie maklik nie, maar ek is daar ook deur. Prys God ek was genees !!
Die tyd van die chemoterapie was baie erg. Daar was tye wat ek niks anders kon uitkry as net: “Here U is my hoop !” Ek dank God vir elke persoon wat vir my gebid en gevas en bid het.
God is getrou en waarlik deur Sy
wonde het daar vir ons genesing gekom. Al moes ek deur chemo terapie gaan weet
ek dat die bron van my genesing God is en dat Hy die medici as instrumente in Sy
hand gebruik het.