Armoria civica
http://uk.oocities.com/muurkroon

OUDTSHOORN
Provinsie/staat: Wes-Kaap; voorheen Kaapprovinsie/Kaapkolonie.
Afdeling: Oudtshoorn.
Toevoegings: –
Ingelyf: 2000, in Plaaslike Munisipaliteit Oudtshoorn.

Vere en volstruise / Swart Prins

Oudtshoorn

Wapen Februarie 1961 in gebruik neem (toe ’n vroeëre weergawe verbeter is). Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: In silwer, twee hoekige dwarsbalke van swart, op ’n skildhoof van goud ’n muurkroon van rooi.

Helmteken: ’n Vlug van silwer wat deur ’n ring van rooi omsingel word.

Wrong en dekkleed: Silwer en rooi.

Skildhouers en grond: Weerskante ’n griffioen van rooi; elkeen hou langs die skild ’n volstruispluimveer van silwer, staande op ’n grond wat die veld van die Klein Karoo voorstel.

Leuse: Malo mori quam fœdari.

Oor die wapen:
Die basiese wapen van twee hoekige dwarsbalke is dié van die Van Reede van Oudtshoorn-familie, van wie die dorp sy naam ontleen (kyk onder).

Baron Pieter van Oudtshoorn was lid van ’n familie (die Van Reedes of Van Rheedes) wat hul naam geneem het van ’n dorp wat tans in Duitsland val: Rhede of Rethen in Nordrhein-Westfalen. Dit het nietemin in Nederland magtig geword, en Oudtshoorn is een van twee dorpe in Suid-Afrika wat die hoekige dwarsbalke van Rhede in hul wapens opgeneem het; die ander is Paarl, aan die voet van die Klein Drakensteinberge, wat vernoem is na Hendrik Adriaan van Reede tot Drakestein, Heer van Mijdrecht.

Die Nederlandse dorp Oudshoorn (tans deel van Alphen aan den Rijn, in die provinsie Zuid Holland), setel van die baron se heerlikheid, het egter heeltemal ’n ander wapen gevoer: In rooi, drie horings van goud. (Let daarop dat dit anders gespel word.)

Die skildhoof lyk effens onreëlmatig, aangesien dit goud (of geel, wat in die heraldiek as metaal getel word) met silwer (of wit). Hierdeur word die muurkroon ingevoeg; dit dui op die dorp se munisipale status.

In die illustrasie word ’n donkerige rooi gebruik, maar dit lyk na ’n drukkersfout, eerder as die doelbewuste gebruik van moerbeikleur of bloedkleur (donkerrooi kleure wat soms in die heraldiek opduik).

Die vlug (paar vlerke) in die helmteken kom uit die helmteken van Baron Van Oudtshoorn, maar word binne ’n ring geplaas.

Etlike lede van die familie Van Rheede het griffioene as skildhouers gevoer, en hulle kan in die monument aan Baron Van Oudtshoorn aan die buitemuur van die Groote Kerk in Kaapstad gesien word, asook in die wapen van Paarl.

Die mitiese griffioen het die lyf en stert van ’n leeu, maar die kop, vlerke en kloue van ’n arend en regopstaande ore.

Die grond is geel gekleur, en stel blykbaar die dorre plantegroei van die Klein Karoo voor.

Die pluime is onnatuurlik groot as ’n mens die grootte van beide skild en griffioene in ag, maar sedert die Middeleeue het die heraldiek volstruispluime in hierdie orde van grootte getoon. Dit is in die Middeleeue aan Europeërs bekend want dit was (in klein hoeveelheede, teen geweldige onkoste) van bronne in Noord-Afrika en Arabië bekombaar.

Die leuse vertaal as: “Ek verkies om te sterf eerder as om onteer te word.”

Die verbreking van die kleurreël van die heraldiek laat dit onwaarskynlik lyk dat die wapen geregistreer is.
Oudtshoorn (ou wapen)

Dit is meer as ’n jaar voor die aanvaarding van die Heraldiekwet en twee jaar voor die inwerkingtreding daarvan, en alhoewel die College of Arms op hierdie stadium (drie maande voordat Suid-Afrika ’n republiek geword het) steeds tegnies gesag gehad het oor Suid-Afrikaanse wapens, is dit in die lig van die Stadsraad se republikeinse gevoelens onwaarskynlik dat enige poging gemaak is om uit Londen ’n verlening te verkry.

Dit kan gesien word in die illustrasie hierbo van die ou wapen dat die muurkroon vroeër bo die skild geplaas is, dat die griffioene van kleur verander het en dat die vere bygevoeg is, maar die leuse is onveranderd.

Vere en volstruise:
Die pluime dui op die belangrikheid van die volstruisveerbedryf vir Oudtshoorn, veral in die laat 19de eeu en die eerste dekade van die 20ste.

Die pluimvere is wit, en kom dus duidelik van ’n mannetjie van die spesie Struthio camelus.

Die mannetjies het glansende swart lyfvere, maar wit vere op die vlerke en stert. Wyfies het grys lyfvere, en hulle vlerkpluime en stertvere het swart strepies. Die suiwer wit van die mannetjiespluime maak hulle die gesogste vere, wat die hoogste pryse uitlok. Dit het nie slegs ’n treffende voorkoms in hulle natuurlike voorkoms nie, maar vat ook maklik kleurstof.

In die verlede is volstruise in die Klein Karoo wild gevind – asook in die Groot Karoo en verder noord. Daar is drie wilde rasse van hierdie voëls – een word in Arabië aangetref (waar dit feitlik uitgejag is), en ook in Noord-Afrika, een in Oos-Afrika en een in Suider-Afrika. Hulle word hoofsaaklik onderskei aan verskille in die kleur van die ongeveerde vel van die dye.
die Swart Prins se ‘‘skild vir vrede’’

Sedert die Klassieke tyd kom die vere van wilde voëls, hoofsaaklik in Noord-Afrika en Arabië. Soos hierbo genoem, is hulle in Europa bekend, en is dikwels in Middeleeuse wapens gesien. Die beroemdste is miskien die wapen wat op toernooie gevoer is deur Edward, Prins van Wallis (*1330 †1376). Hy is weens die swart oorkleed wat hy gedra het, as die Swart Prins bekend gestaan het. Die oorkleed (en die meegaande skild) is met drie silwer volstruispluime belaai. (Kyk hier vir sy regte wapen.)

Hierdie wapen, wat Edward sy “skild vir vrede” genoem is, is deur sy moeder, Philippa van Henegouwen, van ’n Duitse voorsaat geërf, maar die drie vere (sowel as die meegaande leuse, Ich Dien) is sedertdien met die Prinsdom Wallis geassosieer.

Dit is van wilde voëls wat vere in die Kaapkolonie aanvanklik verkry is. Die kolonie het in 1826 548 kg vere uitgevoer met ’n waarde van van £2 805.

Maar vanaf ongeveer 1862 is wilde voëls mak gemaak, en kommersiële boerdery met makgemaakte voëls het omstreeks 1867 begin. Oudtshoorn het terloops in 1963 die eeufees van die volstruisbedryf gevier.

Oudtshoorn is uniek geplaas om voordeel uit hierdie handel te trek, weens sy warm, droë klimaat tesame met die bekombaarheid van besproeiingswater. Dit is gevind dat die voëls lusern goed benut het; in Suid-Afrika verg hierdie gewas gewoonlik besproeiing.

Die nadraai van die makmaking van die voëls was ’n finansiële bloeityd, veral in Oudtshoorn maar ook in ander distrikte.

Teen 1882 het boere ongeveer 100 000 voëls aangehou, teen 1904 sowat 358 370 en teen 1914 omstreeks 750 000.

Vanaf 1880 het die aanvraag vir vere heelwat gewissel. Daar was vanaf 1885 ’n drie-jaar-lange afval, en dan mindere verswakkings in 1896 en 1905.

Pryse en getalle van voëls het in 1913 ’n hooggety bereik, toe ongeveer 450 000 kg vere uitgevoer is, wat vir ongeveer £3 miljoen verhandel is. Gedurende die dekade 1903-13 het Suid-Afrika vere uitgevoer ter waarde van £19 miljoen.

Ná goud, wol en diamante was volstruisvere die land se belangrikste uitvoer.

In hierdie tydperk het Oudtshoornse boere elk gemiddeld 600 voëls op besproeide lusernlande aangehou, met ’n inkomste van £5 tot £6 per voël elke jaar. Produksie-onkoste was laag, en min arbeid was nodig.

Pryse van voëls het gestyg: bewese teelpare het teen £500 verkoop; soms is £1 000 geweier. Grondpryse het tot £500 en £1 000 per morg (bietjie minder as ’n hektaar) gestyg.

Voëls is voor die voet of per aanbod verkoop, en plukke is soms ses of agt maande vooruit verkoop. Die vere is gesorteer en openbaar opgeveil, baie daarvan in Port Elizabeth se Veremarksaal.

Feitlike alle vere wat in die kolonie opgebring is, is na Londen uitgevoer. Die meeste is in Brittanje en op die Europese Vasteland verbruik, maar groot hoeveelhede is ook na New York heruitvoer. Die aanvraag was veral vir vlerkpluime.

Modeveranderings, wat hoofsaaklik deur die gewildheid van die motorkar veroorsaak is, het vroeg 1914 na ’n val in die aanvraag gelei wat feitlik permanent gemaak is deur die uitbraak van oorlog aan die einde van die jaar.

Oudtshoorn het ’n depressie beleef waaruit dit eers dekades later uitgekom het. Die enigste bloei was in bankrotskappe. Baie “volstruisveerbaronne” wat groot en swierige huise laat bou het, is gedwing om die huise te verkoop of net te laat staan. Voëls is in groot getalle vrygemaak. Sommige is deur onbetaalde plaasarbeiders afgeslag.

Pogings in die 1920s om die bedryf weer op dreef te bring, het nie werklik sukses behaal nie. Een hiervan was ’n ekspedisie na die destydse kolonie Noord-Nigerië om wilde volstruise met beter vere te vang. Kruisteling tussen die Nigeriese voëls en inheemse bloedlyne het egter vere van topformaat voortgebring.

Volstruisvelle is na Europa gestuur om gelooi te word. Daardeur is ’n aanvraag aangekweek vir volstruisleerprodukte van hoë gehalte.

Teen 1940 was feitlik alle mak volstruise ter wêreld op Oudtshoorn, maar getalle het sedert die depressietyd tot ongeveer 6 000 aangewas. Die aanvraag vir vere het stadigweg oor die tweede helfte van die 20ste eeu aangegroei, en die gebruik van huide en vleis het ook gegroei.

’n Volstruisslagpaal is in die 1960s in Oudtshoorn opgestel, en in 1970 ’n leerlooiery wat dit onnodig gemaak het om ongelooide huide uit te voer.

In die 1980s is groot getalle lewendige volstruise uitgevoer, hoofsaaklik onwettig, en daar was in die suidweste van die Verenigde State ’n kortstondige bloeityd in volstruisboerdery. Boerdery met volstruise het ook in ander dele van Suid-Afrika winsgewend geword. Maar Oudtshoorn bly die wêreldsentrum van die volstruisbedryf.

Oor die dorp:
In 1847 het die eienaars van die plaas Hartebeestrivier hul eiendom laat opmeet en in 500 besproeiingserwe langs die Grobbelaarsrivier laat onderverdeel. Hierdie rivier loop noord-suid deur die dorp; dit ontstaan in die omgewing van die Cango-Grotte, en voer die Olifantsrivier, wat oos-wes by die dorp se suideinde verbyloop.

In 1853 is ’n gemeente van die Nederduitsche Gereformeerde Kerk op die dorp gestig.

26 August 1863 is die dorp Oudtshoorn geproklameer. Dit het die naam gedra van baron Pieter van Rheede van Oudtshoorn, wie in Januarie 1773 ter see oorlede is toe hy op pad was om aan die Kaap as Goewerneur oor te neem.

Twee van sy seuns was reeds burgers aan die Kaap, aangesien hulle hom vergesel het toe hy vroeër in Kaapstad ’n amptenaar was (hy was op die ou end Secunde). Die baron se weduwee, Sophia, het dan ook vir haar aan die Kaap gevestig. Die dorp is deur die Civil Commissioner (Siviele Kommisaris) op George, Egbertus Bergh, ter ere van sy vrou Geesje, ’n kleindogter van die baron, vernoem.

Die dorp het in 1887 munisipale status behaal.

Dit is die opvoedkundige sentrum van die Klein Karoo, en speel ook gasheer vir ’n groot militêre basis met ’n uitgebreide veldopleidingsgebied.

Dit is bekend vir sy “volstruisveerpaleise”, wat gedurende die volstruisveerbloeityd gebou is. Een, Pinehurst, is in 1966 as nasionale monument geproklameer.

Die Afrikaanse joernalis, politikus, storieverteller en digter C J Langenhoven het in Oudtshoorn gewoon. Sy huis, Arbeidsgenot, is ’n museum wat aan die skrywer gewy is.

Die plaaslike landboukoöperatief, die Klein Karoo-Landboukoöperasie, het etlike dekades lank ’n monopolie oor die handel in volstruise gehad.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: Geskiedkundige notas uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa en ander bronne.

  • Wapen (hoofillustrasie) met vergunning van International Civic Arms. Ou wapen van Oudtshoorn (Kaap) vanaf ’n sigaretkaart wat in die 1930s deur die United Tobacco Companies (South) uitgereik is.


    Terug na indeks van munisipaliteite voor 2000

    Terug na Armoria civica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle