Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Twee Engelse Apostels

deur Mike Oettle

Willibrord / Bonifatius

TWEE datums in Junie word aan martelaars uit Afrika gewy – 3 Junie aan die Martelaars van Oeganda (1886), en 18 Junie aan Bernard Mizeki, van Mashonaland (1896). Maar terwyl hierdie manne en vroue wat in ons vasteland weens hulle geloof dood is, is daar nog ’n naam op die almanak (en ’n tweede wat nie in die Anglikaanse almanak genoem word nie) op wie ek lig wil werp.

Bernard en sommige van die Oegandese martelaars was bekeerlinge van daardie groot 19de-eeuse golf Britse sendingwerk wat aan ons so bekend is. Wat vandag minder bekend is, is die groep sendelinge wat aan die einde van die Donker Tyd uit die Britse Eilande gekom het en die evangelie eers vanuit Keltiese Brittanje na heidense Engeland geneem het, en later daarvandaan na Nederland en Duitsland.

Die een wie se naam op die almanak is, is Bonifatius (5 Junie), maar ek begin met die een wat voor hom gekom het, naamlik Willibrord[1] (ongeveer 658 nC gebore – sy heiligedag is 7 November).

(Beide Wil­li­brord en Boni­fatius is veel verskuldig aan die vroeëre sendingwerk van die Keltiese heiliges, onder wie Columba van Iona een was. Columba se dag is 9 Junie.)

Willibrord het uit ’n godsdienstige familie gekom; hy was die seun van ’n kluisenaar, Sint Wilgis, en as jeugdige is hy gestuur om in die klooster te Ripon, in Yorkshire, te bly, onder die ab Sint Wilfrid van York. In 677 is Wilfrid afgesit en in ballingskap weggestuur. Willibrord het ook in ballingskap weggegan, en het in Ierland ’n dissipel geword van Sint Egbert.

In 688 is hy as priester ingeseën en in 690 het Egbert vir hom en 11 metgeselle gestuur om die heidense Friese te kersten, nadat hulle onlangs deur die Karolingiese heerser Pepyn die Jonge verower is. Willibrord het vir hierdie werk ’n pouslike kommissie verkry, en in 695 het hy weer Rome toe gereis om as aartsbiskop van die Friese (op Utrecht gebaseer) ingeseën te word. By hierdie geleentheid het die pous, Sint Sergius, vir hom Clementius genoem (alhoewel hierdie naam nie gebly het nie). In 698 het Willibrord die klooster van Echternach, tans in Luxemburg, gestig, en het begin met sending na Denemarke en na die Friesiese eilande Heligoland[2] (’n belangrike heidense sentrum) en Walcheren.[3] ’n Heidense opstand het veel van sy werk ongedaan gemaak, en dit is weer in 719 begin.

In hierdie jaar het daar by Willibrord ’n Benediktynse priester aangesluit, ’n edelman uit Wessex met die naam Wyn­­frid of Wynfrith (omstreeks 675 Devon gebore en onder Sint Aldhelm opgevoed), wat reeds gepoog het om onder die Friese sendingwerk te doen. Die vorige jaar is Wynfrid deur pous Gregorius II beveel om die evangelie na die heidense Duitsers oos van die Ryn te dra. Gregorius het ook sy naam na Bonifatius[4] verander, en hierdie naam het gebly.

In 722 het Bonifatius in die huidige Hessen die eerste van vele Benedikynse kloosters gestig. Sy sukses as sendeling het veroorsaak dat hy na Rome geroep is, waar Gregorius hom as sendingbiskop ingeseën het, en ook vir hom aanbevelingsbriewe gegee het aan leidende figure, onder andere Charles Mar­tel, meester van die Frankiese koninkryk.

Heidense agting vir Martel se naam het blykbaar vir Bonfatius gehelp in die dra­matiese vernietiging van die heilige eik van die god Thor te Geismar, naby die huidige universiteitsdorp Göttingen, in Nedersakse. Soos Elia toe hy vir die Baäl aangedurf het, het Bonifatius vir Thor uitgetart om hom neer te slaan indien hy wel ’n god was, maar natuurlik het Thor versuim om in te tree, en die wind het dit neergestort, en dit in vier dele laat val. Bonifatius het die hout van die eikeboom gebruik om ’n kerk te bou wat aan Sint Petrus toegewy is. Dit was gou vol van dié wat die boom sien val het.

Bonifatius het die jare 725 tot 735 in Thuringe[5] deurgebring. Daar het hy heidene gekersten en die lukrake werk van vroeëre Ierse sendelinge gekonsolideer. Vele Engelse Benediktyne het by hom aangesluit, vroue sowel as mans, wat hom gehelp het om nog vier kloosters te stig. In 735 het pous Gregorius III vir Bonifatius na Beiere gestuur, waar hy drie bisdomme (later vier) geskep het, asook nog drie in middel-Duitsland. Boni­fatius se gesag oor hierdie biskoppe is bevestig toe hy in 751 tot aartsbiskop van Mainz verhef is en primaat van Duitsland.

In die ouderdom van 75 het Bonifatius afgetree en op ’n laaste sendingstog na Friesland gegaan. Hy het op Pinksterdag (5 Junie) 754 sy einde bereik toe ’n groep heidense Friese hom gedood het terwyl hy besig was om die Skrif aan ’n groep bekeerlinge voor te lees. Op sy versoek is hy begrawe by die beroemde klooster van Fulda, wat hy gestig het.

Willibrord, wat onthou word as die Apostel aan die Friese en beskermheilige van Nederland, en Bonifatius, Apostel aan die Duitsers, het saam ’n sterk Engelse kultuurinvloed in die ryk van die Karolingiërs en hul opvolgers, die Duitse konings, gevestig – die toekomstige Heilige Romeinse Ryk – en het daar sendingpogings gekonsolideer deur om die gesag van Rome te vestig. Dit kan gesê word dat hulle die fondament gelê het vir die heiligheid van die Ryk.



[1] In Nederland word sy naam soms totaal onlogies na Willibrordus verlatyns. Sy Latynse naam was anders, soos dit verder duidelik word.

[2] In die Boeg van Helgoland, tans deel van die Duitse Land Nedersakse. Dit lê sowat 65 km noordwes van Cuxhaven, en ongeveer dieselfde afstand wes van die Sleeswykse kus.

Die eiland was, rapporteer geolo1oë, in die verlede heelwat groter. Selfs so laat as 800 nC het dit saam met die huidige eiland Düne ’n groter eiland gevorm van sowat 190 km in omtrek. Tans is sy oppervlak bloot 154 ha.

In die 19de eeu was dit in Britse besit, maar is in 1890 vir Sansibar omruil. Die Duitse Ryk het daar hewige fortifikasies opgerig wat in 1922 afgetakel is, maar die nazi-bewind het dit weer opgebou.

Nà die Tweede Wêreldoorlog is dit, onder Britse besetting, as teiken gebruik deur die Royal Air Force (Britse Lugmag). Die burgvesting is met plofstowwe verwyder, wat die vorm van die eiland heelwat verander het.

[3] Hierdie eiland was die grootste van die Zeelandse eilande in die monding van die Schelderivier. In die 1960s, egter, is dit saam met omliggende eilande in ’n skiereiland omskep wat tans die Westerschelde van die Oosterschelde skei.

[4] In Engels het dit Boniface geword.

[5] Hierdie gebied was omstreeks 500 nC ’n stamkoninkryk. Onder die Karolingiërs is dit verbrokkel, en daardie verbrokkeling is eers in 1920 beëndig toe die eermalige Saksiese hertogdomme in die stamgebied gekonsolideer is as die Land Thüringen.

Die Land is in 1952 onder die DDR in Bezirke (distrikte) onderverdeel, maar in 1991 het Thüringen weer ’n Bundesland van die herenigde Duitsland geword.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Juniemaand 1989 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertaal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges en Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle