“ANTIDISESTABLISHMENTARIANISM” is een van die langste woorde in die Engelse
taal. Dit word gebruik om die konserwatiewe reaksie te beskryf teen die gedagte
dat die Kerk van Engeland nie meer die koninkryk se Staatskerk moet wees nie.
Dit behou die dooie hand van sekulêre en politieke beheer oor deel ’n van Gods
familie.
In die
19de eeu was dit heelwat sterker, en Robert Gray, Kaapstad se eerste
Anglikaanse biskop, het ’n uitgerekte stryd daarteen gevoer.
Hy het, kortweg gestel “geglo dat die Kerk op die aarde ’n geestelike stad is, deur geestelike gesag verplig om die Geloof wat aan die heiliges oorgedra is, te leer”.[1] Maar baie kolonialiste was geheg aan “the Church of England by law established”[2] (soos hulle dit verkeerdelik verstaan het), en twee belangrike twiste met “hierdie bemoeisieke biskop” – hy is daarvan beskuldig dat hy homself “Pous van Kaapstad” wou maak, met Bishop’s Court as sy Vatikaan – is na die siviele howe geneem.
Die eerste het in 1857 ontstaan toe Grey sy eerste algemene sinode
byeengeroep het, en lekeverteenwoordigers uit die parogieë ontbied het. Sulke
sinodes was in die Engelse gebruik vreemd, en vyf parogieë het geweier. Gray
het die saak so laat staan. Maar in 1861, toe hy weer lekeverteenwoordigers
ontbied het, het die rektor van die Sint Petruskerk in Mowbray,[3] eerwaarde W Long, vir Gray daarvan beskuldig dat hy probeer om “van die Engelse Kerk af te stig”. Hy het op aanklag van ongehoorsaamheid voor die biskop en vyf
geestelikes verskyn, maar toe hy drie maande lank opgeskort is, het hy
voortgegaan om eredienste te hou, en is van sy predikantsamp onthef. Long het
dadelik vir Gray in die Hooggeregshof gedagvaar, en is oor die algemeen deur
die publiek gesteun. Mense het vir Long aangesien “as martelaar voor die Biskop
se dwepery”.[4] Gray het homself “met meesterlike bekwaamheid en met lange argumente” verdedig.[5] Elf maande nadat die saak eers hof toe is, het die Hoofregter ten gunste van die biskop beveel. Long het aan die Geheime Raad[6] geappelleer.
Intussen was dinge besig om in Natal skeef te loop, waar John William Colenso biskop was. Colenso is ’n persoon wat groot liefde en groot haat getrek het, en ek sal ’n aparte artikel oor hom moet skryf. Wat hier ter sake is, is die storm wat hy in 1862 losgemaak het met die publikasie van sy boek Commentary on the Epistle to the Romans[7]
en sy daaropvolgende titel, The Pentateuch Critically Examined.[8] Colenso was ’n pionier van moderne bybelse kundigheid, en word hy huidiglik as sulks erken, al het hy in sy boeke opmerkings gemaak wat amper gereken is om mense te ontstel. (Rekeninge was vir hom ’n spesialiteit: hy het ook wiskundige teksboeke geskryf.)
Maar in sy tyd was sy boeke rewolusionêr, en Gray het gevoel dat Colenso se opmerkings oor Romeine genoegsaam onortodoks was om sy verhoor vir kettery te regverdig. Gray was nie alleen nie: 25 Engelse biskoppe het in February ’63 verklaar dat hulle nie vir Colenso sou toelaat om in hulle bisdomme op te tree nie.
In sy afwesigheid is Colenso 17 November 1863 in Kaapstad se Sint
Joris-katedraal verhoor. Die Biskop van Natal was in Engeland, en is deur dr
Wilhelm Bleek verteenwoordig. Die hof van drie biskoppe en die dekaan van
Kaapstad het gevind dat Colenso ’n ketter is, en om van enige kerklike aanstelling in die Provinsie van Kaapstad ontsê. Soos Long het Colenso hom aan die Geheime Raad gewend.
Intussen
het Gray in Meimaand daardie jaar gehoor dat die Geheime Raad die Kaapse
Hooggeregshof se bevinding in die Long-saak ingetrek het. Die biskop is volgens
die wet verplig om vir Long die verdienste van sy vorige aanstelling te betaal.
In Augustus het hy verder gegaan as wat van hom verwag is, en hom weer as
rektor van St Peter’s aangestel.
Selfs meer verpletterend was die daaropvolgende bevinding van die Geheime Raad, in Maart 1865. Die besluit het gegaan oor ’n saak van oktrooibriewe. Toe Gray se oorspronklike oktrooibriewe as Biskop van Kaapstad in 1847 uitgereik is, het die Kaap geen verteenwoordigende regering gehad nie. Maar toe hy in 1853 hierdie dokument afgesê het en vars dokumente verkry het wat hom biskop gemaak het van ’n kleiner bisdom maar ook as metropolitaan van Suid-Afrika, het die Kaapse Parlement intussen tot stand gekom. Die Geheime Raad het gevind dat die Kroon geen gesag gehad het om in ’53 vir die Kaapkolonie uit te vaardig nie. Die gevolg was dat Gray geen regsgesag oor Colenso gehad het nie.
Baie manne sou dit as ’n terugslag ingesien het. Nie Robert Gray nie, wat nou gevoel het dat hy vry is van die beperkings wat die siviele gereg die Kerk aan bande gehad het. Die Kerk van die Provinsie van Suid-Afrika,[9] wat in 1870 sy eerste provinsiale sinode gehou het, is as vrywillige kerk gekonstitueer, nie as uitvloeisel van die Staat nie, en so het dit gebly.
[1] Aangehaal (volgens my vertaling) uit Robert Gray, deur Audrey Brooke (Oxford University Press).
[2] Die Kerk van Engeland soos deur die wet opgerig (die Engelse bewoording is ’n aanhaling uit die Book of Common Prayer).
[3] In die Kaapse Skiereiland. Die dorpie Mowbray was later in Rondebosch ingelyf, is daarna ’n aparte dorp gemaak, en is in 1913 in Kaapstad ingelyf.
[4] Ook my vertaling uit Robert Gray, deur Audrey Brooke (OUP).
[5] Ook my vertaling uit Robert Gray, deur Audrey Brooke (OUP).
[6] Die Privy Council in
Engeland.
[7] Kommentaar op die Brief aan
die Romeine.
[8] Die Pentateug Krities van Nader Beskou.
[9] Ek noem hierdie
kerkprovinsie in Afrikaans. Daar moet egter op gelet word dat Afrikaans in die
19de eeu en ’n groot deel van die 20ste eeu in die Anglikaanse kerk ’n minimale
rol gespeel het.
Die Afrikaanse taal is eers
in 1925 deur die Unie-Parlement amptelik erken, en is eers formeel opgeneem as
’n taal van die kerkprovinsie toe dit in die 1980s sy naam verander het na die
Kerk van die Provinsie van Suider-Afrika.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks
Opmerkings, navrae: Mike Oettle