deur Mike Oettle
KERKVENSTERS
toon gewoonlik vir Martinus van Tours, soos hy bekend geword het, as ’n
Romeinse soldaat met ’n halwe mantel – hy het die mantel in twee gesny, en die
ander helfte vir ’n bedelaar gegee. En aangesien Martinus, nadat hy sy mantel
gesny het, ’n visioen gehad het van Jesus Christus, wat hom vertel het dat sy
geskenk aan Hom was, verskyn die Here ook in sommige vensters.
Maar dit is ver van alles wat daar van
Martinus te vertel is, en dis seker die maklikste om by die begin aan te vang.
Sy naam vertel ons dat hy aan Mars, die Romeinse oorlogsgod, toegewy is, en hy
was uit ’n heidense militêre familie: sy vader was ’n offisier in die Romeinse
leër, en toe Martinus gebore is, het hy op Sabaria in die provinsie Pannonia[1] gedien. Martinus het op Ticinum, in Cisalpynse Gallië,[2] grootgeword, en is in die ouderdom van 10 na die Christelike geloof aangetrokke. Hy het hom as katkisant[3] laat inskryf. Hy is blykbaar in die ouderdeom van 15 vir die leër opgerope,
soos wat die norm was met die seuns van veterane, en het hy in die kavallerie
van die Keiserlike Wag gedien.
Die keerpunt in sy lewe het een yskoue
wintersnag gekom toe hy die stad Samarobriva in Belgica[4] binnegery het en ’n naakte bedelaar gesien waar hy staan en bewe. Impulsief het
Martinus sy sneeuwit kavalleriemantel afgehaal en dit met sy swaard in die
helfte gesny, en die bedelaar met die een helfte toegedraai.
Die nag daarop het hy van die gebeurtenis
gedroom, maar in sy droom het hy homself in die Hemel gevind, en die bedelaar
was toe Jesus, geklee sleg in Martinus se happerige halwe mantel en besig om
die engele te vertel: “Martinus, steeds ’n katkisant, het vir my met hierdie
mantel gedek.” Nie lank hierna nie is Martinus gedoop.
Sy houding teenoor die soldatelewe het
verander. Die gewilde kavalleris het begin voel dat militêre diens nie met die
Christelike Geloof gerym het nie, en wou homself laat uitkoop. Kort nadat hy
bevorder is, het hy op die vooraand van ’n veldtog om vrystelling aansoek
gedoen. Die aansoek is geweier omrede hy as ’n lafaard beskou is. “Ek is
Christus se soldaat,” het hy geantwoord. “Ek mag nie veg nie.” Hy het
voorgestel dat hy in die slag in die voorste ry sou staan, met slegs ’n kruis
gewapen. Martinus is in die tronk gegooi, maar is gou vrygelaat.
Martinus, wat nou omtrent 20 jaar oud was,
het geen duidelike idee gehad van sy toekoms nie, maar toe ontmoet hy Sint
Hilarius, biskop van Limonum,[5] in Aquitania, en die twee het vas bevriend geraak. Hilarius (hy staan ook bekend as Hilaire van Poitiers) het in hom potensiaal gesien, en het vir hom teologie geleer, en hom ingeseën.
Martin het nou ’n begeerte gehad om sy
vreugde in Christus met sy ouers te deel, en het by hulle in Pannonia
(Hongarye) gaan aansluit, waar hy sendeling geword het, en het hy later na
Illyricum[6] verskuif. Die Ariese ketterleer het egter in die Ryk sy buite-provinsies al hoe sterker geword, en die Ariërs het vir Martinus uitgedryf.
(Arius van Alexandrië [250-336 nC] het
geleer dat Jesus van Nasaret ’n skepsel was, en nie in werklikheid goddelik
nie. Sy teenstaanders het gesê dat dit van Christus ’n halfgod gemaak het, wat
beteken het dat God nie Een kon wees nie, en het in plaas daarvan geleer dat
Vader en Seun van een essensie was, ’n leerstelling wat later ontwikkel het as
die leer van die Drieëenheid.)
Martinus het die pad gevat Limonum toe om
sy vriend Hilarius te besoek, maar toe hy hoor dat ook Hilarius deur die Ariërs
afgesit is, het hy op Mediolanum (Milaan) gebly – totdat die Ariërs hom ook uit
daardie stad verwyder het. Hy het hom na die kloosterlewe gewend op ’n eiland
in die Golf van Genova (Genua), en het tot in 350 daar gebly, toe Hilarius as
biskop van Limonum herstel is.
Daar is heelwat meer oor Martinus te
vertel, maar dit is te veel vir ’n enkel sitting: ’n tweede artikel volg. Maar
ons kan reeds sien hoekom hy bekend staan as die beskermheilige van pasifiste.
In die tweede artikel sien ons hoe hy veral vereer is as biskop.
[1] Tans Szombathely, in Hongarye.
[2] Tans Pavia, in die
Italaanse streek Lombardye, sowat 35 km suid van Mediolanum (Milaan), wat
destyds, soos tans, die tweede stad in Italië was.
[3] Een wat in die Geloof
onderrig ontvang.
[4] Tans Amiens, in die Franse
streek Picardië.
[5] Tans Poitiers, in die
streek van wes-Frankryk wat steeds Aquitanië genoem word.
[6] Tans Kroasië,
Bosnia-Hercegowina, Montenegro en noord-Albanië.
For English, click here
Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks