Heiliges en Jaargetye
http://www.oocities.org/saintsnseasons

Engele en aartsengele

en al die leërskare van die hemel

deur Mike Oettle

DIE fees van Sint Michiel en al die Engele (29 September) – of Michaelmas, soos dit in Engels heet – is blykbaar een van daardie vergete feeste waarvan die meeste Suid-Afrikaners niks weet nie,[1] maar in Engeland is dit ’n belangrike keerpunt in die jaar. Miskien is dit dié dat dit selde as uitwyser van die lente vasgepen is nie, terwyl dit in Engeland die begin is van herfs. Skole het ’n Michael­mas-kwartaal, kwartaallikse hure word teen Michaelmas ingesamel, en die Michaelmas-gans is ’n tradisionele versnapering.

Streng gesproke is dit nie ’n heilige se dag nie: dis in werklikheid ’n engeledag. Dit verskyn op die almanak van die nuwe Anglikaanse Gebedeboek as ’n a feesdag, nie ’n herdenkingsdag nie (die meeste van die mense waarvan jy hier sal lees val in die tweede kategorie), en dit verskyn as St Michiel en Alle Engele. Blykbaar het dit op die almanak ingeglip omdat dit die beskermheiligefees was van ’n aantal kerke – daar is beslis geen datum wat ’n mens in die lewe van ’n hemelse wese kan vaspen nie.

Oor presies hoeveel aartsengele daar is, is daar geen ooreenkoms nie, maar Michiel (“Wie is soos God”) is duidelik die hoof onder hulle, en verskyn hy in die Ou Testament (Daniel), die Nuwe Testament (Judas, Openbaring) en selfs in Islamitiese geskrif, en in die Middeleeue is hy aangesien as die helper van Christelike leërs teen die heidene. Rabbiniese tekste praat van hom as God se vise-regent, die hemelse hoëpriester, die behoeder van die sleutels tot die hemel, of die beskermer van Israel. In Christelike kuns word hy getoon of met ’n swaard, besig om die draak wat die Satan voorstel, te dood (hierdie beeld is ook op Sint Joris oorgedra), of met ’n weegskaal, besig om die siele van die dooies te weeg.

Die aartsengel Gabriel (“man van God”) het sy eie feesdag, 24 Maart, en ’n mens vind hom in die Ou Testament (Daniel), die Nuwe Testa­ment (Lukas) en die Qur’an. In 1951 het pous Pius XII hom verklaar as beskermheilige van almal wat in elektroniese kommunikasie betrokke is (radio, tele­visie, telefoon, telegraaaf), wat sy funksie as boodskapper illustreer.

Ook met ’n feesdag van sy eie is die aartsengel Rafael (24 Oct­o­ber 24), wie se naam “God genees” beteken, en wie ook ’n beskermheilige is van reisigers. (Sint Christoforus het ook hierdie funksie, maar oor hierdie legendariese figuur sal ek op ’n ander geleentheid skryf.) Rafael, die beskermer van menslike geeste, word in die Apokriewe boeke in die Boek van Tobit gevind, asook in die Eerste Boek van Enoch (wat nie in die amptelike Apokriewe verskyn nie).

Die vierde aartsengel is Uriel (leier van die hemelse leërskare en behoeder van Sjeol [die onder­wêreld]), wat nie in die geskrifte van rabbiniese Judaïsme gevind word nie, maar wat dikwels aangetref word in ander Joodse werke wat nà die afsluit van die Ou Testament geskryf is, as die heerser van die noorde, die engel van vuur, aardbewings en donder, en ook as simbool van die warmte van die dag in die wintermaande.

Die vier aartsengels word ook gekoppel aan die vier troonwagte of serafim wat genoem word as die hoogstes onder die Ou Testamentiese engels, terwyl ander aartsengels soms ook genoem word, wat die getal bybring tot by sewe of 12. I Enoch noem sewe, waarvan die ander Raguel (wraakengel teen die planete), Sariel (wraakengel teen sondigende geeste), en Remiel of Jeremiel (behoeder van die siele in Sjeol).

Engele speel ’n buitengewoon belangrike rol in die apokaliptiese geskrifte, waarvan slegs twee in die Bybel gevind word (Daniel en Openbaring) en een in die Apokriewe (II Esdras), maar wat van groot belang was vir die vroeë Kerk omdat hulle grootliks die agtergrond waaruit die leerstellings van Johannes die Doper en Jesus gespruit het.

Ook in die eerste rank engele ingesluit, wat ook “trone” genoem word, is die cherubim of troondraers. Behalwe dié wat tot dusver genoem is, noem die Ou Testament nog ’n soort, die ofannim of “wiele”, terwyl die Kerk later ander erken het uit verwysings in Paulus se briewe: heerskappye, owerhede en magte. Dit word van die engelekoor, of die hemelse leërskare, gesê dat dit ontelbaar is.

Die Michielsfees was tydens die Middeleeue heel belangrik, en was dit in daardie tyd dikwels die geleentheid vir ’n jaarmark. ’n Michielsfees-handskoen – een van reuseformaat, twee meter lank, uit leer gemaak en met katoen of houtstukkies gestop – sou opgehang word om die aanvang daarvan aan te kondig. Die mark self sou koopmanne van groot afstande trek om handel te dryf in allerhande goedere op ’n plein of gebou wat in Engeland vir die geleentheid Pie Powder Court genoem sou word. Hierdie term, afgelei van die Franse pied poudre (stowwerige voete), het na die lang paaie wat te voet afgelê is, en was dit ’n geregshof vir die reisigers, deur hulle gereël.

In die Middeleeue was feeste regtig feesmale, en die Michielsgans – wat heel gebraai is en wat na die gebraai met sy eie vere versier is, sodat dit lewendig gelyk het – was ’n belangrike deel van hierdie een. Die plaaslike heer het self die voël seremonieus en in ’n prosessie tafel toe gebring, op ’n skinkbord wat met herfsvrugte en -blomme versier is. Dié wat nie gans gehad het nie, sou ’n gebraaide hoender hê wat met grys gansvere versier is, of ’n plaasvervanger wat uit pasteideeg en marsepein gemaak is. Maar almal moes daaraan proe, want: “Eet ’n gans op die Michielsfees en jy sal ’n hele jaar lank nie aan geld kortskiet nie.”[2] In Ierland, as jy ’n ring in jou Michielsgans gevind het, het dit op ’n vroeë troue gedui.

Die laaste belangrike deel van die Michielsfees was gemmer, wat gebruik is om geur te gee aan bier en wyn (daarvandaan vandag se gemmerbier, ensovoorts), vis en lekkernye.

Maar waarom vier ons die Michielsfees? Ek haal aan (en vertaal): “Die fundamentele boodskap staan steeds om ons te herinner aan die eeue-oue stryd tussen die goeie en die kwade, en om ons te vra aan watter kant staan ons.”[3]



[1] Ek het selde meer aandag aan die woord Michaelmas gegee as aan daardie asters wat in Engels Michaelmas daisies genoem word – in Afrikaans word dit herfsasters, wilde-asters of sterblomme genoem.

[2] In Engels: “Eat a goose on Michaelmas and you will not want for money for a year.”

[3] Uit Some Christian Festivals, deur Elfrieda Vipont (Michael Joseph).


Die engel Gabriel word ook hier genoem.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Hierdie artikel is Septembermaand 1989 in Western Light, maandblad van die parogie van Alle Heiliges, Kabegapark, Port Elizabeth, gepubliseer, en is deur die skrywer vertal.

  • Terug na indeks van heiliges

    Terug na indeks van jaargetye

    Terug na chronologiese indeks

    Terug na Heiliges & Jaargetye-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle