Armoria familia
http://www.oocities.org/skildsoom

Die Pringles van die valleie

deur Mike Oettle

wapens / Thomas Pringle / Alan Pringle / Eric Pringle / Edward Pringle / Mankazana / Lyndoch

DIE naam Pringle is in Suid-Afrika beroemd, sedert dit deur die nedersettingskema van 1820, wat op die Albany-distrik gesentreer was, hier aangeplant is.

wapen van Alan Pringle

En al het een van die bekendste van Suid-Afrika se Pringles na Brittanje teruggekeer het omdat goewerneur lord Charles Somerset sy lewe ontmoontlik gemaak het, het andere van daardie naam gebly, en op verskeie stadiums van Suid-Afrika se geskiedenis hul verskeie rolle uitgespeel.

Die naam Pringle kom van ’n pleknaam in Roxburghshire,[1] Hopringle[2] naby Stow,[3] ’n landgoed wat reeds sedert die 11de eeu aan die hoof van die familie behoort het.

Die eerste Pringle wat in die Kaapkolonie aangekom het, het die 1820-Setlaars voorafgegaan. Genaamd John, het hy van Selkirk[4] gekom en is hy in 1815 op Rondebosch oorlede. Hy het in 1794 in die Kaap aangekom en het as agent aan die Kaap gedien van die Honourable East India Company.[5]

Nog ’n vroeë Pringle aan die Kaap was ’n vlootoffisier, skout-admiraal Thomas Pringle, wat vanaf 1795 bevelvoerder was van die Royal Navy se Kaapse stasie, wat in Simonstad gesetel was.[6] ’n Klein baaitjie aan die anderkant van Valsbaai is na hom Pringlebaai[7] vernoem.

Die 1820-Setlaar Pringles het onder die nominale leierskap gekom van Robert Pringle (*1753 †1838), van die plaas Easterstead, wat ook as Blakelaw[8] bekend gestaan het, en wat in Teviotdale geleë is. Hy het saam met sy familie in 1820 aan boord van die Brilliant in Algoabaai aangekom (Port Elizabeth is later dieselfde jaar daar gestig). (Easterstead is in die hande gelaat van Robert se oudste seun William, wat in 1822 hom in Suid-Afrika gevestig het.)

Die familielede van die Pringle-geselskap het bestaan uit Robert,[9] 60, sy tweede vrou, gebore Beatrix Scott, 40, Robert en Beatrix se kinders William Dods Pringle, 10, Catherine Haitlie Pringle, 9, en Beatrice Scott Pringle, 4; asook twee volwasse seuns (kinders van Robert se eerste vrou, Catherine Heatlie), John, 30, en Thomas, 29. [10] Saam met Thomas was sy vrou Margaret, 32, en haar suster Janet Brown, 35.

Ook in die geselskap was ’n mev Mrs Rennie, 40, en haar kinders George, 23, John, 22, Peter, 20, en Elizabeth, 15; C B J Sydserff, 21; Ezra Ridgard, 29, sy vrou Elizabeth, 24, en hul kinders Andrew, 2, en Mary Anne, 1; Eliza Syker, 30; William Elliott, 27 (wat uit die geselskap afgedank is); Alex Mortimer, 23; James Eckron, 20; en James Souness, 19.

Die werklike leier van die geselskap was Thomas (*1789 †1834), wat bekend geword het as digter en joernalis, terwyl die Suid-Afrikaanse tak van die familie afgestam is van Thomas se broers William, John (*1791 †1864) en William Dods.

Die geselskap het 15 Februarie 1820 uit Gravesend gevaar en het 30 April in Simonsbaai aangekom. Slegs Robert is toegelaat om in Simonstad aan wal te gaan. Die geselskap het aanvanklik 16 Mei in Algoabaai geland, maar die lede is vertel dat hulle uit hulle beurt geland is. Hulle is terug na die Brilliant en het uiteindelik die 25ste geland. Die setlaars het op die strand gekampeer in die omgewing van die huidige Griffinstraat (die onder-ent van Russellweg) in die hartjie van Port Elizabeth.

Waarnemende goewerneur sir Rufane Donkin het 6 Junie uit Graham’s Town aangekom en die Skotse immigrante gevra of hulle eerder vir hulle in Albany (rondom Grahamstad) wou vestig, of langs die Baviaansrivier,[11] naby wat die dorp Somerset-Oos sou word, in die sub-distrik Cradock. ’n Geselskap 500 Skotse Hooglanders sou ook na die Baviaans gaan (maar het in werklikheid nie aangekom nie), en die Pringle-geselskap het die berge verkies.

 

wapen van die hoofde van Klan Pringle

Pringle-wapen:

’n Heel interessante aspek van die Suid-Afrikaans Pringle-familie lê in die soortgelyke wapens wat deur drie lede van die klan gematrikuleer is.

Skotse heraldiese reg laat ten minste twee praktyke toe wat onder Engelse reg nie mag gebeur nie: die verkry van ’n wapenverlening aan ’n afgestorwe voorouer, en daarna die matrikulering (’n vorm van registrasie) van gebreekte[12] wapens deur verskeie afstammelinge van daardie voorouer.

In Engeland mag verlenings gewoonlik slegs aan lewende persone gemaak word, en terwyl die Engelse heroute by tye erkennning sal verleen aan ’n bestaande wapen wat nie voorheen verleen is nie, is die betrokke gelde dieselfde. Verlenings van soortgelyke wapens word slegs gemaak aan families wat bloedverwantskap kan bewys, gewoonlik met ’n vroeëre wapenvoerder.

Matrikulering in Edinburg is egter ’n heelwat goedkoper proses as ’n verlening.

Die Pringles is ’n familie uit die Skotse Laaglande, nie oorspronklik deel van die klan-sisteem nie; dit het onder die Gaëliessprekende Skotte[13] (afstammelinge van Ierse veroweraars) van Argyll ontstaan. Maar as onderdane van die Skotse koning is hulle in die klan-sisteem ingelyf, waaronder manne vir oorlog gerekruteer is volgens die huis en klanhoof waaraan hulle behoort het, en is dit amper duisend jaar lank reeds so. Aangesien Roxburghshire oorspronklik Brits was, moes daar nietemin sterk familiebande gewees het tussen manne van dieselfde afstamming.

Die hoofde van klan Pringle het hierdie wapen gevoer: in blou, drie mantelskulpe van goud.

Toe Eric Pringle, uit die distrik Adelaide, en sy neefs uit Bedford, Alan en Edward, by die Wapenkoning Lyon aansoek gedoen het om ’n wapenverlening aan Robert Pringle, kon wel ’n verwantskap met die klanhoof en sy familie bewys, maar deur jonger seuns. Die Wapenkoning Lyon het ’n wapen verleen waarin die mantelskulpe na vyf vermeerder is, en het hy hulle op ’n swart saltier, of skuinskruis, geplaas, en ’n skildsoom bygevoeg.

Pama gee nie Robert se wapen nie, maar aangesien dit die basis vorm van die wapen wat deur die drie neefs gematrikuleer is, kan dit afgelei word dat die voorvaderlike wapen so geblasoeneer word:

 

In silwer, op ’n ingeskulpte swart skuinskruis vyf goue mantelskulpe; ’n skildsoom gedeel, regs ingeskulp en geblok van swart en goud, links van goud.

 

wapen van Eric Pringle

Die term ingeskulp beteken dat die skuinskruis en die skildsoom se regterkant albei halfmaanvormige snitte langs hul gehele lengte het. (Die linkerkant van die skildsoom was blykbaar reguit, want dit bly reguit in twee van die gematrikuleerde wapens.) Die skildsoom word op die regterkant in segmente van goud en swart gebreek, maar op die linkerkant is dit geheel goud.

Die mantelskulp wat in aldrie die wapens voorkom (dit kom selfs in aldrie helmtekens voor) is ’n enkele skulp van die tweekleppige molluske van die familie Pectinidæ. Wanneer dit in die natuur aangetref word, staan dit ook bekend as waaierskulpe of kamskulpe, en as simbool is hulle veral bekend as die embleem van die oliemaatskappy Shell.

Alhoewel Pectinidæ wêreldwye verspreiding geniet, is die skulpe in Middeleeuse Europa veral met pelgrimstogte geassossieer, en spesifiek met die pelgrimstog na die oord van Sint Jakobus die Grote (ook bekend as St James of Santiago) te Compostela langs die Atlantiese kus van Galicia in Spanje. Sulke skulpe word in groot getalle langs die strand op Compostela gevind, en is dit tradisioneel op pelgrims se kleding of hoede vasgewerk as teken van die pelgrimstog.

Die voorkoms van ’n mantelskulp in ’n wapen van Middeleeuse herkoms is ’n teken dat ten minste een voorouer deelgeneem het aan die pelgrimstog na Compostela. Mantelskulpe word ook in die wapens van Klan Graham en van die dorp Grahamstad (wat deur kolonel John Graham gestig is) aangetref.

Op grond van die voorouerlike verlening, is wapens toe aan die drie neefs gematrikuleer.

 

Alan Alexander Welsh Pringle, van Eildon, in die Baviaansriviervallei, distrik Bedford, van William Pringle afgestam, het dit gevoer:

 

Wapen: In silwer, op ’n ingeskulpte swart skuinskruis vyf goue mantelskulpe; ’n gedeelde skildsoom, regs ingeskulp en geblok van goud en swart, links van goud; ’n blou baresteel van drie punte, elke punt van twee goue pylkoppe belaai; oor alles heen’n goue vryhoek belaai met ’n sesarmige golwende blou ster.

Helmteken: ’n Mantelskulp links skuins gedeel van goud en silwer, belaai met ’n sesarmige golwende blou ster.

Leuse: Amicitia reddidit honores.

 

Eric Pringle, van Glen Thorn in die Mankazanavallei, distrik Adelaide, van John Pringle afgestam, het dit gevoer:

 

Wapen: In silwer, op ’n ingeskulpte swart skuinskruis vyf goue mantelskulpe; ’n gedeelde skildsoom, regs ingeskulp en geblok van goud en swart, links ingeskulp van goud.

Helmteken: ’n Mantelskulp links skuins gedeel van goud en silwer.

Leuse: Amicitia reddidit honores.

 

wapen van Edward Pringle

Edward Joseph Townsend Pringle, van Lyndoch in die Baviaansriviervallei, distrik Bedford, van William Dods Pringle afgestam, het dit gevoer:

 

Wapen: In silwer, op ’n ingeskulpte swart skuinskruis vyf goue mantelskulpe; ’n gedeelde skildsoom, regs ingeskulp en geblok van goud en swart, links van rooi.

Helmteken: ’n Man se hart in sy natuurlike kleure, gevleuel en belaai met ’n goue mantelskulp.

Leuse: Amicitia reddidit honores.

 

’n estoile

’n Vreemde uitlating in die blasoen vir Edward is enige benoeming van die tweede leuse, Sursum, wat hier bokant die helmteken verskyn, met die hoofleuse, Amicitia reddidit honores[14] onderkant die skild. Hierdie leuse verskyn ook in die wapens van beide Eric en Alan, wat dit op die tradisionele Skotse manier dit bo die helmteken voer.

’n pheon

Die leuse Sursum, wat saam met ’n hart verskyn, is ’n duidelike verwysing na die Sursum corda, die tradisionele instruksie tydens die nagmaal “verhef u harte”, waarop die antwoord dan van die gemeente kom: “Ons verhef hul tot die Here.”

Die ster of estoile in die wapen van Alan Pringle is ’n tradisionele Engelse vorm van die heraldiese ster – dit verskyn hier in sy gewone vorm met ses golwende arms. Dit is die Skotse heraldiek nie onbekend nie, alhoewel die vyfpuntige mullet (met reguit arms) die meer algemene soort ster is wat in Skotse wapens voorkom.

Wat ook in Alan Pringle se wapen gevind word is ses pylpunte, of in Engels pheons (slegs vyf van hulle is sigbaar, want die sesde is agter die vryhoek weggesteek). Die pheon is ’n variasie op die gewone pylpunt (in Engels broad-arrow) waarin die binnerande van die twee punte ingeskulp is.

Matrikulering bly geldig vir die persoon wat die wapen matrikuleer en vir sy oudste (oorlewende) seun; jongere seuns en verdere afstammelinge word verplig om hul eie wapens te matrikuleer, selfs al sou die oudste seun van die oudste seun op sy beurt blykbaar dieselfde wapen as sy oupa sou matrikuleer.[15]

Aangesien die familie reeds oor die 180 jaar in Suid-Afrika woonagtig is, is lede daarvan egter ook daarop geregtig om met die Buro vir Heraldiek te laat registreer (self al bly sommige familielede miskien tans in die buiteland).

Dus kan die afstammelinge van Alan, Eric en Edward – en dan ook ander nageslag van Robert Pringle – òf in Edinburg ’n wapen matrikuleer òf dit in Pretoria registreer.

Om die wapens van die drie neefs te sien soos dit in Pringles of the Valleys geïllustreer word, kliek hier, hier en hier.

 

Thomas Pringle:

Thomas, wat op Blakelaw gebore is, is in die ouderdom van enkele maande lewenslank verlam weens ’n ontwrigte heupbeen wat nie gerapporteer is nie. (Sou sy aia die besering gemeld het, en dit dadelik behandel sou word, kon dit destyds tog genees word.) Hy het drie jaar op die gimnasium (of grammar school) op Kelso deurgebring, en nog drie jaar op die universiteit te Edinburg. Hy het toe ’n klerk geword aan die Edinburgse Register Office. Hy het ook met skryfwerk sy inkomste gesupplementeer. Maar in 1819 het finansiële probleme sy familie laat toestem tot emigrasie na die Kaap.

Saam met sy pa, sy stiefma, sy jonger broer John en hul stiefma se drie kindertjies het Thomas per ossewa vanaf Algoabaai tot by die militêre pos Roodewal, langs die Groot Visrivier gereis; hulle het 21 Junie 1820 daar aangekom. Na twee dae het hulle in vars waens vertrek, en het die 25ste by die poort van die Baviaansriviervallei aangekom.

Die veldkornet wat hulle vergesel het, het die vallei aan hulle uitgewys en gesê: “En nou, mijnheer, daar leg uwe veld.”

’n Lid van die geselskap het geantwoord: “Sae that’s the lot o’ our inheritance, then? Aweel, now that we’ve really got till’t, I maun say the place looks no sae mickle amiss, and may suit our purpose no that ill, provided thae haughs turn out to be gude deep land for the pleugh, and we can but contrive to find a decent road out o’ this queer hieland glen into the lowlands – like any other Christian country.” (“So dit is dan ons erfenis? Nouja, aangesien ons werklik hier aangekom het, moet ek sê die plek lyk nie te sleg nie, en dat dit goed vir ons doele aangewend kan word, mits die grond diep genoeg is vir die ploeg, en ons ’n goeie pad kan vind uit hierdie vreemde kloof na die laaglande – soos in enige ander Christenland.”)

Die landskap het soos wel ’n kloof of glen in die Skotse Hooglande gelyk. Die Baviaans, wat suidweswaarts uit die berge vloei na ’n punt sowat 15 km noord-oos van die huidige spoorwegaansluiting Cookhouse en daar by die Groot Vis aansluit, ontstaan in die Winterbergreeks. Die Pringles het sy nou valleitjie Teviotdale vernoem, na die rivier in hul tuisdistrik. Die naam Glen Lynden is egter ook vir die vallei gebruik.

Die piek wat die naaste aan die rivier lê, wat tans Pringle’s Kop genoem word, staan 1 857 m hoog, en nog ’n piek naby is 1 925 m bo seevlak, maar skaars 20 km verder oos is ’n piek van nie minder nie as 2 369 m. Die rivier loop langs die westekant van die Baviaansrivierberge, ’n uitloper van die Winterberg, waarvan die suidelikste piek, Langkop, 1 555 m, slegs 9 km vanaf die dorp Bedford lê, sowat 600 m bo seevlak. Die vloer van die vallei, sover op as Upper Clifton, is minder as 1 200 m hoog, terwyl Pringle’s Kop bloot 3 km noord lê.

Robert het hom op Clifton gevestig, ’n goeie entjie in die Baviaansvallei (Teviotdale) op, en ander familielede het later verdere grondverlenings in dieselfde vallei ontvang.

In Oktober 1821 het Thomas hom op Eildon, ook langs die Baviaans gevestig. Hierdie plaas is in die naam van sy oudste broer William verleen. Juliemaand die jaar daarop het William aangekom en Eildon oorgeneem, en teen April 1825 het hy die eerste substansiële geboue op die eiendom opgerig.

William se aankoms is gevolg deur Thomas se vertrek na Kaapstad. Hy het onder-bibliotekaris geword van die nuwe South African Public Library in Kaapstad, en in 1824 het hy Some account of the present state of the English settlers in Albany gepubliseer. Om sy karige inkomste aan die biblioteek aan te help, het Thomas besluit om ’n skool oop te maak en ’n tydskrif te stig, en om hom in hierdie werk te help het hy hom op ’n ou vriend uit Edinburg, John Fairbairn, beroep.

Dr Abraham Faure het sy samewerking belowe vir ’n literêre tydskrif in Nederlands en Engels, maar hierdie onderneming is deur die Goewerneur, lord Charles Somerset, teengestaan.

Fairbairn het in Oktober 1823 aangekom en in Desember het die Classical and Commercial Academy sy deure oopgemaak.

Toestemming is onverwags uit Londen verkry vir die stig van ’n tydskrif, en 5 Maart 1824 het die South African Journal verskyn, onder redaksie van Pringle en Fairbairn. Dit het digkuns bevan (waaronder Pringle se Afar in the desert) en ’n verskeidenheid prosa, en buite amptelike sirkels is dit goed ontvang.[16]

In Januarie van dieselfde jaar het ’n drukker genaamd George Greig die eerste onafhanklike koerant aan die Kaap gepubliseer, die South African Commercial Advertiser, en Greig het Pringle en Fairbairn versoek om vir hom die redaksie te behartig. In Meimaand is publikasie egter opgeskort en is Greig se pers gekonfiskeer.

Die tweede uitgawe van die koerant het on 6 Mei verskyn. Die Fiskaal het vir Pringle ontbied en hom gewaarsku dat “publikasie stopgesit moet word indien artikels wat vir die Regering aantsootlik is, weer sou verskyn”. Hy het spesifiek verwys na Pringle se “The present state and prospects of the English emigrants in South Africa”.[17]

Die redakteurs het geweier om sensuur te aanvaar, en het die Journal opgeskort. “’n Stormagtige onderhoud met die Goewerneur het daarop gevolg. Pringle het sy bibliotekarisskap bedank en, aangesien die Academy weens die Regering se onguns gekwyn het, en ’n poging om ’n letterkundige vereniging te stig ook onderdruk is, het hy na Glen Lynden teruggekeer. Die Journal het nie herleef nie, en hy het hom na die Britse Regering om finansiële vergoeding gewend.”

Thomas het in April 1826 finaal die kolonie verlaat, nadat hy die meeste van sy tyd langs die oosgrens deurgebring het.

Met sy aankoms in Brittanje het hy sekretaris geword van die Anti-Slavery Society en sy skryfwerk voorgesit. Gepubliseerde werke sluit in Ephemerides (1828), Glen Lynden (1828) en African sketches (1834), wat sy Narrative of a residence in South Africa bevat het, asook die gedigte wat hy aan die Kaap geskryf het. Sommige van hierdie stukke is in latere jare heruitgegee. Hy was ook redakteur van die jaarblad Friendship’s Offering.

’n Gesondheidsverswakking in 1834 het gelei na ’n besluit om na die Kaap terug te keer, maar nadat hy gereël het dat hy in Desember per skip sou vaar, is hy voor sy vertrekdatum in Londen oorlede. Hy het geen nageslag agter gelaat nie.

SESA berig: “In 1970, op die herdenkdag van sy afsterwe, is sy stoflike oorskot, wat vanuit Engeland in ’n doodskis van lood gebring is, deur sy nageslag (sic) in ’n klein kerkie op ’n familieplaas, Eildon, naby Bedford, KP, herbegrawe. Die oorspronklike grafsteen het die doodskis vergesel.”[18]

Robinson lewer hierdie opsomming: “Terwyl Pringle nie ’n vooraanstaande digter was nie, is sy posisie in die Suid-Afrikaanse letterkunde belangrik omdat . . . hy homself met die lewe aan die Kaap vereenselwig het op ’n manier wat geen ander digter van sy tyd dit gedoen het nie, en kon hy Kaapse woorde heel natuurlik gebruik. In ander opsigte toon sy verse die invloed van sy grotere tydgenote – Wordsworth, Byron en Scott. Sosiale en politiese onreg, die inboorlingvolkere, die Britse Setlaars, en die natuur as agtergrond vir die mens was sy onderwerpe. Sy prosa is vars en hoogs leesbaar. ’n Herlewing van belang in sy werk word getuig deur ’n herdruk in 1966 van die Narrative of a residence in South Africa . . . terwyl Poems illustrative of South Africa deur Pringle en sy African sketches . . . in 1970 verskyn het.

“Daarby het die English Academy of Southern Africa ’n jaarlikse Thomas Pringle-toekenning vir kreatiewe skryfwerk ingestel . . . en Rhodes University het die Thomas Pringle-versameling gestig van manuskripte uit die Suid-Afrikaanse Engelse letterkunde.”

 

Mankazana:

Eric Pringle het etlike boeke oor sy familie geskryf. Die mees uitgebreid is Pringles of the Valleys, wat in samewerking met sy neefs Mark Pringle[19] en dr John A Pringle[20] geskryf is. Die tweede waaruit ek geput het, getiteld Mankazana, het sy naam van die rivier en vallei waar die afstammelinge van John Pringle sedert 1824 geboer het.

Terwyl Pringles of the Valleys aansienlike detail het oor die Skotse voorvaders van die 1820-Setlaar-Pringles, en oor die Setlaar-geselskap self, het dit ongelukkig weinige inligting oor die Pringles van Eildon, die senior Suid-Afrikaanse tak van die familie. Dit is ’n puik genealogiese bron, met portrette van verskeie lede van hierdie tak, sowel as besonderhede van geboorte, huwelik en sterftes oor etlike geslagte, maar het oor Eildon niks verder te vertel nie.

Daar is ietwat meer oor die Pringles van Glen Thorn, miskien weens die inligting wat aan die skrywers beskikbaar was. Kyk hieronder vir ’n uittreksel aangaande William Dods Pringle, van Lyndoch.

Eric skryf (my vertaling): “Robert het ’n gedeelte van die leenplaas Clifton geboer, en het later aansoek gedoen om bykomstige grond, en dit verkry.”

Hy haal aan uit ’n “memorial” aan lord Charles Somerset waarin dit verduidelik word dat die familie langs die Baviaansrivier twee opeenvolgende oesrampe gely het, en dat John verplig is om die posisie te aanvaar van tweede assistent op die “Government establishment at Somerset”.[21]

Die versoekskrif het daartoe gelei dat die Goewerneur ’n stuk grond langs die Mankazanarivier, naamlik Thorn Kloof, [22] verleen het. John het dit 11 Mei 1824 ontvang en toe Glen Thorn genoem.

Die Mankazana is ’n spieëlbeeld van die Baviaans; dit loop langs die oostekant van die Baviaansrivierberg, draai dan suid-ooswaarts, en sluit dit naby die dorp Adelaide by die Koonaprivier aan. Die Koonap loop ’n kronkelgang suid-ooswaarts totdat dit suid van die Koonaphoogte by die Visrivier aansluit.

Eric vertaal die naam Mankazana losweg as “secret loves” (geheime liefdes), en stel dit dat daar in die omgewing ’n Xhosa-opstal was selfs nadat die amaXhosa uit die gebied verdryf is. Jong mans wat bruide gesoek het, sou blykbaar geheimpies daarna verwys dat hulle na die dogters van die huishouer sou gaan vry (hy het volgens Britse wet onwettig daar gewoon) deur om te sê dat hulle die “geheime liefdes” sou gaan besoek.

Toe die Regerings-landmeter in 1829 in die Mankazana aangekom het, is dit vasgestel dat John se hartbeeshuisie nie op Glen Thorn gebou is nie, maar op deel van die plaas Linton, wat in die naam van sy broerskind Alexander Pringle geregistreer is. In 1831 het John hierdie gedeelte van Linton gekoop, 96 morg in bestek en noordoos van die Mankazana- en Spring Vale-rivier geleë, en dit aan die “Scottish Church of South Africa”[23] as pastoriegrond geskenk.

Eric skryf (my vertaling): “Kort nadat John hom op sy eiendom gevestig het, het twee Xhosa-vroue, een met ’n klein kindjie op haar rug, vroue van kaptein Sandile, aangekom, en John het hulle toegelaat om aan te bly. Dit was weens hierdie vroue dat die stropende Kaffer[24]-bendes vir die meeste van die vroeë jare van John op Glen Thorn aangeval het nie. My bediende Eliote[25] is ’n agterkleinseun van hierdie vrou, en het in der waarheid een van sy seuns Sandile genoem.”

Hy skryf aldus van ’n verdere interessantheid (weereens my vertaling): “’n Paar jaar nadat John hom daar gevestig het, het ’n Staatsamptenaar op Glen Thorn besoek afgelê om ’n heliograafperseel bo op ’n berg op Glen Thorn te ondersoek. Hierdie berg het as ’n ‘Tsoie’ bekend gestaan, maar toe my oupa die beampte tot aan die bopunt gelei het, het dit as ‘Governors Kop’ bekend gestaan, ter erkenning van die vergunnings aan die Setlaars deur sir Harry Smith die waarnemende goewerneur. Die plaaslike Xhosa noem dit steeds ‘Tsoie’.

Toe die Pringles in die vallei aangekom het, het Boesmans[26] steeds in al die bergvalleie gebly, en het hulle rotstekenings oorgelaat as bewys van hul teenwoordigheid. Nomadiese Khoikhoi sou ook dikwels die gebied saam met hul vee deurreis.

Die wild van die omgewing het blesbokke, springbokke, hartebeeste, eland, buffels, leeus, luiperds, hiënas, Kaapse wildehonde, olifante, renosters, seekoeie en verskeie soorte medium na klein inheemse wilde katte ingesluit.

Thomas Pringle het geskryf van ’n nag wat hy in ’n bebosde dal deurgebring het wat hy Elephants Glen genoem het, aangesien herdie groot diere (Loxodonta africana) heelnag lank vir mekaar geroep het. Hy het ook geskryf: “In no other part of South Africa have I ever seen so many of the larger sorts of antelope; and the elephant, the rhinoceros, and the buffalo were also to be found.”

Die skilder Thomas Baines het in Januarie 1849 op Glen Thorn besoek afgelê. John het hom versoek om twee skilderye van sy huis te maak, maar Baines noem dit dat die gebou in 1852 afgebrand is deur ’n bende wat deur die Xhosa-kaptein Maqoma gestuur is.

John is op Glen Thorn deur sy seun Robert Pears Pringle (*1829 †1921) opgevolg, en Robert deur sy seun John Elliot Boog Pringle (*1867 †1931), Eric se vader.

Eric is in 1907 gebore, en is in die 1990s oorlede.

As seun het hy verskeie skole bygewoon. Op een stadium is hy na Port Elizabeth gestuur om by die ouers van sy stiefmoeder, Beatrice Pudney, te gaan bly, en het hy Grey Junior School in die gebou van die Grey Institute bygewoon. Hy het later ’n plaasskool naby Glen Thorn bygewoon, en toe Templeton High School op Bedford, maar het hy sy hoërskoolloopbaan op Victoria Boys’ High, Grahamstad (later Graeme College genoem) voltooi, waar hy in die eerste span rugby en krieket gespeel het, en kaptein was van krieket.

Eric se opvolging op Glen Thorn in die diepte van die Groot Depressie was geensins sekuur nie, aangesien J E B Pringle aansienlike skuld nagelaat het. Glen Thorn self het Eric as erfporsie ontvang, maar saam met die skuld, en die res van die boedel is afgeveil. Op die veiling het Eric dit reggekry om die aangrensende plaas Christoffelskloof (wat onder ’n verband gestaan het) te koop, sowel as dit wat oorgebly het van Glen Thorn se merinokudde. Aangesien die lewende hawe ongenoegsaam was vir winsgewende boerdery, het hy halfdele geneem in merino-ooie wat aan twee van sy bure behoort het, asook halfdele in sowat 300 stuks angorabokke.

Met behulp van sorgvuldige boerdery kon hy binne drie maande van sy oorname die rente op die verbande betaal, en geleidelik het hy die plaas opgebou tot waar dit winsgewend was.

Terwyl hy nog diep in die skuld gestaan het, het hy egter besluit om te trou, nadat hy Gladys Kent[27] ontmoet het toe hy steeds in die Prieska-distrik geboer het. Hy moes aan Gladys se pa bely, toe hy gevra het of Eric ’n vrou kon onderhou, dat “ek eintlik in geen staat was om te kan trou nie!”. Mnr Kent het teensinnig tot die huwelik ingestem, want hy wou nie graag sy dogter verloor nie, aangesien sy op die Kent-plaas sy regterhand was (Gladys het op daardie stadium nie by die huis broers gehad nie).

Hulle is in 1932 in die Commemoration Methodist Church op Grahamstad getroud. Eric het sonder motorkar gesit, en sy oom vertel hom toe dat indien hy sy rekening op ’n motorhawe in Oos-Londen sou betaal, hy die ou skedonk kon kry wat hy daar laat staan het.

Die egpaar het vier seuns gehad: John Merick, Denzil Graham Mark, Eric Errol en Neville Crighton. Die seuns is op Dale College in King William’s Town geskool – Eric verduidelik dat die seun van Adelaide se Presbiteriaanse predikant op Dale skoolgegee het, en hy was seker die jong man sou na die seuns kyk.

 

William Dods Pringle:

Pringles of the Valleys het dit oor die jongste manlike onder die 1820-Pringles (volgens my vertaling, ook van die berig in die Grahamstown Journal): “William Dods Pringle, die jongste seun van Robert Pringle en Beatrix Scott, het in 1828 Lyndoch, 5 648 morg 270 vierkante roede, [28] van Willem van Heerden vir £900 gekoop. Lyndoch is oorspronklik aan kolonel John Graham verleen, wie se neef Thomas Graham lord Lyndoch geword het. Nà John Graham se dood het sy weduwee 20 Januarie 1821 die plek vir £375 aan W en H van Heerden verkoop.

“Doodsberig van oorlede W D Pringle in die Grahamstown Journal, 6 November 1876: ‘Dit is selde dat daar op die Grens beroep is om die verlies van ’n meer troue en beproefde vriend en staatmaker-verdediger as nou, dat dit eenparig die stem van weeklag lig oor die dood van mnr William Dods Pringle van Lyndoch, wie se skielike dood aan ’n beroerte-aanval die tweede van hierdie maand in die ouderdom van 67 jaar plaasgevind, en terwyl hy op die oog af blakende gesondheid geniet het.

“ ‘Hy het as kind na die Kolonie gekom, saam met die Skotse geselskap onder leierskap van sy ouer broer, oorlede Thomas Pringle, en het aan al die swaarkry en beproewinge deel gehad wat in die interessante volume African Sketches, uit die pen van dieselfde lieflingskrywer neergeskryf staan.

“ ‘Sy ervarings tydens die Kaffer-oorloë[29] het veroorsaak dat selfs sy naam vir die vyand laat vrees het, en was hy vir sy mede-koloniste ’n staatmaker. Tydens die moeilike veldtog van 1845 was hy een van sir Andries Stockenstrom[30] se mees betroubare Kommandante.

“ ‘Hy was ’n eg dapper man, kalm en onverskrokke in die uur van gevaar, en edelmoedig teenoor ’n gevalle vyand. Niemand onder dié wat saam met hom was, sal die keer vergeet toe hy in die Mankazana op die rebel Uithaalder[31] afgekom het, toe die rebelle teenoor hom en sy dapper groepie volgelinge soos 10 tot 1 was, het hy nietemin sonder vrees in hull midde ingery en onderhandelinge met die Kaptein verlang, sy volgelinge getrou langs sy sy.

“ ‘Toe hy op Uithaalder en sy bende ’n beroep gemaak het dat hulle hul wapens opstapel, en hulle reguit geweier het, het die onverdaard so geantwoord: “Wel as ons gaan sterf, kom ons sterf soos manne wat veg.” Die dadelike oorlewering van Uithaalder se gewere het gevolg, wat op die daad aan stukke gebreek is. Hierdie enkele instansie van sy dapperheid, al is dit een van vele, is genoeg om hom onder die ware helde van die geskiedenis sy plek te laat neem.

“ ‘As boer is hy nie oortref nie. Sy manjifieke landgoed op Lyndoch, met sy vele myle klipmuurkampe, sy plantasies, ensovoorts, sal aan almal rondom van die vlyt en vaardigheid van die eienaar getuig, asook die gasvrye welkom wat aan almal aangebied is, trots dat geen onedelmoedige hart in sy bors geklop het.

“ ‘Hy het van Grahamstad, waar hy slegs vyf dae voor sy bejammerenswaardige dood as lid van die verdedigingskomitee betrokke was, teruggekeer. Hy sal op Lyndoch deur sy enigste seun opgevolg word. Hierdie veelbelowende jong man sal sonder twyfel die voorvaderlike tuiste volstaan. Hy het reeds veel gebaat uit reise in Europa, en staan reeds hoog geag.’ ”



[1] Die eermalige Skotse graafskap Roxburghshire is tans grotendeels ’n distrik van die streek Borders, en lê dit oorkant die boloop van die Tyne-rivier in die Engelse graafskap Northumbria.

Die huidige distrik Roxburgh sluit die meeste van die vorige graafskap in, plus ’n klein gedeelte van die graafskap Berwick (Berwick is ook in Borders ingelyf). Die ganse bekken van die Teviot-rivier lê binne Roxburgh.

Die streek was deel van Strathclyde, ’n “Wallies”-sprekende koninkryk aan die weskus van suid-Kaledonia, totdat dit deur die koninkryk Northumbria verower is en die Engelse taal aangeneem het. Dit was vier eeue lank onder Northumbriese regering, en is dit in 1018 aan Skotland afgestaan.

(Die term Wallies staan tussen aanhalingstekens, aangesien die taal in werklikheid Brits was; dit het ooreenkomste getoon met die Keltiese taal wat steeds in Wallis gepraat word, maar was dit ’n meer noordelike variant. Die woord “Welsh” is in die vroeë Engelse koninkryke gebruik om enige soort [Keltiese] Brit aan te dui; Cumbria was ook ’n “Walliese” streek, en Cornwall het lank as West Wales bekend gestaan.)

Roxburgh is deur koning David I (*1085 †1153, koning vanaf 1124) as ’n shire gekonstitueer.

Die distrik word verdeel tussen hooglandse skaapboerdery in die westelike dele en landbou – hawer, gars, rape – tesame met skaap- en beesteelt in die laerliggende oostelike dele.

[2] Die naam van die landgoed is die eeue deur op verskeie maniere gspel, en een van die vroegs geskrewe vorms is Hoprigkil (dit word geskryf met ’n dwarsstrepie oor die afwesige N, wat saam met die letter G aandui dat die klank NG is).

In 1445 verskyn dit as as Hoppryngille, en in 1565 as Hoppringill.

Die boek The Pringles or Hoppringills deur Alex Pringle (wat in Pringles of the Valleys, deur Eric, Mark en John Pringle aangehaal word) noem dat die familienaam uit die tyd van koning Alexander III (*1241 †1286, koning vanaf 1249) dateer, en een van die oudste op die Skotse grens is. Alex Pringle skryf voort (volgens my vertaling; italisering ook myne):

“Dit is ’n pleknaam, dit wil sê, dit is van die naam van ’n plek afgelei. Hierdie plek is in die parogie van Stow geleë, aan die linkerhand van Gala Water, sowat tien myl bokant Galashiels. Dit lê sowat ’n halfmyl bokant die rivier se wal, langs die stroompies Armet en Todhole. Hierdie rif met sy vlak kruin – wat teenwoordig goed bebos is – grens aan sy westereinde aan die Gala in ’n opmerklik geronde knop sowat some 300 vt bokant die vlak van die rivier, wat in ’n halwe sirkel om die basis daarvan draai. Dit is hierdie ronde of ringagtige knobbelbult wat die die plek sy naam Hoppringill gegee het – ons vind dit soms so in die ou rekords geskrywe.

“Die eerste lettergreep in die naam, hope, hopp, op, of up, van dieselfde wortelwoord afgelei as die Oud-Norweegse hop, ’n skuilplaas, wat ’n klein geslote valleitjie aandui wat uit ’n grotere vertak, word in heelwat plekname in die suid-ooste van Skotland en die noord-ooste van Engeland gevind, en sover suid as Hereford. Dit kom voor as voorvoegsel in Hopprew, Hopkailzie, en Hopcarton in Peeblesshire, Hopkirk in Roxburghshire, Hoprig, Hopefoot in Haddingtonshire; maar is die beste bekend as agtervoegsel; dit word gesê dat sowat drie dosyn plekname in Selkirkshire met hope eindig, en ongeveer ses dosyn in Northumberland, soos Kirkhope, Stanhope, Rattlinghope, ensovoorts.

“Wat die ander twee lettergrepe in Hoppringill betref, vind ons ring, of rink, wat dieselfde woord is, as die naam van ’n heuwel op Wrinklaw in Lammermoors, en Rink Hill in Selkirkshire. Dit sal gelet word dat hierdie name altyd beskrywend is. Dus beteken Hoppringill eenvoudig die hope [skuilplek] van die ring of ronde bult. Die rondheid van hierdie heuwel kan duidelik gesien word vanuit die rytuigvensters van die treine wat onder verbygaan, en word goed gedelinieer deur die kontoerlyne op vel 25 die sesduim-kaarte van die [Britse] Ordinance Survey.”

Die skrywer meld die laaste hoof van die klan wat, in sy testament gedateer 1737, na homself verwys as ‘John Hoppringhill of that ilk’.

Die vorm Pringill het egter in dokumente rondom 1590 die langer naam begin vervang, en ongeveer 1650 het dit as Pringle uitgedraai.

[3] Die pleknaam Stow is blykbaar algemeen in suid-oos-Skotland. ’n Bekender dorp met daardie naam lê noord-wes van Selkirk, en nog een word in Mid-Lothian gevind. Etlike ander Stows word in Engeland aangetref. Die naam beteken gewoonlik blykbaar “’n heilige plek” of ’n kerk.

[4] Voorheen die setel van die graafskap Selkirk; die dorp met daardie naam val huidiglik ook in Borders. Selkirkshire vorm tans teel van die Borders-distrik Ettrick and Lauderdale.

Die Encyclopædia Britannica noem dat die Gaëliese naam, Schaleschyrche, ’n aantal shiels (hutte) aandui wat in die woud naby ’n antieke kerk staan.

[5] Tot in die tyd van die Indiese Muitery (1857-59) het hierdie geoktrooieerde maatskappy, wat in Londen gebaseeer was (en wat Engels was, nie Brits nie) direk oor uitgestrekte dele van Indië geregeer en ook verdragsverhoudings met ’n aansienlike aantal inboorlingprinse gehad. In die Napoleontiese tyd het dit nie slegs die handel tussen Brittanje en Indië beheer nie, maar het ook sy belange na Maleia uitgebrei.

Die compagnie of maatskappy was so uitsluitlik Engels dat dit eintlik verrassend is om te vind dat ’n Skot dit verteenwoordig het; dit is natuurlik moontlik dat hy lid was van ’n familietak wat hulle in Engeland gevestig het.

[6] Brittanje se Royal Navy het vanaf 1795 tot 1803 en weer vanaf 1806 tot in 1957 op Simonstad ’n basis gehandhaaf.

[7] ’n Gewilde oord, ook Pringlebaai genoem, lê tans aan die suidekant van die baaitjie.

Dit is een van ’n reeks sulke oorde, wat met Rooi Els (ook langs Valsbaai) begin, en dan oos van Kaap Hangklip voortgaan met Betty’s Bay, Kleinmond, Hawson, Onrus en Hermanus.

Oos van Hermanus en ver van die strand is Stanford, en aan die suidekant, anderkant Walkerbaai, lê Gansbaai.

[8] In die Standard Encyclopædia of Southern Africa word hierdie pleknaam as Blaiklaw aangegee. Die Reader’s Digest Complete Atlas of the British Isles noem dit egter as Blakelaw, en Pama ook.

[9] Robert se eerste huwelik in 1785 was met Catherine Haitlie.

[10] Nog ’n seun van Robert, Alexander, het hom in die Verenigde State gaan vestig. Hy het met sy vader briewe gewissel, maar op die ou einde is met hom kontak verloor.

[11] Baviaan is natuurlik die Nederlands vir bobbejaan. Die Nederlandse vorm leef egter voort in etlike Suid-Afrikaanse plekname.

Hierdie Baviaans is takrivier van die Groot Vis. Dit loop aanvanklik suid-suidweswaarts, dan weswaarts, en sluit naby Somerset-Oos by die Vis aan. Die dorp Somerset-Oos lê egter verder wes, langs die Klein Vis, nie langs die grotere tak van die Visrivier nie.

[12] “gebreek”: met onderskeidingsmerke wat grade van bloedverwantskap aandui. See hierdie bladsy vir nog hieroor.

[13] Die Romeine het die naam Scotti gebruik om die Ierse of Hiberniese aanvallers wat hulle langs die weskus van hul provinsie Brittania gepla het. (Britannia is tans Engeland en Wallis, en het by tye dele van suid-Skotland ingesluit, sover noord as die Antonynse Muur.)

Die term Scot (Skot) is algemeen vir Iere gebruik totdat die Ierse kolonie in Argyll begin uitbrei het. Sedert daardie tyd word die koninkryk wat uit Argyll onststaan het, onder daardie naam bekend, eerder as die Iere.

[14]Om die een of ander rede het die illustrasies van Edward se wapen ’n foutiewe spelling vir die familieleuse: dit verskyn as Amicitia reddit honores, in plaas van reddidit.

[15] Die gewone rede waarom die oudste seun se oudste seun nie ’n wapen sou matrikuleer wat identies is met dié van sy oupa, is waar hy ’n wapen van moeders- of grootmoederskant sou erf. Hierdie wapen mag hy dan met sy oupa se wapen kwartileer.

Die Stodart-sisteem laat dit egter ook toe dat verdere wapenfigure bygevoeg mag word wat miskien na ’n moedersfamilie mag verwys, sonder dat die wapen van daardie moedersfamilie ten volle gekwartileer word nie.

’n Verdere moontlikheid is dat die kleinseun ’n titel verleen is wat die gebruik van oorerflike rangsimbole in sy wapen sou verg. In die geval van ’n adeltitel, sou dit ’n kroon wees (in Engels coronet; dit word tussen die skild en die helmteken gevoer) en skildhouers; ’n baronet sou die baronetskenteken by sy skild byvoeg.

Aangesien die Pringles van Glen Lynden en Glen Thorn Suid-Afrikaans is, sou hulle egter hierdie soort titel nie mag aanvaar nie. Lede van die familie wat miskien so ’n titel sou mag aanvaar sou dié wees wat in ’n ander land burgerskap verkry het.

[16] Genoem in die artikel Thomas Pringle, deur A M Lewin Robinson, in die Standard Encyclopædia of Southern Africa (my vertaling).

[17] Thomas Pringle, SESA.

[18] Verwysings na die nageslag van Thomas se broers as sy eie duik heel ironies van tyd weer op. ’n Reisartikel in Weekend Post (Port Elizabeth) wat 23 Oktober 2004 gepubliseer is, het weereens na die Pringles van Eildon as sy “afstammelinge” verwys.

[19] Toe hy Pringles of the Valleys geskryf het, het Mark reeds van sy plaas Newstead, in die distrik Tarka, afgetree. Hy was ook twee jaar lank burgemeester van Tarkastad, en het hy tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog gedien.

[20] Toe John aan Pringles of the Valleys gewerk het, was hy direkteur van die Natalse Museum in Pietermaritzburg.

Hy is op die Carolina High School in Transvaal (tans Mpumalanga) geskool, en het aan die Universiteit van die Witwatersrand in wetenskap gegradueer. Vanaf 1937 tot 1953 was hy direkteur van die Port Elizabethse Museum en Slangpark (tans Bayworld genoem). In die middel-1950s is hy ’n Carnegie-skenking toegeken om ontwikkelinge in museums in die Verenigde State te bestudeer.

[21] Alhoewel daarna verwys word as Staatsinstansie, is die plaas Somerset vir die private gewin van die Goewerneur bestuur. Dit is later in erwe onderverdeel en het dit die dorp Somerset-Oos geword.

[22] Dit is waarskynlik dat die naam Thorn Kloof ’n verwysing is na vorige bewoning deur ’n Boer, wat moontlik die plek Doorn Kloof genoem het.

[23] Die Kerk van Skotland, wat later in hierdie land gekonstitueer is as die Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika. Dit is tans deel van die Verenigende Presbiteriaanse Kerk van Suid-Afrika.

[24] Die term Kaffir (of in Afrikaans meer dikwels Kaffer) word nie meer beskou as aanvaarbaar vir die beskrywing van swart Suid-Afrikane nie, maar was vroeër algemeen gebruik; in Engels, het dit die langste in gebruik aangebly onder plattelandse boere, manne wat dikwels Xhosa vlot gepraat het en wat vertroud was met Xhosa-kultuur. In the 19de eeu is die term spesifiek gebruik om na die amaXhosa te verwys.

Sy verwysing na Eliote as ’n “bediende” (“servant”) gebruik ook ’n term wat tans beskou word as polities inkorrek, maar Eric gebruik dit met verwysing na ’n verhouding tussen werkgewer en werknemer wat geensins ongelyk was.

[25] Elders in sy boek beskryf Eric vir Eliote as ’n speelmaat uit sy kinderdae en mede-rusiemaker, en noem hy ook dat toe hy (Eric) as jong man in die laat 1920s in die Prieska-distrik geboer het, beide Eliote en hul Mfengu-speelmaat Runi te voet gereis het om daar by hom aan te sluit. Toe hy in 1931 nà sy pa se dood na Glen Thorn teruggekeer het, het hulle hom vergesel.

[26] Die Boesmans, wat huidiglik verkeerdelik San genoem word, was die inheemse volk van die ganse Suider-Afrika, en voor die aankoms van Bantu-sprekende setlaars vanuit die noorde en Europeërs langs die kuste het hulle sowat 30 000 jaar lank hierdie wêrelddeel bewoon.

Hulle jagter-vergaarder-bendes het tans uit die meeste dele van Suid-Afrika verdwyn, behalwe die Kalahari, maar hul nageslag kan as die gevolg van ondertrouery met Bantu-sprekende en ander gemeenskappe gevind word.

Die Khoikhoi (verkeerdelik as Hottentotte bekend) was van Boesman-herkoms, en die meeste plattelandse Kleurlinge in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap is hoofsaaklik van òf Boesman- òf Khoikhoi-afstamming.

Antropoloë skat dat die amaXhosa sowat 60% Khoisan-afstamming het.

[27] Gladys Marjorie Kent, gebore 1907. Gladys en een van haar susters het Prieska toe gereis om by hul broer Gerald besoek af te lê; hy het destyds in vennootskap saam met Eric geboer. Gerald en Eric het op skool in Grahamstad saam rugby gespeel.

[28] Sedert 1970 is alle wettige mate in Suid-Afrika SI metries. Vòòr dit was ’n mengsel (Britse) imperiale en Nederlandse mate in gebruik. Grond is in morg en vierkante roede gemeet.

[29] Kyk voetnoot 24 aangaande hierdie gebruik. Daar word tans gewoonlik na hierdie oorloë as Grensloorloë verwys (’n totaal van nege).

[30] Nie net word die van Stockenström deur die uitlating van die deelteken (of umlaut) op die tweede O misspel nie, maar daar word na hom verwys as “sir Andries”; in werklikheid het hy eers in die 1870s baronet geword.

[31] Die Journal spel die rebelleleier se naam as Uithalder.


Counter

Terug na bo

For English, click here

Erkennings: Inligting oor die Pringle-familie uit Pringles of the Valleys, deur Eric, Mark and John Pringle; en Mankazana (Secret Loves), deur Eric Pringle; uit die Standard Encyclopædia of Southern Africa; en uit British Families in South Africa deur Cor Pama (Human & Rousseau). Beide Pringles of the Valleys (1957) en Mankazana is privaat deur Eric Pringle gepubliseer. Mankazana is ongedateer.

Illustrasies: Eric, Alan en Edward Pringle se wapens uit beide Pringles of the Valleys en British Families in South Africa. Die beelde uit Pringles of the Valleys (wat met metalliese inke gedruk is, en dus onskandeerbaar is) is deur Ivor Markman gefotografeer. Die beelde uit British Families is verbeter met behulp van illustrasies vfan ’n mantelskulp, ’n pheon en ’n estoile uit A Complete Guide to Heraldry deur A C Fox-Davies. Kleure met behulp van MS Picture It! © aangepas.


Terug na indeks familiewapens

Terug na Armoria familia-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle