The Durban Resources Page

NOTE
To get your website listed or the details of your business listed on this website, leave a message in the guest book.

Om jou webwerf hier gelys te kry, gaan na die gasteboek en verstrek die nodige besonderhede. Indien daar enige verouderde inligting is, laat ons asseblief weet en ons sal die nuwe inligting bywerk.

INDEX
Stats and Facts
English
Afrikaans
Photo Gallery
Disclaimer
Events
The Book Shop
The Guestbook
About

This page has kindly been translated by:


Thanks to Time Traveller for the history photo's. Click on the images for an explaination of the pictures. The site is well worth a visit.








Nelson Mandela and Jacob Zuma at a political rally in Durban in 1994.

GEGEWENS OOR DURBAN
Banke Fotographie Geskiedenis
Klimaat Mense Misdaad
Openbare Vakansiedae Taal
Verbindings Verblyf

Banke en Finansiële Dienste

Die Suid-Afrikaanse bankstelsel is een van die wêreld se modernste. Al die vername banke het al die nodige geriewe om buitelandse geld te wissel. Die stad is vol OTM’s, wat banksake ná ure moontlik maak, ofskoon besoekers aangeraai word om op hul hoede te wees vir swendelaars wat ongesiens bankkaarte omruil, ens. Die taal wat in die banke in Durban gebruik word, is Engels

Fotografie

Stilfotografie
Durban is ’n wonderlike plek om foto’s te neem. Maar die ontwikkeling daarvan, die koop van nuwe toerusting of om ’n kamera te laat versien, het in die afgelope aantal jare baie duur geword, veral weens die daling van die plaaslike geldeenheid, die rand.
Kleurafdrukke is die goedkoopste. Kleurskyfies is nogal duur (’n Duitse vriend van my vertel dat dit duurder is as in Duitsland). Daar is nie juis baie plekke wat swart-wit afdrukke ontwikkel nie. Jy sal bes moontlik ’n paar dae vir hul ontwikkeling moet wag by die groot fotowinkels soos Whysalls of Photo World.
Daar is verskeie plekke wat eenuur-ontwikkeling doen. Game City is een plek met goeie pryse. Vir nog inligting, tree in verbinding met die Westville-kameraklub (kyk Klubs en Organisasies vir besonderhede).
Om mense te fotografeer sal gewoonlik geen probleem oplewer nie, trouens, Suid-Afrikaners hou gewoonlik baie daarvan om voor die kamera te verskyn. Maar as jy iemand afneem, doen dit moet tog maar met die gewone hoflikheid. Aan die Durbanse strandfront sal die vroue wat kuriositeite verkoop en die mans met die riksjas jou dikwels sowat R10,00 tot R20,00 vra as jy hulle kiek.
Digitale fotografie en video
Ek het ongelukkig geen ondervinding sover dit video-kameras of digitale fotografie in Durban aangaan nie en kan dus geen raad hieromtrent gee nie. Enige Durbaniete wat kenners op dié gebied is en skrywer wil help, moet asseblief per e-pos met my in verbinding tree by stolley@loxinfo.co.th of by stolley@webmail.co.za

WAARSKUWING:
As ’n toeris moet jy nie jou kamera of video-kamera so openlik en ongeërg hanteer dat jy diewe uitlok nie. Misdaad het in die afgelope aantal jare toegeneem en iemand wat ’n voorwerp (soos ’n video-kamera, ens.) ronddra wat die gewone mense nie kan bekostig nie, sal hom- of haarself doodeenvoudig ’n teiken maak. Onthou dat die persoon wat jou beroof dit waarskynlik nie self gaan gebruik nie. Hy (of sy) weet dat hy jou toerusting dalk verkoop sal kan kry, en as hy desperaat is, kan dit hom selfs ’n maand lank aan die lewe hou. Ek was reeds oral met my kamera in die Durbanse stadsgebiede en is nog nooit besteel nie, maar daar is baie verhale van toeriste wat slagoffers geword het. Die polisie het ernstiger dinge wat hulle besig hou en gaan nie juis veel meegevoel hê met iemand wat volgens hulle ’n teiken van homself gemaak het nie. Tree asseblief verstandig op, dan sal jy nie sommer probleme ondervind nie.


Die geskiedenis van Durban

Natalbaai, waarom Durban geleë is, het al so vroeg as 1685 skuiling aan seevaarders gebied. Daar word selfs gemeen dat Vasco da Gama in 1497 hier anker gegooi het. Aangesien 'n goeie hawe reeds gevestig was by Delagoabaai -- tans Maputo in Mosambiek -- het Natalbaai aanvanklik weinig belangstelling by Europeërs gewek. Dié gebrek aan belangstelling het tot 1824 voortgeduur toe Henry Fynn en Francis Farewell 'n basis met die oog op ivoorhandel hier gevestig het. Teen 1835 was daar al 'n klein dorpie met 'n sendingstasie, en in daardie jaar is die naam Durban daaraan gegee -- om die Kaapse goewerneur D'Urban te vernoem.

In 1837 het die Voortrekkers oor die Drakensberg getrek en Pietermaritzburg, 80 km noordwes van Durban, gestig. In die daaropvolgende jaar, nadat Durban weens 'n Zoeloe-strooptog ontruim is, het die Boere die beheer opgeëis en dit tot Port Natal herdoop. Later daardie jaar is dit deur 'n Britse mag herbeset, maar die Boere het met hul aanspraak volhard. Die Britte het troepe na Durban gestuur, dog hulle is in 1842 in die Slag by Congella verslaan. Die Boere het 'n maand lank die beheer behou, totdat 'n Britse fregat opgedaag het en hulle verdryf is.

Die jaar daarna is die hele Natal deur die Britte geannekseer, en Durban het in 'n belangrike koloniale hawestad begin ontluik. In 1860 het die eerste Indiese kontrakarbeider aangekom om op die suikerrietlande te werk. Spoedig het nog Indiërwerkers hul opwagting gemaak -- onder wie Mohandas Gandhi in 1893.

Ná die ontdekking van goud in die toenmalige Zuid-Afrikaansche Republiek (Transvaal), het Durban bly groei namate prospekteerders die land binnegestroom het. Die eerste spoorlyn in Suidelike Afrika is in 'n gebied genaamd Die Punt by die Durbanse hawe aangelê. Hierdie spoorlyn het uiteindelik oor die hele trajek tot by die goudvelde van die Witwatersrand gestrek.

In die Tweede Vryheidsoorlog (1899 -1902) is Durban nie regstreeks deur enige gevegte geraak nie, buiten dat Britse troepe daar aan land gegaan het en dat toerusting, wat eweneens vir die front bestem was, daar afgelaai is.

Durban het in 1910 'n deel van die Unie van Suid-Afrika geword toe die kolonies Natal, Oranje-Vrijstaat, Transvaal en die Kaapkolonie verenig het. In die jare daarna is verskeie apartheidswette toegepas. Daar was 'n aantal gedwonge verskuiwings, asook onluste en betogings. 'n Hoeveelheid botsings tussen swartes en Indiërs het ook plaasgevind, waarvan die Durbanse Onluste van 1949 die bekendse is.

In 1994 is die eerste verkiesings vir alle rasse in Suid-Afrika gehou. Durban het van 'n stad wat deur blankes beheer is in 'n stad met 'n veelrassige bestuur verander. Daarna is die stad se grense verbreed en is verskeie satellietstede geabsorbeer, soos KwaMashu, Umhlanga, Pinetown, Westville, Ballito, Phoenix, ens.


Klimaat

Durban het ’n subtropiese klimaat. Dit beteken warm en vogtige somers, terwyl die winters matig en aangenaam is. Omdat dit in die Suidelike Halfrond geleë is, is Kersfees in die somer. Die temperatuur daal nooit onder die vriespunt nie, trouens, selfs in die hartjie van die winter is dit bedags selde kouer as 15 grade Celsius. Somer is die reënseisoen en die winters is betreklik droog. Durban het elke jaar gemiddelt 320 sonnige dae.
Mense

Daar is ’n groot vermenging van verskillende groepe mense in Durban. Swartmense is verreweg die meeste en is meestal Zoeloes. Durban is ook die sentrum van die Asiatiese gemeenskap in Suid-Afrika, die afstammelinge van Indiese kontrakarbeiders wat as slawe ingevoer is om in die omliggende suikerrietlande te werk. Tamils, Hindoes, Goedjarati’s en Moslems word almal hier aangetref. Die derde grootste groep is mense van Europese herkoms, hoofsaaklik Engelse, met aansienlike Duitse, Italiaanse, Portugese en Joodse gemeenskappe. Die vierde groep is die sogenaamde Kleurlinge, mense van gemengde afkoms met voorsate uit sowel Europa as Afrika.

’n Volkstelling is betreklik lank laas in Suid-Afrika gehou en selfs as daar ’n sensus sou wees, sal dit moeilik wees om die Durbanse inwonertal te bepaal. Ramings waarvan skrywer gehoor het, wissel van ’n miljoen tot vyf miljoen, hoewel tussen twee en drie miljoen waarskynlik die naaste aan korrek is. Dis nou as ’n mens daarop let dat die bevolkingstal van KwaZulu-Natal gewoonlik op sowat elf miljoen geraam word. Skrywer glo dat die inwonertal deur die owerhede onderskat word.


Misdaad

In die afgelope aantal jare het misdaad in die stad toegeneem, ofskoon die tempo aan die afneem is. Toeriste word aangeraai om nie die aandag op hulself te vestig nie. Daarbenewens moet hulle liefs eers die plaaslike inwoners uitvra as hulle iewers wil vertoef en êrens heen wil reis. Luister na hulle. Hulle sal jou die beste raad gee.
Openbare Vakansiedae

In 2001
1 Januarie - Nuwejaarsdag
21 Maart - Menseregtedag(Sharpeville-dag)
13 April - Goeie Vrydag
16 April - Paasmaandag/Gesinsdag
27 April - Vryheidsdag
1 Mei - Werkersdag
16 Junie - Jeugdag (voorheen Soweto-dag)
9 Augustus - Nasinale Vrouedag
24 September - Erfenisdag
16 Desember - Versoeningsdag (voorheen Geloftedag)
25 Desember - Kersdag
26 Desember - Welwillendheidsdag/Tweede Kersdag

Taal

Daar is elf amptelike tale in Suid-Afrika. In Durban is Engels die hooftaal van die sakewêreld en so te sê elkeen verstaan dit. Verskeie ander tale word ook gepraat: Zoeloe, Afrikaans, Hindi, Arabies, Goedjarati, Kôsa. Jy kan mense teëkom wat Duits, Grieks, Italiaans, Portugees en Frans kan praat, aangesien daar aansienlike immigrante-gemeenskappe in die stad is.
Verbindings

Durban het elke soort kommunikasie-gerief en Suid-Afrika is die gevorderdste land op die gebied van telekommunikasie in Afrika. Openbare telefone in belhokkies werk gewoonlik met kaarte en kan ietwat skaars wees. Sekere kroeë en restaurante het openbare telefone wat met muntstukke werk. Daar is ’n toenemende aantal privaat bestuurde belsentrums wat telefoon- en faksgeriewe aanbied.
Selfone/Mobiele Telefone
Daar is twee sellulêre netwerke in die land - Vodacom en MTN. Altwee kan in die hele Durbanse gebied gebruik word. Skrywer verneem egter ook, hoewel hy nog nie bevestiging daarvoor kon kry nie (hy is op die oomblik in Bangkok), dat daar ’n maatskappy is wat selfone aan toeriste verhuur. Die Regering aanvaar tans tenders vir ’n derde gelisensieerde mobiele telefoondiens.

Skakelkodes Die internasionale skakelkode vir Suid-Afrika is 27.
Die areakode vir Durban is 31.
Wanneer ’n mens ’n Durbanse nommer van binne Suid-Afrika af skakel, word dit 031.
Sou daar van buite Suid-Afrika gebel word, moet die 0 egter nie geskakel word nie.
Word daar binne Durban rondgebel, is geen skakelkode nodig nie.
Om ’n internasionale oproep van Suid-Afrika af te maak, skakel ’n mens 09 gevolg deur die land se kode. As jy byvoorbeeld na Engeland sou bel, sal jy soos volg skakel: 0944 – areakode – nommer.
Die areakodes van sekere ander stede in Suid-Afrika is:
Kaapstad 021
Pretoria 012
Johannesburg 011
Pietermaritzburg 0331


Verblyf

Durban bied verblyf van elke soort, van uiters luuksieuse hotelle, wat die meeste mense nie kan bekostig nie, regdeur tot by sekere werklik goedkoop verblyfplekke soos hostelle. Vir die oorsese reisiger wat sterling, dollars of Duitse marke bestee, behoort die pryse meer as billik te wees – die waarde van die Suid-Afrikaanse rand is immers al taamlik geknou deur die wêreld se belangrikste geldeenhede.
Hotelle - Die hotelle in Suid-Afrika het ’n stelsel van graderings wat van vyf sterre tot een ster wissel. Jou reisagent behoort jou te vertel presies hoe dit werk. Die Royal Hotel is een van die voorste hotelle ter wêreld en ek verstaan dat dit by geleentheid as een van die aarde se Top 100 gelys is. Daar is die nuut geboude Hilton Hotel en natuurlik die Edward Hotel langs Durban se Goue Myl.
DIRECTORY
Accommodation
Automotive Charities
Clubs & Organisations
Construction & Property
Culture & Entertainment
Financial Services
Government, Consulates & Utilities
Health Industries
Media & Communications
People Restaurants
Retailers/Wholesalers
Schools Services
Shipping & Related Services
Sports Transport
Tourism
Universities, Colleges & Technikons

HOME

Search The Durban Resources Page: