Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

HOËRSKOOL ANDREW RABIE, Adcockvale, Port Elizabeth.

English blazon

Hoërskool Andrew Rabie

Die wapen is 6 Januarie 1972 deur die Buro vir Heraldiek geregistreer (wapenbrief No 542). Die blasoen lui:

Wapen: In blou, ’n Christus-monogram van goud tussen twee geboë louriertakke van silwer in die skildvoet saamgevoeg, in die skildhoof drie spitsruite van goud, die geheel binne-in ’n skildsoom van silwer.

Wapenspreuk: NET DIE BESTE.

Oor die wapen:
Die skool se amptelike verduideliking van die wapen lui:
Christussimbool of Chi-Rho

“Die sentrale simbool is die Christussimbool, so genoem omdat dit die eerste twee letters van die woord Christus in Grieks is: CRISTOS. Die gebruik daarvan op die Andrew Rabie-wapen getuig van die skool se Christelike karakter.

“Die lourierkrans is ’n simbool van prestasie en sluit baie goed aan by die skool se leuse ‘Net die beste.’ Dit vorm ook ’n skakel met die eerste skoolwapen.

“Die drie vierkantige simbole word ruite genoem . . . dit kom op die Rabie-familiewapen voor en is ’n aanduiding van die skool se verbintenis met daardie familie deur sy naam. Dit het egter ook die diepere betekenis as simbool van arbeidsaamheid.

“Daar is dus drie hoofelemente:

1. Christus;

2. Strewe en prestasie;

3. Arbeidsaamheid.”
Rabie

Die inligting in hierdie amptelike beskrywing kom van professor C J Botha, Dekaan Fakulteit Latyn, Universiteit van Port Elizabeth.

Hier regs verskyn die Rabie-wapen (met uitlating van die helm en helmteken) soos dit in C Pama se Groot Afrikaanse Familienaamboek voorkom.

Die eerste en vierde kwartiere toon ’n raaf – dit is ’n woordspeling op Dr Andrew Rabie se familienaam, oorspronklik Rabe (hierdie woord beteken in Duits “raaf”).

In die tweede en derde kwartiere verskyn drie silwer ruite op rooi – in die skoolwapen is die kleure by die skoolkleure aangepas.

Pama vertel dat die Suid-Afrikaanse Rabie-familie in 1946 hierdie wapen begin voer het, en dat dit ’n kleurvariant is van die wapen van ’n Duitse familie met die van Rabe. Hy stel dit nie duidelik dat die Suid-Afrikaanse familie van hierdie Duitse familie afgestam is nie, dus is dit onseker of die Rabies daarop geregtig is nie. Dit moet ook in ag geneem word dat dit ’n erkende metode is in die Duitse heraldiek om die kleure te wissel vir die wapen van ’n verwante familie. Tog is die verwantskap onduidelik.

Daar kan verder bygevoeg word dat die Christussimbool ook as die Christusmonogram of Chi-rho bekend staan. Hierdie laaste naam kom van die Griekse name van die twee letters wat so saamgevoeg is: chi vir die letter c (hoofletter C), wat uitgespreek word soos die G in Afrikaans, en rho vir die letter r (hoofletter R), ’n gerolde R nes in Afrikaans.

Die Griekse woord cristoV is ’n vertaling van die Hebreeuse masjiag (messias), wat gesalfde beteken – een van die verwysings wat die profete gebruik het wanneer hulle van ’n persoon gepraat het wat Gods wil uitvoer, en veral die Here Jesus.

Die skool se livreikleure is blou en wit (kleure van die skildveld, die skildsoom en die lourierkrans), maar enige vertoon van die skoolkleure toon hierdie twee kleure langs swart, die baadjiekleur. In hierdie opsig is Andrew Rabie soos sy buurskool, Alexander Road High.

Oor die skool:
Hierdie is ’n Afrikaans-medium koëdukasieskool (Graad 8 tot 12, vroeër St 6 tot 10) wat in Adcockvale geleë is, noord van die winkelsentrum Greenacres.

Die skool het 12 Januarie 1953 onder die naam Hoërskool Adcockvale met 76 leerling geopen. Die hoof was mnr J A (Dinks) van Zyl, en hy het drie personeellede gehad.

In 1955 het St 6 deel geword van die hoërskool, en die leerlinggetal het tot 300 gestyg. Die skool het ook sy eie netbalbane gekry.

’n Nuwe Engels-medium hoërskool het ook in Januarie 1955 sy begin in voorafgevaardigde klaskamers in die gronde van die Hoërskool Adcockvale gekry. In 1956 het hierdie skool na sy nuwe tuiste in Alexanderweg, Adcockvale-uitbreiding, verskuif, en het as Alexander Road High School begin bekend staan.

Ook in 1955 het die LUK vir Onderwys, mnr Nico Malan (later Administrateur van Kaapland), die skool se nuwe gebou geopen. Tydens dieselfde geleentheid is die naam na Hoërskool Andrew Rabie verander.

Dr Andrew McGregor Rabie, ’n tandarts en lankdiende lid van die Port Elizabethse Skoolraad, het hom lank beywer vir ’n tweede Afrikaans-medium hoërskool op Port Elizabeth.

Die eerste Afrikaans-medium hoërskool in die stad was Hoërskool Cillié, wat van die dubbel-medium Hoërskool Lawson Brown in Sidwell afgesplits is (kyk Lawson Brown High School). Hoërskool Andrew Rabie (eers HS Adcockvale) was egter die eerste wat vanaf sy stigting Afrikaans-medium was.

In 1958 het die skool sy eie rugbyveld gekry.

In 1963 is die skoolsaal, met sitplek vir 600 mense, voltooi teen ’n onkoste van R25 000. Die saal is na mnr Dinks van Zyl vernoem.

Drie jaar later is mnr Van Zyl oorlede tydens ’n atletiekbyeenkoms tussen die hoërskole Andrew Rabie, Cillié en D F Malherbe.

Die skool se credo is 30 Mei 1968 amptelik in gebruik geneem.

In 1971 het die skoolkoor onderleiding van mev E Delport die Oos-Kaap by die Republiekfees in Kaapstad verteenwoordig. Ook in daardie jaar het ’n skoolspan bestaand uit Hansie Knoetze, Gretha Rabie en Riël du Toit nasionale kampioene geword in die SAUK se Tienervasvra vir skole.

In 1982 was Almarie van der Walt eerste in die Kaapse Senior Sertifikaat-eksamen.

In 1985 het skoolhoof Meyer Sauerman afgetree. Ook in daardie jaar is die skool se sportkompleks voltooi, en is dit die Meyer Sauerman-kompleks vernoem.

Nie minder nie as agt oud-skoliere het in verskillende sportsoorte Springbokkleure verwerf. Hulle is Greta Delport (tennis), Lenél van den Berg (ysskaats), Joggie en Pietie Carlson (altwee bofbal) en Sunley Uys (kanovaart).

Die skool is ook bekend vir sy jaarlikse gedenklesing. Dit spruit uit ’n skenking wat dr Andrew Rabie aan die skool bemaak het. Sy gedagte was dat daar elke jaar ’n deskundige of navorser die leerlinge of selfs die ouers sal kom toespreek.

Die eerste spreker was die Afrikaanse digter prof W E G Louw, wat die skool 28 Oktober 1997 toegespreek het. Ander sprekers was Eerste Minister B J Vorster, prof Piet Cillié, dr Louw Alberts en TV-persoonlikheid Ruda Landman.

Die skool het sy eie webwerf hier.

English blazon:
The arms may be blazoned in English:

Arms: Azure, a Christ monogram or between two arched laurel branches argent joined in base, in chief three lozenges or, the whole within a border argent.

Motto: NET DIE BESTE.

The motto translates as “Only the best.”


Counter

Terug na bo

Bronne: Illustrasie van die wapensertifikaat geskandeer. Van die inligting is deur die skool voorsien.


Terug na skole-indeks

Back to schools index (English)

Terug na Armoria academica-indeks

Terug na Armoria-indeks


Opmerkings, navrae: Mike Oettle