Armoria academica
http://www.oocities.org/wapenskild

HOËRSKOOL KAAP RECIFE / CAPE RECIFE HIGH SCHOOL, Somerstrand, Port Elizabeth

Hoërskool Kaap Recife

Die wapen is nie geregistreer nie. Dit mag so geblasoeneer word:

Wapen: Skuins gevierendeel van blou en ligblou, ’n vuurtoring met sy lig (wat op die erepunt lê) en boonste struktuur van silwer, die skag van die vuurtoring in vier stukke van ligblou en silwer gesny, met ’n venster van blou in beide van die twee ligblou strepe; die regter en linker kwartier vorm die lig wat uit die vuurtoring straal; in die skildhoof ’n duif van silwer en in die skildbasis ’n golwende dwarsbalk van ligblou.

Leuse: Certare et vincere..

Oor die wapen:
Die skool het besluit om die wapen soos ontwerp te voer, in plaas van om veranderings wat deur die Buro vir Heraldiek aanbeveel is, te maak. Dit wil egter voorkom dat ’n kompromis bereik kon word.

Die wapen soos dit is, plaas te veel klem op die kontras tussen donker- en ligblou.

Alhoewel die kleur ligblou (in Frans en Engels, bleu céléste, in Nederlands effeblaauw) sedert die Middeleeue af en toe in die heraldiek voorgekom het, was dit in die meeste lande van Europa seldsaam tot die tyd van die Eerste Wêreldoorlog. Weens die gebruiksaamheid daarvan as simbool van vlug (aanvanklik militêre lugvaart) is dit heelwat aangewend in die (heraldies ontwerpte) wapens van lugmageskaders en die wapens van mense wat vir hul bydrae tot die lugvaart vereer is.

Die heraldiese kleur blou (in Frans en Engels azure, in Nederlands azuur) kan feitlik enige skakering van blou wees – selfs, in sekere omstandighede, taamlik lig – behalwe in die besonderlike gevalle waar dit met ligblou gekontrasteer word. In sulke gevalle moet dit natuurlik sigbaar donkerder wees. Die gebruik van hierdie twee kleure saam moet egter versigtig toegepas word, aangesien daar ’n risiko bestaan dat daar ongenoegsame kontras sou wees tussen die twee skakerings. Dit is inderdaad hier die geval.

Die skool se amptelike sweetpak het ligblou segmente wat van die donkerblou deur ’n wit omlyning geskei word. So ’n omlyning kan in die geval van die ligstrale aangewend word.

Andersins kon die verandering van die ligstrale na silwer miskien die wapen aanvaarbaar gemaak het.

Dit mag ook die ontwerp heelwat netjieser maak as die golwende dwarsbalkie uitgelaat sou word.

Terwyl die skool heelwat betekenis in die see sien, kan ’n mens die vuurtoring self as simbool van die ligging langs die see sien, aangesien sulke strukture altyd óf langs die kus óf in die see self opgerig word – met ander woorde, altyd binne sig van die see.

Die duif kan ietwat groter wees, en kan die boonste kwartier vul.

Die Buro het ’n verandering in die vorm van die duif voorgestel, wat die skool onaanvaarbaar gevind het. Dit sou miskien wyser gewees het om ’n alternatiewe tekening van die duif te bespreek.

Dit is, na alles, op ’n logo gebaseer. Die nadeel van logo-ontwerp is dat, onafgesien van hoe sleg dit geteken is, die vorm daarvan vasgelê is, terwyl enige vaardige kunstenaar wat ’n heraldiese ontwerp in terme van die blasoen (tegniese beskrywing) teken ’n aanvaarbare weergawe na vore kan bring, al is dit nie presies dieselfde as ’n vorige eksemplaar nie.

Hierdie kunstige vryheid laat dit toe dat heraldiese deviese van styl verander kan word sonder dat die blasoen verander word, eenvoudig deur ’n meer geïnspireerde interpretasie van die neergelegde inhoud van die ontwerp en die gebruik van helderder kleure.

Daar is ook ’n wit omboorsel wat maklik weggelaat kan word.

Die skool se verduideliking van die wapen lui:

“Die vuurtoring simboliseer die naam en ligging van die skool. Die skool is geleë in die area van Port Elizabeth wat as Kaap Recife bekend staan. Die Kaap Recife-vuurtoring is ’n bekende baken in hierdie gebied.”

Die kaap, wat Algoabaai aan die westekant begrens, is in 1488 deur die Portugese ontekkingsreisiger Bartolomeo Dias Cabo de Arrecife (Kaap van die Rotsrif) genoem.

“Die vuurtoring simboliseer die uitstraal van hoop, kennis, geborgenheid, mededeelsaamheid en koersvastheid op die lewensweg.

“Die see simboliseer ’n oop gemoed, onbeperkte kennis en onbepaalde horisonne. Dit simboliseer ook die kalmte en die onstuimigheid van die lewensweg.

“Die motief van die wit duif in vlug teen ’n blou agtergrond is die nasionale embleem van die afdeling serebraalverlamming van die Nasionale Raad vir die Versorging van Kreupeles in Suid-Afrika.

“Die wit duif is die eeue-oue simbool van vrede. Vir hierdie skool bepaald dan vrede in die gemoed van die leergestremde en serebraal-verlamde leerling omdat hy/sy is waar na sy/haar spesifieke belange omgesien kan word.

“Die suggereerde vliegbeweging van die duif simboliseer aktiewe en doelgerigte oorkoming van sy/haar gestremdheid deur die leergestremde of serebraal verlamde kind.”

Die leuse, Certare et vincere, vertaal as: “Streef en presteer.”

Oor die skool:
Die skool wat Hoërskool Kaap Recife sou word het 1 Maart 1956 met sewe leerlinge geopen.

Dit het tot stand gekom te danke aan die ywer en vasberadenheid van mev Hanna Lurie, wie se dogter Sandra Rose serebraal verlam was.

’n Huis in Buckinghamweg is later gekoop waar 32 kinders onderwys en terapie ontvang het.

1 April 1957 het die skool van die Departement Onderwys, Kuns en Wetenskap erkenning ontvang en het ’n Staat-gesteunde skool geword, amptelik die Oos-Kaapse Skool vir Serebraal Verlamdes.

Mnr Neider Heitman was as eerste hoof aangestel. Mev Ethel Woolf was die eerste fisioterapeut en mev Rose Noach die eerste onderwyseres. Spraakterapeut mev Eunice Abrahams het deeltyds gedien.

Later is die dienste van mnr J A van Aarde (tans ’n professor), ’n sielkundige wat by die Port Elizabethse Skoolkliniek werksaam was, ook ingeroep.

’n Stuk grond 8,5ha groot in Somerstrand, langs Admiraltyweg, is van die munisipaliteit vir ’n nominale R2 gekoop.

Die oostekant van die eiendom het gelê langs wat in 1974 Universiteitweg sou word – die hoofroete na beide die Universiteit Port Elizabeth en die Port Elizabethse Technikon – albei vorm tans deel van die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit.

Die nuwe skoolgeboue en ’n koshuis is 20 April 1963 amptelik geopen. Voorsiening is gemaak vir 120 leerlinge.

Dit is amptelik Kaap Receife Skool genoem.

Sedert 1963 is die skoolgeboue en die koshuiskomples tweemaal vergroot, sodoende genoegsame akkommodasie vir serebraal verlamdes asook leerlinge met leer-gestremdhede.

Sedert die 1980s is al hoe meer leerlinge met leer-gestremdhede toegelaat omdat die onderwys-owerhede dit ingesien het dat skole vir serebraal verlamdes die fasiliteite het, asook personeel wat deskundig is op die gebied van gespesialiseerde onderwys van hierdie aard. Daar is egter geen merkbare vermeerdering in die getal serebraal verlamde leerlinge.

Die skool het vanaf 1989 ’n volledige senior sekondêre fase voorsien, en die eerste matriekklas het aan die einde 1990 hul eksamens voltooi.

Die oorskakeling na ’n sekondêre skool het ’n effense naamsverandering toegelaat, en dit het toe die Hoërskool Kaap Recife geword. (Die spelwyse wat hier aangeneem is, het in die tussentyd die standaard spelvorm vir die kaap se naam geword).

Tussen 1990 en ’99 het die skool ’n 100% slaagsyfer vir matriek, waar die leerlinge dieselfde eksamen as gewone skole geskryf het.

Die skool is vandag ’n parallel-medium koëdukasieskool vanaf Graad 1 tot 12.

Anders as die meeste skole, is hierdie een ’n geregistreerde welsynsorganisasie, sy fondsinsamelingnommer WO 2011.


Counter

Terug na bo

For English, click here

  • Bronne: inligting en illustrasies deur die skool voorsien.


    Terug na skole-indeks

    Terug na Armoria academica-indeks

    Terug na Armoria-indeks


    Opmerkings, navrae: Mike Oettle